Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Besoekster


Wium van Zyl - 2009-03-05

Hy huiwer 'n oomblik wanneer die chauffeur die deur vir hom oophou. Die koel skynatmosfeer in die ampsmotor is verreweg verkieslik bo die somergloed wat teen hom opslaan uit die teëls van die pleintjie voor die villa. Hy wil koes vir die venynige strale van 'n woedende son. Met 'n kop soos syne behoort hy eintlik altyd hoed te dra, maar dit lyk te veel na die ou bedeling. So 'n pak klere heeldag is ook 'n marteling.

Op pad voordeur toe probeer hy die verblindende wit standbeelde miskyk wat die piazza omsingel. Wat so 'n Italianer – of is die man 'n Griek? – mooi vind! 'n Diskusgooier; die meisie wat mik na 'n duiweltjie – 'n regte tokkelos - met haar skoen; twee mans wat stoei met die een die ander aan die kroonjuwele beet... Jammer van  die vroumens sonder arms en armoedige borste wat laasweek deur een van die partytjiegaste van haar voetstuk gery is. Die ding lyk onherstelbaar. 'n Regsman wat te veel gedrink het, is 'n verwoesting agter 'n stuurwiel. Wonder hoe lyk sy kar? Die Griek dwing die laaste tyd steeds kwaaier om die huis te wil kom inspekteer. Hy moet seker 'n keer huur betaal. Van die verpligtinge wat iemand soos hý het, weet so 'n vent niks. Geduld en respek. As 'n mens hulle maar net iets daarvan kan leer.

"U ete sal om sewe gereed wees." Die hoofbediende buig effens, haar oë op die vloer gerig. Sy weet hy kyk graag E-nuus terwyl hy eet.

Vanaand is hy alleen ná die harde week. Hoe het dit gekom dat 'n Vrydagaand sonder verpligtinge oopgeval het? Eintlik is dit onmoontlik. Hy moes die kongres open, maar toe laat die grootbaas se kantoor weet dit is nie meer nodig nie.

Aan die bo-ent van die trap is daar die vae geur van reukwater. Miskien moet hy een van die vroue hier laat kom woon. Maar dit kan tog ook weer hinderlik raak. Van hierdie soort lewe verstaan hulle niks. Watter opofferings kos dit alles 'n mens nie!

Terwyl hy sy das losmaak, kyk hy na die skildery van die berg wat in die wolke verdwyn. Dis elke keer vir hom of  'n gesig van 'n bebaarde man uit die wit en grys slierte na hom terugkyk. Eintlik is die prent van die koppie met verrinneweerde tempels en pilare in die voorportaal mooier. Dit bevat darem iets mensgemaak, al is die voorbeeld van swak onderhoud seker nie iets waaroor iemand in sy posisie kan bly voel nie.         

Iemand soos hy is maar uitgelewer aan kritiek oor alles. Die verval van paaie, regeringsgeboue, dienste, droogtes, VIGS. Wie sal miskien daarby baat as hy self die graaf vat?! En nou nog die ding van die grootbaas wat al meer lyk of hy 'n ander opvolger soek. Wag 'n bietjie. So maklik is dit nie. Nog net 'n rukkie. Die ou mag uitgeslape wees, maar hy sal agterkom met wie hy regtig te doen het as hy gaan begin lol.

Die stortwater sing 'n lied op sy lyf. Hy vryf die geurige jel met plesier in, stap dan met nuwe energie uit op die sagte mat en laat die growwe handdoek oor sy vel speel totdat dit tintel.

In sy bokserkamerjas beweeg hy af eetkamer toe waarvandaan aptytlike geure lok. Die grootbeeld-TV is reeds aangeskakel, maar die klank is af, sodat hy nie die magdom advertensies hoef aan te hoor nie.

"Sal ek u gas vra om saam met u te eet?" Die vrou kyk stip na die mat voor hom.

Hy is uit die veld geslaan, maar laat dit nie merk nie. Nóú eers onthou hy van die versoek via sy sekretaresse. Van die dogter van sy ou kameraad wat in die stad studeer, moeilikheid het en opgebel het om te vra of hy nie vir haar blyplek het vir 'n paar dae nie. Toe hy die naam hoor, was sy antwoord vanselfsprekend. Hy en die man se bloed is tog één, al het die kameraad geval terwyl hy self bly leef het om die stryd voort te sit.

