Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Die perderuiters


Francois Loots - 2009-02-17

My stem het daardie somer gebreek. Toe die swaeltjies vroeg in die lente hulle verskyning op die opstal se dak gemaak het, het ek nog die stem van ’n kind gehad, al was dit ’n kind wat reeds op die brug tussen kinder- en tienerjare gestaan het. Maar teen die tyd dat die duiwe vroegoggend broeis begin rondfladder het, het ek een oggend opgestaan met ’n stem wat erger as Grootoupa (my oupagrootjie) s’n geskuur en gerasper het. Wegsteek kon ek dit nie; buitendien het ek dit eers agtergekom het toe ek juis daardie oggend in die kombuis in Pa vasgeloop het.

“Het jy die skaaprekkies gesien?” het hy my met die rekkietang in die hand gevra.

“Lê hulle nie ...?” ‘In die waenhuis nie,’ wou ek sê, maar my stem het erger geklink as ’n kas gereedskap wat oor ’n sinkplaatpad gery word. “In die waenhuis nie,” moes ek half-fluisterend beduie. “Langs die oortang.”

Pa het my ’n oomblik lank stip aangekyk, uitdrukkingloos, voordat hy omgedraai het. (Of was dit jammerte wat agter sy gebrek aan uitdrukking geskuil het? Hoe sou ek – ’n kind met skaars ’n stem – ook kon weet?)

As ons daardie somer tussen mense was, by ’n veiling of by Oupa-hulle, was Pa geselserig. Seker om mense onder die indruk te bring dat alles, nieteenstaande die omstandighede, goed gegaan het – met so ’n onderlangse blik na my toe. Maar dit was Pa wat dit moeilik gehad het, nie soseer ek nie, al het ek verbouereerd skaars ’n woord geuiter.

“Vroegryp,” het die tannies gesê toe hulle die eintlike rede vir my swye agterkom. “Pure Oupa se kind.”

Oupa met sy handelspos, sewe seuns en sewe plase. Geseënd is sy naam, al het ek as kind reeds aangevoel dat ek nie soos hy wou wees nie. Maar veel erger aan die begin van daardie somer was die gedagte dat ek so onverstaanbaar soos Grootoupa geklink het – en sê nou net dit was vir ewig en altyd?

Wanneer ons ná so ’n byeenkoms weer die pad plaas toe gevat het – Oupa het altyd van "die buitepos" gepraat – het Pa egter stil geword. Swyend tot by die afdraaipad, stom oor die gruispad wat fyn wit stof opgeskop het as ons teen die plato se hang af gery het vlaktes toe. Aan die onderkant, oor die eerste breë vlakte, was daar altyd ’n verbetenheid omtrent sy stilte, asof hy sy lot sekuur in die oog wou kyk. Of was dit bloot omdat die veld daar so klipperig, so dor was?

Dit was eerder ’n moordenaarsvlakte: plaat op plaat sonder werklike veld, ’n grys, oop klipvlakte met skaars ’n gannabossie in sig. Net hulle grafte ’n entjie van die pad af. Soldate uit die Boereoorlog, so is vertel. Drie perderuiters wat bedags in ’n droë rivierbed of ’n kloof skuiling gesoek het en snags gevlug het, maar een nag met perde en al geskiet is. Soms hoor jy hulle nog snags, so is ook vertel – ’n dowwe, verlangse gedreun van hoewe. En as jy mooi luister, kan jy drie stelle hoewe onderskei wat al hoe swaarder dreun, hoe nader hulle kom. Op vlug, maar ek het hulle toe nog nie teëgekom nie.

Hoe wou ek nie! Daar was oomblikke wat ek gewens het dat ek ook die nag in kon verdwyn, weg van Pa se swye af, ver weg van die stilte wat daardie somer op ons toegesak het. Maar daar was niemand nie. Net oom Barkus was daar. Altyd, skuins bo die lynhek op pad opstal toe. Dis van sý weduwee dat Oupa die buitepos gekoop het, maar ek het nooit veel erg aan oom Barkus gehad nie. Al was hy daardie somer die enigste een wat op pad opstal toe hoegenaamd ’n woord geuiter het.

