Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Die storie van Phomudzo


Reney Warrington - 2009-01-21

My kuite is vandag seer. Dis oor ek ʼn halfuur lank op my hurke gesit het om vir die paramedics lig te gooi met ʼn gaslamp.

My storie begin egter drie jaar gelede.

Ek kan nie vir julle ʼn boeiende portret skets van Phomudzo nie, want ek het haar nie goed geken nie. Al het sy elke Dinsdag en Donderdag vir die afgelope drie jaar ons wasgoed en skottelgoed gewas. Al het haar driejarige seuntjie kort na geboorte op ons bank geslaap terwyl sy werk. Al was sy getroud met die tuinier van die kompleks waar ek woon, het ek nie veel van haar geweet nie.

Sure, sy was stiptelik, somtyds so vyf of tien minute vroeg. Sy het altyd geglimlag, vriendelik gegroet en nooit gekla as ons vir iets ekstra vra nie. In ons afwesigheid het sy die telefoon beantwoord as my ma bel en geteken vir pakkies wat afgelewer word. Sy het ná vakansies in Venda vir ons vet, gesonde avokado's gebring en dan vertel hoe dit met Kabelo gaan. Hy het by sy gogo gebly tot sy ʼn kleuterskool kon bekostig.

Phomudzo was 28.

As ek vandag aan haar dink, staan twee herinneringe vir my uit. Die eerste een is die Tina Turner-video wat ek van hoërskool af saam trek. Ons het huis skoon gemaak en Tina moes uit. Op my vraag of sy van iemand weet wat dalk van Tina hou, het Phomudzo in haar nuut-geleerde Engels geantwoord: "Yes. It is me."

Die tweede herinnering is my vrou wat in die vlak kant van die kompleks-swembad staan met Phomudzo se lyk in haar arms.

Phomudzo het verdrink.

Dit was ʼn warm Donderdagaand wat ons uit die woonstel gedryf het. By die swembad het ons ʼn jong ma met ʼn kleintjie sien speel en langs die kant gaan sit. In die middel van die swembad het Phomudzo gedryf. Haar postuur was vreemd, maar die laaste ding wat jy in die kompleks se swembad verwag, met ʼn ma en dogter wat rustig langs die swembad speel, is die lyk van jou huishulp.

My vrou het aangehou dat dit iets nie reg is nie. Uiteindelik het sy opgestaan en gesê: "Sy is onderstebo!" Ek het gehardloop om my foon te kry. My vrou het ingespring en die lyk omgedraai en vlak kant toe gevat. Dis toe ek terugkeer met Netcare 911 op die lyn en woonstelbure agter my dat ek my vrou in die vlak kant kry. Sy kon nie die liggaam uittel nie en het dit op die boonste trappie laat rus.

"Wie is dit?" het ek gevra.

"Dit is Phomudzo," het sy hartseer geantwoord.

Phomudzo se man help om sy vrou uit die water te haal. James roep ʼn verpleegster wat in die gebou bly en bring ʼn klein liggie. Sy vrou Jenny gaan haal die dokter wat in die gebou langsaan bly en vryf Phomudzo se voete. Die dokter en verpleegster voer noodhulp uit. Andrew, een van die vier sekuriteitswagte, wag by die een hek vir die ambulans. Ek staan in die straat by die ander hek. Jaco, die paramedic, kom aangejaag met flitsende ligte en probeer sy beste vir Phomudzo. Ek skyn my gaslamp vir hom.

Alles tevergeefs.

Die koerante het gesê: "Dit is steeds nie bekend wat tot die voorval gelei het nie. Sy het swemklere aangehad."

Hierdie storie is vir jou, Phomudzo. Dit is ongelukkig al wat ek het.