Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

'n Belangriker afspraak


Johnny Malgas - 2009-01-27

Hy het haar die eerste keer agter die toonbank by die bank gesien en gehoop dat die assistent hom na haar sou verwys. Hy het gestaan en dagdroom toe die assistent hom in die teenoorgestelde rigting stuur en dit het hom aangemoedig om in die toekoms 'n hele paar bankbesoeke af te lê.

Die volgende week het hy haar een middag van die bank af sien terugloop verby die koffiewinkeltjie op die hoek. Hy het van ver af gestaan en kyk hoe sy ewe elegant van die sypaadjie af seil, haarself bekyk in die motorvenster se weerkaatsing en in die motor klim. Hy het daardie aand gedroom hoe hy haar sou komplimenteer op haar mooi voorkoms, en met haar vriendelike glimlag in sy gedagtes, het hy aan die slaap geraak.

Hy het twee dae later weer die bank besoek en hierdie keer seker gemaak dat hy na teller nommer drie beweeg. Hy het sy depositostrokies saggies oor die toonbank laat gly en sy het skaam vir hom geglimlag. Toe hy by die bank uitstap, was hy kwaad vir homself omdat hy geen woord kon uitkry nie. Daardie aand het hy voor sy rekenaar gaan sit en 'n brief begin tik, maar halfpad deur het hy dit uitgevee omdat dit as ouderwets voorgekom het.

Toe hy daarna een middag doelgerig bank toe stap ná 'n belangrike afspraak met 'n knorrige kliënt, het hy haar by die deur sien staan en haar naamplaatjie het sy oog gevang. Dit het geklink of engele haar naam aan hom bekend maak en die hele dag het haar naam in sy gedagtes rondgewarrel. Hy wou gedigte skryf oor haar beeldskone glimlag, haar perfekte liggaam, haar stille teenwoordigheid, maar kon geen woorde kry wat met haar naam kon rym nie. Hy't vir die eerste keer verstaan wat dit was om obsessief verlief te wees. "Liefde met die eerste oogopslag" het vir die eerste keer betekenis gekry.

Dit was asof hy homself kon wees toe hy die eerste keer vra of haar dag vlot verloop het. Hy het haar woorde oor en oor in sy kop laat speel en die oomblik probeer vasvang. Hou wou haar stem die heeltyd hoor en haar vir ewig sien glimlag soos sy daardie dag geglimlag het.

Nadat hy wakker geword het van 'n droom gevul met haar glimlag, haar beeldskone glimlag, het hy hom reg gemaak vir 'n revolusionêre dag. Hy het al sy verantwoordelikhede afgehandel, sy afsprake nagekom en uiteindelik 'n ouderwetse brief by die drukker laat uitkom. Hy het vlugtig by die trappies na die blommewinkel opgeskarrel en die mooiste bos angeliere in die winkel uitgekies.

Hy het huiwerig buite die deur van die bank gestaan en sy moed bymekaargeskraap. Hy het doelgerig na teller drie gestap en gevra waar sy beeldskone dame was. Die tydelike assistent het vlugtig opgekyk en ewe vriendelik geantwoord: "Laura is ongelukkig nie hierdie week in nie, sy's op haar wittebrood."