Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Kersfees in Kampsbaai


Ria Venter - 2008-12-18

Kersfees sal nie weer dieselfde wees na Desember 2004 nie. Dit is vroeg Desember en ek is in die Kaap. My dogter doen modelwerk daar en ek het sommer net gaan ontspan. Die middag van 9 Desember nooi ek haar en haar vriendin om saam met my te gaan uiteet in Kampsbaai. Ons bestel 'n lekker bottel wyn en geniet die ete terdeë. Na ete stel ek voor ons leen wynglase by die restaurant en gaan drink die res van die wyn op die strand. Die weer is ongelooflik lekker, net 'n ligte briesie wat waai.

Op die strand kuier ons hartlik en in 'n ontspanne vakansie-atmosfeer begin ons sing. Ek dirigeer terwyl ons uit volle bors sing: "Al lê die berge nog so blou", "Bobbejaan klim die berg", "Afrikaners is plesierig", en selfs "Nkosi Sikilela".

Uit die hoek van my oog sien ek twee verwaarloosde jong kinders heen en weer hardloop. Dan is hulle hierdie kant van ons, dan daardie kant, en dan gaan sit hulle sowat 'n meter links van ons. Ek vra vir hulle of hulle wil saamsing. Hulle sing saam. Ek vra of hulle ook 'n klein bietjie wyn wil hê, waarop die bekkige een erg verontwaardig sê: "Nee, ons drink nie, antie!"

"Wat is julle name?" vra ek

 "Ek is Syd" (suid met so 'n platterige uitspraak)," sê die bekkige een, en
 "Ek is Mompies," sê die ander teruggetrokke enetjie.

So sing en dans ons op die strand, die kinders dans saam, totdat dit begin skemer raak en die windjie koud begin waai. Ons begin aanstaltes maak om te huis toe te gaan.

"Waar bly julle?" vra ek die kinders voor ons gaan.

"Daar," sê Syd en wys na die bushalte sowat drie meter van ons af. "Ons slaap daar."

"Het jy nie 'n huis nie?" vra ek. Syd skud sy kop ontkennend.

"Waar ‘s jou ma?" vra ek.

"Sy slaap hier anderkant, sy is gesuip." Syd beduie na die anderkant van Kampsbaai.

"Waar’s jóú ma?" vra ek vir Mompies.

"My ma is dood; sy is dood aan haar brein," sê Mompies.

"Kan jy nie by jou pa bly nie?" vra ek vir Syd.

"NEE antie! My broer bly by my pa, ek kan nie ok daar bly nie," sê Syd erg verontwaardig – hoe kan ek dan nou so iets dink?

Die wind begin al kouer waai. My ma-wees sê ek moet iets vir hierdie kinders doen, maar wat? Ek gee vir hulle 'n geldjie, maar geld beteken niks as daar nie 'n winkel oop is nie. Ons gee vir hulle ons "doggie bags" wat ons by die restaurant saamgeneem het.

Die koue wind begin byt aan my kaal boarms.

"Het antie nie vir ons 'n kombers nie, dit is vreeslik koud?" vra Syd. Ek sien hy het net 'n ligte vestie aan.

Ek stuur my dogter om my sweetpaktop (my gunsteling-een) in die kar te gaan haal.

"Ek sal môre vir julle 'n kombers gaan koop," sê ek in die wind in.

"Ons gaan vir ons Krismisklere koop," sê Syd baie ingenome met homself.

Mompies, wat nie baie praat nie, sê: "Ons vra die mense vir geld en dan kom vat sy ma al ons geld en suip dit uit. Sy is 'n baie slegte vrou!"

Ek gooi die sweetpakbaadjie oor hulle en sê: "Ek kom julle môre haal, dan gaan koop ons vir julle Krismisklere."

Daardie aand staan ek op die balkon van die woonstel waar ons tuisgaan. Die wind sny deur my lyf. Ek wonder hoe oorleef hierdie kinders, wat ek so tussen tien en twaalf jaar oud skat.

Die volgende oggend ry ek na die naaste polisiestasie. Wys hulle my ID en vertel hulle van my voorneme om die kinders stad toe te vat vir Kersfeesklere. "Ek is nie 'n kinderdief nie, ek dink julle moet net kennis dra as enigiemand navraag doen oor die kinders." Hulle gee nie om nie, ek kan die kinders saam met my neem.

Ek ry Kampsbaai toe en by die bushalte sien ek Syd op en af spring. Sy gesig verhelder toe hy my sien. "Mompies het vir ons gaan kos koop met die geld wat antie vir ons gegee het. Hy kom nou," lig Syd my in.

Mompies kom met 'n kospakkie aan. Daarin is twee stukkies hoender.

Die kinders ry saam met my stad toe.

Syd praat onophoudelik: "Sien antie daardie kinders?" Ja, ek sien hulle so in die ry  langs die pad. "Hulle haal gom uit die melksakkies uit."

"Haal julle ook gom uit die melksakkies uit?" vra ek.

"Nee nooit!" sê die stillerige Mompies.

"Weet antie ons bêre ons geld in 'n klei-i-in gaaitjie." Hy beduie met sy vingers hoe baie klein die gaatjie is.

