Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

Sarah Theron – girl van die suburbs


Adriaan Louw - 2009-03-05

Sarah Theron, die diva met die formidabele stem, is ’n meisie van die suburbs wat ’n storie het om te vertel. Adriaan Louw het met haar gesels oor musiek, die lewe en ma-wees. Haar jongste album, Sit die ketel aan, is ’n moet-koop wat landswyd beskikbaar is.

 

Ons weet so min van Sarah, die vrou agter die stem. Waar is jy gebore en getoë?

Ek's hier in Barnardstraat in Bellville gebore, in die Hansa-Kliniek. 'n Keisersnit wat van die begin af bottel gedrink het. Ek was 'n tipiese kind en tiener van die noordelike voorstede van Kaapstad. Ons het altyd gedink die stad is meer wonderlik, meer exciting.

Maar 'n stad is maar 'n stad, met dieselfde magic en dieselfde swaarkry wat elke CBD uiteindelik omskryf. Ek het as volwassene maar altyd in voorstede gebly, hetsy hier of in Johannesburg en in Pretoria, waar my huis in die laat tagtigs en negentigs was.

Ek het wel, soos dit seker enige Afrikanermeisie se plig was gedurende hierdie jare, meer as genoeg tyd in Berea, Hillbrow, Arcadia en Sunnyside deurgebring om te weet dat die depressie van die stad meer onverteerbaar vir my was (en is) as dié van die voorstede. Miskien maar net omdat ek hier grootgeword het. Mens hanteer die bekende mos maar altyd effe beter as die onbekende. Suburbs is mystic!

Waar is jou liefde vir musiek gekweek?

Van kleins af het ek met musiek om my grootgeword. Ek was bevoorreg om ook vir vyf wonderlike jare deel van die Tygerberg Kinderkoor te wees. Ek het alles wat ek van harmonie en musiekstruktuur weet, by mnr Hennie Loock geleer. In my latere volwasse lewe het ek ook baie saam met jazz-musikante gewerk en my sin vir frasering vasgelê.

Ek glo vandag dat blootstelling 'n groot invloed op ons het, maar wel ook dat 'n besete liefde vir musiek aangebore is, iets amper onverklaarbaar. Dis hierdie naamlose drang wat 'n mens as kind dryf om te repeteer en te oefen terwyl al jou maatjies buite speel. Die dissipline word gebore uit liefde en behoefte om met jou instrument(e) om te gaan.

Wanneer het jy besef dat jy elke dag van jou lewe wil sing?

Sommer baie vroeg al. Soos ek verduidelik het hier bo: dit was maar altyd deel van my. Ek was vier of vyf toe ek geweet het dat ek dit graag sou wou doen. Groot was my verligting toe ek vir die eerste keer Pop Shop op die ou SAUK-TV sien! Toe het ek uitgevind dat daar ander mense ook was wat dieselfde gevoel het. Ons het altyd plate en die radio gehad, maar TV het die lig vir my laat opgaan.

Hoe het jy as jong, onbekende en onervare kunstenaar jou pad na bo opgewerk tot waar jy vandag staan?

Dis 'n lang pad. Ek is ook glad nie eintlik seker waar ek "vandag staan" nie. Ek weet wel dat ons kos en klere het en ek die geld verdien deur te doen waarvoor ek die liefste is. Ek is dankbaar hiervoor. Mens begin telkemale weer van voor af, staan terug en kyk hoe jy gevorder het al dan nie.

Dis 'n klipperige pad. Een wat 'n mens nie sonder ondersteuning suksesvol kan loop nie. Ek het my huis by Select Musiek gekry, waar ek weet dat Kosie van Niekerk en sy hele span in my glo. Dit maak al die verskil. Hulle sê mos dat oornagsukses so 15 jaar neem. Dis baie waar. Al die grootstes kan hiervan getuig: Steve, Kurt, Juanita en baie ander sal dit beaam. Musiekmaak is nie vir sissies nie.

Jy het meeste van jou faam verwerf as aktrise in die rol van Baby Botha in Egoli. Was die pad sedertdien makliker?

Ja en nee. Toe ek die eerste maal op Egoli se stel loop in 2002, was ek reeds 12 jaar lank professioneel op die verhoog en televisie as sanger, maar met Egoli was die blootstelling ongelooflik en meteens.

Baie mense het gevra waar ek tot en met toe was! Dit sluit maar aan by die 15-jaar-storie. Ek dink ook dat kunstenaars eers hulle dues moet betaal. Party is gelukkig om nie die lang pad hoef te loop nie, maar is dan "ongeskool" om die druk wat met ons bedryf saamgaan, te hanteer. Min van die Suid-Afrikaanse suksesverhale wat 'n lang loopbaan het, slaan dit groot op 20. Daar is 'n rede hiervoor ...

Die nee-deel van die antwoord is omdat ek nie dink dat 'n mens ooit kan "rus" en dink jy het dit "gemaak” nie. Jy moet verbeter en ontwikkel. Werk, werk, werk.

Jy is ’n enkelmoeder met ’n kokende musiekloopbaan. Hoe maak jy tyd vir jou loopbaan en jou twee dogters?

Weer eens nie sonder hulp nie. Dankie vir die "kokende" aanmerking! My familie help my elke dag om alles te kan doen; sonder hulle sou dit chaos wees.

Het een van jou dogters ook ’n musikale aanleg?

Dit lyk so. Ek glo egter nie daaraan om 'n kind te druk nie. Musikante word gebore en nie gekweek nie. Hulle sal self vorder in die rigtings wat hulle moet. Ek kan maar net help en bystaan waar ek kan.

Wat in die lewe bied vir jou die meeste plesier?