“Lyk my die reën bly weg,” sou hy sê. “Nou die dag se wolkies was maar saai.” Of hy sou praat oor lusernlande, vet skaap en veilingpryse. Hy’t alewig goedaardig gegrinnik en soos ’n wag verbete skuins bo sy hekpos bly waak. Nieteenstaande sy skadelose gegrinnik het hy die stilte op pad opstal toe net erger gemaak. Ná die lyndraad was dit gelukkig nie meer ver nie. Grasveld, kol-kol kokers of klosse karee hoe nader ons aan die opstal naby die spruit gekom het.

Pa se stiltes het daardie somer vir dae aaneen geduur. Die nodige is wel gesê, ja.

“Daar’s nog lammers.”

“Moenie vergeet om beenmeel by die voer te meng nie.”

“In hierdie hitte moet jy liewer jy die lusern bietjie langer water lei.”

Maar selfs dan was sy oë afwykend en was hy stil-stil besig met iets diep in hom. Dis wat een van die tannies vir my kom sê het. “Jou Pappie het goed diep in hom.” Maar ons, ek en Pa nou, het eintlik baie min met mekaar te doen gehad. Ek was soggens lank voor sononder al op om die lande water te lei voor die dag se vuurbal op ons kom neerbrand het. Daar was koeie om te melk, die lammers moes bottel gegee word, die hoenders mielies, voer vir die melkkoeie ook. As Kerneels, die arbeider, nie uit was om van skaappos tot skaappos na jakkalsspore te soek nie, het hy my soms gehelp en sou ek vroeg genoeg klaar wees om Pa nog by die ontbyttafel raak te loop. Maar dikwels was ek vroegoggende alleen.

Ja, Grootoupa het soms sy verskyning gemaak. Skielik, as ek besig was om mielies uit te meet of ’n emmer melk huis toe te dra. Maar aan hom het ek ook nooit veel erg gehad nie. Daardie somer het ek hom buitendien so veel as moontlik vermy. Hy’t ’n taal gepraat wat vreemd en tog bekend was, sy ledemate het soos droë houtskarniere gekerm, maar die ergste was daardie stem – ’n geskuur en gerasper wat ek om dood en lewe nie wou hê nie! Gelukkig het hy meestal agter Pa aan geloop en Pa was vroegoggend al uit poste toe. Teen die tyd dat ek opgedaag het vir die ontbyt wat Koba, Kerneels se vrou, reggesit het, het net Ma my, soos haar gewoonte was, steeds met skoolboeke ingewag. Dan was Pa reeds uit.

As Grootoupa die slag nie saam met Pa was nie en in die loop van die dag sy verskyning gemaak het, het hy gewoonlik op Pa gesit en wag. By die waenhuisdeur of op die stomp voor die opstal. Nog ’n rede hoekom ek nie van hom gehou het nie, was dat hy die stilte in Pa laat toeneem het – as ’n mens stilte sou kon meet. Een keer het ek hom reguit deur Pa sien loop. Pa het na die kombuisdeur toe aangestap gekom, Grootoupa was meteens daar, en ná sy ingryping, Grootoupa s’n, het Pa na die portrette in die sitkamer geloop en hulle afgestof. Grootoupa het soms Pa sy draaie vír hom laat loop. ’n Ander keer ook, dié slag toe ek Pa met ’n vreemde erns op Koba sien afloop het. Toe ook was Grootoupa skielik daar om deur Pa te loop en hom te laat omdraai. As Grootoupa só opgetree het, ja, dan het Pa nóg stiller geraak.