"Ons het al R200 rand gebêre vir ons Krismisklere," gaan hy voort.

"Waar is hierdie gaatjie?" vra ek.

"Nee ons sê vir niemand nie," sê Mompies vinnig agter uit die kar.

"Hoekom bly julle nie in 'n shelter," nie vra ek.

"Nee antie! Die groot kinners slat jou daar," sê Syd en sy stem gaan so hoog op. "Hulle vat al die kos en as ons ok wil eet, dan slat hulle ons."

"Weet antie, die gangsters in die stad, hulle is slegte mense. Dit is baie sleg in die stad. As die mense vir ons geld gee dan sê hulle: "Gee vir ons daardie R20" en as ons nie wil nie dan ‘stroke’ hulle ons." Hy sit sy een arm om sy keel en wys hoe die bendes hulle wurg. "Dan gee jy vir hulle die geld, en as hulle jou los dan voel dit of  jy nog steeds gaan vrek."

Ons draai af na die middestad en stop naby Ackermans. Terwyl ek parkeergeld wil betaal, kom jaag 'n verkeersbeampte die kinders weg.

"Hulle is saam met my," sê ek. Sy kyk my baie agterdogtig aan, so asof sy my nie wil glo nie.
 
Ons stap aan na Ackermans, ek sien daar drentel nog 'n straatkind agter ons aan. Syd probeer hom wegjaag.

"Ken julle hom?" vra ek.

"Ja, antie, hy’s ons vriend," sê Syd.

"Goed, dan kom hy saam," sê ek.

In Ackermans vra ek die winkelassistent om my te help om vir die drie kinders skoene uit te soek. Daar is tekkies teen 'n gewone prys en dan is daar ander wat  teen 'n afslagprys is as jy twee pare koop. Syd het sy oë op die duurder paar tekkies (R80).

Ons koop drie jeans, drie T-shirts, drie pakkies onderbroeke, drie pakkies kouse,  drie rugsakke, en vir elkeen 'n windmakerige pet. Langsaan by Diskom koop ons tandeborsels, tandepasta, seep, waslappe en handdoeke. Hulle ken nie 'n tandeborsel nie. "Wat is dit dié, antie?" vra Mompies. Ek verduidelik hoekom mens moet tande borsel en hoe. By Pep koop ons vir elkeen 'n kombers. Die totale rekening is 'n fraksie meer as wat ek vir my kinders vir een paar brandname sneakers sou betaal.

Syd is uit sy vel van opgewondenheid; vir hom is dit regtig Krismis! Hy wil sommer dadelik die klere aantrek. Ek sê: "Nee, ons gaan julle eers bad, julle is vuil."

By die woonstel waar ek tuis gaan, wys ek hulle waar die badkamer is. Die badkamer lyk en ruik onbeskryflik sleg wanneer hulle uitkom. (Ek was die bad agterna met baie  baie baie Handy Andy en gooi baie baie baie Dettol in!)

My straatkinders lyk soos wafferse byderwetse tieners (nou wel nie die brand- gedressde tieners nie). Syd draai sy pet windmakerig agterstevoor terwyl hy voor die spieël paradeer. Ek pak hulle verflenterde klere in 'n plastieksak en hulle nuwe goed in die nuwe rugsakke.

Ek gee vir hulle kos en maak dan aanstaltes om terug te ry Kampsbaai toe.

So in die verbygaan op die stoep kom die skoonmaker van die woonstel by ons verby. "Kyk Anna, hier is my kinders, dit is Syd en dit is Mompies." Ek wys na elkeen as ek hulle voorstel.

"My naam is nie Mompies nie, my naam is Denzel," brom Mompies onderlangs. Ek wonder of sy ma hom dalk na Denzel Washington vernoem het.

Ons ry terug Kampsbaai toe. Syd babbel steeds onophoudelik. Vertel hoe ander straatkinders steel om te oorleef.

"Steel julle ook?" vra ek.

"Nee nooit, antie," sê Syd. "Daar is 'n ander antie wat 'n winkel in Kampsbaai het. Sy vra ons altyd om haar te help, sy is 'n goeie vrou."

Naby Kampsbaai vra Syd: "Waar gaan antie nou heen?"

"As ek julle afgelaai het, gaan ek huis toe," sê ek.

"Kan ons saamgaan?" Sy stemmetjie raak dun.

Ek kan nie verby die knop in my keel kom om te antwoord nie; skud net my kop.

Ek laai die kinders in Kampsbaai af en sien hoe hulle uitgelate aanstap. Hulle is tengerig gebou, maar lyk nou soos enige ander jong seuns van hulle ouderdom.

Ek draai om om terug te gaan na my woonstel toe.

Ek draai weer terug Kampsbaai toe. Wil hulle net weer sien, om net weer te groet,  sê ek vir myself. Maar hulle is nêrens nie. Straat op en straat af soek ek hulle; my kinders is weg, net skoonveld.

Ek draai om, gaan huis toe, na my lewe van voorspoed en vooruitgang.

Krismis sal nooit weer dieselfde wees nie. Ek sal altyd wonder: Waar is my kinders? Wat eet hulle? Het hulle 'n geldjie in 'n klein gaatjie kon wegsteek vir Krismisklere  hierdie jaar?