Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Met Vicky Cristina Barcelona begin fliekjaar op 'n hoë noot


Suzette Kotzé-Myburgh - 2009-01-07

Titel: Vicky Cristina Barcelona
Spelers: Scarlett Johansson, Rebecca Hall, Javier Bardem, Penélope Cruz, Patricia Clarkson, Chris Messina
Skrywer en regisseur: Woody Allen

Waar Woody Allen se onlangse films Matchpoint en Scoop lawwerige moordverhale-in-'n-klassestudie was, is sy jongste veel ernstiger. Maar dis veral 'n besonderse en verrassende ars poetica vir die beroemde klein neuroot.

Reeds die titel dui dit aan: die karakters Vicky en Cristina, sowel as Barcelona, die "kunsstad" van die Spaanse argitek Gaudi, staan elkeen vir 'n idee. Die genoemde Amerikaanse jonkvroue is beste vriendinne en gaan die somer in Barcelona deurbring, waar Vicky haar studies oor 'n obskure aspek van die Katalaanse kultuur gaan voltooi, terwyl Cristina "at liberty" is (met ander woorde, sy is tans werkloos).
Hul persoonlikhede is uiteenlopend, maar hulle verskil die meeste wat betref hul beskouing van die liefde. Die vrydenkende Cristina (Scarlett Johansson) het al ervaar én aanvaar dat pyn 'n onvermydelike deel van die liefde is, terwyl Vicky (Rebecca Hall) oortuig is dat 'n mens die morsigheid daarvan kan vermy deur goeie keuses, realistiese verwagtings en standvastigheid - presies soos haar verhouding met Doug (Chris Messina), haar verloofde wat in New York vir haar wag.
Kort voor lank ontmoet hulle die kunstenaar Juan Antonio (Javier Bardem), berug in Barcelona se kultuurkring weens sy opspraakwekkende egskeiding van Maria Elena (Penélope Cruz). Hy nooi hulle saam na Oviedo vir 'n naweek van Spaanse gasvryheid, goeie kos, wyn en die liefde (oftewel seks, soos Vicky dit afkeurend stel). Cristina is dadelik opgewonde oor die idee; Vicky is uiteraard nié, maar sy gaan saam om haar vriendin te "beskerm". Hierdie kennismaking lei met verloop van tyd tot 'n ingewikkelde netwerk van verhoudings.

Woody Allen verdien sy reputasie as 'n uitstaande filmmaker, en hy hanteer sy verhaal met die ligte hand van 'n meester. Vir die grootste deel lyk dit of die film weer eens oor die kompleksiteite van man-vrou-verhoudings handel (dis immers Allen se ou bekende speelveld), met 'n tipies manlike seksfantasie of twee bygeroer. Tot die klimaktiese einde dit skielik duidelik maak dat hy die hele vraagstuk van verhoudings, liefde en seks as metafoor gebruik om sy standpunt oor kuns en die skeppende proses te stel.

Soos alle waarlik begaafde kunstenaars weet, is die keersy van kreatiewe talent destruktief en chaoties. Soveel soos dit 'n gawe is, is dit ook 'n vloek - en die minder bedeeldes verbrand maklik hul vingers as hulle daarmee in aanraking kom. Allen stel hierdie verskillende gesigspunte sonder om kant te kies, en sonder om die lewensinstelling van sy "gewone" karakters (verteenwoordig deur die materialistiese Doug en sy kennisse) af te maak of te parodieer.

Blykbaar is een van die grondreëls wat aspirantfilmmakers geleer word: moenie 'n vertellerstem (voice-over) gebruik nie. Allen gebruik deurentyd 'n vertellerstem, en let maar op: daar word nie 'n stukkie inligting te veel of te min gegee nie, en sy oorgange vind presies op die regte plekke plaas om te keer dat die verhaal begin draal.

'n Ander belangrike aspek van die skeppingsproses is die katalisator (verteenwoordig deur Cristina), en hy gebruik dit netjies vir 'n gepaste en bevredigende einde. Haar ontwikkeling as kunstenaar berus op 'n gee-en-neem met die ander twee kunstenaars - 'n ruimhartige uitruiling wat net so verrykend as pynlik kan wees.

Met Woody Allen se jongste begin ons fliekjaar sommer op 'n hoë noot!