Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Toneel

Woorde in 'n akteur se mond


Leon Kruger - 2006-11-21

Dis vroegoggend, te vroeg vir baie dinge, maar nooit te vroeg vir koffie en ’n sigaret nie. Hy stap lusteloos, met ’n koppie instant in die hand, en ’n eerste-sigaret-mofgeit in die kop na sy klein studeerkamer toe. Eintlik is dit net ’n baie klein kamertjie waar ’n bed nie kon inpas nie en nou omskep is in die plek waar hy daagliks probeer toor met woorde. Hy skakel die groot swart rekenaar aan, sit sy koffie neer, plaas sy hande op die keyboard en begin wag. Na vyf minute staan hy op, loop minder lusteloos uit die klein kamertjie, rook die tweede oggendsigaret, besef gou jy kan nie rook sonder ’n tweede koffie nie en gaan staan in die tuin van sy huurhuis. Na ’n ruk se gestaar na plante wat nie syne is nie en ou braaitjops-bene wat wel is, stap hy minder mof, meer gekaffeïen terug na die klein kamertjie toe. Daar neem hy weer sy posisie in en wag. Dan gebeur dit – skielik, sommer uit die bloute, besef hy twee koffies vroeg in die oggend is dalk net die beste ding om sy trae metabolisme aan die gang te kry. Verskoon my asseblief! Save as …  

Ek het doelbewus nie een van die ander bydraes gelees nie, om sodoende te verhoed dat ek net nog iemand herhaal, maar noudat ek besef hoe min ek eintlik weet, moes ek miskien ’n paar gedagtes gaan leen het.

 

Die afspraak*

Daar is twee vrae wat ek gereeld gevra word: Van watter kuns hou jy, of wat is vir jou kuns? En die ander een is: Hoe skryf jy? 

Wat is vir my kuns? Ek weet nie. Eerstens is ek hopeloos te dom en oningelig om enigsins uitsprake te lewer oor die meriete van 'n gegewe stuk werk. Al wat ek weet is hoe 'n toneelstuk, skildery, beeld of stuk storie my laat voel en op grond daarvan maak ek 'n besluit of dit vir my kuns is of nie.

As 'n kunstenaar met sy gehoor connect op enige vlak, intellektueel of emosioneel, is sy kommunikasie deur sy werk geslaagd. Of jy daarvan hou of nie, maak nie regtig saak nie, maar ten minste is daar kommunikasie. En dit gebeur net wanneer die kunstenaar besef hy is nie die rede vir die kuns nie, slegs die instrument. Met ander woorde, vergeet van jou ego, want ek glo die enigste struikelblok in my lewe as skrywer is my vermoë om verby my ego te skryf, want as ek gaan toelaat dat hy die woorde op papier sit, gaan ek met niemand kommunikeer nie. Noudat ek dit deurlees, sê ek steeds niks nie, maar dit klink nogal kwaai. (Sorry julle, dis die eerste keer dat ek oor die goed moet skryf en nou wil ek eg slim klink.) 

Wat die ander vraag betref: Hoe skryf ek? Ek weet nie. Soos jul kan aflei, weet ek nie baie nie, maar ek het geen agtergrond wat my as skrywer, of dramaturg definieer of kwalifiseer nie. Hel, ek het nie eens 'n graad nie, kan nie ordentlik spel nie en het eers onlangs gehoor daar is iets soos sintaksis, maar weet steeds nie wát dit is nie. Omdat ek Engels grootgeword het, het ek nie myself verdrink in Afrikaanse literatuur nie en volgens vertroulike bronne is Kuifie nie literatuur nie. So ek het gewoonlik nie 'n clue wat om in intellektuele geselskappe te sê nie en noudat ek daaraan dink het ek ook nog nooit werklik 'n dors aan Engelse literatuur gehad nie. Was Scope kuns? Wel, my pa het altyd so gesê en my pa is altyd reg.

Oor die algemeen is ek maar 'n lui skrywer en het ek net geskryf wanneer dit moet, soos wanneer my girlfriend teveel begin praat, wanneer die kat eindelik wakker word en besluit om van die keyboard af te klim, of wanneer ek nie kan slaap nie – wat nie maklik gebeur nie, aangesien ek hopeloos te veel wyn drink om te lank wakker te bly. Dit was tot onlangs toe – wel, drie maande gelede, om presies te wees.

Ek begin my oggende nou met ’n belangrike afspraak: die een met my onderbewussyn. Ja, ek weet dit klink simpel, maar ek moes iéts doen om aan't skryf te kom, toe gaan sien ek iemand (nee, julle mag nie weet wie nie) wat die voorstel gemaak het. Sy glo dat jy met jou onderbewussyn kan kommunikeer en indien jy die belofte maak om daagliks op 'n sekere tyd op te daag, sal jy begin skryf. En nou doen ek dit, elke oggend 06:45–08:00 in die winter, want my onderbewussyn hou daarvan om in te lê op 'n reënerige Kaapse wintersoggend. En ek moet sê dit werk nogal. Soms skryf ek niks nie en soms skryf ek bladsye, maar die belangrikste is, ek skryf, sonder inhibisies en hopelik verby my bleddie ego.

