Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Van leeuloop tot slaksleep – die onreine waarheid


Jana-Mariana Human - 2006-11-21


Ou Theuniskeriekstiekspenis is uit soos ‘n kers en het my gevra om hierdie Sound Bites namens hom te skryf. Die rede hoekom hy uit soos ‘n kers is, is nie dat hy die opsitkers aan beide kante probeer brand nie, maar na ‘n pakhuis vol nuwe hardegatrock-CD’s geluister het – van voor tot agter na elke liewe liedjie op elkeen van hulle. Hy is behoorlik bleek om die kiewe, sy broek bewe – na hierdie handvol CD’s gaan hy skielik nie meer soos ‘n leeuloop deur die lewe nie, maar eerder soos ‘n slaksleep deur hiërogliewe. 

Ek kan verstaan dat ou Theunis-wie-se-naam-rym-met-Venus voel of hy die emmer met sy toonnaels geskraap het nadat hy na al die CD’s in die boks geluister het. Dit het gevoel soos honderde van hulle. Die huidige toestand van rockmusiek is uiters perdfris en rooskleurig, as ek so na daarna luister. Twee van hulle is absoluut briljant, en die res is oukei, maar nou nie soveel dat ek eerder sal minder lipstick koop sodat ek die CD kan bekostig nie. Daar is ook van hulle wat so gemiddeld is en jou doodgewone generiese worsmasjien-rock is – en hulle is ongelukkig in die meerderheid.

Die twee CD’s wat vir my en ou Theunis-wie-se-naam-rym-met-mondhigiënis so sterk soos ‘n muil geskop het, is The Chemical Romance se The Black Parade en Muse se Black Holes and Revelations. So lyk hulle omslaggies as julle hulle dalk hierdie briljante albums sou wou koop by die vriendelike ooms en tannies van kalahari.net, wat die lewe vir ons almal makliker maak met hul onbaatsugtige diensbaarheid en ywer.

DIE TWEE ROCK-CD’s VAN DIE SEISOEN

The Chemical Romance: The Black Parade




en
Koop by kalahari.netMuse: Black Holes and Revelations

Die ouens wat vir hierdie groepe speel, klink almal soos leeus. Hulle het die gestelle van leeus, hulle het die aggressie van leeus, die spierkrag van leeus, leeuemoed, die knaters en die slagtande van leeus, en hulle kan hom loop soos die leeu, dis gewis.

The Chemical Parade se The Black Parade is lag-lag die beste rock-CD wat ek vanjaar gehoor het. Terwyl ek begin luister het, het ek hul foto’s in die CD-boekie deeglik uitgekyk. Passievolle kêrels. Wilde perde. Honger leeus. Dit begin met soveel angs dat ‘n mens eers glad nie lus is om na sulke dermuitrygende kak te luister nie, maar as jy van die woorde probeer vergeet en net na die musiek luister, is dit van allesoorwoë orgasmiese aard op die gevoelsvlak van belewing. Die mannetjie wat vir hulle sing, skree aan die begin oor die dood, en danksy die meevoerende musiek begin sy lamentasies al meer opreg, eerlik en uit die hart uit klink.

Die klank is dik geweef en groots gemeng; dis nie soos ‘n muur van klank nie, maar ‘n tsoenami van teksture en avonture. (Verskoon tog maar as ek soms sulke sinne gebruik, want ek was in my jonger dae mos lid van Jong Dames Dinamiek en sulke dinge bly ongelukkig op ‘n manier vassteek, en boonop is ek ‘n groot bewonderaar van die skryfkuns van Katvrou en CJ die Loslit DJ.)

The Black Parade skets ‘n prentjie van ‘n wêreld wat vir die sensitiewe luisteraar, soos ek, ontstellend kan wees. ‘n Wêreld van verval, van verrotting, vervreemding, verskrikking. Klink dit te erg vir woorde? Wel, die werklikheid is meestal te erg vir woorde.

