Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Bult-op


Johan Nieuwoudt - 2009-01-28

Carl Gustav Jung en Pierre Teilhard de Chardin stoei deesdae weer in my kop. Nie so erg as die keer toe hulle my Denmar toe gedryf het vir die lang slap slaap en allerhande soorte terapie nie. Maar tog, hulle lol weer: Jung praat die heel tyd van die Self, van argetipes, skadudanse en mandalas. Nes Jung moeg is, kom Teilhard met sy tipiese priester-manier en preek van attraksie, konneksie, kompleksiteit en die Omega-bewussyn. Nogal lastig, die ou twee grotes wat nie eenstemmigheid kan bereik nie. Hoe moet ’n mens dit uithou as kosmiese goedheid wink terwyl jy ook lus is vir drome, dromme en skadudanse?

Natuurlik gee hulle my ook alewig raad. As Jung sê: “Doen dit”, dan sê Teilhard: “Doen dat.”

Eindeloos kibbel die twee.

Dis presies wat nou die dag gebeur het toe ek op pad na Unisa die lywige, ouerige swart vrou teen die Leydsstraat-bult sien opsukkel. Haar hoë hakke wikkel sywaarts terwyl haar groot agterstewe vorentoe beur.
 
Teilhard fluister: “Help die vrou, sy en jy is selle van ’n Groter Liggaam.”

“Nonsens, sy moet haar pad loop, en jy joune. Sy het in elk geval die oefening nodig,” laat ’n onsimpatieke Jung van hom hoor.

Terwyl die debat voortwoed, ry ek so ’n entjie verby die vrou. Dan bly Jung stil en grinnik. Ek vervies my vir sy houding, luister na Teilhard, sit die kar in trurat en gaan so, agteruit, my sielsgenoot tegemoet. Ongelukkig kom daar ’n ander kar aan en moet ek maar stop en vir die vrou wag. Aangesien my agteruitry nie meer so flink is nie, stop ek so half in die middel van die pad. Dit noop die aankomende kar om skielik stil te hou.
 
Ek maak die deur oop en vra: "Goeie môre, wil jy saamry?”

“Baie dankie, jy is gaaf,” kom die antwoord.

Teilhard is tevrede, konneksie is gemaak, attraksie sal volg en dan, deur die verhoogde kompleksiteit van ’n nuwe diade, sal bewussyn groei. Van Alfa tot Omega, Alfa-Omega, Alfa-Omega begin hy kanteer.

Jung is nukkerig en trek los met ’n dwarsklap uit sy Freudiaanse dae: “Van agter lyk sy nogal baie na jou ma.”

Nou’s ek die bliksem in. “Hou Ma hier uit, jou ou vrouejagter. As ek so ’n lelike mal ma soos jy gehad het, sou ek liewers my bek hou!” snou ek hom toe.
 
Terwyl die vrou moeisaam in my beknopte karretjie klim, toet die Mercedes agter my en sien ek in my truspieëltjie hoe die geïrriteerde deftige dame met haar hand beduie dat ek uit haar pad moet kom.

“Kan die vrou nie jou goeie daad raaksien nie? Hoekom wil sy nie deel in die heilige oomblik nie?" wonder Teilhard.

My skadu breek deur: ek lê op my toetertjie en skree onbeskofte dinge en maak obsene handgebare. Ek is vol woede en sou kon moor.
 
Die verskrikte Mercedes-vrou skiet vinnig oor die wit streep verby my.

“Wotan leef!” juig Jung.

Teilhard swyg, maar dit lyk asof hy wil huil.

My reisgenoot sê na omtrent dertig tree" “Baie dankie, meneer, jy kan my hier aflaai.”

Ek raak rustig en met ’n “Dit was nou nie so ver nie, maar dis tog die idee wat tel” neem ek afskeid van haar.

Die vrou klim uit en ek ry verder.

Net voordat ek in Dr Willem Punt-laan afdraai na Unisa toe, kyk ek in my spieëltjie en sien hoe die deftige swart vrou al waggelende die bult op uitsukkel.
 
Teilhard en Jung gluur mekaar aan, al twee tjoepstil.