Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Artikels | Features

Sekerheid as die grootste vyand van die mensdom


Nico Smith - 2009-01-22

Na aanleiding van die artikel oor Coenie Nolte se boek Waar sit jou God? wat in Januarie op God@LitNet verskyn het, wil ek graag ʼn kantaantekening by sy boek maak. Ek het Nolte se boek pas gelees. Dis ʼn roerende verhaal van iemand wat sy sekerheid oor God, soos deur die kerk aan hom oorgedra was, verloor het en self op soek na God gegaan het – natuurlik met die gedagte om te weet wie die ware God werklik is. Dit was in besonder die prysgee van sy sekerheid oor wie God is, wat my diep getref het.

Dit is hierdie sekerheid by godsdienste oor wie God is, veral soos dit in die Christelike godsdiens, die Islam en die Judaïsme voorkom, wat vir my ʼn steeds groter probleem word – veral soos dit in die stryd tussen Islam en Israel gemanifesteer word. Dit bevestig by my die feit dat sekerhede, veral op godsdienstige terrein, groot gevare vir die mensdom inhou. Dit is die sekerheid van elke godsdiens wat glo dat hulle die ware God gevind het, en dat alle mense tot geloof in hulle God gedwing moet word, hetsy met die woord of die swaard, wat vir die mensdom ʼn steeds groter gevaar begin inhou. Godsdienstige sekerhede is altyd ʼn vorm van fanatisme waarmee ander verwerp word en beskou word as mense wat vir die hel bestem is.

Dis hierdie fanatiese oortuigings van mense, veral dan in die Judaïsme, die Christelike godsdiens en die Islam, wat ʼn steeds groter bedreiging word vir vrede op aarde. Daarom is dit my oortuiging dat die godsdienste in die eerste plek hulle sekerhede sal moet prysgee en met mekaar vrede sal moet maak. Voordat die godsdienste nie tot ʼn vreedsame saam bestaan in die wêreld kom nie, sien ek geen hoop op vrede vir die mensdom nie. Elke godsdiens hou dit immers aan sy aanhangers voor dat hulle hul vir geregtigheid en vrede op aarde moet beywer. Maar as hierdie ywer bestaan slegs om alle mense aan die sekerhede van hulle eie godsdiens te onderwerp, sal daar beslis geen geregtigheid en vrede op die mensdom wag nie.

Hoe kan die godsdienste meewerk om van die planeet Aarde ʼn beter woonplek vir alle lewende wesens wat mens genoem word, te maak? Dit sal op geen ander wyse kan geskied as deur deurgaanse dialoog met mekaar nie. Kommunikasie is juis die gawe wat aan die mens geskenk is om met mekaar ʼn sinvolle saamleef uit te werk. Kommunikasie is egter wel ook aan diere en voëls geskenk. Hulle het hulle eie vorme van kommunikasie waarvan die mens nog weinig weet. Wat die voëls en die diere egter nié het nie, is die gawe om vrae te vra. Dit onderskei menslike kommunikasie dan ook van alle ander vorme van kommunikasie op die planeet. En juis in die vraagstelling lê die moontlikheid van dialoog tussen alle mense, en in besonder dan die godsdienste, opgesluit. In die Christelike godsdiens het Jesus nog in sy laaste oomblikke aan God ʼn dringende vraag gestel: “Waarom het jy my verlaat?” Ook die bevraging van en oor God is dus nie uitgesluit nie.

Maar om sinvol met mekaar te kommunikeer sal vrae aan mekaar gestel moet word – nie strydvrae nie, maar vrae as ʼn soeke na die waarheid omtrent God, die mens en die wêreld. So alleen sal dialoog moontlik wees. En dit sal vereis dat mense van verskillende godsdienste hulle sekerhede eers opsy sal moet skuif, en selfs ontslae van sal moet raak. Daar sal natuurlik altyd die fanatici in elke godsdiens bly voortbestaan wat met die "swaard" mense wat anders glo as hulle self, sal wil onderwerp. Maar is diegene wat op soek is na waarheid en vrede, en bereid is tot voortgaande dialoog met ander oortuigings, dan bereid om die fanatici toe te laat om ons wêreld in die ellende te dompel? Indien nie, dan het dit waaragtig tyd geword dat hulle van hulle sal laat hoor en gesamentlik die godsdienstige fanatici sal teëstaan en hulle bereid verklaar om met mense van alle oortuigings wat van hulle eie verskil, in gesprek te tree en sodoende miskien iets meer van die waarheid te wete te kom.

Coenie Nolte het die Afrikaanse leserspubliek ʼn groot guns bewys met sy boek. Onder Afrikaners in besonder is daar ʼn “ingebore neiging” tot allerlei sekerhede oor hulleself en hulle God. Nolte toon dat dit ook vir ʼn Afrikaner moontlik is om sy sekerhede prys te gee en op soek te gaan. En wie sy sekerhede prysgee, word nederig. Daarom is Nolte se boek geen aanval op die kerk of die godsdiens nie, maar ʼn nederige soeke om meer van God te wete te kom deur nie meer aan die voorgeskrewe geloof in God vas te hou nie. Mag sy boek baie lesers vind en hulle help om sy voorbeeld na te volg in sy soeke na God.