Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Mooimeisiesfontein, o Mooimeisiesfontein


Theunis Engelbrecht - 2006-11-14


Nadat dit die outoppies soos Bob Dylan, T Bone Burnett, Johnny Cash en Neil Diamond was wat tot dusver vanjaar vir die lekkerste musiek gesorg het, slaan die jong poppies nou met die koms van die somer weer in hul bloeiselende menigtes toe. Daar is te kus en te keur vir elkeen in die fleur van sy/haar liefdesgeur.

 
Wonder bo wonder het ek en Jana-Mariana hierdie keer saamgestem oor al die CD’s. Ons is albei baie lief vir die werk van jong vroulike avonturiers. Ons is egter ook van mening dit sal baie verg om vroue soos Annie Lennox, Patti Smith, Kate Bush, Sinéad O’Connor, Laurie Anderson, Tori Amos, Björk, Alanis Morissette en heelwat ander se sexy skoentjies vol te staan. Hulle het al baie hoë standaarde daargestel – hoër as wat baie mans kan doen, sê Jana-Mariana. (En niemand stryd ooit met Jana nie.)
 
Daar is uiteenlopende tipes onder die wêreld se sangeresse: kloosterkoeke, ysterkoeie, smaakvolle styltydskrif-gestileerdes, superslimkoppe, digterlike dromers, temerige tantes, vuurwarmbloedige slette, spiritueel geïndivueerdes. Ten einde vandag se taak te vergemaklik, het ek en JM die nuwe CD’s volgens kategorieë soos dié ingedeel. 
 
 
Regina Spektor: Begin to hope
 
en
 
Imogen Heap: Speak for yourself
 
Dis interessant dat die twee heel beste CD’s onder vandag se klomp albei gemaak is deur kunstenaars wat klassiek-opgeleide musici is, hoewel hulle nie klassieke musiek speel op hul CD’s nie. Spektor en Heap val albei in die klas van die digterlike dromers, spiritueel evoluerendes en superslimkoppe. Hulle tower klanke op waaruit dit duidelik blyk dat hulle op die vlak van boaardse engele en mistieke swerwers beweeg.
 
Begin to hope is Spektor se vierde album. Sy is in Moskou gebore en woon tans in New York. Haar ma was professor in musiek aan ‘n konservatorium in Rusland en haar pa is ‘n amateur-violis. Volgens die snuffelende ooms en tannies van Wikipedia het Spektor klavierlesse begin neem toe sy ses was en het haar pa haar blootgestel aan musiek van The Beatles, Queen en The Moody Blues, wat hy met ‘n ompad uit Oos-Europa in die hande gekry het. Volgens my intellektuele vriende bevat Begin to hope invloede van klassieke musiek, hip-hop, folk en Russiese musiek. Dis dus onnodig om te sê dis elke keer ‘n avontuur om na die CD te luister, want elke keer hoor jy iets anders, en Spektor en Heap probeer ook nie om soos Top-40-flodderflossies te klink nie en leef hul kreatiwiteit uit sonder die voorskrifte van korporatiewe, markgeoriënteerde kokkedore. 
 
Spektor se CD wemel van uitsonderlike liedjies, soos “Fidelity”, “Better”, “On the radio”, “Hotel song”, “That Time”, “Lady” en “Samson”.
 
Imogen Heap het ook ‘n klassiekemusiek-opleiding. Sy skryf liedjies al sedert sy 11 is en speel klavier, tjello en klarinet. Soos Spektor skep sy ook uiteenlopende vibrasies: van speels en dartelend tot introspektief en hipnoties. Op van die liedjies, soos “Hide and Seek”, laat sy mens weens die elektroniese verwringing van die stem aan Laurie Anderson dink. Ander kere laat sy jou ook dink aan Kate Bush of Sinéad O’Connor of Tori Amos – wat nie beteken Heap (soos Spektor) is net blote navolgers nie. Hulle het hul invloede verwerk tot iets nuuts en unieks.
 
Mens sal nie sommer maklik moeg raak vir Regina Spektor en Imogen Heap se musiek nie. Hulle gaan beslis saam met my ouetehuis toe. Dis iets heeltemal anders as wat gewoonlik uit die pop-worsmasjien gemaal word.
 
 
Missy Elliott: Respect M.E.
 
en
 
Fergie: The Duchess
 
Missy Elliott en Fergie hoort saam, omdat hulle val in die koketterig-sletterig-kategorie (en ons bedoel dit nie moreel afkeurenswaardig nie). Hulle is van daai sterk vroue, wilde goedjies, partytjiediere, hardegatte, en wat ook nie wagte voor hul oulike mondjies sit nie.
 
