Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

The Band’s Visit ʼn juweel uit Israel


Suzette Kotzé-Myburgh - 2008-12-11

Spelers: Sasson Gabai, Ronit Elkabetz, Imad Jabarin, Saleh Bakri, Shlomi Avraham
Draaiboek en regie: Eran Kolirin
Arabies en Hebreeus, met Engelse onderskrifte

Kersfees is op ons, en soos elke jaar is dit tyd vir daardie aardige fenomeen: die Kersfeesfliek. Vanjaar word ons die beste uit Amerika gebied: The Christmas Cottage, gegrond op die vroeë lewe van Thomas Kinkade, wat deur Film Finesse "America's most-collected living artist" genoem word. (Reg geraai, hy doen ook Kerskaartjies.)

Reeds met die lokprent het ek my voorgeneem om hierdie een te vermy, en Mariana Malan se resensie in Die Burger het my vermoedens bevestig. (To add insult to injury, word The Christmas Cottage in die Cinema Nouveau vertoon.)

Dus, hier is my aanbeveling: Bly weg, ver weg, van vanjaar se Krismisfliek! Vermy dit soos die pes! As jy 'n behoefte aan vrede op aarde en in die mensdom 'n welbehae het, gaan kyk eerder The Band's Visit, daardie klein juweel (vergun my die cliché, dis mos darem Krismis) uit Israel. "Klein" beteken hier eintlik "groot": dit het 'n Jurieprys by Cannes ontvang, sowel as 'n Europese Filmtoekenning as die beste ontdekking van die jaar.

Die Seremoniële Polisie-orkes van Alexandrië arriveer uit Egipte in Israel; hulle is genooi om by die opening van 'n Islamitiese kultuursentrum te speel. Hulle staan onder bevel (op aandag, ongeveer) van luitenant-kolonel Tawfiq Zacharya (Sasson Gabai). Dié is 'n beheervraat se moses, en die kwintessensiële man wat nie padaanwysings vra nie. Hy hou 'n streng oog oor die jongste lid van die orkes, die aantreklike Khaled (Saleh Bakri). Sy adjudant, die lankmoedige Kamal (Imad Jabarin), moet net gedurig olie op die waters gooi.

Weens 'n taalmisverstand en 'n uitspraakverskil, plus die feit dat hulle 'n ander skrif as die Israeli's gebruik, beland die orkes op die verkeerde dorp, 'n troostelose gehuggie in die woestyn. Waar hulle in hul keurige poeierblou uniforms by die bushalte afgeëts teen die kale sandvlaktes staan, is hulle 'n jammerlike gesig van verlorenheid. Maar die kolonel vra nie padaanwysings nie, onthou.

Uiteindelik kom tot die redding 'n vurige Israeliese vrou, Dina (Ronit Elkabetz), wat by die naaste kafee werk. Ná 'n sielewroeging aanvaar die kolonel haar aanbod dat die orkeslede by haar en twee vriende se blyplekke kan oornag. Dis maar 'n taamlike kultuurbotsing. Mettertyd ontvou 'n klompie eg menslike verhale, bittersoet. Jy kom agter wat in die verskillende karakters se lewens lê, ook die kolonel s'n (Dina maak lang oë vir hom en spreek hom aan as Generaal).

Die formule waarvolgens die film werk, is geensins nuut nie, maar ónder dit lê die veel ernstiger tema van vrede en versoening tussen die Midde-Oosterse volke - 'n waardige Kersfeestema, sou ek sê.

Ag, en die einde, die pragtige einde.

Jy mag dalk vind dat as jy uit die teater stap, jy saggies "My funny Valentine" van Chet Baker begin neurie. Sien dit so: dan is jy sommer vroeg gereed vir die Fees van die Liefde in Februarie. Dalk kan jy volgende jaar se Valentynsfliek ook vermy!


Suzette Kotzé-Myburgh
Vryskut-skrywer, vertaler en uitgewer
suzette35@gmail.com