As die dag se werk afgehandel was, het hy daardie somer altyd voor hom uit sit en staar. Sulke tye, as Koba hom kom sê het dat haar werk klaar was en dat sy nou na hulle blyplek anderkant die spruit toe gaan, het hy haar nie eers gehoor nie. Oor aandete het hy ingedagte sit en peins. Maar meteens sou hy opspring en ’n plaat gaan opsit. Altyd iets met ’n stadige, verleidelike ritme. "Love me tender", en kort voor lank was Ma daar. Dan het hy voor haar gaan staan en sy hand uitnodigend uitgesteek.

“Met so ’n stoflyf dans?” het sy hom altyd eers geterg. Of ’n verskoning uitgedink oor ’n takie wat nog afgehandel moes word.

Dan het Pa sommer ’n stoel of ’n ding gegryp en daarmee begin dans totdat sy begin lag het. En omdat hy as’t ware vanuit die stilte diep in hom uitgeklim het, het Ma maklik toegegee en hardop gelag as sy haar deur hom laat optrek het: Ma in ’n ligte somerrok, gereed om by Pa se danspassie in te val, haar een hand wat lig maar sekuur in syne lê en sy een arm wat gou teen haar rug af skuif.

Sulke aande het ek hulle dan alleen gelos en na my bed onder die boom agter die opstal gegaan. Dit was ’n reuse-doringboom wat ’n hoë sambreel oor die werf se hoek gegooi het: bedags as ’n skerm teen die son, en snags om die maan en sterre se helder lig te demp. En met ’n stam wat my kinderarms skaars halfpad kon omvat. Maar sulke aande, met ’n verleidelike ritme wat uit die huis weerklink het ... niks nie, nie eers die veraf, dowwe geluid van perdehoewe nie.

Daar was ander ja, feitlik altyd. ’n Joubert-vrou. Joubert was haar nooiensvan, het sy gesê, en die kind wat sy agtergelos en nou kom soek het, was ’n diamantgrawer s’n. Ook ’n naamlose man; naamloos omdat hom geen geboorte gegun was nie. Tog het hy aangetrek soos die sakeman wat hy eendag in ’n verafgeleë stad sou kon geword het. Ewe min as wat ek haar sou kon aanraai om haar bestaan nie in die verlede te soek nie, net so min sou ek hom kon sê om sy rug op die toekoms te draai. Ek sou hom eerder wou vra om my saam te neem na daardie verafgeleë stad van hom. Na ’n plek waar ’n mens saans sou kon uitgaan, ’n plek met helder ligte en mense.

Ook ‘n plek met donker hoeke, hoewel ek dié gedagte ten spyte van my ongemak met Oupa nog nie werklik kon verwoord nie – veral nie met ‘n rasperstem nie. Maar daar was ander. Al was daar ‘n effens skrikwekkende en geil donkerte omtrent hulle, wou ek altyd hê dat hulle langer onder die boom moes talm.

’n Kort maar fris matroos wat in die tyd van Van Riebeeck op sy eerste dag aan wal met ’n ander man betrap is; hy is met ’n vark om sy nek gebind in die see gegooi en het van die see af reguit binneland toe gevlug. ’n Skaapwagter, klein en tingerig, en skaars ouer as ek. Hy en ’n boer se seun het op ’n plaas naby Graaff-Reinet met ’n koei gelol, maar net hý is skuldig bevind en gestenig, waarna hy die hasepad gekies het. ’n Polisieman van Van Rhynsdorp se wêreld wat in ’n sel saam met ’n ander man betrap is, sy broek sommer in die weghardloop aangetrek en op sy perd gespring het, maar in die vlug geskiet is – en sonder perd aanhou vlug het. In Van Rhynsdorp hoor hulle snags seker nog daardie skoot klap, maar by ons was die vlaktes stil, stiller as Pa, so stil soos die allerverste hoek van die buitepos.

