Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Kouekoors


Hennie Aucamp - 2009-02-12

Op ’n herfsmiddag in die jaar 1922 stap ’n jong Suid-Afrikaner teen ’n helling in Brussel uit, op pad na die Rue de la Régence. Fanie Kloppers, want dis sy naam, weet dat hy in die buurt van ’n museum met beroemde Vlaamse skilderye is, maar dis nie die doel van sy tog nie. Hy moet in ’n systraat kom, en daar by ’n bepaalde nommer aanbel, want hy het ’n afspraak met die heer Demedts, ’n hoogs gerespekteerde handelaar in antikwariese boeke.

Ná drie jaar in Leiden lyk Fanie na ’n Europeër, na voorkoms sowel as optrede; hy praat vloeiend Nederlands, en ook Duits, want dis ’n eresaak by hom om oortuigend oor te kom in Duits. Op stuk van sake was Heinz Tegtmeyer ’n Duitser.

Fanie het ’n vierkantige pak by hom, swaar toegedraai, wat hy met die grootste versigtigheid dra.

Hoe weet ’n mens wie en wat alles agter die fasades van grys blokke in Europa skuilgaan? dink Fanie; beroemde klein galerye, goudsmede wat op huishoudelike skaal werk, antikwariate, buitelandse ambassades.

Fanie klim met ’n stel trappies af tot voor ’n swaar deur, Pruisies blou, soos al die ander deure in die straat, en bel aan. ’n Ewigheid voor ’n versigtige stem in die dieptes van die gebou antwoord; nóg ’n ewigheid voordat die voordeur oopgaan. En weer ’n stel trappies.

Die heer Demedts is neutraal van voorkoms, gryserig en vroegmiddeljarig, maar wat hom vermenslik, is sy gulheid; die glimlag, die wakker oë.

“Die heer uit Afrika,” sê Demedts.

Hy lei Fanie deur sy boekwinkel, en dan met drie trappies op na ’n agterkamer op ’n hoër vlak. Hy knip ’n groot banklamp aan wat op ’n tafel staan wat met groen vilt oorgetrek is, byna soos ’n biljarttafel.

Fanie begin sy pak oopknoop.

“Nie nou al nie,” sê Demedts. “Eers gaan ons koffie drink, en dan gaan ons albei hande was. Kos en boeke gaan nie saam nie – dis die huisreël van elke antikwariaat.”

Terwyl hy koffie voorberei op die Europese manier – ’n liefdevolle klein ritueel, met filterkan en wat daarby hoort – gesels Demedts oor Afrika, wat hy net uit boeke ken, maar wat hom fassineer met al sy eksotiese diere, voëls, skoenlappers.

“Dis of jy bystaan terwyl die skepping voor jou oë gebeur,” sê Demedts hooggestemd.

“Dit was ook die geval met jou vriend Heinz Tegtmeyer, wat met soveel verwondering en tegniese kunne na sy Umwelt gekyk het.”

Ná die koffie neem die heer Demedts die koffiegerei na ’n spoelbak, en stuur Fanie na die toilet waar hy sy hande moet gaan was.

“Ook die polse en die voorarms,” maan Demedts; “met antikwariese boeke kan jy nooit versigtig genoeg wees nie.”

Eindelik sit Fanie met ’n boek voor hom waarna hy gesoek het vandat hy in Europa aangekom het. Dis ’n uiters skaars boek, keurig uitgegee in Dresden, met litografieë van voëls wat Heinz Tegtmeyer in Oos-Afrika geteken het. Die titel, Die Vogelwelt von Deutsch-Ost Afrika, geld natuurlik nie meer nie: Duitsoos is verby. Verby, soos Heinz Tegtmeyer wat in die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het, en nooit sy tekeninge in boekvorm gesien het nie.

Demedts is terug na sy winkel, uit bedagsaamheid teenoor Fanie, want hy weet dat die Tegtmeyer-boek vir Fanie ’n diep emosionele ervaring is. Tog jammer hy kan nie die boek aan Fanie verkoop nie, want dis toegesê aan ’n Duitse versamelaar wat al ’n jaar of twee op ’n waglys is daarvoor.

