Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Reën


Adam Willemse - 2006-11-14


Reën was alles weg
    
[...]
 
die reën val op my hande,
die reën val op my arms,
die reën val op my oë,
die reën val op my lyf,
die reën val op my gesig,
die reën val op my rug,
o, reën val neer hier
 
[...]
 
die reën val neer op doringdraad
die reën val op berge,
die reën val op valleie
die reën word strome,
die reën word riviere,
die reën word 'n see
reën was alles weg hier,
was alles skoon hier
reën kom weer en weer
weer en weer
                         – Johannes Kerkorrel 
 
Dis regtig warm vir ’n wintersaand, dink ek terwyl ek in die kerk sit en wag dat die diens moet begin. Ek ruik iets wat my rustig maak, maar ek kan dit nie dadelik plaas nie. Ek besef meteens ek ruik reën, en weet hoekom ek dit nie kon raak ruik nie: omdat dit winter is. Die reuk van reën neem my altyd terug na my kinderdae op die plaas. Dit was goeie tye. Dit maak my altyd gelukkig as ek daaraan dink.
 
Terwyl die dominee bid, hoor ek donderweer. Dit is baie ver, en skaars hoorbaar, maar dit word stelselmatig harder. Dit kom geleidelik nader. Die donderweer bring ’n kalmte oor my wat ek baie min in my lewe al ervaar het. Dit is ’n gevoel van kinderlike onskuld, van alleen wees. Eintlik tevrede met alleen wees. Die dominee begin met die skriflesing, maar ek luister nie. Die donderweer laat my terugdink aan ’n aand toe dit ook so warm was. So warm dat ek nie kon slaap nie.
 
Ons het laat en moeg by die hut aangekom. Daar was te veel seuns vir een hut. Kla het nie gehelp nie, en meneer Oberholtzer het gesê ons moet maar plan maak. Elkeen het maar ’n slaapplek probeer prakseer en nes geskrop vir die aand. Ek en ’n vriend moes ’n dubbelbed deel. Die res het omtrent almal op matrasse geslaap. Vir ’n rukkie het daar nog mense in die donker gelê en gesels. Een vir een het almal aan die slaap geraak.
 
Ek was net besig om in te sluimer toe Jacques nader aan my skuif. Hy het teenaan my kom lê, en sy arm om my gesit. Hy was beslis nog wakker, en het my definitief vasgehou. Ek het probeer maak of ek slaap, maar dit was moeilik omdat ek versteen was van antisipasie. Hy het my stywer teen hom vasgedruk, en vir ’n rukkie so bly lê.
 
Toe sit hy sy hand op my maag. Hy het sirkels om my naeltjie getrek met sy vingerpunte. Die sirkels het patrone geword. Groter, en dan kleiner. Boontoe, na die krop van my maag, om my tepels, en weer af na my naeltjie. Die patrone en sirkels het afgeskuif, ondertoe, tot naby my onderbroek se rek. Weer terug na my naeltjie. Met sy plat hand oor my maag na my sy, en met sy vingerpunte weer terug na my naeltjie. Dié keer met sy plat hand tot teen my onderbroek se rek, en net met sy vingerpunte onder die rek in. Terug na my maag, weer onder die rek in. Dieper onder die rek in. Uit oor my maag en weer terug onder die rek in. Met sy hele hand. Versigtig het die patrone bewegings geword. Teen dié tyd moes almal kon hoor ek is wakker, want my asemhaling was swaar. Eers het ek net leweloos daar gelê, maar later het ek op my rug gedraai sodat hy makliker ...
 
“Kom ons buig die hoofde in gebed,” sê die dominee en ruk my terug na die hede. Ek kyk vinnig rond. Seker om te kyk of iemand kon sien wat ek dink. Dan maak ek maar my oë toe en laat sak my kop.
 
Ek kon nie aan die slaap raak daarna nie. Hy het egter vinnig aan die slaap geraak. Ek het lank rondgerol. Dit was warm en ek was later verstrengel in die harde lakens.
 
Baie later het ek donderweer gehoor. Dit het saggies begin reën. Nog ’n donderslag en die reën val harder. Ek het versigtig opgestaan, en moes mooi trap om niemand wakker te maak nie. Buite het dit harder gereën as wat ek gedink het. Daar staan ek, in my onderbroek in die reën. Gestroop van alle wêreldse dinge. Ek het my arms uitgestrek en begin draai, soos kleintjies soms maak. Vinniger en vinniger, soos ’n wasmasjien wat ontslae probeer raak van water of gedagtes of emosies, totdat ek my balans verloor en plat op my rug te lande gekom het.
 
Ek het nie gehuil nie, net gelê. Ek was té leeg. Ek het net so bly lê dat die reën op my kon val. Op my kon val en van my kon afrol, om alles weg te spoel.
 
Toe die dominee besig is met die afkondigings, begin dit uiteindelik reën. Dit reën hard, ’n behoorlike Transvaalse donderstorm.
 
Buite die kerk gaan staan ek in die reën, en gooi my kop agteroor. Die reën val op my gesig en rol af in my kerkklere in. Dit voel so skoon en koel op my liggaam. Dit rol so saggies van my af. Dit rol af en val op die grond. Val op die grond, en spoel weg.