Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Jerusalemvoete


Willie van Aardt - 2009-02-17

Die afgelope ruk stoei Stefan weer met die monster. Op aandrang van sy psigiater is sy medikasie verhoog. In die laaste tyd wonder hy watter hel sy skoolvriend Sebastian moes verduur het as gevolg van ons samelewing se verkrampte Calvinistiese uitkyk op die lewe. Sebastian se geestelike worsteling met dieselfde kenmerkende gedagtes oor die intieme dinge in sy lewe dien as inspirasie vir Stefan wanneer hy simpel idees kry, soos om selfmoord te pleeg. Dit is ook dan wanneer Sebastian se ma dien as die grashalm wat Stefan aan die lewe hou. Stefan mis ’n skouer om op te leun en hy besef wat ’n voorreg hy het om te weet dat hy met die grootste vrymoedigheid met Sebastian se ma kan praat in dieselfde vertroue as wat Sebastian met sy ma kon praat wanneer die intieme dinge in die lewe te hard op Stefan begin druk. Snaaks hoe die regte woorde die regte ore op die regte tyd bereik wanneer Sebastian se ma vir hom ’n sms stuur om hom te bemoedig. Stefan se liefde vir Sebastian se ma lê deesdae so diep gewortel dat Stefan nie bereid is om deel te wees van ’n verdere teleurstelling in die sin van nog ’n selfmoord nie en daarom dank Stefan die Here vir so ’n ma soos dié van Sebastian.

Stefan wonder soms waar het dit alles begin. Miskien het dit alles begin die dag toe hy op dertienjarige ouderdom ongenooid die badkamerdeur oopgemaak en ingestap het terwyl sy oom onder die stort was. Op daardie ouderdom het Stefan reeds begin worstel met sy seksuele oriëntasie en het hy al hierdie enorme begeerte gehad om sy oom sonder klere te sien. Sy oom was in sy vroeë dertigs met ’n gespierde liggaam wat deur die son bruingebak was. Hy is al sewe jaar getroud met ’n pragtige vrou en is ’n suksesvolle prokureur en sy ’n sakevrou. Hulle het nie kinders nie, en het alles waaraan Stefan nie gewoond is nie, soos ’n groot huis, mooi meubels, luukse motors en sakke geld. Stefan, daarenteen, se ouers is geskei toe hy sewe jaar oud was en as die oudste van vier kinders staan hy sy skoene vol deur toe te sien dat sy jonger broer en twee susters versorg is. Sedert die egskeiding bly hulle in ’n tweeslaapkamer-woonstel terwyl sy ma harde ure werk om ’n behoorlike inkomste vir hulle as gesin te genereer. Op daardie stadium het Stefan se pa spoorloos verdwyn en was daar al vir etlike jare nie sprake van enige onderhoudsbetaling nie.   

In die badkamer maak Stefan hom tuis op die houtbankie met ’n direkte uitsig op die stortdeur terwyl hy deur die glas na sy naakte oom staar wat intussen van Stefan se teenwoordigheid bewus geraak en uit die stort geklim het. Die prag van die manlike liggaam het op daardie oomblik vir altyd in Stefan se geheue kom sit, met Stefan min wetende watter stryd dit vir die res van sy lewe by hom sou veroorsaak. Dit was ook op daardie stadium dat Stefan halsoorkop op Sebastian verlief geraak het. Stefan het nie regtig geweet hoe om dit te hanteer nie, buiten om te fokus op ’n hegte vriendskap wat sou duur tot en met Sebastian se dood. Dit het tot so ’n hegte vriendskap ontwikkel dat hulle bykans altyd in mekaar se teenwoordigheid was. Op skool het hulle alles saam gedoen, altyd probeer om in dieselfde klas te wees en mekaar te ondersteun deur op akademiese gebied mee te ding. Dit is ook gedurende hierdie tyd dat hulle kennis gemaak het met die eng dogmatiese leerstellings van die Christelike godsdiens waarmee hulle grootgeword het.

Onder die vaandel van die Christelike godsdiens is dit doodeenvoudig taboe vir twee mans om mekaar lief te hê en in ’n monogame verhouding saam te bly. Dit is weliswaar ook die wanindruk waaronder Stefan verkeer het as gevolg van die sterk dogmatiese invloed van die godsdiens waarmee hy op daardie stadium te doen gehad het. Eers baie later, op universiteit, het Stefan besef dat alles nie pluis is met die eng dogmatiese leerstellings van die christelike godsdiens nie. Op aandrang van Sebastian het Stefan begin navorsing doen oor die homofobiese gedrag van ons Calvinistiese samelewing en tot sy ontsteltenis agtergekom in watter geheimhouding baie mans leef eerder as om aan alledaagse oordeel blootgestel te wees. Met hierdie wete het Stefan se lewe in ’n warboel van onsekerheid ontaard. Stefan het besef dat hy aan die norm van die samelewing uitgelewer was. In egte tradisie is Stefan ’n paar jaar nadat hy sy studie voltooi het, getroud.    