Soos Fanie een bladsy na die ander omblaai, bons sy hart al hoe onstuimiger. Met elke plaat kom die voëls van sy jongelingskap in Kenia na hom terug: die kwakkels, die blinkgroen bosduiwe, die kolganse, die skoorsteenveërs, die sprinkaanvalke, die waterhoenders van die biesievleie, die gehelmde bleshoenders.

Wanneer Demedts ná meer as ’n uur terugkom, het Fanie die groot boek met sy growwe linne-omslag en leerrug toegemaak. Fanie het Demedts hoor kom, en vinnig sy oë afgevee, maar daar het ’n blink streep op sy een wang agtergebly.

“Nou kan ons na my tekening kyk,” sê Fanie gemaak opgewek, en hy begin die toue en linte om sy sorgvuldig-verpakte tekening losknoop.

Demedts trek sy asem diep in. Voor hom lê ’n akwarel wat die huidige omgewing laat wyk. Hy waan hom in ’n verbeelde Kenia, op ’n lomerige stil dag, naby water, o ja, naby water, want die jacana is ’n watervoël.

Die jacana sou selfs met meer reg ’n trapsoetjies genoem kon word. Uit die blougrys pote spruit, soos twye uit ’n moedertak, die tone waarmee hy so adret op blare en, soos dit soms lyk, die water loop.

“Die jacana,” fluister Fanie, “maar ons noem ook ‘lelieloper’; van een kaaimansblom na die ander, sien, sonder dat dit lyk of hy iets beroer.” Fanie spring op en beduie.

Die spoelvormige lyf is basbruin, en omberkleurig waar die son vol op die vere val. Daar is ’n swart halsband om die nek, maar dit gaan nie onder om die nek nie. Die borsie van die lelieloper is ’n dowwe okergeel, sy kop wit, behalwe vir die verlenging van die swart halsband wat op sy blou kopskild en snawel afskiet.

Heinz Tegtmeyer het op ’n bepaalde manier te werk gegaan met sy tekeninge. Die voël en sy onmiddellike omgewing word haarfyn in volkleur gegee; die landskap op die agtergrond weer word met potlood geteken, maar ewe presies. Dit skep ’n delikate spanning tussen voorgrond, middelgrond en agtergrond.

“Ek dink ek weet waar Horst dié een geteken het: dis net oorkant die grens wat ons plaas van dié van Frau Beplat skei,” vertel Fanie. “Dis by ’n rivier wat nie walle het nie. Gras en biesies stap sommer in die water in, en laat perfekte weerkaatsings, want daar is skaars ’n rimpeling op die water.”

Fanie se oë blink. Hy is totaal onbewus daarvan dat hy ekstaties begin praat het.

Die heer Demedts se rats oë het ’n fyn opdraggie, met potlood geskryf, in die regter onderkantste hoek gewaar, maar hy moet sy vergrootglas byhaal om te kan lees:

          Lippen schweigen,
          ’s flüstern Geigen:
          Hab mich lieb!

Hy kyk op, en merk dat Fanie met neergeslane oë staan.

Die heer Demedts is ’n mensekenner, maar een wat nooit toegegee het aan sinisme nie, al was ook hy eenmaal vergeefs en reddeloos verlief.

“Ek gaan my klokkie afskakel, en dan vertel jy my alles. Dis tog wat jy wíl doen?”
Fanie knik net.

Demedts bly ’n rukkie weg. “Ek het vir ons ’n tafel by ’n nabygeleë restaurant bespreek,” sê Demedts, “maar ons hoef eers oor anderhalfuur daar te wees.”

 

Fanie begin sy storie.

“Dit was in 1907, en ons familie is na Kenia, of om meer presies te wees, daardie stuk wêreld wat Duitsoos-Afrika geheet het. Die rede? Die ou, ou rede by Boere, om onder die Engelse juk uit te kom. Die Duitsers het ons met oop arms ontvang, maar was gou teleurgesteld. Die meeste Boere het gekom om te jag, en nie om te boer nie.

