Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Artikels | Features > Afrikaans

Wortels wat oor kontinente heen strek: Surinaamse skrywers besoek Suid-Afrika


Willem Fransman - 2008-12-19

 

 

ʼn Reis op soek na ʼn identiteit. Dis hoe die Surinaamse skrywers hul ekskursie na Suid-Afrika beskryf. ʼn Soeke na hul wortels op ʼn ander kontinent, ʼn ander land, wat tog so identies soos hul moederland is ... en natuurlik die Nederlandse naelstring wat die twee lande aan mekaar verbind! ʼn Eintlike soeke na taalbroers en -susters. En daarvan het hulle baie gekry!

Die groepie Surinaamse skrywers sou op 6 en 7 Oktober 2008 op die vliegtuig in Schiphol en Den Haag opklim met Ismeme Krishnadath, Rappa en Sombra aan stuur van sake. Opgewonde, maar tog onseker oor wat om te verwag, is hulle op pad na ons Suiderland! Toe hulle hier aanland, maak EKM Dido en Diana Ferrus die weersiens die moeite werd. Tog is hulle meer opgewonde oor die nuwe vriende en die moontlikheid om in Madiba-land te wees!

En toe hulle op Kaapstad Internasionale Lughawe land, is dit met gemengde gevoelens. Ons is op Afrika-bodem. Vroeg die volgende oggend besoek hulle Robbeneiland. Hoekom dan nie! Dié eiland laat blywende indrukke en ywerig word notas gemaak vir latere gedigte of dalk kortverhale.

 

 

Die opgewondenheid was groot toe hul die Suid-Afrikaanse skrywers op 8 Oktober 2008 by UWK se biblioteek ontmoet. Marieke Visser, van Suriname, sou agterna, oor ʼn bak slaai en glasie "roodewijn" in ʼn rondawel by Goudini Spa, Worcester, die volgende opmerking oor haar eerste ontmoeting met Afrikaanse skrywers maak: "Mens het gevoel soos ʼn besoeker aan ʼn nuwe huis ... jy het nie geweet of jy by die deur moet staan of oor die drumpel moet stap nie! Maar julle (Afrikaanse skrywers se) warmte het my laat besluit om in te stap." Oor hulle kan Suid-Afrikaanse skrywers dieselfde sê. Die warme gulheid wat hul uitgestraal het, het ons op ons gemak gelaat en vir baie ure van gesels en deel gesorg. Daar is lank oor gelyklyne tussen ons afkoms en selfs die letterkunde gesels. En hulle is geleer hoe om te toi-toi!

Vir die volgende paar dae sou studente aan die Universiteite van Kaapstad, Wes-Kaap en Stellenbosch, asook verskeie Skiereilandse skole die Suriname as gaste ontvang en na hul voorlesings en vertellings luister.

En deur alles heen ervaar mens die gevoel van "hulle is nes ons ... en ons is nes hulle". Ons ís broers en susters met Nederlands as gemene deler!

Die Kasteel de Goede Hoop en Tafelberg word besoek. Twee bastionne van die verlede wat met Moedertjie Nederland verbind kan word. Die Kasteel de Goede Hoop herinner sterk aan 'n vyfpuntige kasteel in Suriname. Weer ervaar ons vriende gemengde emosies van twee lande wat moet moes veg vir vryheid - en wat dit uiteindelik gesmaak het!

 

 

Tafelberg veral betower hulle. Hulle het immers óók 'n Tafelberg tuis - maar dis nes asof hierdie een hul omhels, wil vra dat hulle hul luike moet oopgooi en gryp na hul penne ... want by al Tafelberg se deugde, dryf dit soms ook mense om liries te raak. Hulle kyk wyd en ver oor die Kaap ... die see en Robbeneiland. Hulle word so getrek deur die "gees" van Tafelberg dat Marieke Visser en Karin Lachmissing terstond 'n blogspot, www.Tablemountainconnection.blogspot.com, gaan aanlê het! Afrikaanse skrywers word genooi om gedigte rondom Tafelberg soontoe te stuur!

'n Byeenkoms in die Kaap word afgestel en so ook een in Pretoria, alhoewel die Suriname wel in Pretoria aankom - vier uur ná die aanvang van die beplande voorlesing! Ongelukkigheid ... ongelukkigheid!

Terselfdertyd word ook in Goudini Spa te Worcester 'n werkswinkel en verskeie debatte gevoer. Ook hierdie byeenkoms word skamel bygewoon. Was die toer, met soveel verwagting aan die platval? Nuwe vriendskappe word egter opnuut gesluit en ons vertrek terug ... verenig.

Woensdag 15 Oktober is die laaste aand op Afrika-bodem. Die volgende dag, soos ook vroeër op 9 Oktober 2008, word die Huis der Nederlanden besoek. Die biblioteek kry 'n swetterjoel nuwe boeke! Die dag daarna word die terugtog na Suriname aangepak.

 

 

Blywende indrukke? Plaaslike digter, Thulani Cekiso: sy energieke voordragte was meesterlik. Hilli Arduin het haar net so meesterlik as storieverteller uitgedruk. Soecy Gummels, Annie Huits, Hilde Neus het getoon waarom hulle so hoog aangeslaan word en huishoudelike name in Nederland en Suriname is. Verder smaak dit my Rappa, Sombra, Marieke Visser en Karin Lachmisingh, en natuurlik die reeds vermelde Hilli Arduin, het lisensies om te mag voordra. Ander plaaslike skrywers wat vermelding verdien, is Elza Smal, Sameerah Frost, Susan Ongansie en Tyronne Appollis

EKM Dido en lede van Writers in Exchange (WIE) wat betrokke was by hierdie uitreik-aksie moet opreg gelukgewens word. Dit was 'n wonderlike inspuiting vir plaaslike talent om met die Schrijwersgroep van '77 (van Suriname), WIE, en die Afrikaanse Skrywersvereniging skouer te skuur. Sodoende is bewys dat daar beslis krag in verskeidenheid kan wees!

Viva, Power in Diversity! Viva!

En soos hulle in Surinaams sal groet: "Brassa!"

Teks: Willem Fransman Jr; Foto's: Melt Myburgh