Dis darem ook nie asof My Chemical Romance hulle net daaraan oorgee nie – eintlik is dit ‘n kreet van verset teen alles in die lewe wat aftakelend is.

En My Chemical Romance se musiek is so fantasties – alles is nie net op C, G en F nie. Ook nie volgens vaste formate van intro-versie-versie-koortjie-versie-koortjie-refreintjie-koortjie nie. Dis propvol onverwagse wendinge – die een oomblik skep hulle ‘n klankontploffing van soveel intensiteit dat my kat die ritteltits begin kry het toe hy dit hoor en skreeuend die berge in gevlug het, en die volgende bring hulle dit alles af tot ‘n enkele klavier. Fabelagtige kontraste. Sjoe, dis soos om ‘n rollercoaster te ry as jy na hierdie CD luister. Dit is donders lekker.

Dis ook soos rollercoaster ry om na Muse se Black Holes and Revelations te luister. Absoluut briljant. Ek het nie woorde daarvoor nie. Op party plekke klink dit bietjie soos U2, but so what – trouens, ek is van mening dat Muse baie meer opwindende en interessante rockmusiek as U2 maak. Nie dat ek U2 wil afkraak nie – ontspan. Daar is tans verskriklik baie rock-CD’s op die mark vir Krismis, maar jy kan nie verkeerd gaan met Muse en My Chemical Romance as jy ‘n volbloed-rockliefhebber is nie.

Oukei, wat die res van hierdie pakhuisvol rock-CD’s betref, sal ek nie minder lipstick koop sodat ek die aankoop daarvan kan bekostig nie. So ek dartel kortliks deur hulle, tussen die tiere en die luiperds, en helaas ook die hiënas.

Koop by kalahari.netBreaking Benjamin – Phobia

Ag nee. Metallica-Lite, niks anders nie. Die prentjie van die manne in die CD-boekie laat hulle vir my na die tipe lyk met wie geen regdenkende mens bevriend sal raak nie. As jy van macho Metallica-manlikheid smaak, luister eerder na die ware Jakob. As Metallica te heavy is vir jou en jy eerder ‘n soort Iron Maiden-manlikheid of AC/DC-manlikheid verkies, sal jy Breaking Benjamin geweldig geniet en sal dit ‘n stappie vorentoe wees in jou opvoeding. Maar as ek moet kies tussen lipstiffie en Phobia, kies ek my lipstiffie.

Koop by kalahari.netEvanescence – The Open Door

Vrouens wat die moer in is vir hul boyfriends hou altyd baie van Evanescence. Asook tieners wat begin nadink oor die sin van die lewe en nie positiewe antwoorde kry nie. Om een of ander rede ook Afrikaanssprekende wit mense van Pretoria wat NG kerklidmate is. (Dis alles die onreine waarheid.) Ook puriteinse sowel as priss-puristiese rockliefhebbers smaak hulle. Ek ook. Miskien sal ek volgende maand nie nog ‘n paar skoene koop nie, maar eerder hierdie CD. Ek dink regtig so. Want dit klink my of ou Theunis-wie-se-toestand-te-beween-is die CD’s wil terughê, want hy het ook net positiewe jubelinge oor The Open Door gehad toe hy nog laas by sy volle positiewe was.

Wat ek smaak, is dat jy kan hoor die vrou wat hier sing, vat nie kak van enigiemand nie, selfs nie eers Koning Leeu nie. En sy maak dit in geen ondubbelsinnige taal duidelik wat sy dink van die toestand van die mensdom nie. Sy sing tot reg in die harte van alle gebrokenes. Sy raak ‘n seer plek in elkeen aan. En sy sê vir jou wat om te doen sodat jy ‘n beter en sterker mens kan word. Ek meen, in watter ander rockliedjies kry ‘n mens nog sulke soort stories? (Ek moet byvoeg: ek kan nie in een sitting die hele ding deurgeluister kry nie – hier teen die middel raak dit alles darem net ‘n bietjie te erg en temerig. Maar as geheel is dit heel kwaai - luister net een keer na die liedjie "Cloud Nine" en jy sal ook betower wees en jou hart verower deur die siel van een of ander seerower wat jy tussendeur dit alles hoor.

