Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

Idols groei steeds: Adriaan Louw gesels met Dewald Louw


Adriaan Louw - 2009-02-17

Sowat drie jaar het verloop sedert Dewald Louw die eerste Afrikaanse Idols gewen het. Dié talentvolle sanger het so pas ’n nuwe CD uitgereik. Adriaan Louw het met hom gaan gesels oor die afgelope drie jaar van “groot word”.

Baie van die Suid-Afrikaanse Idols verdwyn van die toneel ná hul debuut-CD. Hoe verseker jy dat dieselfde lot jou nie tref nie?

Idols stel jou aan ’n groot aantal mense bloot, maar wanneer die reeks verby is, word jy in die duister gelaat. Ek was gelukkig om die afgelope drie jaar ’n goeie bestuurder te hê, asook sterk leiding van my platemaatskappy en kenners in die industrie. As ons kunstenaars fokus op ’n sterk “brand”, goeie liedere en unieke vertonings, sal die publiek ons nooit in die steek laat nie.

Wat is die beste advies wat een van die Idols-beoordeelaars vir jou gegee het, wat jy tot vandag toe nog toepas?

Daar was baie goeie advies. Taliep het altyd gesê mens moet nooit kontak met jou gehoor verloor nie. Mynie het my daaraan herinner om in jou talent te glo! Deon Maas het my belowe dat ons nog eendag op ’n eiland saam ’n bier sal drink en behoorlik gaan skinder oor die dae van Idols! Ek sien uit daarna!

Het jy nog steeds jou Peugeot wat jy as Idols-wenner ontvang het?

Ek het die Peugeot 206 direk na die kompetisie ingeruil vir ’n diesel Peugeot 207. Great motor! Ek ry hom vandag nog!

Behalwe jou sangloopbaan, hou jy jou besig met enige ander bedrywighede?

Die sangloopbaan vat die meeste van my tyd. Ek het ook ’n besigheid, Production Intelligence, wat kunstenaars van klank en beligting vir geleenthede voorsien.

Jy was vanaf agtjarige ouderdom by die Philip Kotzé-sangskool betrokke. Het jou gesin nog altyd jou beroepskeuse ondersteun?

O ja, ek dink dis juis my ma wat my aangemoedig het om sanglesse te neem en my pa was vir baie jare my bestuurder en klankman! Dit was nooit eers ’n opsie om enige “professionele” beroep te gaan studeer nie. Hulle het baie goed geweet dat ek suksesvol sal wees in dit waarvoor ek ’n passie het.

Die vermaaklikheidsbedryf is ’n “grootmenswêreld”. Hoe het jy as mens die afgelope tydperk verander?

Ek dink dit is nogal ’n skok vir ’n 19-jarige om skielik in hierdie bedryf in te stap. Ek was gelukkig nog altyd lief vir die media (het selfs mediastudies op Kovsies studeer) en verstaan hoe elke kunstenaar vir ’n plek moet bly veg. Ek het net nog meer lief geraak vir my eie Afrikaanse mense en die tannie op die platteland wat jou scones vir die pad gee. Dit het my help verstaan watter musiek ons Afrikaanse industrie die meeste laat floreer en dit is ook op daardie basis dat die keuses vir my jongste album gemaak is.

Wat was die grootste lewensles wat jy tot dusver in die vermaaklikheidsbedryf geleer het?

Moet nooit by ’n funksie probeer sing terwyl mense aan die hoofgereg smul nie. Niemand gee dan aandag nie en die organiseerders kon eerder agtergrondmusiek gebruik het! Ek hou daarvan om met my gehoor te kommunikeer en dit word nou baie duidelik in my kontrak uiteengesit.

Natuurlik ook om nederig te bly en elke dag aan God al die eer te gee!

Hoe meet jy sukses?

Ek maak ’n baie goeie lewe uit my “stokperdjie” sonder dat ek enigiets anders hoef te doen – daar’s baie min mense wat dit kan sê. Ek’s gelukkig om regtig elke oomblik daarvan te geniet en beskou dit dus as sukses.

Jy is nou al drie jaar ’n professionele sanger. Het jou musiekstyl en -smaak enigsins verander?

My styl het definitief nie verander nie, wel verder uitgebrei. Ek het deur ervaring geleer wat werk en wat nie. Om ’n ballade in ’n biertent by die KKNK te probeer sing, werk nie altyd so goed nie! Soms wil mense goed voel en hulle voete kan saamstamp, daarom het ek nog meer op kwaliteit vinnige liedjies gefokus.

In jou reise wat oor die land strek – van Innibos tot by Piketberg se kerkbasaar – het jy met baie mense te doen gekry. Waarom kan Afrikaners hulleself so geniet?

Ek dink die feit dat ons so lekker kan langarm het baie daarmee te doen! Tieners in Londen hang in klubs uit, terwyl ons jongmense na die plaaslike sokkie toe gaan. Ons ken van skoffel en goed kuier sonder om handuit te ruk! Daarom kan mens jou hele familie na ’n Afrikaanse fees toe vat en jy weet daar sal vir almal vermaak wees.

Jy glo dat jou nuwe album Ek en Jy ég “Dewald Louw” is. Hoe vergelyk dit met jou vorige album?

My eerste album, In Jou Oë, was ’n produk van Idols, met baie liedere wat tydens die TV-reeks gesing is. Die nuwe album is ’n uitbreiding van die eerste een, met ’n verskeidenheid rustige en nog meer lekker vinnige liedjies.

Ek en Jy bevat vier Engelse snitte. Waarom het jy besluit om hierdie keer nie die Engelse mark af te skeep nie?

Weer eens moet ek altyd onthou wie in my gehoor sit en na watter radiostasies hulle luister. Suid-Afrika het baie radiostasies wat glad nie Afrikaanse musiek speel nie. Met Engelse materiaal gee dit my die geleentheid om ’n breër radiogehoor te bereik. Ons Engelse radiostasies het meestal Afrikaanse luisteraars.

Hoe beplan jy om nog ’n trappie op die suksesleer te klim?

Met goeie songs en volgehoue kwaliteit. Jy bly net ’n suksesvolle kunstenaar as jy jaar na jaar mense kan tevrede stel en vir hulle liedjies sing wat hulle ken en waarvan hulle hou! Man, dit gaan lekker wees!!

Is daar iemand spesiaal in jou lewe van wie ons nie weet nie?

Ek en my meisie, Natasha, is al amper twee jaar saam. Sy ondersteun my baie en verstaan gelukkig die bedryf waarin ek is.

Waarheen nou?

Ek sien daarna uit om in die toekoms my nuwe album behoorlik te bemark en seker te maak ek kom by die ondersteuners daar buite uit. Verder wil ek graag TV-werk doen, en ek kyk uit vir geleenthede as aanbieder, ensovoorts.