Tog het ek hulle een nag gehoor. Net een nag. In die dae daarna het ek gretig gesoek na ’n leidraad wat ek in die dae voor hulle verskyn het, misgekyk het. Na ’n teken van hulle koms, al was dit net om die paar oorblywende gestaltes van daardie nag as ’n geheel te kon orden. Daar was egter niks ongewoon aan die dae voor hulle koms nie. Vroegoggend al op die lande en by die diere. Ma steeds soggens by die ontbyttafel. Koba wat vroegaand geloop het, en Pa wat strak staar na die eetkamertafel – en dan, soos handomkeer, ’n stadige en verleidelike ritme wat uit die huis kom, terwyl ek onder die boom was.

En dis ná so ’n aand dat ek onder die doringboom wakker geskrik en perdehoewe ver weg gehoor het. Ver, maar kon jy hoor dat dit nie sommer net ’n galop was nie. Daardie hoewe het gedreun, die perde se treë groot en lank, en ek het opgespring en halsoorkop in die rigting van die geluid gehardloop. Verby die lande, sommer bo-oor die werf se heining, die wye veld in, maar verder as die heining onthou ek nie.

Net hoe ek die volgende oggend wakker geword het, met die stil, leë vlakte wat geheimenisvol voor my in die oggendson oopgesprei het. Of amper, want dit was nie lank voor sonsopkoms nie, en ek het verslaap. Ek het opgespring en huis toe gehardloop, maar ek was skaars op die werf, toe loop ek so te sê reg in Pa vas. Hy was in die bakkie, reeds op pad poste toe.

Eerder deurmekaar ná ’n nog onverklaarbare nag as skuldig oor ek laat was, het ek na die bakkie toe geloop. Pa se een arm het by die oop venster uitgesteek, met die boarm op die deur gerus, die ander arm se hand op die stuurwiel, en hy het my vraend aangekyk. Dit het my ’n oomblik of twee geneem om te besef dat hy nie eers weet dat ek in die oop veld geslaap het nie en dat hy my vraend aangekyk het omdat hy dog ék wou iets sê of vra. En dat hy my reguit in die oë gekyk het. Syne ... Wat het ek verwag? Oë wat verwikkeld rou moes toon? In plaas daarvan die eenvoud van poelbruin irissirkels, omring deur ’n helder wit.

Maar steeds verbouereerd omdat ek laat en met net ’n slaapbroek aan vanuit die veld gekom het, het ek sy oë ’n oomblik lank ontwyk. My oog het op een van sy wangbene geval, gerond bo ’n stoppelwang. En ek het sy mond raakgesien, die breë onderlip en ’n kuiltjie wat ’n gitswart lyntjie halfweg teen die ken af kloof en – my God! – meteens het ek verstaan wat die tannies met “’n ding diep in ’n mens” bedoel het.

Al was dit net in my geestesoog, het ek skielik weer die ruiters gehoor: die oordonderende gedreun van hoewe en ’n stem wat reg langs my oor geskree het. Gevoel ook: die ruiter se bobene wat my ferm vasgeknyp het, met sy een arm om my bolyf gehaak en sy voorarm teen my bors vasgedruk. Ek het opeens besef hoekom ek altyd so ongemaklik met Oupa en sy sewe seuns gevoel het, asook hoekom ek altyd wou hê dat die matroos, die skaapwagter en die polisieman langer onder die boom moes verwyl. Só was ek, dís wat ek is.

Weens ’n oomblik se verbouereerdheid oor dié nuutgevonde selfkennis het ek steeds van Pa se oë weggeskram: ’n kortmouhemp en onder die hempsmou ’n harige boarm. My oë het na Pa se bors gedraai en vasgesteek by hare wat dig bokant die boonste knoop uitgepeul het. En omdat ek weer daar wou wees, op die perd, het ek meteens ook verstaan hoekom Pa vir Ma aand na aand met haar plate opgeroep het.

“Pa ...” Ek weet nie meer mooi wat ek op daardie oomblik wou sê nie, net dat ek my woorde uit verbasing gesluk het, want dit het gevoel asof die stem wat uit my keel gekom het, nie myne was nie.

Hy’t geglimlag. “Sien jou later.”

