Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Klein Karoo Boekwinkel op Montagu se Kersfeeslysie


2008-12-10

Die Klein Karoo Boekwinkel op Montagu spesialiseer in kinder- en tienerboeke. Hulle stel die volgende 10 boeke voor vir jou Kersfeeslysie:

Willemien en die geel kat
Chris Riddell
Lapa

'n Lieflike boek wat reeds destyds toe dit in Engels verskyn het, aandag getrek het. Wonderlik in Afrikaans vertaal deur Jaco Jacobs, met 'n ietwat ingewikkelde storielyn - tog kan dit vir verskeie ouderdomme werk: teks is min genoeg sodat beginnerlesers nie moed verloor nie, terwyl daar ook genoeg gedetailleerde prentjies is vir kleintjies om geïnteresseerd te bly wanneer jy dit voorlees. Dis in hoofstukke verdeel, en die ideale manier om jou kind bloot te stel aan 'n storielyn wat oor etlike aande van voorlees strek. Dis 'n boek wat individualiteit en selfstandigheid aanmoedig.

 

Brolloks en Bittergal
CJ Langenhoven, verwerk deur Leon Rousseau, illustrasies Nelda Vermaak
Human & Rousseau

Die weergawe van die twee mensvreters soos wat dit destyds in die Storiemanreeks verskyn het. Die vreesaanjaende aanslag van CJ Langenhoven is ietwat versag, sodat kinders darem nou nie van meet af nagmerries kry nie. 'n Boek wat op elke Afrikaanse huishouding se boekrakke behoort te pryk, en wat heerlik aan skoolgaande kinders voorlees.

 

My dik boek vol feite
Metz Press

'n Boek wat enige nuuskierige kind, ongeag sy/haar ouderdom, vir ure kan besig hou. Die afdelings dek 'n wye verskeidenheid onderwerpe, met die onderafdelings wat in die vorm van vrae aangebied word. Die prentjies is in vele style, maar komplementeer mekaar goed. Nie 'n vervelige bladsy in sig nie, en propvol feite wat met groot teks ook vir beginnerlesers toeganklik word.

 

Waar's daai slang?
Julia Jarman & L Chapman
Lapa

Prenteboek met 'n eenvoudige en ritmiese storie wat ideaal is om vir kleuters voor te lees, maar eintlik deur enige ouderdom geniet sal word.

 

Bessie Hemelbesem en Oom Sak Sarel se testament
Janie Oosthuysen
Lapa

Lieflike illustrasies met 'n paar vreemde karakters en 'n hoofkarakter wat sommer vinnig in jou hart kruip. Ideaal vir lesers tussen 8 en 12 jaar - veral diegene wat daarvan droom om speurders te word ...

 

Saamleesstories vir Snuiters
geillustreer deur Atsuko Morozumi, vertaal deur Philip de Vos

Wees gewaarsku: jou kinders sal mal wees hieroor. Dalk is dit die prentjies wat toeganklik en gedetailleerd is; dalk die oulike vertaling deur Philip de Vos; dalk is dit die feit dat die stories kort en kragtig is. Nietemin, 'n klinkklare bewys dat eenvoud werk.

 

Vadertjie Langbeen
Jean Webster
Human & Rousseau

'n Tydlose verhaal wat nou ook in Afrikaans beskikbaar is (Daddy Longlegs in Engels). Vir jou meer gevorderde leser - 'n boek wat hopelik sal lei tot die lees van 'n verskeidenheid ander klassieke werke wat in Afrikaans vertaal is.

 

Onderwêreld
Fanie Viljoen
Human & Rousseau

Die verhaal speel af in 'n privaat seunskool in KwaZulu-Natal - kuberkrakery ("hacking") is die tema en die skrywer het moeite gedoen om presies agter die kap van kuberkrakery te kom. Die storielyn is spannend en baie goed geskryf. Ideaal vir tieners van enige ouderdom. Wenner van die Silwerprys in die Sanlam Kinder- en Jeugboektoekennings.

 

Ons hou partytjie
Wendy Hartmann
Human & Rousseau

Hoewel die Engelse weergawe regtig heel prettig is, maak die vertaling deur Philip de Vos die beste van 'n ingewikkelde rympatroon.

 

Stormkaap: Drome kom altyd andersom uit
André Trantraal, A Marais, Nathan Trantraal
Tafelberg

'n Grafiese roman oor seks, dwelms en rugby wat op die Kaapse Vlaktes afspeel. Ook geskryf in Kaapse Afrikaans - net soos wat dit gepraat word. Dit mag dalk net jou tiener weer aan die lees kry!

 

Kontak die Klein Karoo Boekwinkel by info@kleinkarooboekwinkel.co.za.