Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Hangovers, hoernaluste en leftovers


Theunis Engelbrecht - 2009-01-16

Luisterpaneel:
Theunis Engelbrecht, Yvette (Ysterslet) de Wet, Tom Blom


Kort voor Krismis was daar skielik weer ‘n kakhuis-so-groot-soos-‘n-pakhuis vol nuwe CD’s in die winkels, maar met almal wat met vakansie gegaan het en toegemaak het en opgehou funksioneer het – insluitend die agbare lede van ons luisterpaneel – kom ons nou eers daarby uit in Sound Bites.

Dis verskriklik dat daar elke jaar in Desember van ons verwag word om net in terme van die Krismismark (as ‘n seisoen van bemarking) te dink. Ons ooreiste paneellede raak ook altyd verskriklik afgepis as daar suurgatte is wat kla dat sekere CD’s wat hier bespreek word, “al ou nuus is”.

Wel, die goeie nuus is dat werklik goeie, tydlose musiek nooit “ou nuus” kán wees nie, whê, so ons paneellede gee nie om of hulle altyd dadelik voor-in-die-koor is en eerste oor ‘n nuwe CD skryf nie. In ons boek is die skryf van CD-resensies nie ‘n poging om jou te gedra soos iemand wat deel is van ‘n wedloop om as klaskaptein, hoofseun of hoofdogter gekies te word nie. Desnieteenstaande spyt dit my om julle mee te deel dat geagte paneellede soos Beyers Eybers, Fritz Brits, Naas Maas en Alice Ellis nie kans gesien het om in die feestyd saam te luister na al die nuwe CD’s nie – hulle was te uitgemergel ná die eise wat die jaar aan hulle as joernaliste gestel het. Hulle was só depressief dat hulle hul eerder in die feestyd soos hoernaluste wou gedra, en is derhalwe kwytgeskeld van hul verpligtinge. Gelukkig was Tom Blom en Yvette (Ysterslet) de Wet op hul pos.

Klik op die albums en DVD's se omslae om dit nou van kalahari.net te bestel!

CD VAN DIE MAAND

BB King
One Kind Favor

 


BB King word vanjaar 84. Hy staan bekend as die Koning van die Blues. Hy is een van die grotes van wie daar met ontsag en respek gepraat moet word, so watch out, sê Yvette (Ysterslet) de Wet, of sy donder enigiemand wat ‘n skewe woord oor Oupa BB praat.

Ons is dit eens dat die beste musiek van die afgelope jaar deur bejaarde mense gemaak is. Gaan luister maar na verlede jaar se uitreikings deur Bob Dylan, Neil Diamond en Brian Wilson. John Mellencamp kwalifiseer ook as semibejaard. (Om een of ander rede was die outannies nogal stil die afgelope jaar.)

Die blues-mark is ook al so te sê oorversadig, maar Tom én Ysterslet én ek meen One Kind Favor is een van die heel beste blues-CD’s wat ‘n mens van kan droom om in jou versameling te hê. Die produksiegehalte is uitstekend, die musikante speel met ware passie en King se stem is, soos dié van ‘n oeroupa, vol deurleefde emosie.

Op hierdie CD sing hy 12 blues standards, soos “See That My Grave is Kept Clean”, “The World Gone Wrong”, “Midnight Blues” en “Sitting on top of the world” (laasgenoemde drie liedjies is, interessantheidshalwe, ook al deur Bob Dylan opgeneem op sy albums Good As I Been To You en World Gone Wrong).

One Kind Favor is bloubloed-blues. Koningskos!

 

AC/DC
Black Ice

 

Daar is ‘n goeie saak voor uit te maak dat AC/DC ook al as semibejaard beskou kan word, sê Tom, maar dis opmerklik dat hulle baie beter en met soveel meer energie en passie en oorgawe rock as die meeste rock bands waarvan die lede die helfte van die AC/DC-snare se ouderdom is.

Ysterslet stem heelhartig saam en is van mening dat Afrikaanse rock bands verplig moet word om kursusse te volg waarin die musiek van ouens soos dié bestudeer word sodat hulle ‘n paar lewensnoodsaaklike lessies kan leer.