Stefan het deurentyd kontak behou met Sebastian, wat befaamdheid as ’n skrywer verwerf het, terwyl Stefan opgang as prokureur gemaak het. By tye, wanneer Stefan erg bedruk geraak het, het hy berusting in Sebastian gevind by wyse van sy sagte woorde wat altyd geïnspireer het. Tegnologie het dit nóg makliker gemaak, want deur die druk van ’n knoppie kon hulle met mekaar gedagtes ruil, gedigte en verhale stuur, aan debatte deelneem en gesels oor die vraagstukke van die dag. Dit was juis tydens so ’n sessie dat Sebastian hom meegedeel het dat hy gay is. Die mededeling het Stefan onkant betrap, maar hy het besef wat die implikasie van so ’n erkenning op Sebastian se publieke beeld kon wees. Stefan wou so graag daardie dag die misverstand tussen hulle opklaar toe Sebastian hom daarvan beskuldig het dat hy nie ’n idee het hoe dit voel om gay te wees nie omdat hy immers straight was. Stefan, aan die ander kant, het weer aangeneem dat Sebastian na al die jare veronderstel was om reguit deur sy siel te kon sien.

Die misverstand tussen hulle het bly voortbestaan. In die lig van Sebastian se mededeling het Stefan se lewe egter ’n omwenteling ondergaan. Stefan was nie seker hoe om die opgehoopte emosie oor al die jare teenoor Sebastian te hanteer nie. Stefan was nog minder seker hoe om sy huwelik te benader. Dit was asof hy op een plek wou wees maar op ’n ander plek vasgevang was. In dié opsig het Sebastian vrye teuels gehad. Vrye teuels wat tot sy dood sou lei. Dit is nie asof Stefan nie Sebastian sy vryheid gegun het om in ’n verhouding betrokke te raak nie, maar hy het nooit besef met watter erns Sebastian dit sou bejeën nie. Die dag toe Stefan ’n e-pos van Sebastian kry wat lees dat hy seker eendag ’n man sal hê vir wie hy lief sal wees, het nóg Stefan nóg Sebastian besef watter impak die vryheid om jou ware seksuele oriëntasie in die openbaar uit te leef, sowel as die geheimhouding om dit nie te doen nie, op jou lewe het.

In die psigiater se spreekkamer voltooi Stefan sy persoonlike besonderhede op die inligtingsvorm en oorhandig dit aan die ontvangsdame. Hy gaan sit op een van die rusbanke en terwyl hy sy beurt afwag, kyk hy na die vrolike kindergesiggies en spelende donkies in die skilderye van Frans Claerhout teen die muur. Stefan verlang na die dae van sy onskuld as ’n kind. Hierdie wêreld het geleidelik sy jeug kom afstroop met waardes waarmee hy eindelik deel sou hê aan die ontsporing van die lewe. Sonder dat dit die intensie van ouers is, word onkunde en onverwerkte seer uit hulle kinderdae roekeloos oor hulle kinders uitgestort en oorgedra. Ouers se oorleweringe word hulle kinders se verhale en selfvervulde profesieë. Die skoonheid en ongekunsteldheid word van die kind weggeruk, want die kind moet verdien en sy stempel gaan afdruk dat hopelik die Here ook daarmee beïndruk sal wees. Soveel flitse skiet deur Stefan se bestaan en hy draai hartseer sy gesig weg daarvan.

Die gedagte het nie vir ’n oomblik by Stefan kom stilstaan dat hy depressief is nie, nog minder het hy dit enigsins gelees in die gedrag, optrede en skrywes van Sebastian. Sonder dat Stefan dit geweet het, het Sebastian jare gely onder die wete dat mense dit nie verstaan as jy vir hulle sê of skryf dat jy hou van mense soos wat jy is nie, of hulle nou mans of vroue is, maar dat jy ’n sterker tendens en aangetrokkenheid tot jou eie geslag het, terwyl jy weet wat die Christelike godsdiens waarmee jy grootgeword het, daaroor leer. ’n Geestelike worsteling omdat jy nie aldag verstaan hoe die Here dit kon toelaat wat Hy in jou lewe toegelaat het nie. Uiteraard bring die medikasie net tydelike verligting, maar die geestelike worsteling duur voort. Stefan dink hy verstaan ’n klein bietjie wat in Sebastian se gedagtes aangegaan het die dag waarop hy besluit het om sy eie lewe te neem as gevolg van ’n liefdesteleurstelling met die man wat hy uiteindelik lief gekry het. In die toeloop tot Stefan se eie geestelike worsteling het hy berusting gevind in die feit dat hy Sebastian se ma kan ondersteun met betrekking tot die leemte wat in beide se lewens gelaat is. Die hel van depressie is ’n aaklige donker gat waaruit bitter min ontsnap om weer die son te sien skyn. Sebastian se ma verstaan uiteraard met watter monster Stefan stoei. Stefan probeer deesdae nie meer dink aan selfmoord nie, eerder aan  die lewe.  

Die viering van die lewe lê in die besef dat ons Jerusalemvoete het. Voete wat nie net hulle dodedans dans soos Cussons beweer nie. Voete wat daagliks lyfswaai en guitig jonger word. Ons voete is deel van hierdie werklikheid en heelal. Vir my as gelowige is my naderende sterwe my geboorte-uur. Hoe gelukkig sal my voete nie dans oor daardie brug na die komende werklikheid van ’n nuwe hemel en aarde waarop daar baie mense sal wees, maar geen vullis, veroudering, verval en disintegrasie nie.