Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Brief aan Wilhelm: Na maande van droogte


Deon Knobel - 2009-01-20

11 Januarie 2009

Liewe Wilhelm

Dis reeds maande gelede dat ek laas van my laat hoor het. Jy het my eenmaal die boeiende gedig “n Man staan op die land” saam met ’n brief gestuur, waarin jy ewe filosofies opmerk: "Na maande van droogte het ek weer vandag ’n gedig geskryf. Ek hoop jy hou daarvan.”

Nouja, vir my geld dieselfde – na maande se droogte – en dit was behoorlik droogte wat kreatiewe skryfwerk betref. Het net nie die energie of inspirasie gehad nie, al weet ek dat inspirasie minder belangrik is as inspanning en perspirasie. Om net weer te begin laat mos die droogte van emosies en energie stadigaan verdwyn.

Ondertussen het baie dinge gebeur wat my aandag byna voltyds geverg het.

Ene Koos Kombuis, ’n joernalis, sanger van ligte Afrikaanse liedjies en ook digter van wie heelwat gedigte deur André P Brink in sy jongste Groot Verseboek opgeneem is, skryf toe op sy blog (sy private geselshoekie op die internet, die rekenaarnetwerk waarop wêreldwyd ingeskakel en ingeskryf word) dat hy gatvol is vir mense wat sê hulle is bipolêr – al wat hulle nodig het is om te leer werk, deur die stront op die plaas te loop en te leer melk. Ontstelde joernaliste wat self bipolêr is, het my geskakel en my aandag daarop gevestig. Ek het onmiddellik beswaar gemaak by Etienne van Heerden, self ’n beroemde skrywer van romans in Afrikaans en die webmeester van LitNet, waarop Koos se blog verskyn het). Koos is aangesê om sy inskrywing te onttrek. En hy het toe kwansuis “onvoorwaardelik” om verskoning gevra, maar toe ongelukkig die “voorwaarde” tot sy onvoorwaardelike verskoning aageheg: “As iemand nou ’n tirade sou begin teen kinderverkragters, sou jy dit as haatspraak teen pedofiele beskou.” Toe strip ek my Boeremoer en meld hom by die Menseregtekommissie aan vir “haatspraak” en menseregte-oortreding.

Hierop volg toe ’n vurige debat op die internet in ’n briewerubriek en word jou broer van ’n kant af uitgeskel deur die meerderheid van skrywers, met hier en daar ondersteuning van persone wat self met bipolêr leef of familielede het wat dit onder lede het of as gevolg daarvan selfmoord gepleeg het. Ek het wonderlike mense hierdeur ontmoet, vanaf Switserland tot Pretoria, Bloemfontein en Paarl. Ons vorm nou ’n soort van ondersteuningsbasis vir mekaar. Aggie, jou ou vriendin, het ook kranig deelgeneem aan die debat en selfs ’n briljante stuk wat sy oor haar ervarings met jou geskryf het, op die internet laat plaas.

Uiteindelik was daar toe tog ’n soort van opvoedingstaak en is probeer om die toestand te verduidelik op die basis van die onderliggende chemiese wanbalans in die brein se oordragsubstanse.

In die middel hiervan wys die SABC in ’n episode van ’n gewilde Afrikaanse familiesepie (byna soos die outydse daaglikse vervolgverhale op die radio waarna Lotta en tant Lulu so kraniglik geluister het en in ons eie ervaring Die Du Plooys van Soetmelksvlei) wat tussen halfsewe en sewe-uur uitgesaai word, in grafiese detail hoe ’n jong meisie selfmoord pleeg deur voor die kameras en kykers hande vol pille te sluk en dan onder die duvet (maar net ’n moderne naam vir ’n tipe verekombers) induik, waar sy die volgende oggend dood gevind word. Toe maak broer Deon weer beswaar en weer koes hy vir ’n vale vir al die emmers vol menslike afval en kritiek wat op sy kop val.

Nouja, as mens jou kop uitsteek, moet jy maar aanvaar dat daar altyd verdwaalde bye of perdebye rondvlieg wat iemand soek om te steek.