AC/DC donder voort soos ‘n voortsnellende trein waarvan die brieke gebreek het. As hierdie adrenalienskop jou nie ‘n bietjie meer lewenslustig laat voel nie, moet jy maar in die skaduwees van die langboompies gaan sit, sê Ysterslet.

Daar is baie hoogtepunte, blom Tom, en hy noem “Rock ‘n Roll Train”, “Skies on Fire”, “Big Jack”, “War Machine”, “Smash n Grab” en “Rock ‘n Roll Dream” as dié wat hom die meeste plesier gegee het. Boonop gee AC/DC waarde vir geld – die CD bevat ‘n volle 15 snitte. Kook, rook, stook en geniet.

 

Oasis
Dig Out Your Soul

 

Jy hoef net die fantastiese video van Oasis se nuwe treffer, “The Shock of the Lighning”, op TV te sien om te besef dat jy hier met kookwater-rock te doen het. Daar is mense wat nog nooit veel erg gehad het aan Oasis nie – deels weens die Gallagher-boeties se irriterende arrogansie en die feit dat hulle in sekere stywelip-kringe as na-apers van The Beatles beskou word - maar vir ander mense is dit asof die son nie net skyn uit die gatte van Oasis se lede nie, maar ook elke oggend daar opkom en saans daarin ondergaan.

Selfs mense wat voorheen nie van Oasis gehou het nie, behoort van hierdie album te hou. Dis asof die groep nuwe energie, ekstra skop en onblusbare dryfkrag het. Dis ook nie of Dig Out Your Soul een van daardie CD’s is wat net een, twee of drie sterk liedjies bevat en verder met weggooi-snitte opgevul is nie. Reeds met die eerste snit, “Bag It Up”, het hulle jou in die holte van hulle sweterige handjies en kan jy agteroor sit vir ‘n verdere tien liedjies wat jou ‘n luisterervaring bied wat jou nie laat voel dit mors jou tyd nie. Met liedjies soos “(Get Off Your) High Horse Lady”, “To Be Where There is Life”, “The Nature of Reality” en “Soldier On” as verdere hoogtepunte, is dit so helder soos daglig dat dié album beslis die moeite werd is om van kennis te neem.

 

Verskeie kunstenaars
Bellville Rock City

 


Hier is nou iets baie, baie spesiaals. Bellville was die afgelope jare die kookpot van die beste nuwe Afrikaanse én Engelse rockmusiek in Suid-Afrika, en dié versameling bied ‘n boeiende oorsig hiervan.

Dit bevat ‘n CD met 13 snitte van Ashtray Electric, New Holland, Fokofpolisiekar, Lukraaketaar, Die Heuwels Fantasties, KOBUS!, Jax Panik, Foto na Dans, Springbok Nude Girls, Thieve, Van Coke Kartel en aKING.

Dit bevat ook ‘n kort dokumentêre DVD, 12 Mile Stone, oor die onderwerp. Ongelukkig is die dokumentêr net ‘n halfuur lank – dis iets wat eintlik so twee tot drie uur lank moet wees sodat daar aan al die fasette en aspekte van die Bellville-toneel aandag gegee kan word. Die halfuur maak ‘n mens net lus vir meer!

Maar dit is nie die einde nie. Op die DVD is daar ook tien musiekvideo’s en agt MP3’s, met musiek van onder andere New World Inside, City, 22 Stars, 7th Breed en Trompie is Dood.

Dié stel is baie mooi uitgegee en is ‘n versamelstuk. Dis meer as net musiek – dit is ook dokumentering van ‘n sekere generasie, van ‘n sekere tydsgees, van ‘n mespunt-tyd in die geskiedenis. Met uitreikings soos dié volg Rhythm Records in die waardige voetstappe en tradisie van Shifty Records.

 

Dido
Safe Trip Home

 


Tom sê hy kan nie objektief oordeel oor hierdie CD nie, want Dido se stem maak hom jags. Ek en Ysterslet het die volste begrip daarvoor. Sy sing so sensitief, so delikaat.

