Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Artikels | Features

Die Joodse Purim en die Christelike Ester-beweging. Solidariteit of vervreemding?


Theodorus du Plessis - 2009-03-10

Vanjaar op 10 en 11 Maart vier Jode (inbegrepe Messiaanse Jode) wêreldwyd ’n fees waarvan in die Bybelse boek Ester gelees kan word. Amptelik heet die fees “Purim” (Hebreeuse meervoud vir lot – Ester 9:26) maar nie-amptelik “Fees van Ester” of “Ester-fees”. Die woord purim verwys na die lot wat Haman gewerp het om die dag te bepaal waarop sy plan om alle Jode uit te wis in werking gestel sou word, terwyl die populêre benaming Ester-fees verwys na die rol wat koningin Ester gespeel het om sy bose plan bloot te lê en sodoende die redding van ’n hele volk te help bewerkstellig.

By die Joodse herdenking van Purim word tipies uit die boek Ester voorgelees, geskenke onderling versprei, aalmoese vir die armes uitgedeel en ’n feesmaal (met wyn) saam genuttig. Die dra van maskers en kostuums is gebruiklik by hierdie feestelikheid. Purim is ’n herdenking van die oorwinning van die Jode oor hulle vyande met as sentrale onderliggende tema seëviering oor die gees van anti-Semitisme.

Purim is, ondanks sy alternatiewe benaming, essensieel nie ’n heldeverering van die figuur Ester nie.

Ten spyte van die boek Ester, is die Purim-fees vir die meeste Christene egter iets onbekends. Wel meer bekend binne die Christendom (veral in Suid-Afrika) is die term Ester-fees, maar om redes grootliks verskillend van die kerninhoud van Purim. Baie Christene assosieer die “Ester-fees” met twee vrouebedienings wat die Ester-naam dra, die sogenaamde Hadassah Watch en die NG Gemeente Moreletapark se sogenaamde Ester-konferensie. Eersgenoemde is ’n gebedsaksie wat ’n oproep doen op Christenvroue om op te staan en in eendragtige gebed in te tree vir vroue regoor die wêreld. Laasgenoemde is ’n jaarlikse vrouekonferensie wat vroue aanvuur om ’n rol te speel om Suid-Afrika te help terugdraai na God; om, soos Ester, “gekroon” te raak “sodat hulle Esters vir Hom kan wees ter wille van die mense vir wie hulle instaan”, aldus ds Elza Meyer, aanvoorder van hierdie aksie. Die eerste van hierdie konferensies is in Junie 2006 gehou. Vanjaar se konferensie word van 13 tot 15 Maart aangebied, interessant genoeg in die week waarin Purim herdenk word! Die tema is “Ken jou naam!”, natuurlik ’n sinspeling op Ester se “eintlike” naam, Hadassah.
 
In die Hebreeuse teks van Ester 2:7 word haar Persiese naam, Esteir, gebruik wat “ster” beteken. Die teks beklemtoon egter dat sy grootgemaak is onder die Hebreeuse naam Hadassah, wat “mirt” of “mirtegroen” beteken. Hierdie inligting sinjaleer aan die leser iets oor die realiteit van leef as Jood (die Hebreeuse teks praat beslis van “Jood”) in die ryk van die magtige Ahasveros (’n ryk wat 127 provinsies beslaan het). Dis ’n realiteit waarmee hedendaagse Jode in die diaspora steeds saamleef. Ongelukkig skep die Christenbewegings waarna eerder verwys word, die foutiewe indruk dat die naam Hadassah die Hebreeuse ekwivalent van Ester is.

Uniek aan die Christenwêreld se Ester-beweging is die feitlike ophemeling van die figuur Ester. Dit is deels te danke aan die skrywer Tommy Tenney se boeke oor Ester, waarvan sy novelle, Hadassah: One Night with the King (2004), waarskynlik die bekendste is. Sy boeke het verder gedien as inspirasie vir die Hollywood-film One Night with the King (2006), met die pragtige Tiffany Dupont as koningin Ester. Die figuur Ester het in ons tyd dus sterstatus verkry!

