Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Streep en Hoffman skouspelagtig in Doubt


Suzette Kotzé-Myburgh - 2009-03-05

Spelers: Meryl Streep, Philip Seymour Hoffman, Amy Adams, Joseph Foster

Draaiboek en regie: John Patrick Shanley


Absoluut uitstekend, hierdie drama wat al feitlik as 'n periodestuk beskryf kan word (dit speel af in 1964). Soos verlede jaar se Gone baby gone daag dit die kyker behoorlik uit met komplekse morele en etiese vraagstukke.

In 'n laemiddelklasbuurt in die Bronx draai die inwoners se lewens om die Katolieke kerk en die aangrensende skool. Vader Flynn (Philip Seymour Hoffman) is die gemeente se pastor, en suster Aloysius (Meryl Streep) die hoof van die kerkskooltjie.

Teenoor die gewilde en charismatiese vader is suster Aloysius 'n uiters onaantreklike karakter: konserwatief, onverbiddelik, streng en vreugdeloos. En bitterlik agterdogtig oor vader Flynn se gemaklike omgang met almal, en veral met Donald Miller (Joseph Foster), die nuwe leerling in die skool. Aangesien hy die skool se eerste swart leerling is (in 'n buurt vol afstammelinge van Ierse immigrante), verwag suster Aloysius moeilikheid van die ander leerlinge. Die twaalfjarige Donald is ook aangestel as altaarknaap, en sy verwag selfs meer moeilikheid, en van 'n ander aard van vader Flynn.

Die jong en onskuldige suster James (Amy Adams), Donald se klasonderwyser, word gou vasgevang tussen hierdie twee sterk persoonlikhede. Enersyds is sy 'n groot bewonderaar van vader Flynn; andersyds kan sy nie die tekens miskyk dat iets nie pluis is met Donald nie. Stadig maar seker bou die verhaal op en sleur die kyker mee tot by die perfekte slot. Jy verlaat die teater met veel meer vrae as antwoorde, en opnuut hierdie besef: pasop vir vinnige gevolgtrekkings en maklike antwoorde!

Om Meryl Streep en Philip Seymour Hoffman se twee karakters te sien kragte meet, is eenvoudig skouspelagtig. Al twee van hulle word met reg beskou as van die heel beste akteurs van hul onderskeie generasies, maar Amy Adams (wat wonderlik gedebuteer het in Junebug) staan nie 'n tree agteruit nie.

In die antieke Griekse teater mog daar nooit meer as drie karakters tegelyk op die verhoog wees nie, en hier kan 'n mens sien waarom dit so 'n treffende formule is om net twee of drie sterk karakters in 'n toneel teenoor mekaar op te stel. Danksy die feit dat regisseur John Patrick Shanley ook die draaiboek geskryf het, is die film heg saamgebind, en die opdrag ten slotte aan "die werklike suster James" laat 'n mens vermoed dat hier 'n boeiende storie ágter die storie lê.


Suzette Kotzé-Myburgh
Vryskut-skrywer, vertaler en uitgewer
suzette35@gmail.com