Safe Trip Home is anders as Dido se vorige CD’s, want die liedjies is nou meer minimalisties en die meeste van hulle is baie stadig. Sy kan mens óf hipnotiseer óf aan die slaap laat raak. Ysterslet sê dis nou die soort musiek wat haar tot selfmoord kan dryf, maar dis omdat sy té emosioneel na musiek luister en nie daarvan kan detach en net met haar kop daarna kan luister nie. Alice het gebel om te sê dat sy ook met haar hart na musiek luister, soos Ysterslet, maar dat Dido se musiek haar allesbehalwe depressief laat voel. So, dit is stupid om veralgemenings te probeer maak.

Dit is musiek wat op ‘n mens moet groei. Moet dit ook nie onderskat met die eerste luisterslag nie. ‘n Mens moet geduldig wees as jy dié musiek gekraak wil kry. Vier van die 11 snitte staan veral uit: “Look No Further”, “Let’s do the things we normally do”, “Grafton Street” en “Northern Skies”.

 

Rise Against
Appeal to Reason

 


In die CD-boekie is daar ‘n paar interessante aanhalings, soos: “What do you think an artist is? An imbecile who has only eyes, if he is a painter, or ears if he is a musician, or a lyre in every chamber of his heart if he is a poet, or even, if he is a boxer, just his muscles? Far from it: at the same time, he is also a political being, constantly aware of the heartbreaking, passionate, or delightful things that happen in the world, shaping himself completely in their image. How could it be possible to feel no interest in other people, and with a cool indifference to detach yourself from the very life which they bring to you so abundantly? No, painting is not done to decorate apartments. It is an instrument of war.” Dit kan as die groep se credo beskou word. Nog ‘n interessante aanhaling: “That whenever any form of government becomes destructive of these ends, it is the right of the people to alter or abolish it.”

Skerp politieke en sosiale kommentaar is aan die orde van die dag in liedjies soos “Collapse (Post-Amerika)”, “Re-Education (Through Labor)”, “Hero of War” en “Historia Calamitatum”. Die vermaakwêreld loop ook deur: “All we are is entertainment caught up in our own derangement. Tell us what to say and what to do. All we are are pretty faces, picture perfect bottled rage, packaged, synthesized versions of you.”

Dit alles word gelewer in siedende rock-klanke en is van voor tot agter ‘n roller coaster. Die musiek is nie oral ewe sterk nie en word plek-plek ontsier deur verbeeldinglose rifs en ‘n gebrek aan ‘n sterk sin vir melodie. Dan klink dit maar soos tipies generiese, gemiddelde, onoorspronklike rock. Die paneel het waardering vir die skerp sosiale kommentaar, maar die meeste voel hulle sal nie meer as een keer daarna wil luister nie. Dus: besluit self. Nie een van ons op die paneel is Moses of Oprah wat vir jou moet sê wat om te luister en wat nie.

 

Big Sky
Trancas Canyon

 


Vir dié wat nog nie weet nie: Big Sky word aangevoer deur die Suid-Afrikaanse sanger, liedjieskrywer en kitaarspeler Steve Louw. Dié album is egter in Amerika opgeneem, maar die goeie nuus is dat Louw weer woelig is in sy geboorteland en tans baie goeie shows doen – kyk uit vir ‘n konsertopname op CD en DVD van hulle wat binnekort uitgereik word; dis beslis meer as die moeite werd (‘n paar paneellede het van die shows gesien).

Op Trancas Canyon bewys Louw opnuut sy uitsonderlike talent as skrywer en sanger. Hy en Big Sky maak doodgewone goeie, soliede rock en blues sonder enige aansitterigheid of fieterjasies. Die snitte is deur die bank sterk en sluit hoogtepunte in soos “Bring the Night On”, “Fade Away”, “John the Revelator”, “Pony Blues” en “Back Again”.

Die album laat ‘n mens ook besef dat Louw en Big Sky nog nie werklik die erkenning en aandag gekry het wat hulle verdien nie, al is Louw al lank op die toneel en het Big Sky se treffer “Waiting for the Dawn” al byna kultusstatus verwerf. Jy sal nie spyt wees as jy moeite doen om jouself bloot te stel aan Trancas Canyon nie. En die live CD en DVD wat op pad is, sal beslis ook die jaar op ‘n hoë en goeie noot inlui.