Maar dis nie die enigste probleem rondom die sogenaamde Ester-beweging nie. Van groter belang is die subtiele verskuiwing in fokus wat teweeggebring word. Ofskoon ’n mens sou kon redeneer dat daar wesenlik niks skort met die soort oproepe wat vanuit Christenoord op vroue gemaak word nie, ontstaan daar tog vrae of ons nie hier nogeens te make het met ’n Joodse gegewe wat vir Christendoeleindes geapproprieer word nie.
Waar dit in die gedokumenteerde verhaal van Ester spesifiek gaan oor die dilemma van Jode in die diaspora, oor ’n aanslag teen Jode (en Joodsheid), oor die assimilering van Jode, oor Joodse identiteit, oor ’n geestelike inkeer en ommekeer onder Jode, oor die uiteindelike redding van die Joodse volk, gaan die Ester-beweging, soos ons reeds gesien het, oor heeltemal ander dinge. Dit gaan wesenlik oor die Christenvrou en haar rol as “’n Ester”. Die feit dat hierdie subtiele verskuiwing wesenlik bots met die inhoud van Purim, en eintlik afbreuk daaraan doen, verraai ’n gebrekkige lees van die Ester-boek. Lees ’n mens veral hoofstukke 9 en 10, blyk dit dat Mordegai, ’n oom van Hadassah, as eintlike held van die verhaal voorgehou word. Van hom word in die slotvers gesê dat hy ’n “groot man” onder die Jode geword het.
 
Vervreem die ophef rondom die Ester-figuur, hoe goed ook al bedoel, Christene nie net nog verder van die Joodse wortels van hulle geloof nie? In stede daarvan dat die Christendom jaarliks Purim saam met die Jode herdenk, word die inhoud van hierdie belangrike gebeurtenis in die Joodse geskiedenis eintlik vir Christelike doeleindes geapproprieer en word in die plek daarvan ’n narratief gestel waar die Christenvrou nou sentraal staan.

Gesien die geskiedenis van soortgelyke appropriasies van die sogenaamde “Ou Testament” (byvoorbeeld van die tiendes aan die Leviete, van die beloftes aan die volk Israel, van die profete en hulle profesieë, van die Messias-figuur) moet tog gevra word of die Ester-beweging nie verder bydra tot die sogenaamde “vervangingsteologie” nie. Dit is ’n teologie wat daarop aanspraak maak dat die sogenaamde “nuwe” Israel (by name die Kerk) die fisiese Israel vervang het. Soos ons weet, is dit die soort teologie wat onderliggend teruggevind kan word in die optrede van Hitler en andere, onder mense met Christelike geloofsoortuigings wat daarvan uitgaan dat God sy rug op Sy verbondsvolk gekeer het.
 
Is dit nie gevaarlik om in hierdie tyd van groeiende anti-Semitisme in Suid-Afrika, veral onder onse regeringslui, en in die wêreld, met Joodse kalwers te (bly) ploeg nie? Is dit goed dat die reeds aan Christene onbekende Purim-fees nog verder op die agtergrond geskuif word met bedenksels wat die kardinale inhoud daarvan verdoesel? Moet Christenvroue (en verkieslik ook hulle mans) dalk nie eerder vanjaar op 10 en 11 Maart opgeroep word tot solidariteit met die Jodedom nie? Per slot van sake, vanuit Messiaanse perspektief gesien, was daar sonder Purim geen Joodse tempel in ’n Joodse Jerusalem waar die Pasga-lam meer as 2000 jaar gelede geslag kon word nie.

 

* Prof Theodorus du Plessis is van die Eenheid vir Taalbestuur aan die UVS

Bibliografie

Cantrell, Ron. 1999. The feasts of the LORD. The feasts, fasts and festivals of the Bible. Rehearsals for the end. Tulsa, OK: Bridges for Peace.
Laqueur, Walter. 2006. The changing face of anti-semitism. From ancient times to the present day. Oxford: Oxford University Press.
Scherman, Nosson (red). 2000. The Chumash. The Torah: Haftaros and five Megillos with a commentary anthologized from Rabbinic writings. The ArtScroll Series. Stone Edition. Brooklyn: Mesorah Publications.

Internetbronne

http://en.wikipedia.org/wiki/Esther http://www.babynamewizard.com
/namipedia

http://www.jwipn.com/daily_prayer_guides/JM%20Aug%202008.pdf
http://www.moreleta.org/NGGM/Users/PortalPageEdit.aspx
http://www.moreleta.org/NGGM/Users/PortalPageEdit.aspx?CatID=86&
SubCatID=78&MenuItem=Item_78&TextBlock_0_Index=4