Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Yellow Boy


Susan Kemp - 2009-02-17

Ek dink haar naam is Anna. Sy het minute gelede die president soos ’n ridder laat uitroep. Sy gaan hom ook die nekslag toedien. Alles net soos hy haar gevra het.

Toe die president se uitroep weerklink, kyk Yellow Boy op. Anna druk haar gesig in die president se nek, die president slaan sy blik op na die hemele en dank die gode en probeer onthou hoekom hy tot die politiek toegetree het, en die volk se oë gaan oop.

*

Toe sy kreet my in die middel van die nag uit ’n diep slaap ruk, weet ek nie of dit my wyfiekatjie is wat deur ’n vreemde sluiper lastig geval word nie en of dit haar vermeende aanvaller is wat vir die kattemaaiery verantwoordelik is nie, en of dit Anna, die president of die volk se stem in my kop is nie. Ek vat my flits en my nuwe hondjie en mik versigtig (daar is skerpioene in die tuin) vir die deur. ’n Groot pie dreig, maar ek moet bril opsit en kophou terwyl ek in die donker koers kies deur die bosse, want met die terugkom is daar dalk ’n gewonde op hande.

Ná tien minute van struikel deur die donker tuin, met oë wat nog sukkel om te fokus, is ek terug met my stemmige tien jaar oue katjie, wat my al die tyd van die stoep af dopgehou het.

In my hang nog die donker verhaal waaruit die kattesirkus my geruk het. Ek hou my stil binne. Te midde van kommer oor die kat, die gestruikel deur takke wat haak en die geslof deur enkeldiep blare vol onbekende naglewe van die tuin, maan ek die hond tot kalmte, vind met dieselfde ninja-fokus my pad terug deur die donker huis. Ek sak eindelik dankbaar op die gemak neer en probeer hand-op-die-hond nog bietjie van die slaap vashou, sodat ek nie die hele verhaal moet verloor nie …

*

Ja, ek dink haar naam is Anna. A vir Anna (E vir Eva). Wat sou die president se naam wees? Vir Yellow Boy noem almal net Yellow Boy - die president se oogappel.

Die president het sy maters wat om hom hang, kleurvolle karakters wat nie werklik by sy status pas nie, maar hulle het soos ’n wolkie eie persoonlike vlieë saam met hom gekom toe hy president geword het. Sy eiesoortige, dinamiese karakter het hom die liefling van die volk gemaak; hulle het hom met sy maters leer ken, hulle het hom met sy maters aanvaar.

Yellow Boy, een van die sekuriteitswagte, het die nuutste toevoeging tot sy boesem geword. Wie weet hoekom ons vir mekaar lief word? Met die eerste oogopslag word ons boesemvriende, aartsvyande of romanties verknog. Dit was so tussen hom en die volk, en so tussen hom en Yellow Boy. Hy is inderdaad ’n man vir en van vryheid, gelykheid en broederskap, en in Yellow Boy het hy ’n geesgenoot gevind met wie hy sy leed en vreugdes kon deel.

Sy politiek, tegelyk vriendelik en onvriendelik. Wat reg is, is reg. As jy die werk kan doen, kry jy dit (soos hy, wat die president is, dit gekry het!); as hy van jou hou, kry jy nog meer. As jy verbrou, waai jy. Die volk is sy liefling, en hy is hulle liefling. Hy swaai sy septer en die volk laat hom begaan en kyk liefdevol toe.

Hulle sien nie ’n man van onbesproke karakter nie.

*

Anna se koerant is genader om ’n verslaggewer te stuur vir die president se nuutste gier: iemand moet by die presidensiële huishouding aansluit en die volk ’n kykie op hul liefling se persoonlike lewe gee. Anna is aanpasbaar, nie kompeterend van geaardheid nie. Goeie skryfster. Sy sal die president se goedkeuring wegdra en onopsigtelik inpas.

Dag een. Hy lei, sy kyk toe. As jy iets nodig het, vra net vir Yellow Boy. Ja, sê sy, ek ken Yellow Boy goed.

En Yellow Boy hou wag.

Dag twee. Dit is aand. Sy staan op ’n balkonnetjie in die presidensie se balsaal en kyk na die dansende skare, terwyl sy met die ring aan haar vinger ? speel. Die president baan sy pad deur die dansers. Hy is in ’n joviale bui, sy beker loop oor. Hy is die ster van die aand, die leidsman van die volk. Die dametjie in sy arms is reeds klei in sy hande. Jy kan maar sê haar doppie het geklap en nog ’n klinkklare oorwinning vir die president is in sig. Sy oog vang Anna s’n op die balkon, hou haar blik ’n paar passies gevange, en dan verloor hulle mekaar wanneer hy sy dansmaat in ’n draai onder sy arm deur stuur. Yellow Boy is aan diens.

Op dag drie is sy kierang gebraai. Teen die aand is sy kantoor blou gerook. Anna sit en kyk toe. Hy tob en teug. Sy het nie vrae nie. Die president en sy vriende het die vorige aand almal uiteengegaan, teen dagbreek op verskillende plekke in die presidensie tot hul sinne gekom. Yellow Boy het onder die president se venster wag gestaan. Vanoggend het die president en die polisiehoof samesprekings gevoer. Anna het geluister. Hy het niks weggesteek nie. Dwelmhandel is deel van die ekonomie, en pret is deel van sy lewensbenadering.

Hy vra nie wat sy gaan skryf nie. Sou hy ooit omgee? Dalk dink hy nie eens meer aan die rede vir haar teenwoordigheid nie.

Toe hy haar nader trek, wonder sy wat sý dink. Hoekom dink ’n mens partykeer net glad nie? Jy steek jou hand uit, of staan op en slaan ’n rigting in, of bly selfs sit en jy kyk net toe hoedat jy neutraal oorgaan tot ’n daad waaroor jy geen mening het nie. Is dít die betekenisvolle daad, of die een waarvoor jy jou lewe lank voorberei, veldtogte van stapel stuur of nagte oor besin?

Anna druk haar gesig in verwondering in die president se nek. Toe sy vreugdevolle uitroep met dagbreek weerklink deur die slaapkamervenster in die binnehof, waar Yellow Boy wagstaan, ruk sy van skok.

“Yellow Boy!” roep die president uit.

Yellow Boy kyk op en wonder of sy nog hul ring dra.

En die volk se oë rek toe hulle die koerantopskrifte lees.