Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Lank Leef Trudie


Albert Maritz - 2009-02-05

I would rather be a philosopher and a coward than a hero and a fool
– Ambrose Pratt

 

Pas terug van ’n teësinnige teateruitstappie. The Tempest by die ongelooflike Baxter-teater. Die nuus sê: Trudie Taljaard is vanaand dood. Henry Mylne se sms kom sekondes later. Hy was na aan haar. En ’n mens se gedagtes is in ’n verwarde warboel. En Trudie-info flits in my gedagtes verby. Sy het nou die dag besluit sy wil gesond word. Dapper gesit en oefeninge doen saam met die engele-mense wat haar omtrent daagliks besoek het. Johan Engelbrecht wat die oefeninge doen. Anna-Mart, ene Lerato. Sekerlik nog ’n hele paar ander. Net geloof kan dié soort beenkanker genees, het mense glo gesê – en daarvan het Trudie baie. En sy het goed gelyk. Kleur terug in haar gesig gehad. Lewe in haar oë. Baie advies.

En mens dink aan die klein dingetjies wat so lelik en buite verband kan raak. Ek moet eintlik hier skryf oor vanaand se teater-ervaring. Ek sál nog …

Eers wil ek die goedjies wat mens wil laat moord pleeg, in die agtergrond kry, en Liefde en Vrede terugbring, hopelik vir altyd. Want mens is wat jy eet, maar mens is ook wat jy bedien. Aan dié om jou.

Sal ek minder aaklige gedagtes kan hê as iemand weer in die kruising stop wanneer die lig vir hul rooi raak? Sal ek weer beledig voel as beide die twee motors uit twee ander rigtings dink hul was eerste by die fourway stop, en nogal geïrriteerd met my raas as ek voor hulle ry? Sal ek weer dink dis idioties om een gym-masjien te okkupeer deur daar te sit en sit en sit … of jou handdoekie daar te los terwyl jy op ’n ander masjien oefen? Sal ek oorweeg om al die buurt se hondestront van al die honde in die buurt op die oubal in die straat se gras te gaan tiep as hy weer een keer vir my kom sê my honde “toilet” op sy gras? Sal ek weer meerderwaardig dink hoe skaapagtig mense is as hulle vir Luke Watson boe, want hulle ken hom nie, hulle ken nie rugby-administrateurs nie. As almal in mekaar se pad gaan staan by die lughawe-bagasievoerband. Sal ek weer ’n citizen’s arrest oorweeg as ’n ou op my gat ry en sy ligte flits – terwyl ek agter ’n string karre ry? ’n Vrou bel nogal net voor dit na RSG toe – Estelle van Vishoek – en huil onbedaarlik oor die vyf naby-familie van haar wat al vermoor is. En klein goedjies irriteer my!

Nee! Trudie is dood. Dis genoeg rede om Helen Zille, Patricia de Lille, Allan Boesak, en Lynn Brown in dieselfde party te gooi en die wêreld ’n beter kans te gee – noem dit ’n Obama-kans.

En daar is baie rede vir glimlag – soos Not the Midnight Mass. Hul is nou meer teater
as ooit. Net so entertaining, maar nou nie net met humoristiese aanbieding van musiek nie. Met Amanda Tiffin – ’n kwiksilwer-meisie wat bekend is vir haar musiek en hier lekker toneelspeel en betrokke is by die briljante musiekregie; Pierre van Heerden – ’n ou bekende as mens onthou wie in jou humoristiese TV-advertensies is en op gholfbane rondsluip, of in ’n leë kantoor spog – beide met boepens inklusief! – wat natuurlik ook ’n bonus was vir sy vertolking van die hiëna in The Lion King; Jason Ralph – wat ek onthou sedert sy eerste professionele jaar as Lukas in Fiela’s Child (die musical), ook as Riffraff in The Rocky Horror Picture show, en nou die dag in Exits and Entrances deur Athol Fugard; Graham Weir – het hy nie die toekenning gewen as beste akteur vir Jesus Hopped the A-Train, vir sy briljante, briljante spel nie? Hoekom nie? En sy suster, Christine Weir, wat sing soos ’n nagtegaal en ook kán toneelspeel. Hier is nou gróót toneelspeel. Van die skiete wat in Not the midnight mass voorkom, is soos chips in ’n pakkie – dis waarvoor die benaming "vermaak" geskep is. Wánt dis vermáák.