Albei CD’s bevat streetwise, hardcore hip-hop deurmekaargeklits met stukkies R&B en rap hier en daar. Hulle het albei ‘n baie lekker attitude. Hulle het skop, soul en spirit, sê Jana-Mariana, ofskoon ons nie dink die CD’s sal noodwendig ‘n lang rakleeftyd in terme van die tydloosheid hê nie.
 
Missy Elliott se CD bevat haar grootste treffers en die feit dat sy ‘n baie “commanding performer” is, maak dat mens maklik aan haar lippe kan hang. Sy vat nie kak van kloosterkoeke nie. Daarteenoor is Fergie se CD die solodebuut van dié lid van Black Eyed Peas. En al val sy ooglopend in die koketterig-sletterig-kategorie wat haar stilering as popster betref, is sy ook bewus daarvan dat dié persona maar net ‘n spel is: “They want my treasures so they get their pleasure from my photo; you can see me (you can squeeze me); I ain’t easy (I ain’t sleazy); I got reasons why I tease ‘em: Boys just come and go like seasons/Fergalicious/So delicious, but I ain’t promiscuous, and if you was suspicious, all that shit is fictitious).”
 
Missy Elliott en Fergie maak nie musiek wat naasteby so subtiel en geskakeerd soos dié van Spektor en Heap is nie, maar as dit jou onverhoeds betrap, kan jy dit baie sexy, oulik en opbeurend vind – genoeg om ‘n wip in jou wikkelspies te sit.
 
Rita Marley sing selfs saam op die liedjie “Mary Jane Shoes”. Jou ore spits en jy sê maar dis blatante plagiaat, die wysie is gesteel van Bob Marley se “No Woman No Cry”! Jy gryp na die CD-boekie om te kyk of Marley erkenning kry, en inderdaad, dit is die geval. Sug van verligting. Fergie sê bloot haar weergawe bevat ‘n “interpolasie” van die oorspronklike weergawe. (Oulik. Onse skrywers wat plagiaat pleeg, moet maar net sê hul werk bevat interpolasies.)
 
Soos op Missy Elliott se CD drup die musiek op Fergie s’n van die jeugdige energie en bruisende baldadigheid, en dit sal intellektuele hul ore laat toeslaan en in afgryse laat wegvlug. Nee, vir Missy Elliott kan ‘n mens net jou hoed afhaal.
 
Maar tog snaaks: toe ek en JM met headphones na hierdie twee CD’s geluister het, het ons gedink dis fantasties. Maar sonder headphones klink dit weer soos ‘n pot kak. Vreemd … 
 
 
Cris Barber: Comes Love
 
en
 
Diana Krall: From this moment on
 
en
 
Madeleine Peyroux: Half the perfect world
 
Hierdie drie hoort saam omdat hulle al drie hoofsaaklik jazzerig en strelend is en jou in ‘n heeltemal droomverlore toestand kan laat verval as jy te veel daarna luister.
 
As dit rof gaan en dit voel of nie net die klein jakkalsies nie, maar ook die klein hiënatjies al jou wingerde verniel, sal hierdie CD’s die ideale plaagbeheerder wees. Moenie bodder met miergif of Rattex of Prozac of ander chemikalieë wat stink nie.
 
Daar is maar iets te sê vir lounge jazz, sê Jana-Mariana. Dit laat ‘n mens baie ontspanne voel. As sy hierna luister, maak sy net haar oë toe en sien palmbome en ‘n son wat sak oor ‘n idilliese oseaan, en ruik ‘n cocktail. Sy vind Cris Barber se CD boonop meer doeltreffend as die kalmeerpilletjies wat haar vriend El Shrinko aan haar gegee het. En Jana-Mariana is altyd reg.
 
Barber het ‘n lieflike stem wat mens op plekke aan Sarah Theron herinner (hoewel ek dink Theron is beter as Barber). Die jazz het ‘n lekker outydse klank en gevoel, en is glad nie soos die selfbevlekkende intellektueel-progressiewe akrobatiek wat sommige moderne jazz kenmerk nie. Dis strelend, maar nie soetlik nie. Die streel het ‘n lekker sagte skop ook in – en dit geld vir al drie CD’s. Ons grootste gunsteling van die drie, en dus die een wat ons eendag ouetehuis toe sal vat, is Madeleine Peyroux s’n, al is haar weergawe van Tom Waits se “(Looking for) The Heart of Saturday Night” ‘n teleurstelling. As hierdie soort musiek jou koppie kamilletee is, sal jy eerder Krall s’n wil gryp omdat sy so ‘n hoogaangeskrewe en gerespekteerde kunstenaar is. Maar ons dink tog Peyroux en Barber s’n is meer genotvol.
 
