Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Super Mario Brothers ontmoet Duran Duran op ‘n love cruise: Jax Panik se Cigarettes & Cinnamon


Annie Klopper - 2009-01-12

Min mense weet dit, maar daar is 'n siekte genaamd Restless Leg Syndrome (RLS). In 'n neutedop beteken RLS dat jou bene weier om tot ruste te kom. Dit word veroorsaak deur dinge soos ongesonde gewrigte, senuweeprobleme of swak sirkulasie en is natuurlik veral steurend wanneer jy wil slaap. Indien jy vermoed jy ly aan RLS of indien jy 'n familiegeskiedenis van RLS het, raadpleeg asseblief jou geneesheer alvorens jy Jax Panik se debuutalbum, Cigarettes & Cinnamon aanskaf. Jou bene sal nóóit weer wil stilsit nie.

Dít gesê, indien jy hou van rustelose voete en hunker na die gevoel wat vroegoggend aangevuur is deur die Beat Boys op Goeiemôre Suid Afrika se aërobiese insetsel in die negentigerjare, is Jax Panik definitief die man vir jou.

My teorie is dat hierdie Kaapse knaap (wat onlangs Suid-Afrika se nominasie vir die MTV Africa Listeners Choice-toekenning was) in sy vorige lewe moontlik 'n leotard, beatbox of neon sweatband was. Sodanige teorie kan gebaseer word op die effek van die dansersvriendelike mengelmoes van energieke pop, rock en electro wat tesame met simpel én slim lirieke aan Jax sy unieke klank en styl gee.

Simpel én slim? Wel, terwyl Jax bely: "Wanna be stupid again", maak hy hom ook skuldig aan knap inversie in "Hit or miss":

Get rid of that wristwatch.
Who needs time when you've got love?
Get rid of that wristwatch.
Who needs love when you've got time?

Poëtiese kenmerke syfer kort-kort deur - soos in die titelsnit (en eerste radiotreffer) wat begin met die woorde:

In the city of crosses we move like shadows.

Stedelikheid, jonkwees, liefde en passie kom gereeld ter sprake in die lirieke van die elf snitte, maar word nooit 'n cliché nie, veral vanweë die fyn kombinasie van melancholies-nostalgiese note en sorgelose beats. En as die bitter en soet van die liefde jou onderkry, het Jax die antwoord wanneer hy in "Cigarettes & cinnamon" sê:

Don't think just dance with me baby.

Laasgenoemde is nie 'n moeilik uitvoerbare opdrag nie. Veral nie met mense soos Johnny de Ridder (Fokofpolisiekar / Soft Light City), Ryan Johnson (destydse Dirty Skirts-baskitaarspeler) en Jurgen von Wechmar (Sunset Studios) wat bygedra het tot dié fyn-geproduseerde album nie.

Die musiek kan dalk soos volg opgesom word: Super Mario Brothers ontmoet vir Duran Duran op 'n love cruise, gaan dan uit vir 'n mallemeule van 'n aand in 'n onheilspellende dog pragtige stad en word wakker saam met 'n sexy aërobiese instrukteur en 'n diepsinnige digter.

As jy wil weet wat ek bedoel, luister na nommer 10 (die remix van "Hit or Miss"). Dis omtrent hier waar die Super Mario Brothers begin het om stoptekens uit die grond te ruk en soos wafferse rocksterre pragtige ballerinas daarmee oor die kop te slaan.

Ons trek nou nog net by Januarie, maar ek voorspel Cigarettes & Cinnamon gaan moeilik uitgestof word as 2009 se beste partytjie-album.

Foto's: Antonia Steyn