Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Voicemail


Johnny Malgas - 2009-02-04

Die telefoon lui net. Aanhoudend. Hy moes al seker neergesit het, maar hy hou aan en word verslaaf aan die ritmiese luitoon. Sy kop begin maal en flitse van kindergesigte word duidelik in sy kop. Hy beleef die aaklige gelag van die kinders op die speelgrond en hy wat alleen met stof op sy skoene en broek staan.

Hy voel hoe die groter seun vorentoe stap en hom vol in die maag slaan, hy voel hoe sy knieë lam word en hoe hy snak na sy asem. Hoe hy inmekaarsak sonder om ‘n enkele geluid te maak.

Hy staan op en vee die stof van sy broek af. Dis lank nadat die klok gelui het en hy besluit om nie terug te gaan klas toe nie. "Hierdie is in elk geval ‘n kak plek," dink hy terwyl hy by die voorhek van die verbeteringsentrum uitstap en sy iPod uit sy sak haal. Tromme klap in sy ore. "Cassius it's over, you're second best."

Hy trek die groen baadjie en trui uit en gooi dit in die grys drom voor die One-Stop Shop, rol sy moue op en stap die winkel binne. "Pakkie Stuyvesant Filter asseblief."

Die armsalige ou agter die toonbank kyk hom snaaks aan en gee die pakkie sigarette stadig aan. "Moet jy nie in die skool wees nie?"

"Lyk dit vir jou of ek in die fokken skool moet wees?

Die man agter die toonbank se naamplaatjie lees "Theunis". Hy sê geen woord nie en neem die bondel kleingeld.

"Theunis van die One-Stop Store!" lag hy kliphard terwyl hy die winkel verlaat. "Fokken loser!"

Terwyl hy loop, skeur hy die pakkie oop en sit ‘n sigaret in sy mond. Die gebeure van vroeër op die skoolgrond knaag nog in sy agterkop. Hy stap deur die bouvallige buurt en staar na die gebreekte ruite en skoon vuil wasgoed wat op die stoepe hang. Snaaks hoe veilig hy hier tussen al hierdie gemors voel. Hy gaan sit op die naaste padbankie en steek die sigaret aan. Hy kyk weer na die stof op sy skoene en spoeg op die sypaadjie. Die walms trek deur die krake in sy brein en hy voel sekondes van ontspanning. Sy iPod hamer stewig The Used in sy ore: "Just say what you want to say/ It's kind of funny how we're not listening anyway."

Gedagtes moshpit deur sy kop. "Ek gaan nie môre weer na daai fokken plek toe nie, ek gaan ook nie vanaand na daai gemors van ‘n man in my ma sy huis nie. My ma? Ek wens dit kon ‘n given wees! Ek gaan ook nie weer na daai fokken freak met sy dik brille toe wat my die heeltyd vra hoe ek voel nie. En ook nie na oom Fred toe met sy leë geskenke en vuil look in sy oë nie. Ek gaan ook nooit weer gaan huil by die begraafplaas nie, want sy kom nie fokken terug nie."

Hy staar na sy foon en sien steeds die nommer op sy foon. Hy het nog nooit die guts gehad om dit af te vee nie. Miskien wou hy nog nooit glo dat dit wat gebeur het, gebeur het en dat Jules regtig weg is nie. Hy bel nog elke dag die nommer en sluk die trane oor haar stem op die voicemail. "Hello! Jules here, I'm not available ... Hahaha, I'm not in the mood to talk to you honey, leave your voice ... hahaha ... you're tickling me!"

Hy hou die foon vir oulaas tussen sy vingers. "Ek gaan ook nooit weer hierdie fokken nommer bel nie," sê hy hardop terwyl hy die groen telefoontjie druk. Teen sy sin, maar vir oulaas. Dit neem langer as gewoonlik om na die voicemail oor te gaan. ‘n Koue sweet slaan skielik oor sy hele lyf uit. Die telefoon begin ritmies aan die anderkant lui. Hy begin haar stem aan die anderkant hoor. "Hello ..." Hy wag vir die woorde wat hy al so goed ken, maar dit bly by "Hello". Dan nog ‘n "Hello, is anybody there? Is it you Brian? I know you can't talk to me. I just want to tell you that I'm fine! It wasn't your fault. I'm not upset. I'm very very happy where I am now, so stop worrying about me. You'll see me soon ..."

Die harde stem van Mr Winston maak hom wakker. "Brian! Brian! Is jy oukei? Lyk my dit was ‘n harde hou! Kom! Vee die stof van jou klere af. Maak dat jy in die klas kom!"