Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Sussie se glory


Marthinus van Loggerenberg - 2009-02-17

"En dan wil ek net vir my ma en pa dankie sê vir als en ook vir my budjie koebaai sê wat gister uit haar hok gevlieg het toe daai fucknut Fanie van langsaan die hok se hekkie oopgelos het. Fanie, jy’s ’n donnerse etter, ’n zefgat! Hoor jy my! Hoor jy my! Ek fokken haat jou! Ek gaan jou nog opfok! Jou fokken bliksem! Budjie! BUDJIE!" En daar gooi Solein ’n vloermoer - haar speech vir best-dressed op die Duitse Volkspele-aand solidly in sy moer.

In die siekekamer word sy ’n dubbeldosis Rescue remedy met suikerwater en ’n Bybelversie ingejaag. So skuins bo haar beswyming kan sy hoor hoe die dowwe figuur vir ’n ander sê: “Shame ja, skitso bipolars het dit ook nie maklik in hierdie lewe nie …”

By Solein se ouerhuis sit haar boetie Heinie en naai. Stik ure aaneen die blink lappe vir haar costumes. Hy wil mos ’n fashion designer word. Hy het nou al drie costumes gemaak waarin sy sussie die Duitse Volkspele-aand gewen het. Maar elke keer haak sy êrens in haar speech uit en noem sy nooit sy naam nie. En dit maak hom so briesend dat hy sy eerstejaar-polsies aanhoudend kap-kap-kap teen die naaimasjien se rant.

Solein is in die spesiale skool Lenteblom. Sy is sommer ook in die koshuis gedump. En haar broer dress hom op in Victoriaanse drag wanneer hy kom passings doen.

Dis 1993 en die kinders in die skool moet oefen vir die onluste wat gaan kom vir die dag wanneer hulle Mandela uit die tronk gaan sit. Dis die hoof se opinie, maar die kinders moet daarna luister. Om enige gegewe uur kan die alarm afgaan en dan moet die verbouereerde kinders trappe af speelveld toe en daar in die son staan totdat die hoof haar koppie tee klaargemaak het en dan vir die LO-juffrou vra om met die speakerhoring die kinders terug te ja klaskamers toe in haar bulderende butch-stem.

Die huishoudkunde klas het ’n nuwe juffrou: mevrou Blom. Sy is nie veel brighter as die spesiale kinders in die klas nie - vertel vir die kinders lang stories oor watter special sy gekry het op slip-slops vir haar dogtertjie en dat haar man alewig die voorhek oop vergeet en dat die soom van die pastoor se vrou uitgehang het nou die Sondag by die kerk en so. Moerse exciting stuff.

Tussendeur die onluste-oefeninge meng die kinders deeg en brei tolletjie en naai placemats om hulle skills vir die lewe te verbeter en so ook die jaar om te kry.

Eendag kom Solein se boetie weer in die verskriklikste outfit daar aan. Juffrou Blom dag dié is ’n fashion designer van Engeland oor die kind se skewe uitspraak.

“Jissie, what a funny êksint. You coming from England?"

"Yééés, daaarling," lieg hy.

"And what bring you here?"

"I’m here to measure up Solein for a competition."

"A competition nè?"

"Yes, for Miss Fleisch-feast Calvinia."

"Mejuffrou Vleisfees Calvinia, nè? Ek sê vir jou …"

En sy glimlag vaal verleë.

Terwyl Heinie vir Solein opmeet agter in die klas en die juffrou vir die kinders lees uit Ploeter en Proe, gaan die onluste-alarm weer af. En die vrou kry amper ’n oorval. Hormoonpille was op. Sy weet nie watter kant toe nie en vra-gil op die kinders in die donkie-ry: "En nou? Wat nou?"

"Onluste juffrou. Ons gaan nog almal keelaf gesny en in tyres gebrand word. Juffrou sal nog sien."

"In julle oonde!" gil die juffrou, haar gesig vol rooi en wit kolle en oral pars ? bars? die sweet uit. Haar borste lyk skielik of dit twee keer groter is. So tussen die heavy heaving hiperventileer sy panies verskrik, kry skaars uit: "In julle se oonde! Dié van julle wat nie kan inkom nie, spens toe!" Sy gryp ’n placemat en vee die sweet van haar gesig. Druk dit in haar bra net in case.

Die kinders skarrel tegelyk excited en verbouereerd oonde toe. Juffrou het self haar eie oond gespot en is kop eerste die ding in. ’n Vet luminous groen pantie steek by die oond uit met twee dogters wat hand bysit. "Druk!" gil sy bedompig, "Druk! Juffrou moet in!"