Koop by kalahari.netRazorlight – Razorlight

Mmm. Oulike knapies. Sal nie omgee om met enigeen van hulle saam te slapies. Lekker doodgewone, onpretensieuse garage-rock met attitude. Hulle vorige CD, Up All Night, was baie lekkerder – ek onthou nog toe ek en ou Theunis-wat-tans-versteen-is daarna geluister het. Laasgenoemde sê ook hierdie CD is ‘n teleurstelling ná die wonderbaarlike debuut. Gelukkig is die debuut nog beskikbaar op die mark, en sal ek volgende maand dalk twee bottels minder gin koop sodat ek Up All Night kan koop, want hierdie mannetjies is baie ougat en ek hou van die manier waarop hulle na die lewe kyk. Eintlik is dit skokkend om te sê, maar dis eintlik net die liedjie “America” wat gedenkwaardig is op die tweede album. Dit lyk of Razorlight in die groter bestel van rock-konstellasies een van daai gaan wees wat soos ‘n muilpoep in ‘n donderstorm verdwyn.

Koop by kalahari.netThe Killers – Sam’s Town

The Killers se debuut, Hot Fuss, was allerfantasties. Ek moet eerlik wees: ek was baie teleurgesteld toe ek die tweede een, Sam’s Town, hoor. Ek het iewers in ‘n tydskrif gelees hulle het gesê hulle verander van koers met hierdie album, en dat dit baie gaan beter wees as Hot Fuss. Ek hoop nie hierdie mannetjies gebruik goeters wat hulle warhoofdig maak en hul gesonde oordeel aantas nie.

Maak geen fout nie: hulle is steeds baie brawe, volrond-gesonde leeumannetjies met wie se aptyte daar niks skort nie. Ter wille van balans moet ek byvoeg ek was nugter toe ek die eerste keer na Sam’s Town geluister het. Die tweede keer het ek al twee dubbel gin-en-tonics ingehad en het ek dit baie meer begin geniet en dit nie as ‘n waardelose ervaring beskou nie, al is dit uiters verontrustend om te hoor dat die groep se sanger al meer soos sir Paul McCartney begin klink. Desnieteenstaande skop The Killers gat, al is dit soms op middelmatige vlak. Besluit eerder maar self of jy hiervan hou; moenie my woord vat vir enigiets nie, want skielik besef ek die emmers vol nuwe rock-CD’s hou net nie op nie! En toe The Killers klaar is met my, asof ek nie nog vuisvoos genoeg is na Evanescence nie, tref Jet my.

Koop by kalahari.netJet – Shine On

Die ideale CD as jy weer ‘n lekker wilde paartjie wil hou. Goeie ou dirty rock. Op die oor af klink dit maar gemiddeld, soos jou tipiese generiese run-of-the-mill suipgat rockband, maar moet jou nie deur die eerste indrukke laat flous nie. Vaartbelynde rock, selfs met meer skop en energie as waaroor iemand soos The Rolling Stones tans beskik. Jet klink ook nie of hulle hulself die heeltyd so ernstig opneem soos die meeste ander rockgroepe wat vandag hier ter sprake is nie.

My intellektuele vriendin, die nagraadse student Jeanne van Schalkwyk van Maties, sê ag nee wat, dis die soort musiek waarna rebelse 16-jarige skobbejakke luister as hulle paarties hou. Wel, Jeanne is ‘n koek. As sy wil sit en muf en net na Julio Iglesias luister, kan sy dit doen. Ek wil nie vermuf voordat ek 95 is nie, daarom sal ek Jet se musiek luister en elke keer lekker kry, selfs al voel ek nie noodwendig intellektueel verruim en geestelik verdiep nadat ek na Shine On geluister het nie. In die groter bestel van rock-konstellasies sal Jet seker ook nie meer as die rimpeling van ‘n leeupoep in ‘n orkaan veroorsaak nie, maar so what?

