Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Kreatiewe, sterk spelers sorg vir energieke As you like it


Albert Maritz - 2009-01-22

Ek was op die openingsaand van As you like it in Maynardville. Die atmosfeer het sommer ekstra lekkerte gekry met die gratis whiskey-proe vooraf, aangebied deur Paul la Cock van Aficionados. Miskien het die proe iets daarmee te doen gehad dat ek As You Like It se eerste 40 minute of wat ietwat negatief (of dalk net nie so helder nie) beleef het. Maar dalk nie …

Shakespeare is ingewikkeld geskryf vir die hedendaagse oor, en akteurs en regisseurs slaag toenemend daarin om dit hoogs verteerbaar aan te bied. Veral by studente van die Universiteit van Kaapstad sien mens gereeld werk waartydens hulle Shakespeare verstaanbaar en vermaaklik aanbied. En die UK is ’n groot voedingsbron vir Maynardville.

By dié weergawe was die eerste deel van die stuk selfs hinderlik, met te veel spelers wat nie die teks so beheer het dat ’n mens kon verstaan of geniet wat hulle sê nie. Mikrofone skep aan ’n gehoor ’n eie uitdaging en neem soms by spelers iets weg van hul onmiddellikheid en impak op die gehoor. Dit het my gedagtes laat dwaal na die ou garde: mense soos Keith Grenville en Nicholas Ellenbogen. ’n Mens kon Grenville hoor fluister – al het jy heel agter gesit. Wat ’n magtige stem en tegniek! Ellenbogen het onlangs nog in Maynardville die taal met kreatiewe gemak en humor hanteer.

Maar, soos in 20/20-krieket sit ons met ’n nuwe wêreld, ’n mikrofoon aan elke speler geheg, jong spelers wat die vaandel by die oues oorneem. ’n Mens hoop van die jongeres, sonder uitsondering spelers met groot talent, het die spelers van ouds nog in aksie gesien toe hulle sonder mikrofone in Maynardville gespeel het.

Tog, groot was my genot toe ek eers vatplek kry aan die stuk en gewoond geraak het aan die skril klank. Trouens, ek’s seker die skril klank het mettertyd verbeter. En ek verwys nie net na die karakterisering van die twee dukes nie. Gys de Villiers speel die eerste duke skril en driftig, en vertolk die latere karakter as ’n gemakliker persona en in ’n laer toonhoogte.

Toe ek eers vatplek kry aan die storie, was ek vasgenael. Die verhoog was die grootste deel van die tyd beset deur spelers wat die storie interessant gemaak het vanweë hul beheer en gemak en kreatiwiteit met die gesproke woord. Ek het aan die einde van die stuk letterlik op die punt van my stoel gesit.


Guy de Lancey was as ’n student reeds in Môre is ’n lang dag op die verhoog van die Markteater. In 1985, in Look back in anger by Truk, het hy reeds by my ‘n verwysing geskep as ‘n grootse vertolker. In Molière onder Francois Swart kon hy selfs tussen Afrikaanse spelers die verhoog beheer. Hy was die anker in As you like it.

Nog ’n speler wat my by die storie betrek het, was Adrian Galley, as die shepherd. En met die leisels in die stewige greep van hierdie manne kon Lika Berning die beste werk van haar professionele verhoogloopbaan lewer. Rosalind word volwaardig mens, en boonop ’n aantreklike, verstaanbare mens. ’n Blom, heeltemal in beheer van die teks, en kreatief in staat om aan Rosalind ’n realistiese en lewendige sy te gee - vir die gehoor ’n vreugde om na te kyk en luister.

Omtrent ewe afgerond was Andrew Laubscher as die lover.

Claire Watling het vir Mark Elderkin ’n kolfkampie geskep waarin hy die een ses na die ander kon slaan. Wat ’n vreugde! Hy het elke woord, elke frase en sinsnede, elke betekenis, amper so realisties soos ‘n strokieskarakter ingespan, en ewe vermaaklik. Die styl, gebare en helderheid waarmee hy van William ontslae raak as hy hom wegjaag – "… make thee away, translate thy life into death, thy liberty into bondage: I will deal in poison with thee, […] I will kill thee a hundred and fifty ways; therefore tremble, and depart" – maak op sigself die stuk die moeite werd om te sien.

Met die sterkste spelers byna deurgaans op die verhoog, met hul charisma en vermoë tot realisme, hul vermoë om te “luister”, en deur die kreatiwiteit van spelers en die gepaardgaande energie, was dié aand een van my lekkerste Shakespeare-ervarings.

Die stel is eenvoudig – geen huise en balkon en dak, heinings en mure (Romeo and Juliet) nie, maar bloot die stokke wat dun en lank die eindes van die verhoog tussen die Maynardville-plantegroei suggereer, gee ’n mens die Maynardville-natuurskoon op sy beste - speelpark vir die muses en gehore.

Ek sou die stuk sonder versuim gaan kyk en skoolgroepe by hul hordes daar probeer inkry.

***

’n Fliek wat dié soort vars konsep het, is Woody Allen se Vicky Cristina Barcelona. Scarlett Johansson, Penélope Cruz, Rebecca Hall, Javier Bardem en ander vorm deel van ‘n baie eenvoudige konsep wat interessante filmtegnieke insluit. Daar is byvoorbeeld ’n nabyskoot van ’n speler sonder dialoog in die voorgrond, en weerskante van die persoon twee spelers in die agtergrond wat gesels oor inligting wat die speler in die voorgrond betrek. Vergeet van ’n swak akteur met so ’n nabyskoot. Daar is, soos in Shakespeare, nêrens om weg te kruip nie. Met dié fliek is die spelers en regisseur uitmuntend.

Dis ook ongewoon om in ’n film wipes te gebruik. Die redigeerder doen dit hier – baie suksesvol en funksioneel. Hierdie is dalk nog ’n moenie-mis-nie.