Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Gebou


Willem de Vries - 2009-02-11

Ek het skaars die plek herken waar ek werk toe 'n ontploffing die gebou langsaan wegruk. 'n Digte wolk snuifgeskiete beton skiet kluite in alle rigtings. Die geweld van die slag laat die kameraman steier en die beeld raak uit fokus. Terreur. Moet wees.

Die nuusleser kondig aan dit is beeldmateriaal van 'n ou gebou in die Kaapse middestad wat die afgelope Sondag gesloop is.

Ek wil dadelik iemand van die kantoor bel om te hoor of iemand anders ook die nuus gekyk het. Ek het niemand se kontakbesonderhede nie. Dis seker ook nie nuus nie. Dis langsaan.
Gebeure-langsaan-nuus.

Die plek het nou wel die laaste ruk toe gestaan, maar dit was lank 'n besige stadsplek. Selfs nadat ek langsaan by Trust Inks begin werk het, was dit 'n woelige blok. Die gebou se kelderverdieping was lank die Vista Rolprenthuis. Die res daarvan was altyd kantore. Aan die berg se kant daarvan is 'n nuwerige gebou, 'n advertensieskool wat maar sewe jaar of so aan die gang is.

Vanoggend toe ek na die parkeergarage in die volgende straatblok ry, het die toneel onwerklik gevoel. My kar het beweeg asof dit op 'n vervoerband in 'n opelugfabriek is terwyl iets my hele borskas lugdig probeer verpak. Die kant van Trust Inks, 'n wand van die advertensieskool en die gebou daaragter se mure lyk soos die kaart van onbekende wêrelddele. 'n Wêreld van kontinente rooi baksteen vasgevang in 'n vuil grys ys van sement en 'n see van ou ligblou verf.

In die hyser op pad na die 37ste verdieping het ek niemand geken nie. Ek voel sonder enige rede asof ek die plek geïnfiltreer het, asof ek 'n agent van die een of ander aard geword het. Hoekom voel ek aanspreeklik? Waarvoor?

Die oggend voel my teuels gevaarlik los. Nie 'n te vreemde gedagte vir iemand wat skielik (wás dit werklik so onverwags?) nie meer die huis met sy vrou van 15 jaar deel nie. Vreemde goed kom loseer vir 'n onbepaalde tyd in die gemoed van enigeen wat voel of iets in hom wegkalwe. 'n Vriendin het een aand verkeerd gepraat en die regte woorde vir hoe ek nou voel, gesê. Sy het gepraat van groot reëns in die Karoo en opgewonde vertel: "Daar was nie riviere nie; toe kom die leegte af."

Toe ek een oggend vroeg van Ralie se woonstel af huis toe kom (ook óns verhouding, wat daarvan oor was, het toe al baie versleg), sien ek Lisa se reistas buite langs die deur. Sy het my in die gang gegroet en gesê sy is op pad na Roy en dat ons sake later kan uitpraat. Saaklik en galant soos 'n portier dra ek die swaar tas vir haar na haar motor. Dit was aan die begin van die winter. Die begin van 'n geykte verhaal.

Ralie het met my afgespreek dat sy my altyd sal bel. Die reëling is die oggend beëindig met twee van my baadjies en skoene wat met 'n boog van die derde verdieping aan my kar se dak terugbesorg is.

My vrou laat my al lankal net een oproep toe, net soos iets uit 'n polisierolprent. Ons praat al 'n hele tydjie nie met mekaar nie. Selfs noudat ek so 'n dramatiese aanknopingspunt kry – 'n reuse-inploffing, 'n huwelik ...

Die beeld van 'n wolk wat dwarrel en wegsak tussen die twee geboue blý die eerste beelde van 'n terreurdaad op 'n internasionale nuuskanaal. As ek 'n agent is, is ek een sonder portefeulje, maar wanneer my rol in al dié dinge bepaal is, sal ek doelgerig te werk gaan. Dit is net 'n kwessie van tyd.

Ek stap gou na 'n koffiewinkel anderkant my werkplek. Die kolossale leemte gaap my aan.

Later, terug op kantoor, groet die mense mekaar beleefder en broser as gewoonlik.

