Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Anton Goosen: Met liefde ... van die Liedjieboer

Om te toer voor die krieke kom


Anton Goosen - 2009-03-05

As die krieke kom, gaan die snoek loop, sê hulle hier by die see. Dit gaan inderdaad dus ʼn dik seisoen vir snoek wees.


Skukuza

Die ystervoël kom terug.

Corné en Stanley van Aardvark in Londen het in Skukuza getrou en die gaste het in Pretoriuskop gewoon.

'n Buitengewone en ongewone troue.

Die rit kerk toe in Skukuza met die ongelooflik groot groen koorsboom voor was ʼn uur en ʼn half lank, want daar was geweldig baie wild op die pad. Ook op pad terug.

Die dominee van Witrivier is nogal funky en laat die stralende bruidspaar eers omdraai sodat die huweliksgaste hulle kan sien - "sodat julle kan sien wat ek sien". Hy laat hulle wegdraai van mekaar af om na die strooimeisie en strooijonker te kyk. En dan moet hulle weer na mekaar draai. Nuwe beste vriende.

Die naam Skukuza is afgelei van die Tsonga-naam vir James Stevenson-Hamilton, die eerste bewaarder van die Sabie Wild Reserve: "hy wat skoonmaak". Die naam verwys na sy pogings om onwettige jag in die vroeë dae te bekamp.

In 1902 het Harry Wolhuter as assistent by hom aangesluit. Harry is deur 'n leeu aangeval en hy het met 'n knipmes ʼn doodsteek kon gee terwyl sy hond die tweede leeu weggehou het tot daar hulp kon opdaag. Die knipmes en leeuvel word in die museum in Skukuza vertoon.

Walkerbaai

 


Die walvisse was tot onlangs nog in Walkerbaai. Noorkappers. "Remember our boat weighs 10 tons, and they are 80 tons, so do not touch them," is die instruksie voordat ons op die Ivanhoe klim. Die whale whisperer het interessante feite wat hy meedeel. Behalwe dat hulle baie nuuskierig is en naderkom, vertel hy dat die testikels ʼn ton weeg. En dat jy-weet-wat sewe meter lank is. Die Amerikaanse dames op die boot is verstom. Die walvis-ma produseer 680 liter melk per dag vir die kleinspan. Die gringo's klap hande.

 


Sandton

Die ghitaarspeler kom teruggestap van die kroegtoonbank by die Blues Room in Sandton. "Die barman kan nie nou vir ons ʼn bier gee nie, want hy is besig om ʼn hoender met sy vingers te eet."

Later sou ek uitvind dat dit ʼn bedekte seën was, aangesien ʼn enkel-tequila R24 kos, en toe vertel die einste kroegman met trots hoe hy Julius Malema afgerip het met R38 vir ʼn tot Johnny Walker.


Windhoek

Namibië het hulle stuff al in 1980 uitgesorteer, het ek nog altyd gedink. Daar heers goddelike vrede en orde. En die mooiste van alles is dat Afrikaans steeds die spreektaal gemene deler van die bevolking is.

Die Kalahari Sands is na al die jare nog dieselfde. Wonderlik. In die voorportaal is sketse van The Finger of God. Daar is blykbaar twee van hulle. Ek het die een naby Keetmanshoop gesien voordat hy in die middel-80's geval het. Die Duitse eienaar van die teater vertel dat die Nama-sprokie lui dat God belowe het dit sou val wanneer hulle eendag vry gaan wees. En so het dit gebeur. ʼn Jaar of wat voor Namibië se onafhanklikheidswording.

Die storie wil dit ook hê dat die Namas gevlug het voor die Khoisan en toe by die Oranjerivier - die Gariep - verander het in die halfmensplante.


Lady Grey

Die Sterrefees is ʼn belewenis. Dis ver buite Lady Grey, aan die voetenent van die Maluti-berge wat op al die provinsiale bordjies verkeerd gespel is as Maloti - ʼn aalwyn. Die Witteberge lê ietwat suid en regs ontmoet dit die beginpunt van die Drakensberge suid van Lesotho.

Dit neem my etlike kere se oor en oor vra voordat die skoolinspekteur, wat ses maande gelede van sy vrou geskei is omdat hy meer as net skoolwerk geïnspekteer het, en my na my blyplek moet neem, my uiteindelik ʼn antwoord kan gee oor die bergreekse: "Nee, ek weet nie eintlik nie, maar is dit nie pragtig nie?" Dit is. En ek neem aan die antwoord verwys nie na die backtracks Patricia Lewis lookalike met die gebleachde hare aan wie se boud hy vroeër die aand probeer vat het nie.