 

The Script
The Script

 


Hier is nou ‘n debuut-rockalbum wat regtig goed is. Dis tog te lekker om na sulke CD’s te luister tussen al die ander gemiddelde uitreikings deur. The Script kom van Dublin in Ierland, maar is nou in Londen gevestig. Hulle speel al van 1996 saam en dit het hulle 12 jaar geneem voor hulle dié album uitgereik het.

Die wag was die moeite werd, en die lede glimlag nou hopelik in hul mou en lag die laaste lekkerste lag. In die eerste week nadat dit uitgereik is, was dit dadelik in die eerste plek op die amptelike Britse en Ierse trefferparades. Hul eerste treffer, “We cry”, is in Augustus 2008 uitgereik, en voor die einde van die jaar het hulle nog twee groot treffers gehad: “The man who can’t be moved” en “Breakeven”. Die kersie op die koek was dat hulle in November by die World Music Awards bekroon is as die Ierse groep van wie die meeste albums verkoop is.

Goeie verkope is, soos veral ons Afrikaanse mense weet, nie noodwendig ‘n waarborg van gehalte nie. Maar The Script kan veilig en gerus voel, want ‘n gebrek aan gehalte is die laaste ding waarvan ‘n mens hulle kan beskuldig. Benewens bogenoemde drie liedjies is daar ook nog ander wat uitstaan, soos “Before the worst”, “Rusty halo” en “Talk you down”. Selfs wanneer hulle liefdesliedjies sing, drup dit nie van die stroop, snot en trane nie – luister maar na “I’m yours”.

Dis so helder soos daglig dat daar ‘n blink toekoms vir The Script voorlê. 

 

Tracy Chapman
Our Bright Future

 


Enigiets wat Tracy doen is spesiaal, al klink dit soos iets wat sy al voorheen gedoen het. Met haar mooi, gevoelvolle stem sing sy oudergewoonte oor sosiale kwessies en liefde. Die deurleefdheid en gebrek aan clichés tref elke keer. Snitte wat volgens Tom en Ysterslet uitstaan, is “Sing for you”, “Save us all”, “Thinking of you” en “The first person on earth”. Die album het nou wel nie dieselfde intensiteit en uitboulkrag van haar debuut nie, maar dis die moeite werd om hierna te luister.

 

Dirty Pretty Things
Romance at Short Notice

 


Hierdie CD bevat gewone rock wat nie jou brein wegblaas nie – maar dit beteken nie dit is ‘n pot stront nie. Al is dit nie uitdagend nie, en al doen die groep niks wat nog nie gedoen is nie, is dit heel genotvol. Een pluspunt is dat dit opbeurend is en ‘n mens laat goed voel – en in vandag se droewige ou wêreld is enigiets wat dit kan regkry, nie te versmaai nie.

Daar moet bygesê word dat hoe meer ‘n mens hierna luister, hoe meer hou jy daarvan. Snitte een en twee laat jou dink oukei, dis bloot gangbaar, maar teen die derde en vierde snitte, “Plastik Hearts” en “Tired of England”, begin ‘n mens weer geïnteresseerd raak. Dan vat dit weer ‘n effense dip voordat snitte sewe en agt, “Kicks of Consumption” en “Best Face”, die momentum bietjie weer aan die gang kry. “Chinese Dogs” is ook een van die meer uitstaande liedjies.

Dit is dus een van daardie frustrerende albums: die een oomblik voel jy jy hou daarvan, die volgende oomblik voel dit alles maar weer heel gemiddeld. Dit laat jou uiteindelik met daai tussen-die-boom-en-die-bas-gevoel.

 

Fall Out Boy
Live in Phoenix

 


Die album is nie so sterk soos Fall Out Boy se ateljee-opnames nie en almal op ons paneel kies deur die bank laasgenoemde. Die groep handhaaf nie dieselfde intensiteit en energie op die verhoog nie. Daarbenewens wonder ‘n mens wat is die sin van die weergawe van Michael Jackson se “Beat It” saam met John Mayer? Fall Out Boy se twee grootste treffers tot dusver, “This Ain’t A Scene It’s an Arms Race” en “Thnks fr th mmrs” klink hierso ook maar heel tammerig. ‘n Teleurstelling.