Ek het minstens stof op die vensterbank verwag. Net 'n beker lê op die mat. Ek kon net dit sowel op die rand van die lessenaar neergesit en weggeloop het sonder om terug te kyk. Als is so normaal dat iets verdag daaraan kleef. Lê mense 'n eed van geheimhouding af? Beleef ek al 'n proeftydperk?

Anderkant die getinte kantoorvenster is die straat, smal en doer ver, grinterig en anoniem soos op ou stadsfoto's uit 'n beeldebank.

Terug tuis die agtermiddag voel ek ongewoon lusteloos en skakel die televisie aan. Gebruik die boubedryf nog dinamiet? wonder ek terwyl ek die kanale deurblaai. 'n Gebou en 'n gesig en 'n motor is op dié huishoudelike skerm ewe groot. Oorlogstonele en motorrenne volg mekaar in dieselfde raam op. Ek dink aan draadjies wat verdwyn in springstof wat soos sagte lekkers lyk.

Die televisie wys nou beelde van 'n vrou wat 'n stif uit iets soos 'n koeëldop draai en elegant die osbloedkleursel aan haar lippe aanbring. In die kaste is die voorraad vir skemerkelkies nou blikkieskos vir 'n honger soldaat. Infiltreer ek 'n splintergroep? Soveel van my besluite hang van akute waarneming en akkurate afleidings af.

Ek werk hard om my spertye te haal, maar my dae raak nie voller nie. Dit is omgeef met 'n dowwe woede soos 'n hoofpyn, maar erger - 'n leegte suis in my slape. Die gat langs my werkplek raak vir 'n kort rukkie 'n plein. Oornag raak dit 'n informele parkeerplek.

Ek gaan eet my middagete voor 'n hotel op 'n lang, smal bruin bankie. Voor my is 'n groot, vredige vierkantige bak water. Dié plek is naby Incredible Connection. Rondom is die bome grys en sonder blare. So 'n vredige, grys plein sou 'n mooi ding wees om die gebou mee te onthou. Ek probeer nie meer onthou of dit terreur was of nie.

En toe is dit naweek. Ek skakel Ralie se ou nommer (hoewel ek weet dit is nie meer aangesluit nie) en Lisa antwoord. Ek het toe al die tyd háár nommer gebel. Ek verander my storie soos handomkeer, soos dit 'n goeie agent betaam.

Die Saterdagoggend is ek kwekery toe om van my vrou se gunstelingplante te koop as 'n gebaar. (Selfs in dié stadium word sekere goed van mens verwag, al kan dit onmoontlik 'n uitwerking op die verloop van sake hê.) Onderweg sing iemand oor die karradio oor 'n dans met afsondering. Ek skakel dit geïrriteerd af. Alles om my is al weke lank aanwysings en aanklagtes. Disinformasie vier hoogty. Tussen al die beelde en boodskappe moet ek die leidrade van 'n missie naspeur. Ek hoor bybetekenisse raak in die eenvoudigste sinne, iets sinisters sypel al my dae binne. Al die ander agente voel seker die een of ander tyd so.

Ek het gaan wag vir Lisa op die stoep van die restaurant waar ons afgespreek het ons mekaar sal kry. Dit is 'n loom middag en ek bekyk die wêreld met die oë halftoe. Die son skuif net effens en die restaurantgebou gooi 'n groot skaduwee oor die stoep. Anderkant die skaduwees hardloop 'n groepie kinders op 'n lappie Wonder Lawn rond en speel deurmekaar sonder enige reëls. Alles dáár is vol helder kleure. Dit het die glans van 'n veraf plek. Die gedagte dat sy my dalk amptelike dokumente in die hand wil stop, ontstel my vandag. Hoekom, weet ek nie.

Ek sit op 'n seilstoel wat soos dié van 'n regisseur lyk. Binne het net 'n paar van die tafels al kleedjies oor. Ek is te vroeg vir die afspraak, en dus net betyds om die plek deur te kyk. As jy 'n agent is, weet jy wat om met jou tyd te doen.