Oliver Tambo Internasionale Lughawe

Dis crazy by Oliver Tambo. "Ons het ʼn gewigprobleem en soek twee vrywilligers om môre eers te vlieg."

Niemand wil wag nie.

"Gaan julle ons opsit by Emperor's?" vra die antie voor my.

Later aan boord besef ek dat die gewigprobleem opgelos sou gewees het indien hulle die passasier langs my van die vlug af sou verwyder het. Die bees neem veel meer as sy sitplek in beslag. Hy hang oor in die gang en hy hang oor teen my.

Wanneer, o wanneer, gaan die lugrederye tog begin om bagasie én die passasier te weeg? Wat is verkeerd daarmee dat ons almal volgens gewig vir ʼn kaartjie betaal?

Die girl van die Kongo kan nie stilsit in die ander sitplek langs my nie. Later plaas ek my laptop langs my leuning en bou sodoende ʼn buffersone. En haal bietjie slaap in.


Kaapstad Internasionale Lughawe

Die reis begin disastrous. By Hermanus ontdek ek dat ek my paspoort in Gansbaai laat lê het. Omdraai. Twintig oor vier opstaan die volgende oggend. Die pad is wonderlik stil daai tyd van die oggend. Ek vind nie Air Namibia se check-in toonbank by Kaapstad-lughawe nie. Ek doen navraag by 1Time.

"O, dis by International."

"O, natuurlik ..."

Dis ʼn hele ent se stap, maar eindelik is ek deur doeane en alles.

Twee gedagtes tref my gelyktydig. Daar is nie ʼn rokersafdeling by International soos by Domestic nie. Dis erg genoeg, maar die erger gedagte tref my toe ek seker maak of ek my sleutels by my het.

Na ʼn dubbele gesoek weet ek die sleutels is nog in die agterdeur van die Jeep sedert ek die tas en kitaar uitgelaai het. Ek bel my webmeester. Soos die geluk dit wil hê, is hy op pad na ʼn kliënt in Bellville en stem in om die Jeep in die parkeerterrein te gaan soek.

Gelukkig wag daar nie ʼn geselsiemaker langs my nie, want slegs die iPod in jou ore bied beskerming hierteen. Jy kan natuurlik maak of jy ʼn uitlander is, maar dit werk nie altyd nie. Indien die geselsie-aanknoper reeds op die lughawe jou ore wil arresteer, dan is jou selfoon jou enigste wapen. Begin praat met jouself en stap hoflik weg van die aanvaller af. Soos wat beskaafde mense doen wat op hul selfone praat.


Windhoek

In Windhoek arriveer Theo, my kitaarspeler, van Johannesburg en ons jaag NBC toe vir ʼn radio-onderhoud.

Daarna is dit die Kalahari-hotel, waar ek agterkom dat ek my laptop in die kar vergeet het.

"Dit kom in drieë," het my ma altyd gesê. Tydens die klanktoets kom die vriendelike bestuurder met die laptop aan.

Nou kan dit net beter gaan, dink ek.

Dis die tweede keer in my loopbaan dat ek met ʼn vroulike klankpersoon werk. Ermilinda is Herero en praat vlot Afrikaans.

Op die sleutelkaartjie van die Kalahari Sands-hotel in Windhoek se agterkant staan in klein skrif geskryf: "This is not a credit card."

Die mineraalwater, Naukluft, kom uit die Namibwoestyn. Die oudste woestyn in die wêreld is bekend vir vele dinge, maar ek het nie geweet van die mineraalwater nie.

Daar is ʼn sekuriteitswag by die hysbakke. Ek het eers gedog dis om op die Duitse toeriste te check wat hul "African experience" in die hotelkamers wou beleef, maar die vriendelike man is eintlik daar om die gaste met hul bagasie te help.

Daar is ʼn casino op die onderste verdieping. Jy mag nie sonder vooraftoestemming met ʼn keps in ʼn casino ingaan nie. Ek weet dit al lankal, want hul sekuriteitskameras wil nie die gesigte verskuil hê nie. Dus is balaklavas of viooltasse ook uit.

