Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Stef Bos se heel beste ooit


Koos A Kombuis - 2009-01-06

Die Afrikaanse musiekbedryf is nie altyd ’n prettige plek om te wees nie. In ’n omgewing waar die een jong kunstenaar na die ander so hard probeer om met iets nuuts en verstommends vorendag te kom, is dit teleurstellend dat die kwaliteit/kwantiteit-ratio so laag is, selfs in ag genome die feit dat kommersiële musiek ’n plek in enige mark verdien.

Die probleem is nie net dat so baie nuwe kunstenaars dieselfde klink nie, maar ook dat soveel gevestigde kunstenaars – dit geld dalk ook vir my – na ’n paar dekades in die bedryf hulself so dikwels herhaal dat selfs hul beste nuwe werk, bloot omdat dit nie vernuwend genoeg is nie, die gevaar loop om vervelig te word.

Hier en daar is daar ’n ou wat die slaggate vermy. Valiant Swart het byvoorbeeld net op die regte stadium van sy loopbaan begin met interessante vennootskappe, soos dié met Ollie Viljoen. (Dit lyk asof hy na daardie invloed nou genadiglik klaar is met Dire Straits-agtige rock-albums wat uitsluitlik handel oor highways en die geromantiseerde soeke na die blues.)

Nog ’n sanger wat presies op die regte oomblik afgewyk het van ’n geykte suksesresep – ten minste tematies - is die Vlaams-Nederlands-Afrikaanse troebadoer Stef Bos. Sê ek "geykte"? Ja, laat ek dit maar erken. Ek is jare lank ’n bewonderaar van Stef, maar as hy nog een CD uitgebring het wat oor niks anders handel as die ewige gereis en gesoek na permanensie tussen die liefde en die leegte nie, sou ek dalk begin moed verloor het vir hom. Dit is een ding wat Stef al jare lank sê, en hy sê dit briljant, maar dis ’n boodskap wat ons al gehoor het. Oor. En oor. En oor. En oor …

Stef Bos het nou egter ’n nuwe blaadjie omgeslaan. Hy het dit, verbasend genoeg, gedoen sonder enige fanfare, sonder groot aankondigings in die pers, en sonder enige fênsie produksie-prosesse of musikale fieterjasies.

Sy nuwe musiek word, anders as sy vorige CD’s, net terloops aangekondig op sy eie webruimte. Die opnames self is te koop (en hopelik te bestel) in eenvoudige bruin karton-verpakkings. Hy reik dit uit nie as volwaardige albums, met promosieveldtogte en ’n gedoe nie, maar as demo’s. Die woord demo is ’n verkorting van die woord demonstrasie, en dis sleng in die musiekbedryf vir ’n eksperimentele opname, ’n voorstudie wat kunstenaars soms aan platemaatskappye stuur vir goedkeuring, of sommer ’n doodgewone "bootleg" (onwettige opname vir die swartmark).

Stef het in die loop van 2008 drie sulke “sommer”-CD’s uitgereik, informele opnames van liedjies wat hy self opgeneem het, met die minimum ekstra musikante, in sy eie tuis-ateljee. Die CD’s heet eenvoudig DEMO’S 2008 en is beskikbaar as DEEL01, DEEL02 en DEEL03. Op die omslag van DEEL01 skryf hy:

Elk lied heeft zijn eerste versie. Die versies ontstaan in mijn geval doorgaans thuis waar na een dag werken en denken en zingen en schrijven het eerste idee wordt opgenomen op multitrack zonder al teveel technisch gedoe. De ziel van het liedjie wordt gezocht met her en der een verdwaalde noot die misschien in de studio zou sneuvelen maar ook met een onbevangenheid die je in een opnamestudio doorgaans niet vindt.

Dit beaam wat hy op sy tuisbladsy, http://www.stefbos.nl/page/Home, oor hierdie opnames te sê het:

Het word langzaamaan een fijne traditie voor mij aangezien ik op deze manier ook materiaal dat misschien nooit een officiële cd zal halen toch het licht kan laat zien.

Self het ek slegs twee van die drie opnames gehoor (die derde een is baie onlangs uitgereik). Dit is my oorwoë mening dat Stef op hierdie albums van die beste musiek van sy hele loopbaan lewer.

