Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Annie Klopper: Rockjagter

Bellville Rock City: 'n Binne-blik op die baanbrekende Bellville-beweging


Annie Klopper - 2009-01-30

 

Ek was 12 jaar oud en salig woonagtig in ’n onnoemenswaardige Vrystaatse myndorp toe my ouers een middag aan die etenstafel die nuus aankondig: ons trek Brackenfell toe.

“Brackenfell?!” het ek en my twee ouer susters geskree.

My susters het geskree omdat hulle gedink het dis ’n uiters swak idee. Ek het geskree omdat ek nie geweet het waar dit is nie.

“Dis langs Bellville,” het my pa ons getroos (beide susters nou reeds in trane met dié dat hulle toe onlangs boyfriends gekry het).

“Bellville?!” het ek geskree (want ek het ook nie geweet waar dít is nie).

Goed, in my klein Vrystaatse kokon het ek min geweet. Min het ek veral geweet dat laasgenoemde noordelike voorstad van Kaapstad my lewe onherroeplik sou verander. Om in die laat negentigerjare ’n tiener in Bellville se onmiddellike radius te kon wees, was toe ’n baie groter voorreg as wat ek en my snikkende susters ooit verwag het.

En dis nie net ek wat so dink nie.

Rhythm Records, onder wie se vlerk kunstenaars soos Fokofpolisiekar, Lukraaketaar, Foto Na Dans en aKING grootskaalse bekendheid verwerf het, het aan die einde van verlede jaar ’n juweel vrygestel getiteld Bellville Rock City – ’n kompilasie wat dien as kompakte toonvenster van dié vrugbare broeiplek vir plaaslike talent.

Die kompilasie, wat bestaan uit ’n CD, DVD en boekie, is voorwaar ’n versamelstuk wat op enige Suid-Afrikaanse musiekliefhebber se CD-rak hoort.



Die CD

Die CD bevat 13 snitte deur 13 van Bellville se mees prominente populêre musiekgroepe: Fokofpolisiekar, Springbok Nude Girls, Foto na Dans, aKING, Jax Panik, KOBUS!, Van Coke Kartel, New Holland, Ashtray Electric, Lukraaketaar, Die Heuwels Fantasties, sowel as nuwelinge Thieve en Tatum. Vyf van die snitte op hierdie album is nog nie voorheen op CD uitgereik nie.

Die liedjies is uiteenlopend, maar ’n lekkerluister-kombinasie. Dit bewys definitief diegene verkeerd wat dink alles uit Bellville klink soos Fokof.


Die DVD

Op die DVD is verskeie musiekvideo’s wat getuig van die uitstekende kwaliteit van hedendaagse plaaslike musiekvideoproduksie. Dit bevat ook die dokumentêre kortfilm 12 Mile Stone gemaak deur Greg Fell en Dean Leslie van African Attachment. (Bellville is 12 myl buite Kaapstad gesitueer - vandaar die titel.)

Die film volg Ashtray Electric na Aardklop waar hulle voor 10 000 aanhangers saam met Van Coke Kartel en Fokofpolisiekar optree.

Deur middel van onderhoude poog 12 Mile Stone om kortliks die ontwikkeling van Bellville as rockhoofstad te skets. Die film is beide insiggewend en (oudio)visueel stimulerend. Dit vertel ’n brokkie geskiedenis wat nie verlore moet gaan nie en is daarom goud werd. Tog is dit ’n verhaal wat ’n magdom filmrolle kan volmaak en in daardie sin bied 12 Mile Stone nog slegs ’n goeie inleiding tot (hopelik) heelwat soortgelyke dokumentasie.

Vir iemand soos ek wat die rock-oplewing in die noordelike voorstede meegemaak het, is nie slegs die film nie, maar ook die meegaande MP3’s groot bronne van nostalgie – wat jou terselfdertyd wil laat lag en huil.

Die agt MP3’s op die DVD onthul die wortels van ’n klompie van vandag se voortvarende Bellville-bands. Dit dien as argief van liedjies wat baie skaars bekombaar is of nooit kommersieel uitgereik is nie. Liedjies is ingesluit van groepe waarin onder meer Francois van Coke, Laudo Liebenberg, Wynand Myburgh, Alex Fourie, Hunter Kennedy, Jax Panik, Johnny de Ridder, Francois Blom en Pierre Greeff opgetree het – onder andere New World Inside, 22 Stars, 7th Breed en Trompie is Dood. ’n Verassing is veral die voorheen onuitgereikte Fokofpolisiekar-liedjie “Fokn blades” en die rare Afrikaanse liedjie deur Springbok Nude Girls, “Pappa ek wil ’n popster word”.

