Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Artikels | Articles

Top tien flieks vir 2008


Suzette Kotzé-Myburgh - 2008-12-18

1. Gone baby gone
2. Lust, caution
3. The counterfeiters
4. Paris Je t'aime
5. The kite runner
6. Juno
7. Into the wild
8. Darjeeling Limited
9. The band's visit
10. Jerusalema

1. Gone baby gone: Tot my groot teleurstelling het dié film blitsvinnig van ons kringloop verdwyn - wat seker beteken dat min mense daarna gaan kyk het. Hierdie fliek oor die verdwyning van 'n vierjarige dogtertjie in 'n versukkelde buurt in Boston is egter 'n speurverhaal én 'n morele drama soos ek nog min gesien het. As regisseur verstom Ben Affleck eenvoudig met die diepte waaroor sy werk beskik.

2. Lust, caution: Nog 'n uitstekende film deur die gevierde regisseur Ang Lee, wat in die 1940's in Sjina afspeel. Hierdie absoluut boeiende drama fokus op die donker, gewelddadige kant van mense, en hoe dit uitspeel in hul mees persoonlike en intieme verhoudings - daar waar die liefde lê.

3. The counterfeiters: Vanjaar is die Oscar vir die beste buitelandse rolprent aan hierdie Duitse film toegeken, en dit was voorwaar welverdiend. Te midde van soveel flieks oor die Jode-uitwissing tydens die Nazi-bewind bied dié ware verhaal oor Jode wat in 'n konsentrasiekamp gedwing is om geld te vervals, nogeens 'n nuwe blik op 'n verskriklike stuk geskiedenis.

4. Paris Je t'aime: 'n Ode aan pragtige, weergalose Parys. Deur kortfilms van 22 regisseurs (onder meer Gus van Sant, die Coen-broers, Walter Salles, Tom Tykwer, Wes Craven en Gérard Depardieu) word 'n kaleidoskoopbeeld geskep van die stad van liefde en lig. Deur knap regie word parallelle gedagtes en temas in die verskillende onderdele subtiel tot 'n geheel saamgebind.

5. The kite runner: So dikwels is die fliek wat op 'n trefferboek (in hierdie geval Khaled Hosseini se gelyknamige roman) gebaseer word, 'n teleurstelling - net vanjaar had ons byvoorbeeld daardie flou poging Atonement. Ek het dus huiwerig na The kite runner gaan kyk, gevrees dat dit sentimenteel en Amerikaans sou wees. Gelukkig was ek verkeerd - en die gesiggie van die jong akteur wat die huisknegseun Hassan speel, sal vir ewig in my geheue vassteek.

6. Juno: 'n Heerlik aweregse kyk na 'n gewigtige onderwerp: tienerswangerskap. Heel ongemerk word diep dinge gesê oor die kompleksiteit van die liefde, huweliksverhoudings en grootword - in die pittige, sprankelende dialoog wat aan draaiboekskrywer Diablo Cody 'n Oscar besorg het.

7. Into the wild: Sean Penn word tereg beskou as een van die beste akteurs van sy generasie. Met hierdie drama, gegrond op die lewe (en sterwe) van die ooridealistiese jong Amerikaner Christopher McCandless, beïndruk hy grondig as regisseur.

8. Darjeeling Limited: Surrealisties en snááks is hierdie film deur die bekende Wes Anderson (ook die regisseur van The Royal Tenenbaums). Drie broers se pa sterf en hulle gaan Indië toe om hul ma te vind. Hulle soektog slaag - soort van. Die stel Louis Vuitton-tasse is 'n komiese hoogtepunt.

9. The band's visit: 'n Allerpragtige "klein" film oor 'n Egiptiese polisie-orkes wat gestrand raak by 'n troostelose gehuggie in Israel. Op 'n dieper vlak handel dit oor versoening tussen die Midde-Oosterse volke, wat volgens die oergodsdienste waaruit hulle spruit, inderwaarheid broers is.

10. Jerusalema: 'n Ysingwekkende blik op binnestedelike misdaad, geweld en korrupsie - soos ons dit maar alte goed in Suid-Afrika ken. Die verhaal van Lucky Kunene wat so graag stinkryk wil wees, is as't ware ons eie City of God. 'n Plaaslike film om op trots te wees.