Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

The mass of men lead lives of quiet desperation


Albert Maritz - 2009-01-07

"The mass of men lead lives of quiet desperation." - Henry David Thoreau

’n Week in die Nuwe Jaar in, en 2009 is vir sommige ’n nuwe avontuur, vir ’n klompie oustryk - salaris (is dit waar dat ’n BD by groot maatskappye R40 miljoen ’n jaar kan verdien, dat sommige mense ’n miljoen per minuut verdien?), en vir ander nog ’n jaar van stoei om oorlewing en respek.

Selfs ’n hardwerkende tuinier/verwer/karwasser/akteur/teatermaker kan vroeg reeds ’n paar kneuse hê. In Parklands (Kaap) staan ’n verwer by sy scooter en speel sirkus-sirkus met die roller, voor sy inligtingsbord. Hy het besluit hierdie jaar gaan anders wees. Gaan hy sukses hê? Gaan hy genoeg "takers" teëkom met respek vir sy bemarkingstrategie en sy werk? Of gaan hy houe teen die kop moet vat?

Ludolf Parker skryf einde verlede jaar oor die Nuwe Ruimte Teater se dilemma. En die oplossing is maklik. Retrospeksie is die beste leermeester. So mens kan gesels oor die wysheid daarvan om ’n Sonddheim-werk aan te bied met geniale akteurs, teenoor om die stukke waarvoor die Space bekend was aan te bied. Maar wat is dit van ’n resensent wat ons teaters verbied word?! Ludolf Parker haal dit ook op.

Goeie ouens oorleef nie altyd terreur nie. Of verloor bloot belangstelling. Die briljante Tinus Horn is bv Ellispark verbied deur Louis Luyt, en vandag skryf hy nie eens meer oor sport nie. Sport se verlies - die vars, briljante, individuele vermoë. So wat is dit oor Megan Furniss? Hoe is dit moontlik dat sy die Nuwe Ruimte verbied kan word oor wat sy oor Dalliances - wat in ’n ander teater opgevoer is - sou geskryf het? Hoe is dit hoegenaamd moontlik dat sy ’n perseel in die Kaap verbied kon word? Dis ’n ernstige ding. Dit impliseer mos Marcel Meyer en Fred Abrahamse het die mes in vir haar. Waaroor? Wat is hul belang in Dalliances?

Dis als krappies op die oppervlak. Soos vliegies in die konfyt.

Kunstekaap se webwerf sê van Dalliances:

Winning Best Direction and Best Design at the International Dublin Gay Theatre Festival in May this year. The play explores the mad, giddy world of young Capetonians today, their sexuality, gay and straight, their use of drugs and their dysfunctional relationships.

Playwright: Pieter Jacobs (nominated as Best Playwright in Dublin)
Director: Matthew Wild.

Nouja, ek was in Johannesburg met ’n gawe TV-ervaring, so ek kan nie saamgesels nie. Behalwe oor die woelige maand van November 2008.

Hello and Goodbye met die briljante Dorothy Ann Gould was in die Baxter. En die vol saal dui op ’n lekker bankbalans vir die spelers, regisseur en vervaardiger. Maar die aanbieding self ... Dorothy Ann Gould alleen kon dit nie red nie. Selfs Fugard se tekste vra dat die spelers ’n vorm van realiteit moet nastreef. Daaronder tel die fisiese verhouding van die mens in homself, die mens in verhouding met die mense om hom/haar, en die fisiese verhouding van die mens in die wêreld, met ander woorde sy persoonlikheid. As spelers karakters versinnebeeld, en die karakters tree op ’n verwarrende fisiese manier op - met ander woorde gedra hulle anders as wat ’n teks in sy eie grein voorskryf - werk dit teen die inhoud van ’n teks. En dan ly die gehoor se ervaring daaronder. Baie gereeld sal ’n gehoor self nie die vinger daarop kan lê nie, maar sal net nie so ’n ryk ervaring hê nie, en tevrede, maar nie vervuld nie, huis toe keer.

’n Briljante akteur kan gereeld met sy/haar energie, penetrasievermoë na ’n gehoor deurdring, en met ’n bietjie harder werk verby die skanse werk en slaag - binne die beperkinge wat ’n regisseur soms foutiewelik daarstel. Hello and Goodbye het onverklaarbaar min om die lyf gehad.

Mark Graham was regisseur en Michael Maxwell het ook gespeel.

’n Boek-launch van iemand soos Dana Snyman se formaat, boonop geopen deur ’n baie vermaaklike Bun Booyens, het goeie vermaak gebied. Die Book Lounge, Roelandstraat 71, is vir die leek en oningeligte ’n knus verrassing. Interessant dat ’n Engelse boekwinkel so gaaf is met Afrikaans.

Die Etienne van Heerden-boek-launch in die Wordsworth by die Waterfront was interessant genoeg. Sleep vir jou ’n stoel nader se André le Roux is Etienne se portuur en ken hom al dekades, en weet waarin om hom in ’n Q & A-sessie te lei. Interessant dat ’n Engelse boekwinkel so gaaf is met Afrikaans.

