Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Die Groot Krokodil


Fanus Rautenbach - 2006-11-14

Sy Edele PW Botha het die tydige met die ewige verwissel. Dit is baie onsmaaklik om ligsinnig hieroor te wees, tog is daar etlike humorpunte wat die verlies ligter maak.

Om een of ander rede (ek kom daarby) was PW Botha bekend as Die Groot Krokodil. As daar nou humoristies verwys word na Shapiro se skitterende spotprent, word daar nie gespot nie, maar word daar gevra of mnr Botha dit ook sou geniet het. Die antwoord is "ja". Shapiro teken PW Botha, koud en nat, in ’n rivier, waar hy aan ’n krokodil vra: “Is dit die Rubicon dié?”

Daar is ook ander wat sê: “See you later, Alligator!” en dan die antwoord:  “In a while, Crocodile!”

Boshoff en Nienaber teken so aan: "Krokodil: diernaam (Crocodylus) Eng. Crocodile, Lt.: crocodiles; Gr. Krokodeilos, 'soort akkedis' maar ook 'krokodil van die Nyl'."

Die Etimologiese Woordeboek van Afrikaans (Van Wyk, Cloete, Jordaan, Liebenberg en Lubbe): "Waterlewende, akkedisagtige reptiel met ’n afgeplatte liggaam wat oortrek is met horingagtige skubbe en ’n kragtige stert wat vir aanval en verdediging gebruik kan word."

Daar is die oubaardstorie van die man wat aan al wat hondegeveg was, deelgeneem en gewen het. Sy hond het nooit, maar nimmer, verloor nie. Vra die mense hom watse soort hond dit is, antwoord hy: "Nee, ek weet nie nou nie, maar voordat hulle sy stert afgekap het, was hy ’n krokodil!” En dan het die teenstanders krokodiltrane gehuil.

Die Etimologiese Woordeboek van Afrikaans skryf hieroor: "Krokodiltrane:  geveinsde trane of enige opvallend simpatieke gebaar waarmee onopregte gevoelens vererger word. Uit Ndl. Krokodillentranen (ongeveer 1610), so genoem omdat die geveinsde trane herinner aan Middeleeuse geloof dat ’n krokodil tussen die riete skuil en dan die geluid van die gehuil van ’n kind namaak om sodoende dan iemand wat kom ondersoek instel, te gryp. Wanneer hy sy prooi verslind het, stort hy nog trane. Dit gebeur glo omdat die traankliere van ’n krokodil baie vloeistof afskei wanneer hy vreet."

Nou oor die oorsprong van die bynaam van Sy Edele PW Botha, Die Groot Krokodil. Die Engelse het ’n spreekwoord, en wanneer hulle na soortgelyke duimsuigstories verwys, noem hulle dit "urban legends". (Ons het al daaroor in UMFAANUS geskryf.) In hierdie geval sou hierdie "urban legend" vertaal kon word met “daar-word-virrie-waarheid-vertel”. Nou: daar word vir die waarheid vertel dat die eertydse Amerikaanse minister van buitelandse sake, Henry Kissinger, in die sewentigerjare baie bedrywig was tussen die destydse Rhodesië en die Britte om dan ’n skikking te bewerkstellig. Vir hierdie doel het hy dus gereeld Suid-Afrika ook besoek. Op ’n dag vra mnr Pik Botha vir Kissinger of hy nie vir hom (Kissinger) ’n geskenk as blyke van waardering kan gee nie. Mnr Kissinger sê ja, asseblief, hy wil graag ’n krokodil hê – het Pik nie dalk ’n los krokodil nie? Want die enigste krokodil wat in die New Yorkse Dieretuin was, het van ouderdom gevrek. Of van besoedeling. Hy vertel toe vir Pik van die New Yorker wat in die straat gestap het met ’n krokodil aan ’n leitou. ’n Polisieman keer hom voor en raas: "Ek het jou gister al met die krokodil in die straat gekry, toe sê ek jy moet hom dieretuin toe vat!” Die New Yorker se antwoord was: "Ek hét hom gister dieretuin toe gevat, en vandag vat ek hom fliek toe – dit is juis Crocodile Dundee wat wys!”

En dit sal ’n wonderlike gebaar wees as mnr Kissinger hiervandaan af ’n krokodil kan saamvat na die New Yorkse dieretuin toe. Mnr Pik vra toe sy naamgenoot, mnr PW, of hy nie kan help met die krokodil nie, en PW gee aan die Weermag opdrag om ’n krokodil in die operasionele gebied te gaan vang. Maar tevergeefs – die Weermag slaag nie daarin nie. Maar ’n uur later skakel Johan Coetzee, die Kommissaris van Polisie, en sê hulle het Henry Kissinger se krokodil.

PW wil weet hoe die polisie dit so maklik reggekry het as die Weermag so sukkel: “Waar het julle die dierasie gekry?”

“In Delmas!”

“Maar daar is nie krokodille nie?” "Nee, daar is nie, maar ons het ’n likkewaan gevang en hom gefoeter totdat hy erken het hy is ’n krokodil!”