Ek het vergeet om die term bipolêre gemoedstoornis te verduidelik: dit is die moderne benaming vir die toestand waarmee jy ook gediagnoseer was in jou eerste jaar, naamlik manies-depressiewe psigose. Ek vermoed dat die term psigose dalk as stigmatiserend beskou kon word en dus verander is. Tog het ek uitgevind dat in weerbarstige bipolêre aanvalle dit dikwels die antipsigotiese middel is wat verbeteringe aanbring. Mens moet dus nie toelaat dat die verandering in benaming mense die psigotiese aspek laat miskyk nie.

Nouja, nou verstaan jy seker hoekom ek nie geskryf het nie.

Nou na iets baie meer aangenaam en vir my verkwikkend en opwindend. In die afgelope maande was daar twee artikels en briewe in die koerante waarin die skrywers vertel van die genot om weer hulle ou platespelers en langspeelplate te ontdek. Die een ou, Kobus, het genoem hoe hy sy speler geneem het na ’n winkel in Observatory, waar die ou speler verstel en opgeknap is. Toe vat ek die pad met my ou Technics-speler en ’n Lenco, massiewe ou swaar draaitafel wat Peet, die man van Isabelle, oom Willem se dogter, vir my present gegee het. Die Technics is weer in uitstekende toestand en die Lenco onherstelbaar, wat jammer is aangesien sy motor ook verskillende revolusies per minuut kan speel: 78, 45 en 33.

En toe volg die plesier van al die ou langspeelplate (ewe deftig deesdae na verwys as “vinyls”) uit te soek in kategorieë, van klassieke sang, solo en orkeswerke tot van jou gunstelinge, die “Blues van Bessie Smith" en die ewig opruiende en opwindende Edith Piaff, veral haar “Je ne regrette rien”, “Ek is oor niks, ja niks spyt nie”, of dalk “Ek het geen, maar geen berou nie”.

(Aangesien hierdie brief van my nie oor letterkunde handel nie, moet ek tog net noem dat ek nog by jou ander vriende se herinneringe oor hulle vriendskappe met jou, en hulle doen en late sedert jou vertrek, sal uitkom. Kortliks oor Hennie Aucamp, gevierde kortverhaalskrywer, digter en kenner van en skrywer oor lirieke: hy het onlangs ’n wonderlike program oor die radio aangebied oor die kabaret. Ook kort gelede van hom ’n hoog-aangeskrewe nuwe digbundel, met die fassinerende titel Vlamsalmander verskyn. Oor hom weer later in ’n vollediger brief oor hom aan jou.)

Terug by die klassieke plate: ek het begin met die vroue sangers: alfabeties by Janet Baker, Joyce Barker, Kathleen Ferrier en Hilde Gueden. En wat ’n verrukking om weer die ou stemme en werke te hoor. Janet Baker bly een van my gunstelinge, en jy onthou seker dat ek nie jou ekstase oor Kathleen Ferrier met jou gedeel het nie. Dalk die ou opnametegnieke van Ferrier, maar vir my bly sy louwarm en nie die smeulende diep altstem soos jy en ander aanhangers haar gevind het nie.

Joyce Barker se twee plate met opera-arias is weer eens ’n verrassing. Nevermind dat sy met haar “larger than life” (of is dit “lyf”?) “Een skone dag” uit die delikate Madama Butterfly se keel laat klink soos ’n dramatiese Wagner-aria. En as sy die “In questa reggia" uit Turandot van Puccini sing, laat dit jou hare rys. In “People I made music with”, die onlangs-verskene memoirs van David Tidboald, spreek hy haar gewigsprobleem aan waarteen sy lewenslank gestry het. Hy eindig hoe ironies dit is dat sy gesterf het as ’n nimfslanke vrou in haar laat middeljare, die nimmereindigende stryd om gewig te verloor, deur verspreide kanker deur haar organe oorwin is.

Vanmiddag het ek gou ingeloer by Annemarie Smit, vriendin en ma van die dowe ballerina Marisa Smit wat tans in New York aan die Joffrey Balletskool studeer.

In die jong vriendekring van die Smit-kinders het so pas ’n tragedie afgespeel. Teniel, een van die vriendinne, het net voor die naweek ’n skielike aanval van naarheid en stuiptrekkings ervaar, opgeneem in die hospitaal met ernstige breinswelling en geweldig hoë druk in die skedelholte, waarvoor sy geopereer is. Daar was ’n opflikkering toe sy self en spontaan begin asemhaal het sonder die respirator, maar dit het nie lank geduur nie, en sy is vanmiddag – Sondagmiddag – oorlede, drie weke voor sy in die huwelik sou tree met nog een uit die vriendekring.