 

Kaiser Chiefs
Off With Their Heads

 


Nee, hierdie is nie ‘n CD deur die Suid-Afrikaanse sokkerspan nie, maar deur ‘n Britse indie-rockgroep. New wave en punk is hul grootste invloed, maar hulle is een van dié uitsonderlike groepe wat dit regkry om ‘n eiesoortige, vars aanslag te handhaaf.

Dié CD is hul derde en snitte soos “Spanish Metal”, “You Want History” en “Tomato in the Rain” maak dit ‘n aangename luisterervaring. Nie al die snitte is ewe sterk nie, maar Ysterslet wil beklemtoon dat sy aangeklam was toe sy die tweede keer na die CD geluister het, en toe het sy skielik gehou van liedjies waarvan sy nie gehou het toe sy die eerste keer, nugter, daarna geluister het nie. Dis te betwyfel of Kaiser Chiefs ooit ‘n swaargewig-titel in rockmusiek sal verwerf, maar dis nietemin die moeite werd om van hulle kennis te neem.

 

Sarah McLachlan
Closer: The Best Of

 


Dié beskeie diva sing soos ‘n engel en ‘n mens kan gerus meer van haar hoor. Om ons te herinner aan hoe goed sy is, bevat hierdie album haar 16 gewildste liedjies tot dusver, soos onder meer “Hold on”, “Good enough”, “Sweet Surrender”, “Adia”, “Angel” en “Fallen”. Om ‘n mens lus te maak vir nuwe materiaal, is daar twee nuwe liedjies: “Don’t give up on us” en “U want me 2”. Mense wat al haar vorige albums het en dus nie dié een nodig het nie, kan met reg die duiwel in voel omdat hulle moet uitmis op die twee nuwe liedjies, maar ‘n mens kan dit mos maar altyd op die internet download, so dis nie nodig dat hulle in ‘n depressie verval oor dié netelige aangeleentheidjie nie. 

 

James Morrison
Songs For You, Truths for Me

 


Dis Morrison se tweede CD en hy bou goed voort op die reputasie wat hy vir homself met sy debuut gevestig het. Op plekke klink hy soos ‘n jong Rod Stewart, en hy is ook een van daai sangers wat uit sy hart sing en nie bloot net ‘n popsterretjie wil wees nie.

Tom en Ysterslet meen egter die album is nie op dieselfde standaard as die debuut nie, al bied dit nog genoeg om ‘n mens aan te verwonder, soos “The only night”, “Save yourself”, “Please don’t stop the rain”, “Broken strings” (met Nelly Furtado) en “Dream on Hayley”.

Al is dit hoe goed en gaaf en mooi en verdienstelik en fraai, is ‘n kunstenaar soos Morrison egter nie naasteby in dieselfde liga as ouens soos byvoorbeeld Jakob Dylan nie.

 

Anastacia
Heavy Rotation

 


Tom én Ysterslet sê hulle sal bang wees om alleen in ‘n kamer met Anastacia toegesluit te word. Sy lyk na daai tipe wat as sy die hots vir jou kry, jou van kop tot toon sal verorber soos ‘n kannibaal en net die poepholletjie uitspoeg.

Liedjies soos “I can feel you” en “I call it love” is ook uitstaanbaar, maar na ‘n ruk raak dié diva se stem darem net te veel om te verduur – dit rasper jou ore behoorlik. Helaas gaan dié CD nie swaar rotasie op ons paneel se CD-spelers kry nie.

 

Watershed
Staring at the Ceiling

 


Soos almal weet, geniet die Suid-Afrikaanse groep Watershed ook ‘n mate van internasionale aanhang. Hulle maak wat volwasse kontemporêre rock genoem word, maar ons meen dit moet eerder volwasse kontemporêre ultrasoft pop rock genoem word.

Die produksiegehalte is van die boonste rak in die spens, die groep skryf goeie liedjies en voer dit bekwaam en oortuigend uit, en dis aangenaam om liedjies soos “Train Ride”, “It’s You”, “Breathing” en “Jerry and Jenny” te hoor. Maar tog is dit asof van die belangrikste bestanddele – ‘n vonk en ‘n skop – ontbreek. Miskien moet die kêrels daarteen waak om té gepoleerd en netjies te wees.