Windhoek se lughawe het ʼn wonderlike rookafdeling. Die plaaslike Duitse bevolking is Afrikane en trots op hul land. Dis ʼn land van uiterstes en afstande. En selfs sommige van die doeanebeamptes is vriendelik. Dis uiters ongewoon, want mens kry gewoonlik die indruk dat dit deel van hul werkomskrywing is om nie vriendelik of hulpvaardig te wees nie - soos wat ʼn mens in Switserland byvoorbeeld nie moet verwag dat iemand moet glimlag nie. Ek vermoed dis teen die wet daar.

Ek word nie gearresteer oor ʼn permit nie, want my agent het haar werk gedoen.

Met die terugvlug is die sitplek langs my leeg. Regstellende aksie. Dit bewys daar is ʼn God wat nie diskrimineer teen normale mense nie.

Wieletjies aan tasse is die grootste prestasie van die vorige eeu. Soos gewoonlik kom die ghitaar onderstebo op die vervoerband uit.

Om te vlieg is dikwels traumaties. Enigiets kan gebeur. Hulle mishandel jou bagasie op die lughawens. Hulle breek ghitare wat in flight cases met "Fragile" stickers op is. Hulle breek jou tas se staanders. Hulle steel jou bagasie. Hulle breek die wieletjies af ...

Clarens

Dat die skilderagtige dorpie wat in 1912 gestig is, het beteken dat ʼn rotsformasie na die Titanic vernoem is. Martin Bekker het jare lank in Holkrans gewoon en ek weet dat Jennifer Ferguson eenkeer in die oorhang ʼn show gegee het. Maar dis dodgy want dis sandsteen.

Denzl Keenan, my elektriese vioolspeler, het agt maande lank daar gewoon terwyl hy sy viool geoefen het. Hy het van vrugte geleef uit die omgewing. En toe hy eenkeer terugkom, het ʼn sandsteenrots langs sy matras gelê. Toe skuif hy die matras vyf meter verder.

Om terug te ry van Gauteng na die Kaap, is die N1 die kortste roete, maar via Clarens en die Drakensberge is die pad aanskouliker. Of soos Norah Jones dit stel: "I always take the long way home ..."

En so besluit Denzl en ek om ʼn "free gig" te doen by een van die kuierplekke. Sommer vir die musiek - onaangekondig en in ruil vir twee borde kos. Die wonderwerk hiervan is nie net dat dit stampvol was nie, maar dat ʼn mens geen versoeke of treffers wat aangevra word hoef te speel nie. Volgende keer gaan ons die fertility cave besoek waar al die sangomas woon, want Denzl kan dit reël.


Port St John's en Amapondo

Die man kom staan langs die bakkievenster by Port St John's: crayfish, seedless, mushrooms, perlemoen, krale ... Die kreef kos R20 stuk en hy maak dit in ʼn kruiwa gaar op die strand.

Op die pad soontoe is ʼn padteken wat sê: "Only 133 turns left". Amapondo backpackers het ʼn chill-out kamer langs die kroeg. Jy mag nie in die kroeg rook nie.

Dis ʼn ongewone gesig om boerbokke te sien water drink uit die slaggate in die middel van die teerpad op pad Hole in the Wall toe.


Koffiebaai

Die hotel by Koffiebaai se koffie is dik soos stroop. "Kan ons dan maar tee kry, asseblief?"

Die tee daag op sonder melk. Die melk arriveer. Dis nie tee nie, maar rooibos. Die melk op sy eie moet maar doen.


Pilanesberg

 

Foto: Rentia Roodt

My vriendin die wildbewaarder by Pilanesberg vertel van ʼn paar toeristevrae wat hulle dikwels hoor:

"Who does your landscaping?"

"Verf julle die dorings wit?"

"Do the zebras hunt in packs?"

"What is that animal?" vra die Groenlander. Verbasing. Stilte. "An elephant. Why?"

Dan is daar die oorsese toeriste, meestal vroue, wat khaki fever het. Of the African experience met alle mag wil proe.

Die leeu-darting word vroeg soggens - of altans, laat middag - toegepas. Dis wanneer leeus die aktiefste is, aangesien hulle ongeveer 20 ure per dag slaap en eintlik nagdiere is. Die temperature speel ook ʼn groot rol wanneer enige dier gevang en verdoof word: dit moet juis in die koelste tyd van die dag plaasvind om dehidrasie van die dier te voorkom.