Koop by kalahari.netAudioslave – Revelations

Audioslave se kitaarspeler, Tom Morello, sê in ‘n onderhoud met Rolling Stone hierdie CD is ‘n mengsel van Led Zeppelin en Earth, Wind and Fire. Ek was dus baie nuuskierig. Dit is nie sleg nie, maar niks besonders nie. Sanger Chris Cornell was voorheen van Soundgarden en die musikante was almal eers in Rage Against the Machine. Soundgarden het meer soos ‘n muil geskop as Audioslave. Rage Against the Machine het meer die bussie rooi gelooi as wat Audioslave dit doen. Need I say more? I rest my case.

Maar steeds hou die spuitpoep van leeuloop-volbloedrock nie op nie! Daar is nog te veel rock-CD’s oor in die boks wat ou Theunis-wat-selde-alleen-is my gegee het dat ek hulle nie meer afsonderlik kan behandel nie.

Augustana se CDAll the Stars and Boulevardsbegin onbelowend. Na die tweede snit wil ‘n mens dit afsit, so totaal gemiddeld klink dit. Snit 3, "Hotel Roosevelt", begin ook belowend en val dan plat. Snit 4, "Boston", begin belowend en hou dit vol en is ‘n baie mooi liedjie, ‘n deurleefde vertolking so reg uit die gekneusde hart en vertoiingde siel. Daarna al die titelsnit val weer plat. Hierdie leeumannetjies moet meer liefdesliedjies sing; dit klink of hulle beter vaar daarmee as die liedjies waarop hulle moet brul.

Eagles of Death Metal is ‘n baie lekker naam vir ‘n rockgroep en verklap ook ‘n sin vir humor, iets waarvan daar nie ‘n tekort is op hulnuwe album,Death by Sexy …nie.Goeie garage-agtige rock – moenie vreesbevange wees omdat jy dink jy gaan death metal hoor op hierdie CD nie. Daar is ‘n verfrissende speelsheid en ‘n mens kan hoor hulle het baie na die Rolling Stones geluister. Al is dit vermaaklik, simpel en verspot, is dit as geheel egter maar ‘n liggewig affêre – daar is nog nie iets koninkliks in hierdie leeulopertjies se knatertjies nie. Tog ligweg vermaaklik.

Lostprophets looi dit lekker op hulle nuwe CD, Liberation Transmission. Hulle klink na ‘n klomp verskriklik wilde knapies wat vreeslik kwaad is vir hulle pappas en mammas. Ek sal nie ‘n week lank se sigaretgeld spaar om hulle CD te kan bekostig nie. Maar as klankbaan vir ‘n lekker bandelose partytjie kan dit sterk aanbeveel word, dus hang dit alles net af van jou prioriteite en perspektiewe.

Seether seOne Cold Nightis gehaltewerk en bevat akoestiese weergawes van dié groep se liedjies wat lekker intiem op ‘n wintersaand opgeneem is. As ou Theunis-wat-nie-by-die-agterspeen-rus dit nie wil saamvat ouetehuis toe nie, sal ek. Want songs soos "Gasoline", "Diseased", "Truth", "Sympathetic" en "Plastic Man" is kwaai. Ek sal wel nie ‘n maand se sjokoladegeld afknyp om die CD te kan bekostig nie. Jy kry ook ‘n DVD by sodat jy ‘n prentjie kan kry van alles wat aangaan. Aangenaam, dog straks vervlietend.