Om lekker te lag is seker heel bo-aan die lys. Ek is mal oor lag en vang myself partymaal dat ek dit sommer so op my eie doen, amper soos om met jouself te praat. Ek hou myself graag besig met mense wat die snaakse in die lewe kan raaksien. Hulle breine tickle my. Casper de Vries, Wicus van der Merwe, Jackie Mason, Mel Brooks, Jerry Seinfeld, Jeff Foxworthy, Joan Rivers. 'n Groot fan van hulle almal.

Hoe bederf jy jouself?

Ek spandeer geld op skoene, handsakke en ontelbare parfuums. Te veel. Sal dit nooit alles kan gebruik nie. Ek koop ook graag musiek. Lyk my die woord hier is koop. Ek fliek graag, sommer voor die TV.

Jy het op ’n stadium ’n ander tydelike beroep gevolg. Vertel ons meer daarvan.

Reg aan die begin, voor ek universiteit toe is, het ek my as haarkapper gekwalifiseer. Dit was lekker en kom vandag nog handig te pas. Na ek geswot het, was ek egter nog altyd betrokke by die vermaaklikheidsbedryf. Ek het al voor en agter die skerms gewerk, soos ons maar maak hier in Suid-Afrika. Geldjie, broodjie.

Jy glo in sterk persoonlike verhoudings met vriende en geliefdes. Maak jy jou dogters ook volgens hierdie en ander “konserwatiewe” waardes groot?

Ek vind elke dag meer en meer uit presies hoe outyds ek is. Ek dink in elk geval dat kinders nie doen wat jy vir hulle sê om te doen nie, maar wel doen wat jy doen. Dus is die druk maar altyd daar om 'n voorbeeld te stel en jou woord gestand te doen.

Maar ja, ek spreek my opinie altyd duidelik uit en laat gou van my hoor as ek nie saamstem nie – konserwatief, dus. 'n Mens is niks sonder goeie vriende nie – ek leef dit uit.

Wat is jou lewensfilosofie?

Weet dat niemand bo iets verhewe is nie. Enigiets kan met enigiemand gebeur.

Jou jongste album, Sit die ketel aan, bied vir luisteraars ’n groot verskeidenheid musiek. Is die liedjies volgens die mark gekies, of jou persoonlike gunstelinge?

Nee! Hulle kom direk uit die hart en derms. Mens sing maar wat vir jou mooi is en hoop dat ander ook daarvan sal hou.

Het jy ’n gunstelingliedjie op die album?

Ek hou van die hele song-lys; verskillende liedjies gee my plesier om verskillende redes. Ek hou van "Dirkie", want dis cheeky, maar is lief vir "My Ouma Sêra". Ek geniet dit elke keer om “Engel oëte sing. My smaak strek van country en folk tot by rock en blues. Ek kies ook nie graag tussen die style nie.

Hoe gaan jy te werk om tot stilstand te kom en lirieke te skryf? Waar kom die woorde en idees vandaan?

Ek's juis tans hiermee besig. Ek's vinnig as dit in opdrag is vir iemand anders. Het al lirieke geskryf vir Ray Dylan, Heléne Bester, Romanz en Amor, maar as dit by my eie goed kom, dink ek soms vir dae lank aan twee reëls. Ek gaan sit eenvoudig voor my PC en begin. Idees en dinge kom uit my brein as ek hulle gaan uithaal. Ek droom nie songs nie. Ek's nie een van daai nie.

Wat kom eerste, die lirieke of die melodie?

Hulle maak maar beurte, soos stout kinders! Ek hoor partymaal 'n wysie in my kop, maar as die wysie eers daar is, kom die woorde taamlik gou. Ek moes al 'n gedig toonset; gelukkig kon ek die woorde verander om by my wysie-idee te pas. Ek het dit nou net uitgewerk! Lyk my die wysie is eerste!

Het jy van kleins af dieselfde musiekstyl gesing, of het dit deur die jare verander?

O nee! Ek het eers ge-FOLK saam met Groep Twee en Carike, ge-GOSPEL saam met Min Shaw, toe begin DISCO saam met Donna Summer, ge-ROCK met Bachmann-Turner  Overdrive & Chicago. The Police het ons almal se lewens verander en ook die musicals Fame en Xanadu (glo dit of nie). Al hierdie invloede het maar deurgewerk in die stem en aanslag – Aretha Franklin, Anne Murray, Robert Plant … Geen sanger kan hulle hoor en weer dieselfde wees na die tyd nie. So ja, dit het verander. Soos mens ook ouer word en settle in jou lyf, kry die stem sy lêplekkie.

Wat geniet jy die meeste van jou beroep?

Ek is 'n hunter-gathererwat my tuiste verlaat om my ding te gaan doen. Dis heerlik vir my om nuwe mense en nuwe plekke te ontdek en te leer ken. Ek geniet ook die vreugde wat musiek aan mense bring. Dis ook lekker as iemand vir jou sê hoeveel 'n liedjie vir hulle beteken het. Dit maak dit die moeite werd. Dis bietjie soos om kerk te hou. Mens versprei die gospel en probeer ongelowiges oortuig.

Watter doelwitte wil jy nog bereik?

Daar is altyd 'n lang lys. Ek wil graag saam met Laurika Rauch sing, en ook met Lance James. Ek wil nog op die Hoofverhoog staan by Innibos, goud gaan met 'n album en ook eendag kan sê dat ek 'n verskil gemaak het in my bedryf en werksomgewing. Ek sou net graag vir die volgende 20 jaar wou wees wat ek vir die afgelope 20 jaar was: betroubaar en hardwerkend. As ek kan regkry dat mense my enduit so sal onthou, was ek suksesvol.