Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Petronel Baard is Weergaloos op nuwe cd


Elbie Adendorff - 2009-03-05

Petronel Baard se nuwe cd, Weergaloos, is onlangs vrygestel. Dit is 'n cd wat gestroop en vol eenvoud voorkom – dit is 'n ryper en dieper Petronel wat hier aan die sing is. Die cd verwoord veral die verlange na die liefde.

Die titelsnit is geskryf deur Juhlene Wagner-Möller (wat ook "Karet" geskryf het) en hier kom die hartseer klank van stem en klavier in eenvoud bymekaar. In "Dark Day" word die gevoel van donkerte beklemtoon deur Petronel se stem en die kitaar. Die melodie suggereer ook die donkerte van die woorde. Die lied toon die talent van Petronel as sangeres en bewys sy kan sing deurdat sy verskillende toonhoogtes subtiel in die lied inwerk. In "Karet" word die natuurbeeld van groei en snoei goed ondersteun deur die saksofoon-klanke. Die verlange na die liefde en die onskuld van die liefde word uitgebeeld in "Can't live without you", asook in die daaropvolgende lied, "Waar is my geliefde". Die herhalende woorde "Waar is my geliefde" word 'n eggo wat die verlange en moedeloosheid verwoord van die universele vraag na hoe lank mens vir die geliefde wag. Die mandolien-klank ondersteun en beklemtoon die eensaamheid en verlange na die geliefde.

Die verwerking van die Piet de Jager-gedig "Die Buitestaander" is besonder geslaagd. Die amperse jazz- en Afrika-klank is interessant en beklemtoon die tempowisseling in die verwerking. "Raas met my" het 'n lekker melodie wat goed gedra word deur die kitaarspel. Terwyl ek na die lied geluister het, het ek my verbeel ek sit in 'n donker, rookgevulde nagklub met Petronel wat voor die klavier sit en met haar besonderse stem dié lied sing. Nog 'n nagklub-liedjie is "Vir Barry" met sy nostalgiese saksofoon-klank. Daarteenoor is "By die see" vroliker. Die seebeeld suggereer die idee van 'n nuwe begin wat op mens wag.

Die stadige ritme in "Somersaandekerslig" verwoord weer die verlange en eensaamheid. "Abduragmaan se hande" het weer die nostalgiese klank wat gevind word in veral die roep-effek van die herhaling. Treffend is die handebeeld in die liriek.

"Mooier as mooi" is 'n Suid-Afrikaanse lied en herinner in sy vrolike wysie en woorde aan die Kaapse klopse-musiek. "Rebecca's gaze" is 'n lied oor 'n babatjie en het die eienskappe van 'n wiegeliedjie.

Die cd is 'n bewys dat Petronel een van Suid-Afrika se onderskatte sangeresse is. Haar subtiliteite en die nuanseveranderings in haar stem, in die liriek, in die melodie, in die tempo, in die gebruik van instrumente is besonders. Dit is 'n cd wat Petronel se talent as sangeres, verwerker en lirikus toon. Indien jy nog altyd gehou het van Petronel, of wil waag om na iets te luister wat nie oorverdowend elektronies is nie, dan is dié cd beslis een om te kry.

Verskeie gevestigde en amateur-kunstenaars is gevra om 'n skildery of portret van Petronel te maak. Dit is op die cd-omslag ingesluit en toon ook die verskillende fasette van haar persoonlikheid. Daar is ook sketse deur studente aan die Estelle Mcllgrath Kunsskool in Danabaai. Vir nadere inligting oor die kunstenaars kan www.uppercross.co.za besoek word.

Vir inligting oor die cd en waar dit aangeskaf kan word, kontak Petronel by 092 737 8416 of besoek http://www.petronelbaard.co.za of stuur 'n e-pos aan petronelbaard@gmail.com.