Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Vergeet die konvensies van CD’s: Die Heuwels Fantasties gee Pille vir Kersfees


Leon-Ben Lamprecht - 2009-01-28

Sommige sou sê techno. Met so bietjie van 'n rock vibe. En natuurlike slim lirieke. Met 'n duidelike hook. Ek sou dit bloot as "befok" beskryf. Dalk "awesome". Dalk die vorige twee in een of ander kombinasie.

Ingeval jy nie die kop van dié skryfsel gelees het nie, ek praat van Die Heuwels Fantasties se musiek.

Indien jy dalk die afgelope paar maande die Oos-Oesbekistanse onderwaterkontakskaakspan afgerig het, 'n bietjie konteks: Pierre Greeff (van Lukraaketaar-faam) en Hunter Kennedy (van aKING- en Fokofpolisiek*r-faam) snoer musikale kragte saam om vir jou 'n elektronika sound te gee wat sowel aanhangers van middel-90's Duitse doef-doef en ernstige rockmusiek tevrede behoort te stel. Johnny de Ridder, ook van Die Karre, het die mix gedoen.

Hulle eerste enkelspeler, "Oorlewing 101", het my so onkant betrap soos Japan vir Amerika in die Tweede Wêreldoorlog. Behalwe dit was op 'n goeie manier. En sonder die geweld en lewensverlies (en 'n sentimentele movie met Ben Afleck).

En so beland Pille vir Kersfees toe op my lessenaar. Vier snitte, insluitend bogenoemde een sowel as "Vinger Alleen" wat op MK gedraai het. En dan die titelsnit en "Nare Kaskenades".

Dis egter die verpakking wat eerste opval. Dit lyk soos 'n, wel, pil. Vergeet die konvensies van CD's en so. Dié is 'n geheuestok en prop jy hom in jou komper, word jy met 'n heerlike verassing begroet.

'n Interface pop op. Dit lyk soos 'n 2D-kamer. Die implemente hier vat jou na verskillende afdelings: die skildery na muurpapiere, die TV na 'n reeks van drie musiekvideo's, die doefdoos na die liedjies om te luister en die boek om jou na die lirieke te vat.

Sommige sou sê dis gimmicky. Ek scheme dis great bemarking.

Maar dit alles sou ieder geval futiel gewees het as die musiek futloos was. Genadiglik is dit allesbehalwe. Skynbaar verander alles waaraan Hunter Kennedy raak in goud (mens moet wonder of en wanneer hy slaap), want dié is eenvoudig 'n Fantastiese vrystelling, nes die voriges waarby hy betrokke was. (Dis nou nie om die ander betrokkenes se waarde te onderskat nie, maar bloot om daarop te wys dat Kennedy gewoonlik deel is van die wenspan.)

Die musiek is hipnotiserend, dralend, met die een of ander bymengsel wat maak dat jy dit oor en oor en oor (en oor en oor) wil luister.

Maar dis in die lirieke waar die krag lê, die vermoë om iets só te stel dat jy twee maal wil - néé, móét - luister:

Pis op my drome
Jou heilige woorde soos standaard akkoorde
My broers my sinode
My verkose narkose
Is maar wreed maar waar.

("Vinger Alleen")

Of:

As jou tuiste is waar jou hart is
Wat wil dan hier uitbreek
Uit my borskas uit.

("Pille vir Kersfees")

Of my persoonlike gunsteling:

In hierdie verniet
Vibracrete verbruikersvriendelike paniek
Hiperventileer ons
Masturbeer die dae ons.

("Oorlewing 101")

Hiér is iets aan die gebeur. Goeie dinge. Eksperimentele dinge. Kom ons hou asem op vir die vollengte-album wat vir later vanjaar beplan word. Al die tekens van 'n meesterstuk is daar.


* Die skrywer wou met een of ander flou geforseerde woordspeling met "pil" eindig, maar het, dank vader, daarteen besluit.