Om albei so na aan Kersfees te hou, is slim, want dit lok mens om hiervan jou Kersgeskenke te maak.

Nog ’n Kersgeskenk, en die wreedste ervaring, en een wat baie kritiek verduur, is die 007-fliek. Maar het ek dit geniet! Sowat van geld om mee flieks te maak, en hier so goed gebruik! Maar die 007-skrywer het darem ’n vrugbare pen gehad! Of skryf iemand nou sy stories vir hom, omdat hy dood is?

Tussenin lei die pad na Wellington - om meer spesifiek te wees, na Mbekweni - waar duidelike moderne wonderwerke op uitstalling is. Hier huisves NORSA saam met PROCARE ’n projek wat hul noem Cluster Care. En hier gradueer kindertjies wat MIV het, uit voorskool, in uniformpies, na Graad 1. Hier werk mense uit die gemeenskap, wat andersins nie werk sou hê nie, einste met die kindertjies. En hier word deur als wat hier gebeur, lewens gered, lewens verryk en lewens ’n lewe gegun. En wie dit befonds? Marietjie van die twee organisasies noem die name van die borge. Maar sy laat nooit na om te sê dat als uit geloof voortvloei nie. Die behoefte was vir haar, as maatskaplike werker, maklik om te identifiseer. Maar die nood onhoudbaar groot. En die daad onuitstelbaar. So Marietjie moes dit net van stapel stuur. En sy het. Sy getuig dat God die geld elke keer van iewers gegee het, deur die goeie dade van mense.

Daar is nog so ’n sentrum by De Doorns - al twee die sentrums daar waar die nood die ergste is - in die township. Die verhale van leed en verlossing en pyn en uitkoms eindeloos. En as die leser skepties is ... kry jou lyf daar en ons praat weer - as jy verby die ry van 20 tot 30 babas geloop het waar hulle lê en slaap, so om en by teetyd se kant, as jy deur die kinderkamers is, waar haweloses hul geleentheid op lewe vind. Tot dan - laat ons maar oor alternatiewe gesels. Daar's altyd teater ...

’n Stuk wat hiermee omgaan is Yellowman. Watter uitstekende werk doen Lara Bye en die twee spelers nie! Die lewe is mos gaaf, maar eers as mens besef jy kry terug wat jy insit. En dan ... kry jy ’n storie soos Yellowman - wat anders werk.

Ai, as Yellowman - met Paul Johnson en Mwenya Kabwe - tog net ’n happy ending wou hê! Maar jy kan die storie nie gaan verander nie! Behalwe as jy hom geskryf het. Hier laat die skrywer toenemend die noodlot vir die karakters loer hoe gelukkiger hulle word. Maar die tragiese afloop is te voorspelbaar.

Maar een ding wat staan, is dat regisseur Lara Bye classy teater maak. Elke akteur se hede is geanker in ’n begrip vir hul verlede, en hul hoef nie te labour sodat die gehoor dit agterkom nie. Dis daar om te sien en te beleef - gemaklike akteurs, gemaklik in die omgewing wat die regisseur vir hulle skep.

Dis darem jammer dat die werk van die regisseur so laag, alledaags of vanselfsprekend aangeslaan word.

Iets meer oor tekste: ek het al ’n paar maal sit en dink - jy sien ’n stuk soos Hello and Goodbye, of byvoorbeeld Hedda Gabler (KKNK 2007), en jy vra jou die vraag af, na so 10 minute, wie het die teks geskryf? Want iets skort. Dan kan jy maar weet - iets skort dramaties. Beide tekste is deur die grotes van die teaterwêreld, en bestaan nie om dowe neute nou nog as sulke gewilde kykstof nie.

Dit dui inderdaad die gawe en minder gawe dele van die lewe uit. Iets wat sielkundiges en andere al eeue bestudeer, min mense verstaan en baie mense daagliks ervaar. En enkele mense in skryfwerk, oftewel storievertelling, kan omskep.

Die New Africa Centre in Athlone is ’n plek waar ook wonderwerke gebeur. Ian Bruce en sy wederhelf is raakvatters wat hulle bemoei met die man op straat, wat jare vantevore die behoefte gelees het, en met kundigheid en ywer die onmoontlike probeer vermag het, en daarin slaag. Moenie die geleentheid verspeel om van hul werk by te woon nie. En volg maar van die loopbane van die studente wat hulle studies hier volg. Hier is nog ’n plek waar mense ’n kans kry - op die lewe - ’n vervulde lewe.

Ludolf, had die Sonddheim-stuk by die Nuwe Ruimte lewe? Die kundigheidsvlakke daar is tog by uitstek hoog. En enigiemand, is daar iewers nuus van ’n Afrikaanse stuk iewers in die Kaap? Of moet ons maar op die uitkyk wees vir ’n boek-launch? En houe teen die kop vat. Selfs sonder dat ons weet of daar enige "takers" is.

"From each according to his abilities, to each according to his needs." - Karl Marx