Die westelike trop in die park bestaan uit ses jongelinge van ongeveer twee jaar oud - die ouderdom waarop veral die mannetjies begin territoriaal raak en dan die res van die trop verlaat. Elke leeu in die park word gebrandmerk vir identifikasie en navorsingsdoeleindes. ʼn GPS/SMS-opsporingsnekband word aan een of twee van die leeus in die trop gesit om die bewegings/roetes vas te stel en hulle dan ook maklik op te spoor wanneer navorsing gedoen moet word.

ʼn Telemetrietoestel word gebruik om die spesifieke trop leeus te vind. Die brandmerk word aan weerskante van die boude aangebring; verskillende simbole word gebruik om spesifieke leeus te identifiseer. Zollethol word as verdowingsmiddel gebruik, wat die leeu dan tussen 20 minute en vier ure kan laat slaap, afhangend van die hoeveelheid wat toegedien word. Die vital signs word gedurig dopgehou om die dier se asemhaling te monitor, asook sy temperatuur en hartklop. Die kop word bedek met ʼn kombers om die stresvlak te verminder en ook te voorkom dat die oë uitdroog.

Wanneer daar met die leeu gewerk word, is dit belangrik om snydokter-handskoene te dra, omdat leeus draers is van verskeie parasiete, onder andere Ecchinococus, waarvan die eiers in die hare voorkom. Die parasieteiers kan deur die mens opgeneem word, waarna die wurm in die bloedstroom beland en op pad na die brein ʼn bloedklont veroorsaak.

Nadat die nodige werk op die leeu gedoen is, kan ʼn teenmiddel gebruik word om die dier binne vyf minute wakker te kry.

Dit is uiters belangrik om nie die dier alleen te los nie, omdat ander leeus in die area die leeu as ʼn swakkeling beskou, en dit kan sy dood beteken.

Die koning van die oerwoud probeer soos Leonard Cohen se "like a drunk in a midnight choir" orent kom. Die Land Rovers is in ʼn driehoek getrek en hou hom vir ure dop terwyl hy sy waardigheid en nugterheid probeer herwin totdat hy eindelik weer by sy trop kan aansluit.

Steve, die ekoloog, het hom met makvarkgeluide gelok wat oor speakers agter op die Land Rover met backtracks gespeel word.


Madikwe

Madikwe is die spogpark met vyfster-boomhuise teen amper R10 000 per nag. Myne is egter ʼn freebee. Dis vyfgangmaaltye met ʼn manlike maître d' wat servette op die gaste se skote oopvou. Ek laat dit net een keer toe.

Hulle is baie trots daarop om vir die toeriste te vertel dat dit Herman Charles Bosman-wêreld is en dat Abjaterskop noord van die kamp aan die Klein Marico is. Ook dat die koningin van Skeba hier in die noordweste verby is op haar besoek aan die reënkoningin Mojadji.

"Dis nogal ʼn yslike ompad," merk ek op aan die Duinenimf.

Madikwe se PR staan nader: "Is everything orraait?"

"Yes, but could you move the mountain slightly to the left?"

Sy lag nie. Sy kom van Australië.

"You look very colourful today, Sir."

"Extremely ... ja, dis my vriendin op Gansbaai wat die trui gebrei het."


Oliver Tambo Internasionale Lughawe

"Het jy ʼn kamera in jou tas, Meneer? I suggest you take it out and keep it with you. This is Oliver Tambo Airport."

Dis 10 vm in McGinty's se rookkamer. Die gespreksonderwerp langs my is "nuwe Kapenaars". Engels en Afrikaans deurmekaar. En hulle gesels politiek. Die aksent is Kaaps.

"What about the economy?"

Nog ʼn sluk Heineken. Goeie bier. Dit het nie preservatives in soos Zamalek byvoorbeeld nie.

Hier's ʼn wenk indien ʼn swart persoon in Gauteng jou ooit vra wat jy wil drink: "Ke batla Zamalek" sal altyd ʼn glimlag op die lippe bring. Dis Black Label se bynaam en vernoem na ʼn treffer in die inheemse-musiek-mark en ek verstaan daar is ook ʼn groot Egiptiese sokkerspan met die naam Zamalek - met ander woorde die omgekeerde van die Kaizer Chiefs-rockgroep wat na een van ons sokkerspanne vernoem is.


Kaapstad Internasionale Lughawe

Buite Kaapstad-lughawe is Kaizer Chiefs- en Pirates-supporters besig met toi-toi. Die polisie hou ʼn wakende oog. Die wolfhond in die polisiekar waai onophoudelik sy stert.


