Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Stille sintuig


Johnny Malgas - 2009-01-22

Die trein se gekrap oor die spore maak hom wakker en Alan besef dat hy sy stasie so pas gemis het. "Shit," dink hy terwyl hy vinnig sy kaart uithaal en 'n alternatiewe roete begin soek. Hy wonder hoekom hy die laaste tyd so moeg is, maar sy denke word vinnig kortgeknip deur 'n roete in die rigting van Peckham Rye. Hy sit terug en word rustig met die wete van sy nuwe bestemming.

"This train is for London Bridge. The next station is Peckham Rye." Alan neem sy aktetas en staan nader aan die deur. Hy druk die knop toe die trein by die stasie stilhou en die deure gly oop. Hy stap op die perron uit en kyk hoe mense in verskillende rigtings dwarrel. "Rotresies," dink hy terwyl hy staan en wag vir sy trein in die rigting van East Dulwich. Hy is reeds laat en wil nog 'n bos blomme vir Wilma gaan optel. Dit voel soos gister dat sy die lêers uit sy hande uit gestamp het toe hy om die draai gehardloop kom. Hy onthou hoe onskuldig sy na hom gekyk het.

Sy denke word vinnig deur die vroulike aankondiger se blikstem verbreek: "I am sorry to inform you that the train to Dartford has been cancelled due to a passenger under the train."

Sy eerste reaksie is, soos gewoonlik, om woedend te word en sy aktetas te skop. Hy haal sy horlosie uit sy sak en staan lank daarna en staar. Hy wil skree van frustrasie. Hy wou so graag vanaand gebruik het om dinge reg te maak tussen hom en Wilma. Vandat haar pa oorlede is, het dinge net agteruitgegaan. Sy het nooit meer langs hom by die kaggel kom sit nie en was saans reeds vroeg in die bed. Sy het baie keer siek geword en telkemale by die huis gebly van werk af. Sy was die laaste tyd heeltemal afsydig. Alan kon ook seker bietjie meer moeite gedoen het, maar in plaas daarvan om te simpatiseer, het hy kwaad geword net soos wat hy nou kwaad is hier waar hy gestrand is sonder 'n roete tot by die huis.

Alan stap met die trappe op en volg die woorde "Way out". Hy stap tot buite die stasie en dink daaraan om 'n bus te neem tot by die naaste stasie wat hom dalk nader aan 'n trein kan neem, wat dalk in die rigting van sy huis gaan. Terwyl Alan by die bushalte se informasieborde staan en frons, hoor hy 'n vreemde geluid. Hy besef vir die eerste keer dat hy alleen by die bushalte staan. "Dit is baie ongewoon vir hierdie tyd van die dag," dink hy. Hy hou ook stewig vas aan die idee dat hierdie nie ‘n baie veilige area is nie. Weer kom die geluid. "'n Mengsel tussen ‘n roggel en treurgeluid," dink Alan terwyl hy beter probeer luister. Die geluid klink uitlokkend en Alan kan nie help om in die rigting daarvan te stap nie. Dit is heeltemal teen sy beginsels om ondersoek in te stel na dinge wat nie te veel met hom te doen het nie. Hy was nog nooit 'n baie nuuskierige mens nie. Hy het selfs gesukkel om ordentlik met Wilma te praat oor die ding met haar pa. Hy het nooit vreeslik uitgevra nie en net altyd haar fasade dat sy dit kan hanteer, aanvaar. Hy't nog nooit daarvan gehou om te gaan krap aan dinge nie en dis hoekom hy nou begin twyfel of hy die geluid tog moet volg. Maar tog beweeg sy voete in die rigting van die geluid.

Die geluid neem 'n vorm van desperaatheid aan. Dit klink soos iets wat om hulp skree, maar terselfdertyd die vermoë het om hulp te verleen, en dit is dalk die rede waarom Alan na die geluid toe stap. Hy is self nie seker of hy hulp nodig het en of hy hulp moet verleen nie. Hy dink dit is dalk waarom hy Wilma nooit so bygestaan het soos hy moes nie, omdat hy self hulp nodig gehad het, en self ondersteuning gesoek het. Net soos wat Wilma haar pa se siekte moes hanteer, moes hy wat Alan is, haar periodiese ineenstortings hanteer. En hoe ondersteun ‘n gekraakte pilaar ‘n dak wat reeds besig is om inmekaar te val?

