Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Na die dood op Brandwacht


Danie Botha - 2009-02-26

Teen 1955 was ek, sus Dria en boetie Koos bekend met die dood. Al het Ma altyd die hoofstuk in Die Kind se Bybel oor die kindermoord en wenende moeders in Bethlehem oorgeslaan.

In die stuk sandveld het die swart hoop gelê van Kaptein, die muil met sy eens drillende boude voor die ploeg. Knoetse hare, vel, hope bene. Hy verrot in die verlatenheid. Wind, son en reën laat hom verdwyn. Kalkoentjies en gousblomme slaan daar op. Af en toe skiet die swartkorhaan op van die rantjie en kondig die oordeelsdag aan.

Ek kan nie juis van begrafnisse uit daardie tyd onthou nie. Tussen die dakbalke op die solder was wel 'n draagbaar vir 'n doodkis ingedruk. 'n Mens het die pale van bloekom of spaansriet nie dadelik in die skemerte raakgesien nie. In ons kleintyd is dit ook nooit gebruik nie.

Ons kennis van die lewe ná die dood het op hoorsê berus.

Daar was 'n stuk pad waarvan ons baie dinge geweet het. Oupa en oom Pietie het ons vertel.

Dis die pad wat om die kop vol aalwyne en spekbosse loop aan die suidekant van die vallei. Snags is daar 'n gloor bo hierdie kop, want daaragter is die dorp se ligte.

Na aan die pad is 'n groot rots met 'n gedeelte wat donkerder van kleur is. Groenblouerig. Lyk of dit as slypsteen gebruik is. Lank, lank gelede het olifante stadig uit die Kliprivier opgekom en hulle hier staan en skuur, het oom Pietie vertel.

Kom jy van die dorp af, kry jy eers die olifantklip aan jou regterkant, en dan tien treë verder, aan die linkerkant, twee dennebome, altyd stowwerig en verwaaid. Vlak by hulle 'n turksvybos langs 'n kring plat klippe en 'n paar hope kleigrond.

Dis al wat oorgebly het van 'n strooidakhuis. Een winderige Vrydagmiddag het die huismense ingery dorp toe met die kapkar. Hulle het hulle drie honde vlak voor die agterdeur aan kettings vasgemaak sodat hulle nie verbygangers kon bestorm nie.

Oupa sê die Italiaanse krygsgevangenes wat daar naby in die Parsons se klipkappery gewerk het, het seker die veld aan die brand laat raak. Die huis het tot op die grond toe afgebrand. Dink aan die honde met die gloeiende kettings om hulle kele.

Oom Japie Swarts se lang gedermte van 'n huis is seker in dié huis se plek aan die oorkant van die pad gebou. Hier by die murasie het sy enigste dogter, Joycie, die roomwit skoolbus gehaal.

Die stuk pad hiervandaan tot by Rooibult was tog te spesiaal vir ons in ons vroeë tienerjare. As ons op 'n aand by die Swartse kuier, het ons saam met Joycie en haar oppasster, Baby, tot daar geloop en slimstories verkoop. Baby, groot van postuur en al so sestien, het alles geweet van "heavy petting" en "owerspel".

Die son is al lankal onder. Dit word al donkerder en donkerder. Dan sê Baby: "Jakkals gaan julle vang! Ha'loep!" En ons laat waai tot by die langhuis.

Ons het meer dikwels by die Le Rouxs van Hartebeesrivier gaan kuier. Dis die pokkel van 'n James wat my en Koos die stuipe in die ramkamer laat kry. Die kersie brand laag. James maak skadu's teen die muur om te wys hoe sluip die dooie man nader en nader. Die lyk soek sy goue tand, sy goue arm ... sy been ... "Waaaar's my goue been?!" Woep! Dood is die kers. James gryp na my: "Hier's my been!"

Een laatnag ná sulke stories ry ons terug na ons donker huis onder die Brandwachtberg.

Ek, Koos en Dria sit op die agterste sitplekke van die Nash. Die ruite is opgedraai. As jy wil, kan jy diep afsak sodat jy nie die aalwynarms, olifantklip en swart dennebome hoef te sien nie.

Regoor die murasie sien ek kolle lig. Eers spring dit rond. Dan kry dit koers in die donkerte. Dit jaag op die motor af. Nou is dit stukke vuur. Vier aan die linkerkant van die motor; skielik is twee reg langs my venster regs. Die vuur wil deur die ruit kom. Dit word kleiner, word oë. Trek deur die lug net so vinnig as wat die motor loop.

Die geel oë aan my kant word breër. Begin grond toe loop soos 'n stroom water. Af, af. Nou's dit 'n slurp. Rol op, rol af.

Skielik is alles weg.

Die Nash dreun voort.