“Nie my ouers nie. Hulle wou regtig boer; wou regtig ’n gemeenskap help vestig, met kerk en skool en sakramente en penitensie.

“My ouers het ’n hoog-geleë plaas gekoop, aan die voet van berg Meru, weg van die koorsstreke af, maar selfs in die koelte van oerbosse het hulle twee kinders aan die koors afgegee, ’n seunskind en ’n dogter, wat die gevreesde koors in die laagliggende dele van Kenia opgedoen het.

“Ek was ’n student aan die Victoria-kollege in Stellenbosch, en kon net een maal die jaar, in die lang somervakansie, na my ouers kom, en dit het baie reëlings gekos. Eers per skip met die Ooskus op tot by Mombasa, en dan met geleenthede verder, as my familie my nie self kon kom haal het nie.

“Een somer – 1912, of was dit al 1913? – het ek in die veld geboer. Ek het die behoefte gehad om my nuwe omgewing in woorde vas te vat, en nadat my eerste literêre stukkies baie goed ontvang is deur die kritici, wou ek iets groters aanpak, maar ag, dit was amper tyd om terug te gaan Kaap toe. Dis ook dié dat my pa my baie onwillig toegelaat het om alleen op die plaas agter te bly terwyl die res van die familie na die Groot Nagmaal toe is. My pa wou my aan ’n meisie voorstel, ene Miems, en ook dít was vir my rede genoeg om my uit die voete te maak.

“Ek was darem nie alleen op die plaas nie; Toto, my jagmaat, was daar, en ook ons honde.

“Een middag, skuins na drie, het ek op aandrang van Toto iets vir die pot loop skiet."

 

Bollende wolke is tipies vir die maand Februarie, net voor die msika kom.

Fanie Kloppers verwonder hom aan die wolkespel; wolke in die hoë hemel, hul skaduwees op die aarde en op rotse. Hy dink aan “Die vlakte” van Jan FE Celliers wat hy uit sy kop ken, en sê hardop:

Plek op plek, soos die wolke trek,
sweef die skaduwees onder mee,
soos eilande wyd oor die waat’re verspreid
op die boesem van die grote see.

Die skaduwees teen ’n rotsmassief beklem hom egter; hulle lyk na die skaduwees van aasvoëls wat baie hoog vlieg, maar tog duidelike skaduwees teen die kranse gooi. Vir ’n sekonde of meer sit die skaduwees teen die rotse, soos velle wat daar vasgespyker is, en dan val hulle af. Fanie lig sy kop en skroef sy oë teen die middaglig, maar sien geen aasvoëls nie. Die gevoel van beklemming bly, en Fanie besluit op die plek om om te draai en huis toe te gaan, al het hy niks vir die pot geskiet nie.

Hy sak skerp teen die helling onderkant die rotse af, gly-gly teen kroes rooigraspolle, tot waar die oerbosse begin.

Fanie het telkens teruggedink aan daardie middag. Was dit toeval, geluk of bestiering dat hy op ’n gegewe oomblik omgedraai en op ’n gegewe punt die oerbos ingegaan het? Iets meer na links, iets meer na regs, en hy sou nie op Heinz Tegtmeyer afgekom het nie.

Daar lê hy, ’n bleek Europeër, lelik geraps deur die son, sy kop slordig gestut deur ’n rugsak, en langs hom ’n groot seilhouer vir mappe, soos dié wat landmeters en kunstenaars gebruik. Hy kreun en yl, mompel Frau Beplat se naam, en dan sak sy kop skuins.

Ek moet hom nader aan die huis kry, dink Fanie, uit die bosse uit. Aan die rooi sonstraaltjies wat hul weg deur die hoë geeldoringbome vind, merk Fanie dat dit al laatmiddag is.

Dis byna ’n onmoontlikheid om die ylende vreemdeling te beweeg. Hy kan nie gestut word nie, want hy het geen krag daartoe nie; hy kan skaars sy hande roer.