Potchefstroom

Die kennisgewing agter die teater met die Aardklop-launch is vir my ʼn eerste in my teaterervaring: "Geen kougom / No chewing gum". Die ander eerste was dat al die straatname in Potch ʼn week vroeër herdoop is en dat die satelliet en GPS nie weet watter kant om te gaan nie.

"I am pretty fly for a white guy, hey Sibongile?"

"Yes, you are. I saw when we had the conversation in the change room."

 

Bloemfontein

Sibongile Khumalo rook nie voor Gloria Bosman nie. En vice versa. Timothy Maloi rook wel voor al twee. Dit het ek nou tydens die Macufi-fees in Bloemfontein gesien. Dit was Ons Konsert in die Sand du Plessis-teater, ʼn teenvoeter vir die eksklusiewe "Ons vir jou, De la Rey"-trip in die noorde.

Ons Konsert was inklusief, ongedwonge kultuurkontaminasie in ons eie Afrikataal. Hulde oor vele dekades en generasies heen vanaf Nick Taylor tot by Jak de Priester. En met ʼn volle filharmoniese orkes agter op die verhoog en ʼn finale van 15 minute waar daar saam met die band en kore 200 mense op daardie verhoog staan.


Gansbaai

 Foto: Franskraal Museum

Die klomp robslaners het op Dyer-eiland buite Gansbaai gewerk. Hulle was weke weg en soms moes daar vir hulle vrouegeselsskap ingevoer word uit Kaapstad. Black Sophie, ʼn groot swart klip net buite Kleinbaai se hawe, is na die gawe madam in Kaapstad vernoem.

Op Gansbaai se hawe is ʼn kuierplek, Ernie's. Die twee bikers in die hoek daag my die hele tyd uit om Skye, die Jack Russell, se leiband te verslap omdat sy tog nie die ginger kat wat daar ronddwaal, sal rol nie.

Hulle was verkeerd.

Die grootste probleem het ontstaan toe die kat sy naels onder Peter die biker se voet ingeslaan het. Ek wou nog ontsmetting reël, maar Leona het dadelik die wond met Captain Morgan behandel.


Pelgrimsrus

Later in die jaar loop ons hulle in Pelgrims raak. Sy is bestuurder by die Royal Hotel se eetplek. En hy, gewapen met ʼn Ampie-laphoed, ry ʼn donkiewa op en af vir die toeriste.

Pelgrims is ʼn lewende museumdorp wat aan die plaaslike owerheid behoort. Die eerste besoek is gewoonlik die begraafplaas waar die Robber's Grave verkeerd om lê. Die knaap het saans na ses in die tente gaan inloer, maar ander stories wil dit hê dat hy dan onwettig die ander delwers se kleims benut het. Toe op ʼn dag het hulle genoeg gehad hiervan en hom 100 tellings gegee om te hardloop. En op 100 is hy geskiet en net daar halfpad die bult op begrawe. Die begraafplaas is ook summier gestig. Maar hy lê verkeerd om ...

Aan die beginpunt van die hoofstraat is die stalletjies. Die vroue gooi seile oor die ware.

"Is jul nie bang vir diefstal nie?"

"Nee, niemand steel nie." (By Middelburg in Mpumalanga is ʼn padteken wat sê: "Heavy vehicles wheels stolen".)

Pelgrimsrus se eie bevolking is tans 74½ - seker al 75 teen hierdie tyd. In die beginjare was daar eenkeer ʼn vergadering in een van die sinkhuisies. Die 20 mense in die een kamer het tien verskillende nasionaliteite verteenwoordig.


Doeane

Daar is tog ʼn uitsondering by doeanebeamptes, soos die tannie in Namibië wat my daai kleinskrif-vormpie help invul en gevra het: "Male or female, sir?" En dan glimlag.

Of die dude by Kaapstad Internasionaal wat genoeg gehad het van die Amerikaanse en Duitse toeriste wat in die SA-tou inval omdat dit korter is, en toe hy my groen paspoort sien, verskeie kere uitblaker: "See, this is a South African!"

"Sharp sharp, my bra," sê ek en hy glimlag.

I am a South African indeed.

ʼn Ystervoël in die agtergrond vlieg terug.

Hopelik is die krieke weg, en die snoek volop.

(Foto's geneem deur Estie Geldenhuys, tensy anders vermeld)