Heinie rol sy oë en flap ’n pols in die rigting van die juffrou se oond. "Come on bitches - help the lady!" gil hy in sy beste soprano-stem, "and don't forget to do it in style, my sunflower children!"

Die dogters druk haar dat sy kreun en juffrou Blom mompel nog: "Red die Brit", maar dit val op dowe ore. Die res van die kinders bondel dom in die spens rond en Heinie klik die deur doodluiters agter hulle toe.

Solein het alweer uitgehaak en tantrum tiranniek in ’n dramatiese wolk bordkryt.

Heinie probeer vir haar water injaag, maar die krane spoeg nie ’n druppel nie. Die dogters hamer aan die spensdeur, want iemand het gekool. Daar kom nie ’n geluid uit die oonde nie. En om alles te kroon begin daar nou rook van die onderste verdiepings af oorborrel na hul vensters toe.

"Gots die plek brand af!" gil Heinie nou in sy beste Benoni-aksent en Solein begin tjank. En die rook borrel en die krane bly leeg en die dogters vergas en dié in die oonde krul net en bid.

Heinie haal sy beursie uit en kry ’n LSD cap wat hy gebêre het vir ’n highday of holiday en jaag sussie een helfte in en sit die ander helfte op sy tong. Last resort.

"Oe, kyk die seëltjie, sussie. Yammi-seëltjie vir briefie ver ver weg! Ons waai in style, skat, en ons gaan fabulous lyk!"

Solein staan half verward en Heinie trippel-trippel links om en regs om, gryp na ’n vadoek en met ’n bacon skêr begin hy die vadoek opsny. Solein beginne snik want die patroontjies op die mure freak haar uit.

Sy doen toe haar asemhalingsoefeninge en voel in no time effe beter. En terwyl Heinie sy laaste masterpiece van design uit die vadoek knip, staan Solein en teken pornografie op die swartbord.

Die juffrou het uitgepass van die oond wat gas lek en die boonste vloer is nou net ’n bomb waiting to happen.

En so hoog soos kites speel hulle. Heinie staple die repe vadoeklappe aan Solein se hemp. Hy dink dit lyk fucking incredible. Die repe vuil vadoek gee so ’n ripped effek met ’n edge aan die hele ding. Mejuffrou Vleisfees se moer.

En soos Solein in die rondte hardloop met sy latest creation aan, klap boetie Heinie sy handjies vuurwarm en skreeu: "Sherman! Sherman! Sherman!" Hy begin "Strong enough" uitbasuin in falsetto en Solein strooi sonneblomsade teen die mure en uit by die vensters.

"Halleluja! Hulle leef nog!" juig die LO-onnie oor haar speakerhorn, want almal het al begin sanik oor die doodgebrande klas 10E op die boonste verdieping. En soos Solein saad by die vensters uitskiet en dit sade reën, bars ’n pyp naby die LO-saal en mens sal nie dink dat groei sal plaasvind uit hierdie tragedie nie.

Solein beleef toe skielik ’n helder oomblik. Sy begin van die placemats se lang repe materiaal aan mekaar las, gryp ’n vleisbyl en kap die spens se deur oop, red dié wat nog nie versmoor of omgekap het van die stank nie, rol die kinders een vir een uit die oonde, maak hulle vas aan die materiaal-tou en hys hulle af na ’n juigende skare.

Heel laaste hys Heinie sy sussie af in haar glorious ripped effek met ’n edge en sy daal benede soos die engel van Batesta. ? Bethesda? Skitter en glans omring haar wuifende hande en pieringgroot oë. En sy hou aan sonneblomsade confetti asof dit die wedding van die eeu is. Haar oomblik van glorie en verrukking. En soos sy afkom, steek sy weer haar best-dressed vir die Duitse Volkspele-aand speech af en bedank die hele wêreld.

Toe sy grond vat, trek Heinie weer die materiaal-tou op en wuif tranerig vir sy audience. Sy het hom onthou. Sy het hom onthou!

Hy rol nog so die plomp juffrou uit die oond toe hulle ontplof.

Jare later by die skool staan die sonneblomme nog hoog en ’n gedenkplaat met ’n uitknipsel van die Huisgenoot-artikel met die ripped effek costume. Dieselfde artikel pronk teen haar muur in die  koöperasie op Calvinia waar sy till slaan, waar sy elke jaar uittraai vir Mejuffrou Vleisfees.

En Heinie help haar nog elke jaar met haar rok. Volgende jaar wen hulle. Jy sal sien.