Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Daai 1939 Studebaker in 1944


NJJ Grobler - 2009-03-10

Daar is ook staaltjies en humor in elke familie, soos toe Oupa en Ouma besluit het om ’n motorkar te koop. Op Bultfontein (OVS) het net die regte motor in die vertoon lokaal gestaan: so ’n donkerblou 1939 Studebaker. Gou-gou was dit Oupa en Ouma se motorkar.

Om ’n bestuurderslisensie te bekom was dit nodig dat Oupa vir sy kennis en nodige bestuursvernuf getoets word. Die plaaslike prokureur was in daardie jare op Bultfontein aangewys om bestuurderslisensies uit te reik.

Oupa het toe gegaan om vir ’n lisensie getoets te word. Toe hy by die prokureur opdaag en sy versoek, oor ’n koppie tee, rig, asook die nodige dokumente voltooi en oorhandig, het die prokureur egter die volgende vir Oupa gesê: “Oom Flippie, ek kan Oom nie toets nie. Oom is te oud. Ek sal maar vir Oom ’n lisensie gee.”

Oupa is daar weg, trotse besitter van ’n splinternuwe lisensie.

Die vuurdoop het gekom toe Oupa, Oupa, ek en Flip by oom Jan en familie op die plaas Preston gaan kuier het. Die plaas was so tien myl buite die dorp en die pad was ’n grondpad, ene sinkplaat. Met die terugkeer dorp toe het Ouma besef sy het die huis se sleutels op die plaas vergeet. Oupa het niks gesê nie en omgedraai.

Wie sal ooit kan vertel hoe daardie ou Studebaker-motor die myle gevreet het, en wat in ons binneste aangegaan het? Geen sprak gesprook, maar as jy in die ander se gesigte kyk, sien jy dieselfde benoudheid. Jy wil moed inpraat, maar Oupa gee nie kans nie.

Nog nooit was die hek, en ook die motorhuis se deur, so vinnig oopgemaak nie. Oupa was seker heel in sy skik oor die flinke diens. Ek dink hy het hom verwonder oor die skielike energie en gewilligheid en gedink dat die vars lug die kinders goed gedoen het.

Tot laat in die nag was daar gedagtes geruil oor watter motor dan nou vinniger as daardie blou Studebaker van Oupa kon wees. In my enigheid het ek gedink dat Oupa seker vir homself gesê het: “Vandag het ek daardie blou kar vasgevat!”

Oupa het so selfversekerd gelyk toe hy van die motorhuis af huis toe stap, en seker by homself geredeneer: “Daardie prokureur weet niks en ken niks van ’n ou mens nie!” Die uitdrukking "’n huppel in die stap"was toe nog nie in ons woordeskat nie (of nog nie op Bultfontein gebruik nie).

(Oupa Flippie 1866–1951)

Storie deur NJJ Grobler (1933–)