Oor AFI se Decemberunderground het ek erg gemengde gevoelens. Dit is
vinnige, harde, rou rock – op die eerste oor af klink dit maar na “more of the same”, generiese rock, maar gaandeweg raak vooroordele uit die weg geruim, met liedjies soos "Miss Murder", maar dan direk daarna weer iets verbeeldingloos soos "Summer Shudder", en dan weer ‘n lekker liedjie soos "Love Like Winter". Die sanger skree soos ‘n waansinnige vark van Gadara op "Affliction". Die energie is siedend. Genoeg om ‘n leeu te laat hardloop. Ek dink nie ek is sterk genoeg vir hierdie soort musiek nie.

Dan was daar nog drie CD’s oor in die boks wat ek gekry het van ou Theuniskeriekstiekspenis. Die manne wat in hierdie rockgroepe speel, is nie leeus nie, maar meer soos prehistoriese monsters. Hulle skree en brul alte onaards en klink asof hulle in toestande van buitengewone breinbeneweling verkeer en deur maagpyn geteister word. Mastodon se Blood Mountain laat Metallica soos babaleeus klink. Dit is ‘n gedonder en ‘n gebral wat hopeloos te veel is vir my sensitiewe gemoed en ‘n mens se hart gaan uit na die arme mense wat wel van hierdie musiek hou, want jy wil jou eerder nie probeer indink wat dit in die musiek is wat tot hulle spreek nie. Donkermetaal, donkerder as die dood. En onthou, ek is ‘n meisie wat van my metaal hou op sy tyd, maak geen fout nie.

Die musiek op Up from the Catatombs van Jane’s Addiction – ‘n versameling grootste treffers - is grotendeels interessant en luisterbaar, maar dit alles word ongelukkig bederf deur die sangertjie, wat klink soos ‘n leeutienermannetjie wie se knaters deur ‘n slang gepik is.

Ek weet daar is baie mense wat respek het vir Deftones, maar hul CD Saturday Night Wrist het my nie in ‘n beswyming van vervoering gehad nie en is hoofsaaklik ‘n geraas, rus-en-vrede-besoedeling en ‘n selfbejammerende gesanik. ‘n Gewroeg, ‘n geswoeg, dit maak mens moeg.

Die groep Into Eternity se The Scattering of Ashes is die vreesaanjaendste album wat ek nog ooit gehoor het. Spoedmetaal, doodsmetaal, gifmetaal, weerligmetaal, ‘n man wat skree en dit in die proses regkry om te klink soos ‘n benewelde aap of versufte skaap wat happie vir smaaklike happie deur ‘n bloeddorstige leeumannetjie verskeur en verorber word. Te afgryslik vir woorde. Ek kan verstaan hoekom ou Theunis-wie-se-lot-te-beween-is voel soos hy tans voel nadat hy na al hierdie musiek geluister het. En dan is daar wragtag nog mense wat dink rockmusiek is goed vir jou. Ek weet nie meer aldag so mooi nie. Al wat ek kan doen, is om my skouers op te haal en my kop te skud.

Die leeumannetjies van rock het geloop en na dit alles sê Theunis-wat-nie-meer-so-sereen-is sy brein voel soos ‘n blote stukkie slaksleep. Wys jou, sê ek altyd, maar nee, julle wil nie leer nie. Wil die gode maar gee dat Theunis-tans-saam-met-iemand-alleen-kaalgat-in-die-reën is.

LAAT NUUS

Koop by kalahari.netO ja, goeie nuus. Liefhebbers van Britse rock in die eighties sal bly wees om te verneem dat die CD The Very Best of the Stone Roses nou beskikbaar is. Glad nie sleg nie. As jy nie in die eighties rock geluister het nie, sal dit nogal ‘n aardigheid wees, en sidder ek by die blote gedagte aan watter kanse ‘n mens alles in jou lewe kan verspeel.

BESTEKOPNAME

O ja, amper vergeet ek om te sê watter van al bogenoemde CD’s ek gekies het vir ou Theunis-wat-tans-sonder-seën-is om eendag saam te vat ouetehuis toe. Dis nét Muse en The Chemical Romance. Die room van die oes. Die kersie op die koek. Sela.