Fanie sleepdra die vreemdeling – ’n Duitser, neem hy aan, want hy yl in Duits. Wanneer hy die huis sien, maak hy die Duitser gerieflik sit in die koelte en gooi sy hemp oor die kêrel. Nou draf hy, gedaan soos hy is. Gelukkig sien Toto hom van ver af en kom aangehardloop, en tussen dié twee van hulle sukkel hulle met die Duitser aan na die kliphuis teen die bult.

Skielik gaan die Duitser se oë oop. Hy soek sy maphouer, en wanneer Toto hom gerusstel en die houer voor sy gesig hou, knik hy, en dan gaan sy oë weer toe.

Fanie sê Toto aan om ’n groot vuur in die kombuisstoof te maak en groot potte en kastrolle op die stoof te sit. As dit tog net nie malaria is nie, dink Fanie. Hy haas hom na die spens waar sy ma haar medisynes aanhou.

Eers met koeksoda dokter; baie koeksoda, baie water, om die verstopte niere weer skoon te kry, en dan maar inspring met plasmokien en atebrin. Maar sê nou dis nie malaria nie, dan kan hy mos skade aanrig met die Duitse medisynes? Ag, waar is sy liewe moeder tog, altyd kalm, altyd reg met die regte raad?

Terwyl Toto na die vuur en badwater omsien, neem Fanie die Duitser na sy eie kamer toe. Hy trek hom uit, en trek vir hom ’n naghemp aan, en laat hom lê, met vragte komberse op hom, want die sieke het begin klappertand. Na ’n rukkie bedaar sy gebewe, en skielik sê hy: “Ich bin Heinz Tegtmeyer.”

Fanie plaas sy vinger op sy eie mond om te wys dat Tegtmeyer moet stilbly. Tegtmeyer swyg en sak weg in ’n onrustige slaap.

Fanie maak ’n vleissop, versny met groentes.

“En nou?” vra Toto.

“Ons moet hulp kry,” sê Fanie, “maar ek stuur jou nie in die nag in nie, Toto. Môre, met die dagster, moet jy hulp gaan soek. Frau Beplat is die naaste.”

Dan onthou Fanie dat Frau Beplat ook Nagmaal toe is. In elk geval kom sy ouers oormôre terug. Intussen, afwag en kyk en mag die liewenheer die vreemdeling se lewe spaar.

Toto help Fanie om ’n sinkbadjie kamer toe te dra, en daarna met kookwater te vul.

“Dankie, Toto,” sê Fanie, “en skep vir jou sop en kry brood. Jy moet vroeg gaan slaap, sodat jy my na twaalf kan aflos as dit nodig is.”

Wanneer Fanie met ’n kommetjie sop by Heinz Tegtmeyer kom, is hy wakker. Fanie bind ’n doek om Heinz se nek, en begin hom voer, maar Heinz ruk kort-kort, en dan spat die sop op die doek en soms ook op die naghemp. Dit lyk darem of die sop effek het, want gaandeweg raak die pasiënt rustiger.

Fanie toets die badwater; dit moet nie te veel afkoel nie, want die hitte moet die koors help uittrek.

Heinz, die Duitser, word weer tot op die vel toe uitgetrek deur Fanie. Hy staan wankelrig in die smal sinkbadjie, en verloor in sy verswakte toestand sy balans. Hy gryp wild na Fanie wat hom probeer was, en slaan sy nat arms om die boerseun en druk met sy nat voël teen Fanie se lendene. Fanie probeer om die arms om hom los te kry en lig, met ’n groot gesukkel, een arm in die lug op. Hy sien hoe die donkerrooi hare in die oksel, byna swart, na die kante toe vloei soos ’n inkklad wat water gekry het, en kyk bedwelmd daarna. Die Duitser se arm val slap langs sy bleek sy, maar net ’n sekonde lank, dan omklem dit Fanie weer.