 
Madonna: I’m gonna tell you a secret
 
en
 
Christina Aguilera: Back to Basics
 
Madonna se CD is ‘n konsertopname en kom saam met ‘n DVD met ‘n baie interessante dokumentêre program oor een van haar wêreldtoere. Die DVD gee ‘n mens ‘n heeltemal ander blik op Madonna as die een wat deur die sensasiebeluste skindermedia opgedis word – dis ‘n verrassing om te sien sy is ook net ‘n mens (haai, wie sou dit nou kon dink?), en dit is openbarend om te sien hoe sy ook doodgewone menslikheid kan uitstraal. Die DVD bevat ook liedjies wat by konserte opgeneem is, en dit is uitstekend as mens dit sien met al die spesiale effekte en ligte en skouspel-foefies saam. Daarsonder, soos op die CD, klink dit vreeslik pap en futloos en klink die tannie by tye ook lekker moeg. Die oorspronklike ateljee-opnames is baie beter as die konsertweergawes. Die CD is dus goor, maar die DVD tog interessant om te sien.
 
Aguilera verras met haar nuwe dubbel-CD en dis ‘n baie beter kopie as Madonna s’n (as hierdie soort musiek jou koppie kasaterwater is, bygesê). Op die tweede CD eksperimenteer sy selfs met jazz- en swing-klanke uit die jare veertig en vyftig, maar tog met ‘n moderne stempel daarop afgedruk, en klink op plekke selfs soos The Andrews Sisters, soos op “Candy Boy” wat jou sal laat dans tot jy hiperventileer. Ek en JM het tot dusver albei gedink Aguilera is maar net ‘n swetende ystertert, maar met Back to Basics bewys sy dat sy glad nie in die popcorn-kategorie van popmusiek val nie. Sy kan die liggewigte soos Britney Spears en Kylie Minogue goed ore aansit as sy wil.
 
 
Heather Small: Close to a Miracle
 
Small is die sangeres van die groep M-People wie se treffer “Moving right up” nou nog dansvloere aan die brand kan laat slaan. Sy het ‘n wonderlike stem, maar daar is jammer genoeg net een liedjie wat uitstaan: “Rise Up”. Die is res is aangenaam en skaflik, maar niks wat jou vir die res van jou lewe sal bybly nie. As ek na haar fantastiese stem wil luister, sal ek eerder ‘n CD van M-People opsit.
 
 
Sandi Thom: Smile … It Confuses People
 
Thom is ook een van die kunstenaars wat ‘n lekker toffie vir die korporatiewe platekokkedore gewys het deur haar musiek eers op MySpace op die internet beskikbaar te stel. Toe word dit ‘n groot treffer danksy haar liedjie “I wish I was a punk rocker” en moes hulle by haar kom bakhand staan om dit op CD te mag uitreik. Ek en Jana het gemengde gevoelens oor die CD. “I wish I was a punk rocker” mag ‘n oulike nommertjie wees, maar dit laat ons blasé voel. Dit klink meer soos ‘n opruiende nommertjie wat mens by skolesport sal hoor. Dis nie ‘n afgryslike CD nie, maar luister eers mooi voor jy jou swaarverdiende geld hierop blaas. Net een liedjie, “When horsepower meant what it said”, is al waarna ek en Jana weer sal wil luister nadat ons deur al die ander op die CD is. Was al die liedjies maar op dié standaard, sou Sandi Thom ‘n nuweling gewees het om mee rekening te hou. Maar nou is dit helaas nie so nie.
 
 
Paris Hilton: Paris Hilton
 
Deesdae wil almal mos sing, en as Amor Vittone dit kan doen, kan Paris Hilton ook. Die CD bevat 11 liedjies en is ‘n skamele 39 minute en 55 sekondes lank – en dis 39 minute en 55 sekondes te veel. Ons het gerugte gehoor dat haar stem deur middel van digitale tegnologie op die noot gehou is en dat daar dus in die ateljee getoor is om dit te laat klink asof sy kan sing.
 
Jana sê Teazers kan hierdie CD aanskaf om in hul klubs te speel – as die paaldanse gedoen word, behoort dit groot aftrek te kry. Dis nou popcorny musiek by uitstek. Die woorde wat die meeste in die liedjies voorkom, is boys, boys, boys, boys, boys, guys, guys, guys, guys. En selfs wanneer sy reggae aandurf, kan sy nie oorspronklik wees nie – “Stars are blind” klink darem maar skaamteloos baie nes UB40 se “Kingston Town”. Dié CD is absolute fodder vir die promosiegedrewe Top 40-worsmasjiene.
 
