Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Gebou 2: Burgheer


Willem de Vries - 2009-02-25

Sondae ná kerk het ons gewoonlik vir Karel Egberts in die wolke gaan kuier. Ek het lank gedink dié ou heer wat in 'n woonstel 23 verdiepings bo die stad gebly het, is Douwe.

Skaars het ons daar gesit of ek is na sy klein kombuisie van blou en silwer ontbied waar hy in 'n filterkan op 'n tweeplaatstofie sterk koffie aan die brou was. My taak was om net genoeg sout by te voeg sodat dit die geur uitbring. "Te veel dan is dit ondrinkbaar, te min dan is dit te flou. So ja, dit lyk reg." Koffie en koekies is gerangskik en bedien. Later van tyd moes ek dit onder sy wakende oog binne toe dra.

Elke week was daar groot bruin koeverte, gewoonlik so twee of drie. Daarin was die plattegrond van modelgeboue. In die laaste halfuur of wat voordat die kuiers verby is, het hy, nog aan die gesels, my gevra om 'n spesifieke koevert te bring. Hy het dan een van die gedrukte kartonvelle uitgeskuif en daaraan begin knip. Die res van die kuier het hy lasstukkies omgevou en met sekure bewegings aanmekaar gegom. Soms is 'n ganse muurtjie met vensters wat oopvou en toemaak in dié tyd voltooi. Die daaropvolgende Sondag was dit klaar, asof hy onverpoos aanhou praat, knip en plak het aan die burg of katedraal toe ons al weg was. Op skaal het hy pragtige plekke daar bo tot stand gebring, net soos die orde in sy woonstel.

Sy Afrikaans het nooit die tongval van sy land van herkoms verloor nie. Die silwer raampies en tieroog-eiers en bakkies en boeke en houtpapiermesse onthou ek as kieskeurig uitgestal, sy meubels presieser geplaas as selfs in 'n huis waar 'n huiswerker inwonend is.

Ek onthou ook ander dinge van sy manier van praat: "Ek gaan nié gou weer Malta toe met Fanny nie. Sy put 'n mens te véél uit, maar 'n wonderlike atleet ... Haar oë het my so baie aan Martha s'n herinner ... Lina Verbeek, Jan Verbeek se dogter, onthou julle dalk. Wonderlike dae. Sy was te lui om rem te trap, sy't nét laat gaan. Jy weet gewoon nooit wat aangaan nie totdat sy ... En ons windstil middae, liewe, liewe Here. Nog 'n koekie, Dirk. En jy, Jenny? Sareltjie het al drie geëet, so ek gaan nie eens vra nie ..."

En elke week keer hulle terug in sy gesprekke: Ralie, Matilde, Beatrice, Pamela; Milaan oor Rome na Algiers. Altyd asof hy die vorige week daarlangs was. Wanneer hy gepraat het oor lank gelede, was dit so helder dat hy net sowel na 'n paar dae tevore kon verwys het.

Hulle was altyd teenwoordig in sy gesprekke; die dinge wat hulle sê en doen, het nooit verander nie. Tot die weersomstandighede. Ook al die beprate weë. Soms sê hy: "Matilde was gisteraand hier" of "Julle sal skaars kan glo wat vroeër die week op Capri met ons gebeur het ..." Maar dan weet ons Matilde is oorlede en die verste wat hy die laaste paar jaar gereis het, is selde verder as die inkopiesentrum. Hy klou aan die name met iets veel meer as nostalgie. By sulke geleenthede, wat later al hoe meer algemeen geword het, groet ons vroeër, want op sulke dae, het ons geweet, word hy gou moeg.

Tydens een van die kuiers het hy vir my gevra om op 'n hoë stoel te gaan sit wat voor 'n groot venster is. Ek kon daarvandaan oor die muurtjie van die stoep kyk, maar nie die grond sien nie. Dit het gevoel asof ek op 'n eiland in die lug is. Hy het met my gepraat, maar sodat al die kuiermense moet hoor: "Kyk, Sareltjie, dié plek is groter as wat jy dink - daar buite is my tuin. Dis net van wolke gemaak." Hy het goedig gelag. In daardie woonstel hoog bo die stad was ek 'n klein grootmens: 'n inskiklike kêrel, maar effens dom.

'n Groot plesier was dat ek elke Sondag 'n pak Tarot-kaarte op 'n houttafel mog uitpak en na die prente kyk. Die kaarte het uit 'n kartonhouertjie gegly oor 'n blink laag stilte. Hy het vertel die kaarte help om die toekoms te voorspel, maar hy het niks verder daaroor gesê nie. Die knippende skêrtjie en die plak en praat het die dag geen einde geken nie: Malta, Ciska, Klara, Mexikostad, Buenos Aires, 'n warm bries in afgeleefde hotelletjies en stormagtige liefde op beskutte strande.

Ek hoef al vir baie jare nie meer Sondae saam te gaan kuier het nie, toe ek hoor hy gaan verhuis. Seker uit 'n gevoel van dankbaarheid vir jare van koffie en koekies, die kennismaking met die Tarot en die hipnose van 'n skêrtjie wat ingewikkelde knipwerk doen soos wat hy praat, het ek maar ingestem om hom te help pak.

Ek was so lank gelede laas daar dat dinge verrassend kleiner was. Die stilte was wel nog dieselfde. Die geur van Douwe Egberts en ingevoerde koekies was toe steeds in die kamers. Die woonstel was nog netjies, maar met veel minder snuisterye en meubels op ander plekke as waar ek dit onthou het. Buite was daar geen teken meer van sy tuin nie.

Ek het sout by die koffie gaan gooi en hom toegelaat om my rond te stuur. Dit was jare laas dat iemand my Sareltjie genoem het.

"... en haal asseblief die borde van die tweede rak af en plaas van daardie papiere tussen hulle. Nie in daardie boks nie. Pak maar weer uit."

Die vriendelike versoeke, wat gou oorgegaan het in voorsêery en oorpakkery, het al hoe meer soos 'n soort les geword. Half kwaad het ek gevra: "Hoekom het Oom nooit getrou nie?"

Hy skuifel van die leefvertrek na die kombuisie en sê: "Want ek was verloof."

Hy was sy hande in die kombuis se opwasbak van vlekvrye staal. Hy maak die venstertjie bo die kraan oop en sê vir die wind: "Net Lisa kon my oorhaal. En mooi. Liewe Here sy was mooi. Ek was toe reeds so lief vir jag en die opwinding. En jág het my trots gemaak. Ek kón later seker niemand meer met my laat huishou nie."

Hy maak die venstertjie toe en sien 'n weerkaatsing van homself. "Ná die jare van jag is die herinneringe nog daar." Hy bly stil en ingedagte. Ek gaan terug na die leefvertrek om verder in te pak, toe hoor ek hy praat weer. "Sommige se name is nou heeltemal weg."

Ek pak versigtig koppies en borde in bokse en hoor hom doenig in die vrykamer. Ek moet nog bokste gaan haal. Ek hoor afgemete kokiklanke en hy sê iets saggies. Toe ek om die deur loer, sien ek hy sukkel om die flappe van 'n groot kartondoos baas te raak. Ek laat hom maar begaan en loop terug na die leefvertrek. In die gang is geen groot koeverte meer nie.

Geraamde afdrukke van hawens en horisonne is van die mure van die sitkamer afgehaal. Die son skyn in op die kaal kolle muur wat soos papier effens vergeel het.