Veral op DEEL01, wat ’n paar Afrikaanse liedjies bevat, lewer Stef ’n bydrae van ontsaglike waarde tot ons musiekskat. Ek is oortuig dat hierdie album, indien dit meer bekend sou raak, oor jare nog sal bekend staan as een van die klassieke Afrikaans(/Nederlandse) albums van alle tye. Ek stel dit gelyk aan onsterflike werke soos Koos du Plessis se Skadu’s Teen die Muur of Gert Vlok Nel se Beaufort-Wes se Beautiful Woorde.

Dit beteken nie dat Stef hier na vore kom met ingewikkelde poësie of verrassende nuwe insigte nie. Hoewel enkele van die liedjies heel filosofies is – soos gewoonlik (track 2 handel byvoorbeeld oor die wysgeer Voltaire) – is dit deurgaans die verstommende eenvoud van die nuwe Stef wat mens aan die hart gryp. Dank die hemel hy het ’n tuis-ateljee!

’n Liefdesverklaring soos “Ons mors ons tyd” – dalk die eenvoudigste liedjie wat Stef nog ooit neergepen het (en beslis die enigste een met ’n woord soos bokkie in!) behoort sonder aarseling by die volgende druk van die FAK-sangbundel ingesluit te word.

“Sout van die Aarde” bevat lirieke wat herinner aan die beste werk van die Dertiger-digters. Dis ’n teruggryp na die verlede wat die hede in skerper reliëf laat uitstaan.

In die verstommende “Nachtlied”, dalk die mooiste lied van almal – een wat mens, met sy ontwapenende eerlikheid en pragtige melodie, herinner aan “Toemaar die donker man” - ontmoet ons ’n nuwe Stef Bos, as’t ware wedergebore in ’n nuwe gedaante, met ’n nuwe stel metafore, en ’n kinderlike beslistheid van voorneme.

Ek het nooit gedink ek sal Stef woorde hoor sing soos “Ek wil met jou trou” nie, en ek het nooit gedink dat, as hy dit die dag doen, hy dit so oortuigend sal doen nie!

Hier is ’n Stef Bos wat anders na die lewe kyk as voorheen. Die reisende troebadoer is nog daar, maar hy het sy koffers neergesit: hy wil bly. Hy het ’n bed en ’n kamer gekry waar hy langer as een nag wil vertoef, soos hy dit so mooi vertel in die lied “Kloofstraat”. Hy het nie meer tyd vir pretensie nie:

Daar is te veel ego’s
Dit is nie gesond
Dieselfde gesigte
Dieselfde stront.

Dis ook nie asof sy nuutgevonde "verliefdheid" hom sy humorsin laat verloor het nie:

Ek wil ’n resensent (hê)
Wat oor my skryf
Hoe lekker ek sing
So los uit my lyf*.

"Verdwaalde note"? Ek kon niks hoor nie. Die enigste teken dat hierdie liedjies dalk nog in ’n eksperimentele fase is, is die feit dat dieselfde brugversie wat so goed werk in die liedjie “Kloofstraat”, ietwat oorbodiglik herhaal word as slotwoorde in die ewe indrukwekkende lied “Tuine van die Kompanjie” op DEEL02.

Stef Bos is, wat sommige toonsettings en verwerkings betref, en ook in die instrumente, in sommige tracks bygestaan deur twee musikante wat slegs aangedui word as R Van Mierlo en R Mercurio.

Ten slotte: ek kan nie help om gemengde gevoelens te ervaar oor die feit dat ’n klassieke juweel van ’n album soos STEF BOS DEMO’s 2008 DEEL01 so ongemerk verskyn het, en dit in ’n ander land, op ’n heel ander kontinent nie. Waarom het niemand tot nou toe hiervan te hore gekom nie? Waarom is dit nie by die 2008 Huisgenoot-Skouspel-toekennings vereer nie?

En wie is die meisie wat Stef Bos se hart gesteel het en hom, as musikant, in ’n nuwe rigting gedwing het?

Hier’s ’n raaiskoot: sy is waarskynlik blond, definitief Afrikaans, en kom hopelik uit ’n goeie familie.                      


* Ek het in beide hierdie aanhalings die oorspronklike Nederlands effens vereenvoudig tot Afrikaans.