Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Graeme Smith en ander seshoue op die verhoog


Albert Maritz - 2009-01-13

Ons het nie leiers nie. Ons helde is onbekombaar. Die redes hiervoor is legio.

So, toe ek vanoggend wakker word, sit ek Radio 2000 aan. En so tussen slapies deur hoor ek hoe ons krieketspan die spit afbyt teen die Ozze in die derde toets.

Ek sleep toe maar gym toe; bly luister Radio 2000. En in die gym verneem ek die boksklas begin eers volgende week. So die begintyd is myne. En in die kleedkamer is reeds ‘n paar mense aan't krieket kyk.

So ek gaan sit, en rond een van die lekkerste oggende van my vakansie daar af. So met die sit. Want later kom Graeme Smith uitgestap. En die Ozze cheer. Ok, die meeste is Suid-Afrikaners wat daar sit sonder werk. Of bank by die kantoor (bank - werkwoord). Of skofte werk. Of vir hulself werk.

En toe Graeme daai eerste bal keer met die kolf, gebreekte hand en al, groan die swart ou hier digby die TV-skerm - soos in aanbidding. Ek kyk om my. Die nuwe-generasie gimmers, cleaners - almal kyk vasgenael. Die ou wat onlangs nog die skurk van skurke was, is sedert ons in Desember '08 daar speel, ‘n held.

En soos enige armes onlangs nog TV1 en 2 en 3 en CCV deur winkelvensters moes kyk om Egoli of Sonkring te sien, moet nóg meer van ons nou ons gym-besoeke versigtig kies om die krieket te sien.

En dis wat ‘n ou nodig het: ‘n leier. ‘n Rambo. ‘n Buffel. Amper sê ek ‘n bul. Soos Graeme. En om hom is nog helde. En as hulle weer verloor, is die bollemakiesie na "oor die muur" groot en skielik. Maar vir eers is hulle ons helde. Goeiste - hulle het al genoeg teen Shane Warne en Glenn Mcrath verloor om nou die wen te verdien!

En ek dink aan die fiskale waarde vir hulle. En dis nice. Nog helde is skaars. Daar's Jean de Villiers, Bryan Habana ... rolbal se Doug Watson (lewe hy nog?). Ons helde, afhangende van wat jou belangstelling is; wat jou taal is.

In 2005 repeteer die Faan se trein cast op Oudtshoorn - die dag voor opening. Sy sole onder die periode-skoene is glad, die verhoog glad, en die kombinasie tussen die twee daai oomblik net té glad - en Paul Eilers slaan neer, uit ‘n draaibeweging uit, wanneer hy Dokter se vrou gryp.

Hy val, en bly onheilspellend net ‘n oomblik te lank lê. En daar's bloed. Die oomblik breek aan dat ek besef kalmte sal nie nou herstel in die hand werk nie. Ek klim op die verhoog. Die spelers staan almal nader. Paul Eilers het skade in sy mond. Hier is miskien ‘n krisis.

Sommer in my motor ry ons na sy persoonlike tandarts. Die wonderlike man kom spesiaal in - die kamers is al toe. Vir vier ure sit Paul met sy tenger liggaam, stukkende mond en drome van die groot rol voor ‘n groot gehoor - in die tandarts se stoel. Hoe, weet net hy, maar darem fieks hy Paul se mond in daai vier ure, met ‘n ry nuwe tande.

Paul is bittereinder. Hy speel more-ôggend vroeg. Pynpille, in die bed, en môre is hy - soos ons daarna sou gewoond word - eerste daar van die akteurs. Hy strek, maak sy liggaam los, almal doen saam stemopwarming, en staan gereed. En daar speel die manne - Paul, Johan Botha, Johan Malherbe, Sophia Hugo (Passerini), Ivan Zimmermann, Deon Lotz, Hannetjie Smit en my twee pikkies, Viljé en Martiens - die gehoor op hulle voete op. Die middag doen hulle dit weer. En toe is dit aand en toe is dit môre. En daar gebeur een van daai snaakse goed waarvan mens droom wanneer jy klein is, en Freud se teorieë inskop.

Paul Eilers kan nie sy woorde onthou nie.

Ek sit in die saal en begin snuf in die neus kry. Maar eers is dit sulke klein momente van twyfel. Maar dit word erger. Ek hys my teen die pawiljoen af, en haas agtertoe. Vicky Stemmet, ons souffleur, het haar hande vol. Paul is sowaar die kluts kwyt.

Hy kry ‘n prompt (voorsê) en hou dan so vier sinne lank, en weet dan weer nie verder nie. Dis asof hy nie eens weet in watter toneel van die stuk hy is nie. Hy weet nie of hy deur die deur moet loop, of na die breipaal moet stap, of wat sy business is nie - níks nie.

