Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Klatergoud, ’n vetgesmeerde kalkoen – en boeke …


JB Roux - 2008-12-09

Met die uitsondering van kinders hou niémand blykbaar van die Feestyd nie. Die hitte, Kersboompies van plastiek, die blikkerige geneul van "Jingle Bells" sodra jy dit by ’n winkelsentrum in waag, ’n feesmaal wat ’n dag lank voorberei en binne ’n halfuur verorber word en jou ’n week later nog laat voel asof jy ’n seekoei ingesluk het, met al die sooibrand wat daarmee saamgaan … En dan die geskenke: ’n kas vol goeters en onwaarskynlikhede wat jy nooit vir jouself sou uitkies nie. Die ergste is die kruiwa vol geld wat die hele gedoente jou uit die sak jaag. Maar niemand besluit ooit hulle gaan Kersfees liefs hierdie jaar oorslaan nie, dankie. Dalk ’n Kersdiens bywoon, maar verder: ’n blinklose dag vol rustigheid en matigheid ...

Om te besluit om hierdie jaar geen geskenke uit te deel of terug te verwag nie, sal jou in die sosiale woestyn laat beland. Daar sál ’n paar pakkies in jou skoot beland, met die verwagting dat jy iets in ruil sal gee. Die ekonomie duik dié jaar lelik in die hek: juweliersware, ingevoerde CD’s, Franse parfuum en voedselverwerkers is so uit soos koekies in ’n weeshuis. Maar wie gaan tevrede wees met ’n boksie sjokolade of ’n bottel goedkoop wyn?

Die antwoord, soos met baie ander dinge, lê in boeke. Jy kan hope tyd en moeite bespaar deur al jou Kersinkopies by jou naaste goeie boekwinkel te doen. Jy kan die hele gesin én ’n paar vriende met geskenke voorsien teen dieselfde prys as wat één polshorlosie met ’n ontwerpersnaam jou sou kos. Stop jou ore vol watte teen die Kersfees-geroesemoes, durf die naaste winkelsentrum aan, “leen” ’n mandjie of trollie by Pick ’n Pay en vaar ’n boekwinkel binne. As jy nie weet waar om te vat of te los nie, hier is ’n lysie voorstelle. Elke boek is met die hand uitgesoek en omtrent almal is splinternuut.

Bo aan die lysie is iets vir jouself: Under African Skies – Reflections for Advent and Christmas deur Carolyn Butler (Lux Verbi.BM). Dis ’n dunnerige boekie met ’n Afrika-geur wat aan Feesvoos siele sal verduidelik waaroor Kersfees régtig gaan wanneer die klatergoud en vetgesmeerde kalkoene buite rekening gelaat word. 

Daarna is dit ietsie vir die kinders: ’n splinternuwe vertaling (deur Janie Oosthuysen) van Johanna Spyri se klassieke Heidi, met illustrasies deur Samantha van Riet. En dalk ’n Brulpadda in my tas – vrolike, vreemde en vreeslike verse deur Jaco Jacobs. Hier’s ’n voorsmakie:

’n Walvis in my sop

“Aarde toggie, roep die kok –
daar’s ’n walvis in my sop!”
Ek skep hom met my lepel uit
En dís toe hy my sopnat spuit …

Elke versie is vergesel met ’n plesierige kleurillustrasie deur Gerhard van Wyk. Boekies soos dié sal ure se genot verskaf lank nadat karretjies of poppe van supermarkplastiek in die stof gebyt het. Albei boeke word uitgegee deur Lapa-Uitgewers.

