Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Ai Kommerpot ... Die rokersding


Lucas - 2009-01-20

Ek was 26 jaar gelede ’n kettingroker. Toe stop ek oor die dokter vir my gesê het dat ek ’n groot kol op my long het. Nee ek lieg. Hy het dit gesê terwyl ek met dubbele longontsteking in die hospitaal gelê het. Ek het nie in die hospitaal gerook nie, omdat dit gewoon net te seer was en ek het duiselig geword van die hoes. Na drie weke in die hospitaal waar ek saam met die ander longpasiënte gelê en luister het hoe sommiges in die nag geveg het om asem te kry het ek besluit om nie weer te begin nie. Dit was vrek moeilik, maar ek het dit gedoen, ten spyte van die feit dat my vrou aanhou rook het. Toe gebeur ’n snaakse ding. Ek raak super allergies vir rook. Selfs al ruik ek dit net aan iemand se klere begin my sinusse drup vir die vale en verstik ek dikwels wanneer ek sing in ’n plek waar daar gerook is/was. Na so ’n verstikking kan ek gewoonlik vir ’n ruk nie praat omdat ek hees is.

My vrou het intussen besluit om liewer buite te rook, en ek is baie dankbaar daaroor. Ongelukkig is dit so dat ek nog steeds die rook aan haar klere ruik, en dit het tot gevolg dat sy nou buite rook met ’n rookbaadjie. Sy doen dit vrywillig, maar steeds voel ek skuldig vir die ongerief wat ek haar aandoen. Ek voel ook skuldig wanneer ek vir mense vanaf die verhoog vra om nie te rook terwyl ek sing nie, want anders moet ek dalk die vertoning kortknip oor my verstikking. Dit gaan dikwels goed, maar soms kry ek dat mense tog aanhou met rook. Hoe maak mens in so ’n geval? Ek weet nie. Ek weet net dit:

Rokers kan nie ruik wat hulle sigarette aan die neuse van nie-rokers doen nie. Ek weet, want ek was daar. (Ek het my neus eers teruggekry meer as ’n jaar na my laaste sigaret.) Daarom glo hulle dikwels nie dat hulle vir jou ’n probleem skep nie; raak selfs kwaad as hulle verontrief word deur jou “SKETE”. Vir hierdie mense het ek leer hanteer. Elke mens het die reg om die woordjie EINA te gebruik as jy seerkry, geestelik of andersins, en as hulle dan nou vir jou wil kwaad wees omdat jy hulle nie toelaat om jou te pynig nie, is dit hulle probleem, nie myne nie. Wanneer dit kom by die mense wat jy liefhet en wie lief vir jou is, glo ek nie dat daar mense is wat so hardvogtig sal wees om aan te gaan met die pyniging as hulle eers daarvan bewus gemaak is nie. Dis net die bewusmaking wat moeilik is, en daar dink ek die pad om te loop is die een wat Ellen voorstel: Laat die huisdokter praat. Op die manier word dit nie ’n emosionele kleilatgeveg nie.

Ek het eintlik nie ’n probleem met enigeen se reg om te rook nie, solank die rokers dieselfde respek sal hê vir my reg om NIE te rook nie.

Groete

Lucas – soek-soek na ’n pepermentjie in die sak vir daai droëkeel-gevoel wat hy onthou uit sy rokersdae …