 

Van teks na teater

Soms voel ek dat die dryfveer vir Afrikaanse teater ’n kollektiewe vrees is. Vervaardigers, skrywers, akteurs se kuns word ondergeskik aan ’n vrees van verantwoordelikheid om dié vorm van kuns in Suid-Afrika te laat oorleef. En alhoewel die vrees sekerlik nie die beste katalisator vir kreatiewe denke en produktiwiteit is nie, het dit gelei tot die een ding wat niemand jou op varsity kan leer nie – ’n commitment om saam iets te laat werk, maak nie saak wat die struikelblokke is nie. En met die afwesigheid van korporatiewe borge en ander finansiële inspuitings en ’n treurige kuns-en-kultuur-infrastruktuur het daar landwyd ’n klomp klein groepies Guerrilla Teatervegters ontstaan en dis hulle wat vandag die asem van ons bedryf is.

Skrywers en regisseurs wat hulle begeef op plekke waar hul nie wil wees nie, nl: die verhoog. Akteurs wat opstaan uit die diep, sagte rusbanke van die “Green Room” (is daar nog so iets?), hulle menthols dooddruk om te help stel bou. Ek sê nie almal kan deesdae alles doen nie, maar daar is ’n ontwikkelende wil wat meemaak dat almal bereid is om enigiets te doen om ’n projek te laat werk. 

Vervaardigers wat geld wat hulle nie kan terugbetaal nie, by banke gaan leen, akteurs wat vir ’n glimlag en twee Zingers werk, en regisseurs wat toor met R3,74.  Dit alles net om een show op die planke te bring, en alhoewel die meeste van die produksies nooit die gehoor se lewe gaan verander, of ’n nuwe denkrigting gaan begin nie, is daar altyd een of twee wat jou hart gaan uitruk, daarop pis en met ’n uitdagende hand vir jou sal teruggee.        

Omdat bitter min dramaturge, indien enige, suiwer fokus op dramas, weerspieël baie tekste eksterne invloede van prosa wat ook soms ’n joernalistieke klap weg het. (Ek wys geen vinger nie, maar gebruik myself as verwysing.) Dit is te verstane siende dat niemand dit kan bekostig om agt ure (met lunch) ’n dag aan ’n verhoogteks te skryf nie, want kort voor lank gaan daar ook nie meer iets wees om mee te lunch nie. Die realiteit het ons almal lankal besef: om dramas te skryf kan nie ’n "full-time job" wees nie – jy gaan nie geld hê vir die huur nie, wat ’n effense terneergedruktheid met rooiwyn gaan veroorsaak, wat lei tot ’n besef dat daar nou nog minder geld vir kos is, wat ’n totale depressie met erge, goedkoop soetwyn gaan veroorsaak, wat lei tot die besef dat dit nou net die hond is wat deesdae eet. Daarom kan die proses van drama skryf vir my niks anders wees as ’n konstante leerproses nie en leer kan jy net as jy gaan sit en skryf en as jy gaan sit en kyk na ander se werk. Ons kan miskien nie vir agt ure ’n dag skryf nie, maar ten minste het ons die wil om dit te doen, met die gerief om uit ons eie foute en ander s’n saam te leer.

Skrywers kan nie bekostig om precious te wees oor hul tekste nie, en alhoewel dit soms ’n baie moeilike ding is om te doen, moet jy jou kan oopstel vir kritiek en verandering, want op die ou einde moet die produk altyd belangriker wees as die individu. (’n Kopie van my nuwe motiverings-VHS is eersdaags beskikbaar.) Om jou teks af te gee aan ’n regisseur is senutergend en ek is dan op my kwesbaarste, want tot op daardie stadium is ek nog vreeslik windgat voor die keyboard met mantras soos “Hierdie is ’n meesterstuk!” – helaas gewoonlik nie, want daar is niks wat dialoog en ritme toets soos ’n eerste deurlees nie. As skrywer is jy die een wat ’n idee lewe probeer te gee op papier, maar soms is jou idee meer leesbaar as opvoerbaar en soms is jou dialoog geskryf eerder as gepraat.

Hoe woorde in ’n akteur se mond sit, is een van die ongemaklikste dinge wat ek kan hoor, want dit is waarlik die eerste keer dat jou idee dimensies kry waaraan jy nooit gedink het nie. Jou idee se kleur verander, sy tekstuur word minder grof en stadig, baie stadig voel dit of hy jou soos ’n skoolkys los en nou deel word van iets wat bietjie belangriker as jy is. Dis nie altyd lekker nie en in ander se oë is dit dalk nie so belangrik soos vir die een wat skryf nie (hel, ons red nie die wêreld van iets vreesliks nie), maar as jy begryp dat dit deel is van ’n organiese proses en leer om daardie proses te vertrou, dan is die eindresultaat gewoonlik die pyn werd. So gee jou oor aan wat akteurs en regisseurs te sê het, want dit kan van net nog ’n teks een van daai maak wat almal se harte gaan uitruk … (Julle weet wat volg.)

Hel, ek het nou net ’n “word count” gedoen en gesien ek is nog nie eens naby die verlangde aantal woorde nie. Toe lees ek dit deur en besef ek het eintlik niks nuuts gesê nie. Dis toe dat ek tot die gevolgtrekking gekom het: ek weet nie veel nie! Maar een ding weet ek wel: EK HOU VAN SKRYF, EK IS EINTLIK BIETJIE LIEF DAARVOOR, en alhoewel ek soms vanweë sekere frustrasies (nl luiheid, afwesigheid van inspirasie, aanwesigheid van te veel wyn, ongenooide aambeie ens) nie kan onthou hoekom ek daarvoor lief is nie, bly dit ’n ongelooflike voorreg om jou woorde op die verhoog te hoor.

 

*Uittreksel uit ’n artikel wat ek onlangs vir die Pukke se Wapad geskryf het.