'n Kelnerin maak 'n deur oop en ek herken onmiddellik die stem van Anne Sofie von Otter. Sy sing Clara Schumann se bewerking van "Am Strande". Bo die klank van die branders is hoorbaar: "Nur in Traume bringen Geister vom Geliebten Kunde mir." Ek herken dit as 'n duidelike boodskap, maar weet nie wat van my verwag word nie.

'n Hele ent weg, op die strand, swenk 'n groot groep helderkleurige vlieërs in die lug.

Lisa syg neer in 'n buurstoel toe ek nog luister na "Warum willst du and're vragen". Ek herken nie haar klere nie. Haar lippe is helderrooi en haar grys oë is yskoud. Oor koffie raak ons aan die gesels. Vreemdelinge wat geselskap opsoek. Hier is nie veel om van verslag te doen nie. Die ontmoeting verloop sonder afpersing, beloftes of veel emosie. Ook geen dokumente van haar nie.

Later dieselfde dag kom sy by die huis langs. Dit is onverwags.

Ons berei die aand stil saam 'n smaaklike aandete met kruideniersware wat sy gebring het. Ek kyk eers die einde van 'n episode van Matlock saam met haar. Mens kyk enigiets, enige deel van 'n program, met intense belangstelling as twee liggame snaarstyf gespan is vir die geringste beweging van die ander.

Matlock frons en vat-vat aan die houtreling voor die lede van die jurie. Sy uitspraak herinner aan iets uit die Broers Karamazof: "Die mediese kenners het probeer om aan u te toon die aangeklaagde is nie by sy volle verstand nie. Ek stel dit aan u dat hy wel by sy volle verstand is, maar dit maak dit net erger. As hy nie by sy volle verstand was nie, het hy miskien intelligenter opgetree."

Matlock vervolg: "Ek stem ten volle saam met die jong dokter se mening. Hy glo die aangeklaagde is ten volle by sy verstand en dat hy net buitengewoon baie teensin en irritasie beleef het ..."

Die volgende oggend maak die son my wakker. Ek voel lighoofdig en gaan borsel my tande. Ek vryf oor my neus en kyk in die spieëltjie. Ek vervel van die vorige dag. En voel vir die eerste keer niks van die spanning van die laaste paar weke nie. Alles in die badkamer is bekend en vertroud, maar is dié oggend anders. Hoekom, weet ek nie.

Ek maak roosterbrood en Lisa maak koffie. Ons is albei ingedagte, nie ongemaklik by mekaar nie.

Ek maak keel skoon en sê: "Liefling, ons leef die laaste ruk so verby mekaar ..."

Vir 'n ruk lank staan sy baie stil terwyl sy my woorde weeg; jare van waarneming berei my voor op een van twee reaksies: met woede op sarkasme of iets neutraal in 'n onbeholpe poging om iets van die vorige dag se gesprek weer op gang te kry.

Ek verras ons albei. "Anderkant watse opdragte en planne ook al, van 'n prokureur, van ’n ..." My woorde sterf weg soos die wind uit seile.

Ek kan glad nie agterkom wat sy dink nie. Sy sê: "Ek het nou die aand op die nuus gesien hoe hulle daai gebou langs jou werkplek opblaas."

"Darem niemand dood nie," sê ek.

"Ek was baie verlig," antwoord sy sagter.

Ons stuur sinne uit na mekaar as vlieërs om te kyk of hulle nog verstrengel kan raak. Ek dink dit, maar ek sê niks nie.

"Hoe kan jý wat ek nou dink, wéét?" Ek het geen benul waarna sy verwys nie. Sonder merkbare ironie gaan sy verder: "Ek ken niemand wat my só kan lees nie."

Ek besluit om vir eens in my lewe moontlike betekenisse nie te plooi nie. Ek glimlag. Sy knipoog lui. Ons gaan drink wyn op 'n strand daar naby. Die sonsondergang is baie mooi, soos 'n tipiese gelukkige einde. Maar ek sê dit nie.

Sowat twintig vlieërs swenk en klap weg in gespanne halfmane in die al hoe sterker laat wind wat opgesteek het. Teen dié lig is die toue sigbaar waar al hoe donkerder figuurtjies terugleun en probeer om hulle vlieërs tussen al die ander deur te stuur.