Ek het agter die skerms begin aanvoorwerk doen en voorbereidings tref dat die familie genader moet word vir toestemming tot orgaanskenking, en uiteindelik het die moeder haar toestemming gegee, al was die vader daarteen. Ek is so dankbaar vir hulle onthalwe, want uit ondervinding van baie jare het ek geleer hoe positief die treurendes later die skenking ervaar, dat hulle kind nie heeltemal nutteloos gesterf het nie. En vir die jong vriende is dit natuurlik ’n oproep om oor hulle jong lewens te besin. Ek het ook begin “onderrig” gee dat mens nou al kan besluit of mens eendag ’n orgaanskenker wil word, dan neem mens die druk van die familie, onder die moeilike omstandighede waar ’n geliefde breindood verklaar word, weg.

Toe ek Annemarie vertel van my ontdekkingsreis deur my ou plaatversameling, vertel sy ’n absoluut histeriese storie. ’n Goeie vriend van haar was fanaties oor sy “vinyls” en saam het hulle na vendusies en tweedehandseplate-winkels gegaan – as gereelde Saterdagoggenduitstappie – om na versamelstukke te soek. Kom toe een Saterdag op ’n winkel af waar kaste en kaste vol plate staan. Terwyl hulle versigtig deursoek, kom ’n welgeklede en elegante dame in met ’n jong man as helper, en begin kaste vol plate wegpak. “Are you going to listen to them all?” wou die versamelaar weet. Nee, antwoord sy, sy gebruik net die omslae om handsakke van te maak. En die plate? Nee, dié gee sy vir haar kinders om as frisbees op die strand rond te gooi, of sy gebruik dit as plekmatte aan tafel wanneer sy deftige dinees gee!

Terug by my – en jou plate wat ek geërf het. Natuurlik het ek al geluister na Pablo Cassals se onbegeleide Suites van Bach sowel as na van Bach se "Partitas" – van jou eie gunstelinge. Onthou jy hoe jy in "Apollo 8" verwys na Breyten se woonstel in Parys “waar ’n digter-skilder luister na Partitas van Bach, en Blues van Bessie Smith”?

Dit herinner my om jou te vertel dat ek op Sondag 6 Desember in Pringlebaai by hulle minifees, Die Windgatfees, ’n voordragprogram aangebied het oor jou lewe en werk, met jou eie gedigte as biografiese storielyn en geëindig met die pragtige en roerende beskrywing van Maria by die Kruis. Ek het iets nuuts probeer en dit is dat ek die woorde van die gedigte met ’n rekenaar-projektor, of meer korrek ’n digitale projektor, teen ’n skerm gegooi het en dan die gedigte ryklik geïllustreer het met foto's van jou en ons familie, die songebaaide koringlande, die stroper wat soos ’n “oermonster die laaste van die sonryp koring slurp”, die wilgerbome by die agterdeur, die donderwolke wat mooi opsteek vandag, en talle van jou eie klein skilderytjies en kleurstudies. Die middag was nie goed bygewoon nie, maar in die voorste ry sit Heleen Rowland, Scholtz uit jou studentedae, en haar dogter Tony. En bietjie verder na agter sit Sandra Kotze en Cobus Rossouw, twee van die ikone van Afrikaanse teater, en langs hulle Pieter Fourie, van die filmwese. Hulle was almal vol lof vir die aanbieding en die inhoud van die program, wat vir my baie beteken het.

Die middag voor die vertoning kry ek toe ’n oproep van Barbara Kennedy, ’n tjellis wat in Pringlebaai woon, en aanbied om onbegeleide Suites van Bach te speel voor die vertoning, en halfpad deur, na die gedig oor die wildegans, wat pik-pik teen die lug om te ontsnap van die ys waarin hy vasgevang is, het sy die swaan van Saint Saëns gespeel – heel treffend.