Gelukkig lees ek Peter Tromp se resensie oor The Tempest in die gratis Kaapse koerantjie van Rafiek Mammon. En hy het min goeds te sê oor The Tempest. Nogal dapper, dink ek. Nes Mariana Malan om ’n Kaapse kabaret so kort te gevat het. Want die kringe is maar klein, en mense in produksies of in besture is vriende van resensente ook. ’n Klein wêreld, soos ons klassiek seg.

Maar die teks van The Tempest is een wat bo my vuurmaakplek is. Die Storm op KKNK was net so nutteloos op my. Kere wat ek dit moes lees, het my nog nooit gebaat nie. Eers wanneer die snaakse ouens opkom, begin ek saamgesels. Hier was dit weer so. So ek reken almal was seker goed. Snaaks, ek het mense wat gewoonlik baie kritiek moet verduur as hul in klassieke teater werk, nogal as redelik goed – selfs beter as die res – beskou. John Kani is een so ’n voorbeeld. Sy seun, Atandwa Kani, speel toevallig saam met sy pa. Hy was baie goed. Elton Landrew slaag weer daarin om baie te vermaak. Snaakse gedagtes kom by mens op as jy na van ons groot sterre kyk. Jeremy Crutchley was amper ontuis in sy stem en klere. Lionel Newton was seker – nes Jeremy – ook gans korrek in wat hy doen, maar amper net ’n figurant wat mens onthou vir sy stok-in-die-jy-weet-wat-houding. Jis, vir ’n ou wat mens al laat krul het van genot op soveel verhoë! Nicholas Pauling doen ietsie treffends in ’n klein rolletjie. Hy behou in ’n groot-skouspel-opset ’n snykant wat iets verrassends en interessants aan die gehoor bied. Interessante sêding: Mens kry nie klein rolle nie, net klein spelers.

Ek dink dis die oordrewe verhoogopset wat pla. Hiervoor het mens eintlik mikrofone nodig, en ’n baie groot teater, dalk ’n buitelug teater. Want dis CATS, met net twee blertse van die musiek, wat ons hier sien. Sonder die dans en die mikrofone. Ja, akteurs wat werk met hul eie projeksie en diksie om gehoor te word, nie mikrofone nie.

En dis die eerste plek waar sir Anthony Sher vir my tekortskiet. Ek verlang, soos ek verlede week gesê het, na die Keith Grenville-soort stem as mense die afwagting by my skep dat ek gaan kyk na een van die voorste Shakespeare-akteurs ter wêreld. Sher lyk na Marthinus Basson met krullerige hare en lang baard. As dit is hoe die Shakespeare-held dan moet lyk, laat Marthinus dit speel. Wat ’n goeie akteur is hy nie.

In ’n Afrikaanse Kaapse koerant skryf iemand hoe magtig of kragtig Sher is. Dis juis my probleem. Ek verwag seker te veel, maar hy ís nie!

’n Laaste woord van my is dat ek dink die grootse gebeure verdwerg die spelers, en die kern is vir my afwesig. Veral dalk omdat Sher nie die anker is wat mens in daardie rol benodig nie. Nie wat spel, postuur óf kostuum betref nie. Met sy begrip van die woord skort daar niks nie. Die pragtige helder vloei van die klank van Shakespeare uit selfs ’n Neil McCarthy se mond, destyds in die Nico, was ’n meer vervullende ervaring as hierdie een.

Maar snaaks genoeg is dit die moeite werd om te sien, soos die 100 persent-besetting seker aandui. Die spel met poppe en dele van poppe – iets wat ek onlangs in ’n ander produksie ook gesien het – was hoogs vermaaklik. My brein het omtrent gebuig toe die twee reuse-hande die akteur op die verhoog squeeze!

Nou laai hulle die reuse-stel en bykomstighede stuk vir stuk in reuse-kratte en gaan speel oorsee! Ai, ek wens ons kon! Met Afrikaanse teater leun ons swaar op die herinneringe van grotes soos Trudie Taljaard. Trudie is dood. Lank leef Trudie Taljaard.

“Daar is die mense in wie se hande ons toneel nou is.” – Trudie Taljaard, by die vertrek van gaste ná besoektyd. Desember 2008.