Die titel Bellville Rock City is ontleen aan die gelyknamige New World Inside-liedjie, destyds geskryf deur Hunter Kennedy. Kennedy is natuurlik lid van Fokofpolisiekar en aKING, asook van Die Heuwels Fantasties. Dit is hierdie tipe cross-breeding wat van Bellville so ’n unieke plek op die musiekfront maak.



Die boekie

As jy nie lekker verstaan wie wanneer saam met wie in watter band gespeel het en saam met wie hulle nou speel nie, wees gerus. Saam met die CD en DVD is ’n boekie wat dinge vir jou mooi uiteensit en dien as vermaaklike binne-blik op die baanbrekende Bellville-beweging. Die uitgebreide CD-boekie is ’n toonbeeld van die sinergie, vriendskap en wedersydse respek tussen die kunstenaars.

Geen buitestanders was betrokke by die skep van dié boekie nie. Dis die storie(s) soos hoofsaaklik vertel deur die ouens in die binnekring. En ek sê met opset ouens, want buiten in Trompie is Dood en Tatum feature daar ongelukkig min vroue in die beweging.

Francois Breytenbach Blom van VOD en KOBUS! lei die boekie in met ’n pittige gedig waarvan die eerste strofe lui:

Bellville, o Bellville
van hemel tot hellville
jou noorde verkramp
jou suide ’n dump
waar midlife se crises in Durbanweg fuif
waar jailbait Cubana se toilets blinksnuif.

Dis egter net een van vele skerpsinnighede wat Blom kwytraak in die boeiende boekie waarin die musikante mekaar (en hulleself) takseer en herinneringe neerpen. Oor aKING sê Blom byvoorbeeld:

Ek het eers gedink hulle is Amerikaners tot Nicholis Louw my reggehelp het. Maar ek was driekwart reg, want die woord "Afrikaners" eindig ook met ‘rikaners’.

Die terugskouings is nie bloot nostalgies nie, maar dikwels vermaaklik. Soos wanneer Hunter Kennedy vertel van sy dae in New World Inside (saam met onder andere Francois van Coke):

Embarassing! Francois het altyd sy klere uitgetrek. Ek en Francois het gewoonlik die gig geld spandeer op gatsby’s en biere vir onsself. Maar die ander ouens sal nou die royalties hiervan kry om op te maak daarvoor.

Heelwat inligting werp insiggewende lig op waar dinge begin het vir suksesvolle groepe soos Fokofpolisiekar. Die baskitaarspeler van hierdie groep, Wynand Myburgh, vertel byvoorbeeld hoe hy onder die invloed van voorgangers uit Bellville (soos VOD en Springbok Nude Girls) begin belang stel het in die musiektoneel. Ook evalueer die veterane die nuwe laaities en deel die laaities hulle dankies uit.

Dit alles geskied op die maat van ’n lesersvriendelike, pragtige produk wat foto’s en ontwerp betref.

 

Die nalatenskap

Die hele besigheid het my laat huil. Net soos toe ek 12 jaar oud was, wou ek deur die trane deur skree: “Bellville!”. Sodanige effek tel hopelik as duidelike teken daarvan dat ons hier te doen het met iets baie spesiaal (of dat Bellville tog sy tol geëis het).

Bellville Rock City vertel nie net ’n geskiedenis nie. Dit vertel van ’n generasie. Dit vertel my geskiedenis en die geskiedenis van my vriende en hulle vriende. Van geskeurde denims, skateboards, sneakers en flyers van Springbok Nude Girls teen kamermure. Van naweke by rockshows en die vind van ’n gesamentlike identiteit binne ’n gevoel van solidariteit. Dit vertel van ’n plek van oorsprong van musiek wat nou aan duisende Suid-Afrikaners ’n nuwe, trotse aanhegtingspunt in ’n identiteitsvormingsproses gee. Daarbenewens besit die Bellville-rockbeweging ’n nalatenskap van musikale invloed wat ’n groot bydraende faktor tot die Suid-Afrikaanse populêre musiekstoomroller is – tans waarneembaar op MK, op die radio en in al wat ’n live venue is.

Ons kan spekuleer en formuleer, maar as ons presies kon vasstel waarom juis Bellville so ’n vrugbare broeikas vir uitstekende plaaslike musiektalent is, sou ons baie geld kon maak met die resep. Dit bly egter ’n unieke sameloop van faktore wat deur middel van die sinergie van talentvolle jongelinge met groot drome, baie tyd en kitare vir Kersfees saamgewerk het om van Bellville ’n rock city te maak.

Come to Bellville and CY.

 

 Foto's: Annie Klopper