Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Haar tingelingetjie


Johann de Jager - 2009-02-17

So kom sy met haar tintellaggie soggens kaalvoet uit die brame voor die agterdeur staan om "Oumie" se voete te kom smeer. Sy klop nie, sy lag so kjie-kjie-kjie - Oumie se "klimmeid"- want sy weet Oumie wag, loer deur die sifgordyntjie; het al klaar die bekers reg vir koffie en 'n dik sny growwe brood met wit varkvet wat jy goed sout en vaal van die peper gooi. Kjie-kjie-kjie, want agter haar ruggie hou sy 'n bossie wit blommetjies vas, of 'n pluksel brame, of wilde sampioene. Brood en vet, of korrelkonfyt. En dan was daar natuurlik ook die storieboeke waaruit Oumie vir haar voorgelees het in die dae voor sy self kon lees; en die lei en griffel waarop Oumie haar die ABC in wit op swart geleer het. 'n Verlede nou met 'n vuil nat lappie van die skryfblad afgevee?

Selfs voor die tye van pejoratiewe konnotasies het klimmeid in my ouma se mond meer beteken as die onskuldige identifikasie van sulke jong dogters uit Khoi- of San-afstamming, toentertyd. Klimmeid het beteken "my kind, my geliefde vertroueling" vir haar in haar behoefte en alleenheid. En die wederliefde kon mens voel as jy hoor hoe Trienkie die woord "Oumie" sê: sag, met deernis wat meer as woorde verklank. "Oumie", wat deur liefhê – geen vuil nat lappie nie - die oorspronklike s agteraan, verloor het, nou net 'n eggo van herinnering.

Sy kon maar net sowel by Ouma ingetrek het, die tinktinkiefyn klein Trienkie, maar haar eie ma was darem ook lief vir haar; en saans vroeg is sy deur die brame terug na die afgewitte werkershuisie met die donker rietdak waar 'n lui-lui rokie uit 'n skoorsteen, buite teen die kopkant van die huisie aangebou, opslinger hemel toe soos 'n gebed.

Ouma sou seker gedigte kon geskryf het as sy jonk genoeg begin het, maar swaarkry in depressiejare en droogtes, na 'n verskroeide aarde oorlog, het haar die kans ontneem. Dit was eers toe haar hande en voete al knopgetrek het en Trienkie hulle elke week met 'n nuwe raat moes insmeer - van remvloeistof tot warm ratelmis - dat sy met woorde begin speel het. O, wat pyn en verlange darem nie aan mense en hul inhibisies kan doen nie. Gelukkig was Trienkie daar om op haar beurt nou vir Oumie voor te lees uit Langenhoven en die Bybel, vandat die rolle omgeruil is en Oumie se oë te swak geword het.

Dit was toe Ouma dood is, en ek haar goedjies moes gaan deurkyk, dat ek op die klompie ou koeverte afgekom het. Agter op hulle het sy geskryf, gespeel met woorde; klaarblyklik deur Helena Lochner en sagmoedige Neelsie geïnspireer. Alles het om en oor Trienkie gegaan. Daar was ook 'n brief wat, "Terug na afsender” gemerk, nog tussen die koeverte gelê het. Daarin het sy aan haar enigste seun geskryf dat die Here vir haar goed is, en verduidelik dat Trienkie, "… my kleurtingelingetjie, my tintellag witsieldingetjie …” soos 'n eie is. Hy hoef nie bekommerd te wees nie.

Op 'n wit dankofferkoevert van die kerk het sy beelde gebruik wat meer belesenes metafore sou noem, seker deur die Psalms geïnspireer: "Kiewietjie (dit was haar tweede naam vir Trienkie) jou kaal nessie het ek uit die klipveld by my hart ingeneem. Jy, kroeskuikentjie lê binne die kou van my ribronding beskut."

Op die bruin koevert van die pensioenkantoor was 'n lysie van waar Ouma se nalatenskap dan heen moes gaan. Almal se name is genoem langs 'n lysie wat sy ter herinnering so bemaak het. Ek het haar groot plastiek-warmfles gekry en die Bybel met die geslagsregister voor in. "En vir my tinktinkie,” het dit in haar bewerige oumenshand gestaan, "die tingerige wonderwerkie van my eensaamheid wat soos 'n flinke, ywerige vinkie nessies liefde gebou het wat almal soos harte lyk; al my boeke - my posspaarboekie ook. (Ek het die vormpie binne-in klaar geteken.) Ook my bokhaar-kniekombersie en my transistordraadlosie.”

"Draadlosie," het ek gedink. Want haar woorde op koeverte het self soos die klingel van programme Uit Vergange Se Dae geklink: die klingelinge vir 'n klein kleurtingelingetjie wat kleur en geur aan 'n eensame ou mens se vaal bestaan gegee het; dié dogtertjie wat half verdwaas die laaste keer deur die brame terug moes loop na haar ma se huisie. By die plaat tjienkerientjee voor die brame het sy gaan staan, op haar tinktinkiebeentjies links en regs gewieg, en toe met die draadloos onder een armpie omgekyk. Toe het sy met die ander armpie se mou dwars oor haar gesiggie gevee voor sy dit huiwerig gelig het in 'n soort saluut. 'n Laaste groet.

*

As 'n skrywer 'n naskrif by 'n storie mag hê, moet ek vertel wat ek, ver op pad huis toe al, eers weer oor gedink het. Haar seun, haar enigste kind – wat sal ek sê as iemand vra? Na ek die hele nalatingsnota op die rugkant van die bruin koevert gelees het, wonder ek toe ook oor hom. Toe ek die koevert omdraai, staan daar op die voorkant, asof in nagedagte: "Vir Hannes laat ek die brief na wat die pos aan my teruggestuur het omdat hulle hom ook nie kon kry nie. Hy …”  en toe raak die balpuntpen se ink klaarblyklik op, en gaan sy voort in potlood, wat ongelukkig met die tyd en hantering dof geraak het – onleesbaar, as sprekende metafoor van die lewe self.

KNP.1/2/2009

<< Terug na Vintage@LitNet <<