Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Vakansiestemming


Willem de Vries - 2009-01-14

7 Januarie 2009

Amice

As 'n mens lanklaas met die hand geskryf het, is dit soos om van meet af aan te probeer teken of te leer skilder. Ek kan maar net hoop my woorde volg die lyne van wat ek bedoel. Ek ontdek die eintlike prent terwyl ek dit teken. Te veel realisme kan dit laat platval.

My ouers het my hul briewe aan jou gegee om te lees en dit het my laat besluit om iets op skrif te stel. Ook omdat jy so ver is en ek gevolglik meer moet sê as wat die koerante en radioprogramme berig. Ek skryf aan jou omdat jy ons almal ken; jy is amper so deel van ons soos al daardie koffie, boeke en gesprekke voor 'n gesellige vuurherd waar somers en winters twee ou vryers aan hul kind en sy vrou iets van ewigheidswaarde deurgee. As mense so lief is vir mekaar en op mekaar ingestel is soos ons klomp, word stories gou mekaar s'n. Dit weet jy. Alles ook die dinge in briewe waarvan jy lank reeds weet.

Ek besef nou my vakansies is nie meer 'n rustyd nie.

Tyd weg van daardie gedrang en monotoon is soos om van 'n mikrofoon weg te tree. 'n Mens bevind jou dan aan die buitekant van geluide, gevoelens en waarnemings wat versterk raak en versterk bly as 'n mens in die stad is. Nou, in die vakansie, raak alles dowwer met afstand en die prent al hoe groter. Hoe minder besonderhede jy later sien, hoe groter die konteks. Vrees tree op die agtergrond totdat die enigste klank in die luidsprekers soos die ruising van branders klink. Dit is die klankbaan van iets wat al cliché geword het - 'n huisie by die see. Maar saans as die winde waai, hoor ek die oseaan se woeste krag en die winde huil soos verlore siele in hul nood.

'n Buurvrou se man is agteraan 'n bakkie straatblokke ver getrek omdat kapers hom nie wou kans gee om sy been uit die sitplekgordel los te wikkel nie. Ek het dit alles gesien gebeur. Toe ek kort daarna vinnig en deurmekaar aan sy vrou die dinge vertel (die skoolklok het gelui), was haar verwyt oombliklik. As ek alles in soveel besonderhede kon onthou en ek so naby aan die kar was, sou ek die pa van hul sewejarige kon gehelp het. "Jy sou iets kon gedoen het. As jy net wou."

En hoe lank terug was die gebeure by die opgaardam teen die berg? Ek het jou al daarvan vertel, dink ek. (Ek het lanklaas iemand daarvan vertel; dalk vertel ek dit nou anders.) Ek het die dag rustig aangesuiker huis toe van 'n koffieplek. 'n Groep van tien of meer kinders het uit die bosse opgehardloop tot waar ek geloop het. Hulle sou aan die speel kon wees; 'n sokkerbal teen die skuinste uitjaag. Ek het eers weer op hulle ag geslaan toe hulle styf teen my kom staan het. Kinders van 12 of 14 jaar het in sagte stemme op iets vreesliks aangedring: "Maak hom dood, maak hom dóód. Vat sy goed." Ek was net bly ek het iets gehad wat hulle kon steel. Al was dit 'n mooi horlosie wat my ma my present gegee het en 'n beursie met my laaste R10 in.

Die dag se toeristiese skoonheid was ongestoord deur wat gebeur het. Groot koppe met gesonke, rokerige albasteroë het tussen bosse ingeglip. Die gevaarlike gedrang van lywe en wapens het saam met hulle weer skaduwees geword. Ek onthou dat ek verdwaas en stadig verder geloop het met die onwerklike stilte van naskok oral in en om my.

Wat het maande gelede gebeur? Wat selfs al langer as 'n jaar terug? Tyd het soos 'n droom geword: verbysterend baie dinge gebeur binne 'n kort bestek.

Die stilte en skaduwees van die huis langsaan ons s'n wat nog nie 'n koper kry nie, is 'n soort aanklag. Die toegegroeide tuin knot herinneringe aan talle kuiers, die gerusstelling van sproeierklanke en 'n gesellige stoep se somerlewe (onthou ek dit nou so of het een agtermiddag alle kuiers van toe geword?).

Sedert die mislukte kaping en die aanval helder oordag immigreer al hoe meer angste na die rande van my doen en late. Ek het geen beheer daaroor nie. Die grens is oop. Smôrens peul nagmerries uit in saaklike nuusbrokkies. My drome maak my bene swaar en laat my moeg wakker word. Smôrens vryf ek dié sand en soutwater uit my ooghoeke, al lank voor ons see toe is.

Ek dink helder maar afgetrokke aan die laaste ruk in die stad. Nóg ek nóg die bure het skanse as 'n onpersoonlike geweld (en dus baie persoonlike leed) 'n mens tref.

Gisteraand se droom onthou ek baie goed, omdat ek dit al soveel keer gehad het. Altyd dieselfde paar beelde. Dis altyd 'n lang, breë straat waarin standbeelde is. Dit is beeldhouwerke van mense wat geweld aangedoen is. Ongeag of die aanval dodelik is of nie, word die slagoffer omvorm tot ru-beton, 'n maket van 'n mens. Van waar ek hulle sien, lyk hulle onpersoonlik, grys van die statistiek. Ek ken egter onmiddellik die groter prentjie met al sy definitiewe besonderhede en blywende raaisels.

Die slagoffer se laaste gedagtes raak verewig op 'n koperbordjie wat aan die voetstuk van elke beeld verskyn. Van die koperbordjies is al gesteel. 'n Kenner het gesê mense word nou standbeelde van gemaak net sodat die misdadigers die koperplate kan steel. In my drome is die radiostemme en koerantberigte se aanslag nie anders as wanneer ek wakker is nie. In baie strate al is verkeer glad nie meer moontlik nie. Die gedrang van beelde is te groot. Ook op onverwagse plekke soos langs snelweë en in die opritte van stil, lowerryke buurte.

Ek het vir Nadia van die droom vertel en wat ek daarna alles gedink het. My vrou het die gawe om niks te wil inhok tot algemene voorbeelde nie. Sy is ook mal oor raaisels waarop geen regstreekse antwoorde bekend is nie.

Sy sê in my droom skep ek beelde eerder as die bloed en vergeldingstonele wat dit by ander dromers sou oproep. Volgens haar is deernis 'n tydsame manier om vrees stomper te maak; sy noem dit 'n manier van oorleef. Sy sê sy het my lief omdat ek gestalte teruggee aan dinge waarvan nog net statistiek oor was.

Op 'n keer het iemand geskryf dat stories kom uit die skrywer se intuïsie van hoe die wêreld inmekaar sit. Maar niks in my drome hou kers vas by die werklikheid nie. Ek is nie bang nie. Ek leef, eet en slaap al so lank met paniek dat dit my nie meer ontstel nie.

Vakansies, sê die brosjure, is onontbeerlik. Ek leer nou die waarde daarvan om die grense tussen droom en dagboek te laat wegraak.

Groete uit die geliefde land

Willem