In ‘n ommesientjie beman amper elke ander speler ‘n deur of ‘n venstergat, of ‘n leg (sygordyn) wat naby aan die aksie hang. Elkeen sover moontlik met ‘n teks wat van iewers vandaan gehaal is. Vicky Stemmet staan digby die voorgordyn se end, Viljé en Deon beman so half die agterste muur, sodat een deur die venster kan help as Paul in die kamer is op die verhoog, en die ander as hy naby die deur, in die kombuis is.

Ek bel Karen Meiring, en sy antwoord nie, maar ontvang die boodskap en bel dadelik terug, en op my versoek reël sy ‘n paar Oudtshoorn-dinge en daag self op. Die stuk speel hortend verder. Die ander ouer akteurs is onseker - en dit wys in hulle eie optrede. Niemand is seker van enigiets nie. Die kort oomblik wat Paul af is van die verhoog af, vra hy: Wat's volgende? Waar's ek nou? Hy luister kwalik, weens die spanning wat nou ingetree het, en stap weer die verhoog op. The show must go on.

Terwyl die klinieksuster met wie hy bekend is, op Karen se aandrang opdaag - dit sou hom gerusstel - en sy vrou opdaag, staan ek nader na die voorgordyn en probeer hom beïnvloed met stemme uit sy verlede. Johan Fourie, die legendariese toneelgeselskap-eienaar, akteur, regisseur, skrywer en entrepreneur, en man van die ewe formidabele Lida Meiring, sou altyd vir spelers op die verhoog ‘n klein skrikwekkende kode gee as hul optrede nie na wense is nie. Hy sou sis "Tsk. Tsk." Dis wat ek nou soos ‘n wafferse sirkusbaas styf teenaan die gordyn probeer doen. Paul maak met my oogkontak, maar registreer nie.

Ek kom die kant af en sê: "Ruk jou reg!" Als met die hoop dat die skoktaktiek hom uit die slaapwandel-nagmerrie sal ruk. Niks help nie. Dis pouse.

Klinieksuster gee hom vals pille. Dit sal hom gerusstel. En vitamienpille. Sy vrou wys gesig. Als help. Die tweede helfte is beter, alhoewel steeds wankelrig.

Die staande ovasie aan die einde verstar my. Vriende van my sien die stuk weer ‘n ander keer. En dink die mal aand was die beste!? Dit maak my bang! Nou nog. Wat is die regte manier van doen dan?

Ieder geval - die volgende show sou Paul met ‘n geknakte ego maklik selfs slegter kon verbrou het. As dit moontlik was. Maar Paul speel foutloos. En betower die gehoor. En altesaam agt optredes later word Paul aangewys as Beste Akteur van die fees.

Maande later gesels hy met ‘n breinspesialis-vriend, wat sê: as jy nie daar tot stilstand gekom het nie, sou ek bekommerd gewees het. Van al die adrenalien en die inspuitings van die tandarts twee dae vantevore het jou brein versadigingspunt bereik en afgeswitch, en net genoeg gedagte deurgelaat om die nodigste te doen.

Soos die dag in 1989 iewers toe ek my aanstaande se Volla na die Duitse outoelektrisiën toe vat want hy start nie lekker nie. Hy roep my nader en sê: as die battery nog gewerk het, sou ek bekommerd geraak het. Toe ry die Volla nog met die battery waarmee hy in 1971 uitgekom het.

Wel, dit was nie Paul Eilers se grootste kragtoer nie. In 2006 voer ons Faan se trein en Faan se stasie op, albei by die KKNK. Vir ‘n hele paar dae speel Paul Faan se trein en die meer uitmergelende Faan se stasie elk per dag. Hy kry fisio tussen shows, gaan huis toe en gaan slaap, en doen dit môre weer.

Dit was groots. Een van die grootsste ervarings van durf wat ek nog ooit van enigiemand gesien het. So groots soos Graeme Smith vanoggend. Indien nie groter nie. Ai Paul, as ons maar in internasionale taal gewerk het, of in prentjies only - dat selfs die Ozze ons kon verstaan. Hulle sou jou ‘n staande ovasie gegee het, en die Suid-Afrikaanse Toneel-Unie darem seker ook ‘n persentasie van die miljoene deur die hekke ... Kan jy dink hoeveel plays kan ons daarmee doen?

Die Lotto sou ook sommer geïnspireer gewees het. Die sielekos van goeie kuns sou hulle dalk selfs geïnspireer het om die ACVV's en die bruin, swart en wit toneelmense uit die slaggate te help waar hulle nou is.

Ons maak Graeme Smith baas van die Lotto, en betrek Bobby Skinstad in ‘n paar toneelstukke. Dan kook ons!