 
Janet: 20Y.0
 
en
 
Jamelia: Walk with me
 
en
 
Kelis: Kelis was here
 
Hierdie drie word nie saamgegroepeer omdat hulle al drie ‘n gepigmenteerde voorkoms het nie. Dis bloot omdat hulle al drie se musiek breedweg op die R&B-formaat geskoei is, met al die ander style en substyle wat deesdae daarmee saamgeklits word, soos soul en hip-hop en house.
 
Jackson begin haar CD met ‘n toesprakie waarin sy sê in haar loopbaan van 20 jaar het sy al baie oor regte gesing – van vroue, van kinders, van werkers, van verdruktes – maar dat sy nou net wil pret hê. Ongelukkig het sy nie daarin geslaag om vir my en Jana-Mariana ‘n gevoel van pret te verskaf soos wat Missy Elliott, Fergie en Christina Aguilera gedoen het nie. Ons het dit nie eers klaar geluister nie en sal dit nie vir ons vriende aanbeveel as hulle vra wat hulle in hul Krismiskouse (of kalkoen, for that matter) moet stop nie.
 
Jamelia en Kelis het mooi, warm en sensuele stemme wat by baie manlike luisteraars fantasieë van swoele suikermammas kan optower. Jamelia se CD begin belowend, maar dan kom jy by die liedjie “No More”, waarvoor ‘n rif van The Stranglers gebruik is, en dan by “Beware of the dog”, waarvoor ‘n rif van Depeche Mode gebruik is. Dis deesdae ‘n gewilde ding om te doen, om rifs en catchy hooks van ou treffers te vat en dan jou eie versies en koortjies daarby te voeg. Hoekom? Hulle mors dit net op en doen dit omdat hulle eie idees nie sterk en oorspronklik genoeg is nie.
 
Kelis het ‘n lekker rou stem en die CD begin ook belowend, en ‘n mens het veral waardering vir die feit dat sy nie kak vat van mans nie. Maar uiteindelik is dit ook als maar net meer-van-dieselfde en sal haar albums, ondanks die besliste meriete daarvan, nie as tydloos en onmisbaar beskou word nie. So ‘n fantastiese stem verdien sterker materiaal.
 
 
Sarah Brightman: Diva – The Singles Collection
 
Ons noem hierdie een net vir die rekord sodat dié van julle wat mal is oor Brightman, bewus is van die feit dat hierdie CD, asook ‘n gelyknamige DVD, pas uitgereik en beskikbaar is. Nie ek of Jana-Mariana kan Brightman uitstaan nie – haar stem klink soos ‘n kombinasie van ‘n woodpecker-from-space, Dolly Parton op tik en Kate Bush op helium. En is daar regtig mense wat nog nie moeg is vir nommertjies soos “Phantom of the Opera”, “Music of the Night” en “Time to say goodbye” nie? Van haar beste CD, Harem, is daar nie liedjies op Diva nie, maar wel op die DVD. Ons sou dus reken dis ‘n beter opsie om eerder die DVD Diva – The Video Collection, te koop. Ten minste kan jy na mooi prentjies en landskappe en geboue en natuurverskynsels en mense en klere kyk terwyl jy daarna luister. Net jammer Brightman het besluit om voor elke video eers uitgebreid daaroor te gesels. Maar gelukkig kan jy die DVD so stel dat jy die praatgedeeltes kan uitsny. Nie my en Jana-Mariana se koppie groen tee nie, maar as dit jou aandraai, is jy geregtig op daarop, al is dit dan ook hoe onverklaarbaar en onverstaanbaar.
 
 
Velvet: Finally
 
Op die omslag lyk sy darem verskriklik mooi en sexy en met die eerste oogopslag kwyl menige mansmens (en ander liefhebbers van vroulike skoonheid) dat die spoeg spat. Maar o wee, die musiek is afgryslik. Dis diskomusiek vir tieners, en klink soos iets wat in die 1980’s vasgesteek het. Met haar CD-titel bedoel sy seker dat sy nou UITEINDELIK haar eerste CD uit het, maar ons hoop maar eerder sy bedoel daarmee dat dit haar FINALE CD is. Met so ‘n naam sal sy anyway beter vaar as sy haarself as ‘n roomys of ‘n sjokolade bemark.