’n Glimlag. Dit het beteken dat Pa se stilte vir eers verby was; ek het boonop ’n man se stem gekry.

Maar dit was asof niks werklik in die eerste paar dae daarna verander het nie. Die lande, voer vir die diere, Ma soggens by die ontbyttafel.

En ek, ek kon toe ook ’n dik stem maak, pure Oupa se seun. Nie dat ek soos hy was nie; die selfkennis van daardie nag was onmiskenbaar, onherroeplik, maar ook onvergeetlik. Ek wou weer daar wees, styf vasgepen op die perd met sy geskree teen my nek af, maar in die dae daarna kon ek geen leidraad van hulle koms vind nie. Sonder die geluid van hoewe, of selfs ’n spoor, het die dae opeens leeg gevoel.

Die ander was wel daar, dié wat gereeld by die boom was. Ek het besef dat Graaff-Reinet se polisieman nogal aantreklik was. Hy was nog jongerig, ’n lang man wat amper twee meter onder ’n meetstok sou kon volstaan, met breë skouers, nou heupe en lang bene waarvan die een altyd effe na buite gedraai het as hy teen die boom geleun het.

En net daarna het ons een keer, vroegmôre met ’n skaaplorrie op pad na ’n veiling toe, op oom Barkus afgekom. Hy was nog nie aangetrek nie en hy was skuins bo die hek besig om te was. Of om ten minste om die ritueel daarvan na te doen. Hy’t ’n lyf soos ’n pop gehad: gerond en tog ook vreemd aanloklik met sy harige vetlagies. Nie dat ek ooit veel erg aan hom kon kry nie. Dit was daardie grinnik.

Hy wat naamloos was, daar was ook iets aanlokliks aan hom. Hy was groot van postuur, breed en fris, maar sy houding het my gepla. Altyd effens vooroor gebuig, soos een wat hardloop, al het hy net daar onder die boom gestaan, op soek na ’n getuie van sy lot. Seker omdat hy nooit ’n geboorte gegun is nie, dat hy nie my gretigheid om daardie nag te herlewe, kon raaksien nie.

En hoe graag wou ek nie! Die hoewe, die geskree teen my nek af. ’n Rusteloosheid het by my posgevat. Ek was kwaadwillig bly toe ek agterkom dat Grootoupa nie van matrose, skaapwagters of polisiemanne hou nie. Om die waarheid te sê, hy was bang vir hulle; is nog steeds. En as Pa van die etenstafel af opgestaan het om ’n plaat op te sit, het ek vererg opgespring en buitentoe geloop. Dit was op so ’n aand wat ek sommer net aanhou loop het. Oor die werf, deur die heininghek, ’n klein entjie die veld in.

"Love me tender." As Pa dit vir Ma kon gespeel het, kon ek húlle ook so terugroep. "Love me tender, love me sweet." Ek het sommer net begin sing, verbaas oor die omvang van my stem. Laag en diep met die droë klowe af, dan weer hoog en wyd gegooi oor die vlaktes – vlaktes wat egter leeg gebly het.

Dié bekendes van die boom, hulle’t gekom. By die heining se hek gaan staan of, soos die polisieman, vir ’n lang ruk met sy sywaartse draai van die been teen die heining gaan leun. Die Joubert-vrou het ook vanuit die veld verskyn en ’n ent weg bly staan om te luister. "Love me sweet, never let me go", maar nie húlle nie.

Die rusteloosheid het nietemin sy lê gekry. Ek kon sing, die omvang en draagwydte van my stem verken, en ek was oortuig daarvan dat ek hulle nog sou kon terugroep.

“Speel Pa dan nie vanaand ’n plaat nie?” het ek hom die volgende aand aangemoedig. En in ’n japtrap was ek weer anderkant die heining.