Ek eindig altyd my program met jou beskrywing van Maria by die kruis, ’n kort hoofstuk wat behoue gebly het van jou onvoltooide Bybelse roman, Lazarus. Net daarvóór speel ek ’n opname van my eie weergawe van ’n pragtige lied van ’n Amerikaanse komponis (Bernstein? Ek vergeet altyd die naam) met die volgende aangrypende woorde: “At the call of the first bird/ they began to crucify thee, o Swan./ Never shall lament cease, because of that./ It was like the parting of day from night./ Ah! Sore was the suffering borne by the body of Mary’s son./ But sorer still to him was the grief/ that for his sake, came upon his mother.” Dis ’n pragtige inleiding tot jou Maria, wat ek noem "Wilhelm se Pièta" en pragtig geïllustreer met jou eie skildery van die drie kruise teen die heuwel en “soveel bloed, wat saam met die water wegvloei in die grond”.

Maria

 

Toe dit aand geword het staan Maria nog by die kruis. Die smart het haar verdwaasd en rou gelaat.

Om haar skouers voel sy die sterk jong arms van Johannes. Sy voel die bloed in sy spiere klop en ’n rilling wat af en toe ruk deur sy lyf.

Die man wat aan die hout hang met sy verminkte en deurboorde lyf is nie langer haar seun nie.

Wanneer hulle die kruis laat sak, stamp dit met ’n dowwe slag teen die grond. Maar die pyn voel hy nie meer nie.

Die hout kraak knarsend as hulle die spykers uit sy hande en voete haal. Uiteindelik kan sy hom in haar arms hou, die aanmekaargekoekte hare wegvee van sy voorkop … Sy gesig, van die vuishoue opgeswel en bebloed, kan sy skaars herken. Sy glasige oë is leeg.

As hulle hom wegdra, hang een arm styf weg van sy lyf. Huiwerend laat sy haar hand gaan oor die repe vleis en bloed wat hard geword het op sy rug.

By die graf was sy die bloed sorgvuldig af − soveel bloed, wat saam met die water wegvloei in die grond. Versigtig, asof die gemartelde liggaam nog kan voel, vryf sy die salf met haar hande in en draai die doeke om die swaar, strak ledemate, weerloos soos dié van ’n kind. En na hulle hom weggelê het in die koue wieg van die klip, laat sy toe dat Johannes haar weglei sonder om om te kyk.

Die boodskap wat die engel haar gebring het, ’n leeftyd tevore, is volbring.
 – Wilhelm Knobel

 

"Die man wat aan die hout hang
met sy verminkte en deurboorde lyf
is nie langer haar seun nie."

Mary

As evening falls Mary still stands at the cross. The sorrow has left her numb and raw. Around her shoulders she feels the strong young arms of John. She feels the blood pulsating in his muscles and now and again the shuddering blasts that ripple through his body.
 
The man who hangs on the wood with his brutalised and pierced body is no longer her son.

The wood creaks with crunching sound when they pull (extract) the nails from his hands and feet. At last she can hold him in her arms, wipe away the tangled hair from his forehead … His face, swollen and bloodstained from the fist blows she can hardly recognise.

His glassy eyes are empty … When they carry him away one arm hangs away stiffly from his body.

Hesitatingly (with trepidation) she moves her hand over the ripped-up flesh and the blood that hardened over his back.

At the grave she carefully washes off the blood – so much blood that flows into the ground with the water! With care, as if the tortured body could still feel, she rubs the oil in with her hands and wraps the shroud cloths around the heavy, rigid limbs, vulnerable and defenceless as those of a child.

And after they laid him in the cold cradle of the rock, she allows John to lead her away, without looking back.

The message of the angel, brought to her a lifetime ago, has been fulfilled.

En hierna eindig ek met "Elegie" van Fauré, gespeel op die tjello deur Misha Maishky - hoogs emosioneel en aangrypend.

Liefde aan jou en ons verlang steeds na jou en jou manewales. 8 Januarie, wat nou net verby is, was die 12de herdenking van Mamma se sterfdag op 8 Januarie 1997. Kan mens dit glo dat die tyd so vinnig verbyskiet?

En 4 Januarie was natuurlik 35 jaar gelede dat jy weg is. Die aand daarna, 5 Januarie, het ek ’n deftige aansit-ete gegee vir 12 gaste, en die moeder van Annemarie, Maria Basson, weduwee van ’n NG predikant en goeie vriende van Phil du Plessis, het die seën voor ete gevra en baie mooi dankie gesê vir jou lewe en talent as digter.

Nag vir eers

Deon