Die geluid word nou harder soos wat Alan nader kom. Daar is dierlike elemente in die geluid, maar tog 'n teken van menslike emosie. Soos die gekreun van pyn, maar tog vreugde aan die einde van elke skelling. Alan loop verby die verspreide graffiti. Die kunstenaar met kuns as die laaste intensie van sy sketse. "Free da weedz," lees hy in die verbygaan terwyl die geluid hom steeds nader lok. Alan loop stadig maar doelgerig, die rede agter die vreemde gekreun sy enigste doel, sy enigste rede vir hom hier in die vreemde, maar in sy agterkop knaag Wilma nog.

Dis asof hy geweet het dat dit die laaste keer sou wees dat sy by die deur sou uitloop en hierdie keer nie terug sou kom nie. Hy kon in haar hele houding sien hoe sy afskeid neem van sy woonstel. Haar laaste blik na die foto's op die koffietafel en die laaste klank van die deur se knip wat stewig in plek val. Dit was die einde van nog een van hulle stil oorloë. Die reuse-stilte gevul met pyn en vrae. Asof dit wou oorloop met harde woorde gevul met verwyte, maar dit het net by stilte gebly. Die eerdere wegkruip sonder om te vra wat fout is. Die verdraging van die stilte bo die pyn van die realiteit. Sonder die proses van genesing.

‘n Koue sweet slaan meteens oor Alan se hele lyf uit en hy besef dat die geluid ‘n welbekende klank aangeneem het. Dieselfde geluid wat hy kort na sy skoonpa se eerste beroerte gehoor het. Die geluid wat hy gevrees het hy sou hoor die aand nadat Wilma finaal uitgestap het. Die waarskuwende klanke as ‘n simbool van redding, hulp en dalk uiteindelik die dood. Die geluid skree luidkeels die sirenes van ‘n ambulans en Alan besef dat hy weer eens voel of hy wil omdraai. Sy soeke het verander in ‘n skrikwekkende figuur. Dis weer konfronteer of vlug, dink Alan. Sy regtervoet beweeg twyfelagtig voor die linker en dan volg die linker verbasend vinnig. Alan loop in die rigting van die sirenes. Hy draai links verby die armoedige Indiër-winkeltjie. "Play tonight for your last chance to win big," lees Alan teen die ruit.

Net om die draai onder die bruggie waar die treinspoor oor die hoofstraat loop, sien hy die bedrywigheid. Die flitsende ligte, die gedreun van mensestemme. Die bestanddele in die resep vir sy uitlokkende geluid. Alan het geen idee waar die nuuskierigheid in hom vandaan kom nie. Hy staan nader, baie nader. Hy weet dat die ou Alan sou wegdraai, sou wegloop en aangaan met sy lewe sonder om hom te verbind tot enigiets wat hom uit sy eie realiteitjie kon lig. Alan beur deur die klein skaretjie mense. Alles gebeur in stadige aksie; hy hoor niks, hy voel niks, hy's net gefokus op die middelpunt van die bystanders se kringetjie.
"Can you please stand back, Sir!" sê die konstabel wat rooi en blou flikker onder die sirenes se ligte. "I said can you please stand back, Sir."

Die woorde laat hom besef wat hy aanskou en dit ruk hom. Ruk alles in hom. In die verbygaan van die ambulans bed sien hy haar hand met die ring wat hy so goed ken. Sy oë beweeg op en sien haar elegante arm, haar nek en haar beeldskone gesig. Die woorde van vroeër skiet soos ‘n pyl deur sy kop: "... due to a passenger under the train". Alles is skielik terug na normale spoed en hy beur agter die waentjie aan.

"Sorry Sir, you are not allowed to be in this area," kom die waarskuwing van die jong konstabeltjie.

Maar Alan hoor nie ‘n woord nie en beur deur die konstabel se kloue tot agter in die ambulans. Hy sit en staar na die gesig wat leweloos op die ambulansbed lê. Die res van haar liggaam is bedek met lakens. Trane bult in sy geskokte oë. "Ek is hier Wilma. Ek is nou vir altyd hier," sê hy terwyl die geluid stadig in ‘n eentonige gepiep verander.