Die nuusleser begin met die opening van die kongres in Sandton, 'n belangrike geleentheid vir die land, eintlik die hele Suider-Afrika. Tot sy verbasing sien hy die openingsrede word gelewer deur sy junior. 'n Woede staan in hom op soos 'n wind wat dreig om storm te word.

Dit is die reuk van netnou se reukwater, dié keer vars en sterk, wat hom laat wegdraai van die skerm. As hy 'n vrye keuse sou hê om uit te soek, sou hy nie een meer na sy smaak gekies het as hierdie meisie nie. Haar elegante klere verraai geensins dat sy 'n arm student met moeilikheid is nie. Sy oë streel oor die mooi ronde borste, perfek uitgebalanseer met haar boudjies wat hy in die spieël agter gewaar, dan weer oor haar ronde arms. Soos dit hoort, is haar oë op die grond gerig, maar flakker tog nuuskierig soms na bo, na hom toe. Hierdie vrypostigheid gryp iets diep in hom aan.

Hy noem sy gewese kameraad se naam. Sy knik. Hy vat haar vaderlik aan die arm en lei haar na die tafel toe. Hy gaan self so sit dat hy haar en die TV gelyk kan sien.

Die boere was warm op hulle spoor daardie laaste nag. Hy was self tot die dood toe moeg en het vas geslaap tot sy kameraad hom wakker geskud het. In plaas daarvan om self eerste te gaan, het die man hom deur 'n agterste venstertjie gedruk. Toe het die deur al oopgespring. Daar was skote. Wonder bo wonder kon hy self tog ongeskonde wegkom. Eers later het hy gehoor die man het sy laaste bloed vir hom gestort.

"Ek sal jou pa nooit vergeet nie. Ons bloed is een."

Maar hy laat hom nie flous nie. Hy ken hierdie meisietjies. Dis nie die eerste een wat sorg dat sy die wêreld van 'n belangrike man, 'n leier, binnedring nie. Soggens vra hulle dan taxigeld as hulle tevrede is, anders verdwyn hulle sommer self.

Terwyl hulle eet, vra hy subtiel uit na haar familie, laat die nuusleser verder die praatwerk doen. By die probleme sal hulle later uitkom.

Hy verskuif uiteindelik doelbewus na 'n gemakstoel voor die TV tot dit behoorlik laat is. Sy opwinding styg in hom op. Sy kamerjas raak 'n onhandige kledingstuk. Met 'n gevoel van trots besef hy nogeens: al is hy geen jongman meer nie, skeel daar niks aan sy vermoëns nie. Hoeveel sal hy môre gee vir taxigeld?

Verby die Akropolis vol murasies stap hy met nuwe veerkrag die trap op. In sy eie kamer spuit hy oordadig deodorant onder sy arms, sy oë op die wolk bo die Griekse berg. Die ding van die ou man wat terugkyk, is niks meer as verbeelding nie. Wie sou dit wees wat 'n sigaret teen die seildoek gedruk het? Nog iets waarvan die vloeksteen van 'n Griek nie gaan hou nie.

Die gastekamer is al donker. Hy stoot die deur saggies oop. Haar asemhaling is egalig, soos dié van iemand wat regtig slaap. In die vae skemer meen hy hy sien die heerlike borste beweeg.

Dan is hy by haar. Hy skuif haar opsy om self onder die deken in te gly. "Oom," sê sy met 'n stemmetjie wat verskrik klink; "Oom, is dit jy!?"

"Ja, Sisi." Sy hand skuif oor haar bors. "Nee," sê sy; "nee, ek het dan gedink Oom is my pa se vriend, Oom sal my help!" Ondanks die ingehoue protes in haar stem voel hy die sterk jong tepel onder sy hand so hard opskiet dat voel of dit gaan ontplof.

"Toemaar, Sisi, Oom sal vir jou sorg." Sy hand gly al laer oor die sagte ronding van die maag, oor die naeltjie wat hy kan voel nie in 'n hospitaal afgebind is nie. Sy is heeltemal hoendervleis en bewe rukkerig.

"Oom moenie, ek is siek." Haar protes klink yler, haar asem jaag.

"Oom het nog nie jou naam gehoor nie, Sisi?" Hy vra maar om vir eers te bly praat, want hy weet hulle hou daarvan. Dit stel hulle gerus.

Wanneer sy hand die vogtige doel bereik, kom dit só onduidelik uit haar mond dat hy twyfel of hy reg gehoor het. "Pandora … Watter vreemde naam is dit?"

Die onkeerbare dreuning van sy bloed pers enige verdere gedagtes uit sy kop.