Niks nie. Maar ek wou eenvoudig nie tou opgooi nie. Onder ’n halfmaan en sterre het die veld my met skadukolle aanhou terg totdat ’n jongerige man laatnag vanuit die veld aangekom het. Hy was nogal mooi: ’n blondekop met ’n ligte vel, helder oë en koppige krulle. Hy was ’n Skot, ’n bakkerskneg op pad terug Kaap toe, waar hy lank gelede in die toilette by Groentemarkplein gevang is.

Hy’t my vertel dat hy toe sy lewe in sy hande geneem het en nou wou teruggaan om die afloop daarvan ongedaan te gaan maak. Hy’t in die praat sy kop gedraai en in die rigting van dié stad met sy plein gekyk. Sy kaal nek was net ’n oomblik lank sigbaar, maar dit was nie nodig om hom oor die rooi toumerk om sy nek uit te vra nie. Hy’t met ’n glimlag weer na my toe gedraai en my gevra om saam met hom te gaan.

Ek het dit oorweeg: ’n stad, mense, plekke. Dis nie dat ek daarvoor bang was om my lewe in my hande te neem nie. Om myself te kon wees, moes ek juis dít doen. Dit het ek besef, maar húlle, die ruiters ... Ek weet nie hoekom nie, maar ek kon eenvoudig nie. Ek wou dit alles eers weer herleef, die gestaltes agter my nuutgevonde kennis beter orden.

“Môre,” het ek hom ontwykend geantwoord, want ’n verbetenheid het my opeens beetgepak. Ek het van hom af weggedraai en weer begin sing. Iets omtrent my stem was toe reeds anders, want ek het besef dat ek hierdie versugting nie bloot luidkeels moet uitstort nie, maar as’t ware van voor af moet begin. Sag, verleidelik, roepende; ’n stem wat hoorbaar is en tog ook net-net buite bereik, om hulle só nader te lok.

Dié van die boom was daar, ja. Die Joubert-vrou het ’n huiwerige tree nader gegee, die Skotse outjie het ’n wye sirkel om my bly loop – en meteens het ek haar gesien, vir Ma. Sy’t anderkant die heining gestaan, haar lang hare los oor haar skouers en ’n laken om haar lyf gedraai. Ek was verslae. Omdat ek nie geweet het wat om te doen nie, het ek eenvoudig aanhou sing. ’n Diep bas wat stadig opwel, soos ’n plaasdam wat ná goeie reën al hoe voller en voller raak. Maar voordat die wal kon meegee, het ek gesien hoe Ma afkeurend kyk na dié wat daar was. So asof sy my wou vra of dít dan die soort geselskap is wat ek verkies. Toe het sy omgedraai en terug huis toe geloop.

Dit het my nogal ontstel. Ek het dikbek terug boom toe geloop en onthou dat die polisieman langs my op my bed kom sit het. Hy’t niks gesê nie, net sy arm vertroostend om my skouers gelê; maar toe ek die volgende oggend wakker word, was hy weg.

Pa het my daardie oggend in die kombuis ingewag. Ek kon aan sy houding sien dat iets nie pluis was nie. Hy’t my ook nie in die oë gekyk toe hy vir my gesê het dat ek vir Oupa-hulle sal moet gaan groet nie.

“Hoekom?”

Hy’t my meegedeel dat ek na ’n spesiale skool toe gaan. “’n Musiekskool waar jy ordentlik sal leer sing.”

“Pa?” het ek verbaas gevra. Net oor ek Ma van hom af weggeroep het?

Toe het hy my wel aangekyk, vas in die oë. En syne was onmiskenbaar in hulle eenvoud. Wat het ek ook verwag? Die soete wraak van ’n teenstander?

Op pad na Oupa-hulle toe het ons natuurlik weer oor die moordenaarsvlakte gery, met hulle grafte ’n entjie van die pad af. Daar was ’n oomblik toe ek Pa wou vra om stil te hou, sodat ek kon uitklim, al was dit dan net om ’n droë traan te stort omdat ek hulle nie kon terugroep nie. Maar miskien was Pa reg, het ek ook gedink. As ek kon leer sing, goed kon sing, miskien dán.