Op ’n ernstiger noot: Jeanne Els se Ligdans – Depressie-vegters se verhale van hoop (Lux Verbi.BM) bring inderdaad hoop aan enigiemand wat al met die lewe se donker kant te doen gekry het. Op geestelike trant word Man van God – Manne wat ’n verskil maak deur Bennie Mostert (CUM-boeke) en ’n GPS vir die lewe deur Hannes Burger – "rigtingwysers vir manne in wording" – aanbeveel. Laasgenoemde word uitgegee deur CUM-boeke. So ook Die Groot Boek van Chistelike Aanhalings, Volume 2 deur Nina Smit. (Volume 1 is ook nog beskikbaar). Dié superdikboek word in duursame hardeband uitgegee en bevat ’n ongelooflike aantal aanhalings – sommige laat jou nadink en ander sal ’n glimlag sal ontlok.

Natuurlik is daar dié wat fiksie verkies. Irma Joubert het diep beïndruk met Tussen Stasies. Ver wink die Suiderkruis (Lapa-Uitgewers) het so pas verskyn: die “voorgeskiedenis” van Tussen Stasies. Die boek speel hom tydens die depressie van 1933 af en is ideaal vir lesers wat historiese fiksie verkies. Dis ’n tydlose verhaal van ’n man en vrou se onvernietigbare liefde vir mekaar, al weet hulle hul wêrelde is onversoenbaar.

Gepraat van historiese romans: Die son kom aan die seekant op, waarin Louis en Martha Tregardt se reis vanuit "die Kolonie" tot by Delagoabaai beskryf word, is dalk nie splinternuut nie, maar tog die moeite werd om te oorweeg. Tobea Brink se Die hemelklip het ook reeds verlede jaar verskyn, maar dié novelle – oor ’n jong meisie en haar geestelik gestremde tweelingbroer – is tydloos (albei boeke is deur NB-Uitgewers uitgegee).

Op ’n ligter, romantiese noot is daar Sophia Kapp se Die Tuiskoms (Lapa-Uitgewers). Die liefde seëvier, maar ernstige temas word ook in hierdie epiese roman van bykans 500 bladsye betrek.

Vir lesers wat wáre verhale oor die liefde verkies, is Ware liefde – bekende Suid-Afrikaanse Paartjies, saamgestel deur Corlia Fourie, perfek (NB-Uitgewers). FW en Elita de Klerk, Ingrid Jonker en Jack Cope, Philip Boyd en Phyllis Spyra … hulle is almal hier, én ’n hele klompie ander.

Vir die kooklustiges is Hamlyn Kookskool: 150 Puik Stap-vir-Stap-Resepte onontbeerlik. Dis ’n pragboek – groot formaat, hardeband, glanspapier en volop kleurfoto’s – waarin verduidelik word hoe selfs leke enigiets van ravioli tot ’n gebakte vlatert kan berei. Die boek is eksklusief by Leserskring beskikbaar. As jy met min tyd gereeld jou gesin se magies moet vul, is An du Plessis se Eenpotgeregte (Lapa-Uitgewers) waarskynlik die regte keuse: van vegetariese geregte tot disse vir dié met ’n bek vol vleistande – jy gooi ’n klomp bestanddele bymekaar, skink ’n glasie wyn en sit agteroor terwyl jou buurvrou/-man haar/sy oog op drie of vier potte gelyktydig moet hou.

Ryk Neethling se outobiografie, Chasing the dream (Zebra Press), is nét die ding vir sportgeesdriftiges: verlustig jou in die drama en skandes van onder meer die onlangse Olimpiese Spele. (Ja, tannie, as toegif is daar ’n hele paar foto’s van onse Ryk se hemelse bolyf.) 

’n Lysie soos dié sou veel, veel langer kon wees. Die punt is: vir elkeen wat hierdie jaar om ’n Kersgeskenk gaan aanklop, ís daar ’n boek wat hom of haar sal laat spin van genot. Terwyl jy jou mandjie volpak, skryf die titels neer van boeke wat jou eie hart sal steel sodat jy wyd en syd kan skimpe gooi.

"Jingle Bells", ’n sappige kalkoen, koekstruif en ’n Kersboompie wat toegepak is met boeke – skielik voel Kersfees nie so erg soos wat dit dalk sou kon gewees het nie …