En nou dink Fanie nie meer nie. Sy liggaam het oorgeneem. Hy laat die seep en waslap val, omknel die wit Europese lyf, en snik of hyg, hy weet self nie mooi wat hy doen nie. Op die omhelsings volg, na ’n onverduurbare pouse, ’n lang, sidderende soen. Fanie proe die spoeg in Heinz se mondhoek en skuif, bykans met weersin, sy tong na die ander hoek; maar Heinz vertolk dié gebaar as ’n aanmoediging, en nou flikker beide tonge van een mondhoek na ’n ander, en skielik diep in die grot van ’n mond in.

Wanneer Heinz weer ’n skoon naghemp aan het en onder die komberse is, huilpleit hy by Fanie: “Kom lê by my, kom lê by my.” Wat Fanie dan ook doen. ’n Gesonde lyf kan die koors uit ’n siek lyf trek, het ’n Oosterling in Mombasa hom eendag vertel, veral as albei lywe kaal is.

Terwyl Heinz aansterk, pak Fanie vir ’n twee weke toer in die veld saam met Toto. Wanneer sy ouers terug is, maak Fanie Heinz aan die sorg van sy moeder, tant Margrieta, oor.

“Ek het gegee wat ek kon gee,” mompel Fanie, en tant Margrieta luister verwonderd na Fanie. ’n Ander mens sou gesê het: “Ek het gedoen wat ek kon doen.”

“Kan jy nie maar wag tot Frau Beplat haar gas laat haal nie?” vra tant Margrieta.

“Die groot reëns, Ma, die msika. As ons nie nóú gaan nie …”

Het hy gehoop dat Heinz nog op die plaas sal wees wanneer hy terug is? Hierop het Fanie nie ’n antwoord nie; of eintlik wél: ja, ja, ja.

Maar Heinz is nie meer in die kliphuis teen die berg nie. Frau Beplat het hom laat haal in ’n skotskar uitgevoer met matrasse, en met ’n afdakkie teen die son. Hy het ’n present vir Fanie gelaat, in die harde maphouer wat hy by hom gehad het: ’n akwarel van ’n lelieloper.

“Ek dink Ma moet dit maar vat,” sê Fanie skor. “Wat wil ék nou met ’n prentjie maak?” Fanie sit die prent versigtig op die spenstafel neer, en skuur by sy ma verby, want die ruimte deur toe is beperk.

Tant Margrieta wil haar hand na Fanie uitsteek, maar sy bedink haar: jy kom nie tussen ’n man en sy trane nie.

 

Oor hul tweede bottel wyn begin Fanie en die heer André Demedts mekaar op die naam noem.

“Jy sien dus, Fanie,” sê Demedts, “dat jy jou akwarel nooit uit jou hande mag laat gaan nie. Dis ’n hartsgawe, dis ’n liefdesbrief.”

“Ek wóú dit nie besef nie,” sê Fanie weemoedig, en hou sy fluitglas teen die lig: “Op jou, Heinz Tegtmeyer, al is dit reddeloos te laat.”

André Demedts leun vorentoe en klink sy glas teen dié van Fanie. Demedts lyk skielik soveel jonger, tussen kristalglas, damas en kroonlugters. Hy het sy werksbaadjie by die antikwariaat gelaat en ’n strooikleurige baadjie van Vlaamse linne aangetrek, wat hy op kantoor aanhou vir onverwagte geleenthede. Ook het hy sy bril afgehaal, en vir die eerste keer sien Fanie die werklike kleur van sy oë: helder seemansblou.

“Daar mag weer liefdes in jou lewe wees,” sê Demedts aan Fanie, “maar laat ek jou waarsku, my geëerde jong vriend, werklik dringende liefdes herhaal hulleself nie dikwels in die tyd nie.”

Soms kom daar, tussen die donkerder werklikhede van bestaan, brewwe ligmomente in ’n lewe. Dit is dan dat mense verras, en selfs effens betrap, besef dat hulle gelukkig is. En dit is wat Fanie Kloppers en André Demedts op hierdie oomblik beleef, met ligvonke wat uit hul glase spat.