 

Die Kaalkop Waarheid
Woestyn se rivier

 


Dié Afrikaanse groep se nuwe CD het al ‘n paar maande gelede verskyn en ons by Sound Bites hoop van harte dit kry in die komende jaar baie meer aandag, blootstelling en lugtyd as wat dit tot dusver gekry het.

Soos dié CD se voorganger, Lieg of Bieg, bevat dit eersteklas musiek – iets wat ons baie nodig het so tussendeur die oordaad van sokkiebokkies en glansterte (van beide geslagte) waarmee ons tans in Afrikaans geteister word.

Benewens musiek van ‘n baie goeie gehalte bied Die Kaalkop Waarheid jou ook lirieke wat baie meer om die lyf het as jou tipiese Afrikaanse CD. Die album is slim saamgestel, met sirkulerende motiewe en simbole (woestyn, water) wat dit tot ‘n hegte eenheid bind – van die eerste snit, “Proe hoe smaak die hemel”, tot die laaste een, “Proe hoe smaak die hel”.

‘n Hoogtepunt op die CD is die uitsonderlike verwerking en vertolking van Gert Vlok Nel se “Rivier” (waarop hy ook saamsing). Wat hulle hier doen, is regtig fantasties. Liedjies soos “Dear Johnny”, “Toe hardloop die duiwel” en “Ek verkies alleen” staan ook uit, en in sy geheel is daar nie ‘n enkele insinking op dié album nie. ‘n Mens kan die egtheid in Nardus du Plooy se stem hoor, en Brenda Burnit en Lize Wiid se agtergrondsang is oudergewoonte uitstekend. Hulle verdien al die ondersteuning wat hulle kan kry. Gee hulle dit.

 

Sonsteek
Ons Ideale

 


So uit die bloute, asof van nêrens, het dié rock-CD op ons oorlaaide lessenaars beland. Die verpakking is fantasties – dit lyk soos daai plat vuurhoutjieboksies – en maak mens reeds nuuskierig, want dit laat jou vermoed dat jy dalk hier met iets skaars in Afrikaanse rock – naamlik oorspronklikheid – te doen kan hê.

Ysterslet sê die feit dat die meeste Afrikaanse rockgroepe ná Fokofpolisiekar probeer om soos dié groep te klink, is ‘n bewys van Fokofpolisiekar se invloedryke posisie in die musiekwêreld. Die probleem is dat copycats dit selde regkry om presies dieselfde intensiteit (en outentisiteit) as Fokofpolisiekar te bereik. ‘n Mens hoef maar net na kanaal 324 op jou DStv te kyk om te besef wat ‘n tragiese gebrek aan oorspronklikheid daar onder jong Afrikaanse rockgroepe bestaan. (Ek en Tom sal nie weet nie, want ons is nie ryk genoeg om DStv te hê nie, so ons sal maar Ysterslet se woord daarvoor moet vat.)

Sonsteek se Ons ideale het wel iéts wat dit anders laat klink as jou tipiese manlik-gedomineerde Afrikaanse studentedorp-rock. Dis moeilik om te sê presies wat daardie edge is wat hulle net so ‘n klein bietjie anders maak as die res. Ek stem saam met Ysterslet, maar kan, soos sy, nie my vinger op daardie ontwykende pols lê oor presies wát Sonsteek nogal heel eiesoortig laat klink nie. Tom, aan die ander kant, dink dit is maar net nóg ‘n tipiese ou Fokof-copycat.

Hy is waarskynlik net ‘n ou gefrustreerde suurknol, meen Ysterslet, want liedjies soos “Sien jou aan die ander kant”, “Ek vervang”, “Kan ek so leef”, “Menswees” en “Slaap jy rustig” is volgens haar ‘n waardige toevoeging tot die Afrikaanse rockskat. Boonop is die kitaarspel deurgaans knap en is dit duidelik dat dié outjies ‘n oor vir melodie en goeie rifs het.

So, die slotsom is dat dit die moeite werd is as jy deur dié outjies gesteek word. Dit is genoeg om die son te laat skyn.