Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Die seperyter*


Neels Els - 2008-12-09

Tieng … tieng … tieng … Met reëlmaat lui die seperyter se klokkie. Nie te vinnig nie. Nie te stadig nie. Dit moet net reg wees. Jy hoor hom as hy nie reg is nie. Hoe, kon ek nooit weet nie. Maar jy weet. As die straaltjie room te dik en vinnig is, draai jy te stadig. As dit te dun is, draai jy te vinnig. Dit moet net reg wees. O...m en o...m swaai die slinger. Om, om en om draai die drom. Die lang pyp vir die melk en die korte vir die room. Nie te vinnig nie, nie te stadig nie. Net die regte spoed.
         
Ja, Pa. Reg, Pa. Goed so, Pa. My arms raak lam, Pa. Maar ek sal probeer. Ja, ekskuus. Nie probeer nie, maar dit doen. Reg doen. As jy nie reg draai nie, kom daar melk by die room of room by die melk, of so iets. Hoe proe room met melk by? Ek kon dit nooit regtig verstaan nie, want melk met room by proe goed – soos … melk. Maar room met melk by? Om en om. Lam arm. Regs, dan links. Die wit straal in die emmer vir die kan onder die boom. Dit moet dikmelk word vir die hoenders en varke. Wat van die baie mense wat nie het nie? Die geel straaltjie vir die bottel in die spens. Vir die latere botter. Om en om …

Die laaste tieng. Die straaltjie word ’n druppel en hou dan op. Die gesuis van die drom word stil. Sweetdruppel op die voorkop. Lam arm langs die sy. Nou, die afbreek van die seperyter. Dis ’n ander storie die. Eers die bak afhaal, want alles moet in die bak gepak word. Vir die was-slag. Dis makliker so. ’n Mens leer om slim te werk. Dan die roompyp. Daar is nog room in. Krap met vinger uit in die bottel. Vinger skoon? Weet nie, maar dit word so gedoen. Minder melkerigheid in die waswater. Daar is ’n rede vir als. Nou die drom. Pasop vir die laaste melk as jy oopdraai. Bo-oor die melkemmer. Nie op die vloer mors nie. Dit lok vlieë. Reg so. Oor die emmer. Hou die bakkies bymekaar in volgorde. Anders is dit ’n ewige gesukkel om dit weer later bymekaar te kry. Sit die draad deur die gaatjie. So kan dit maklik gewas word en dan mooi droog geskud word, anders roes dit en dan is dit ’n ewige gesukkel om weer die roes uit te kry. Hoe smaak dikmelk vir ’n vark as daar ’n stukkie roes in is? Hoe smaak botter met ’n titseltjie roes by? Reg so, Pa. Wat van die rek? O, die rek. Hou hom apart, want as hy seerkry, dan is dit weer ’n ewige gesukkel om een te kry. Winkels hou nie eintlik meer die goed aan nie. Nee, alles word te modern. Koop mos nou alles. Room, botter, ja, selfs dairymelk. Wil nie bietjie moeite doen nie. Sonder moeite het ’n mens niks. Dis so, Pa.
         
Moenie warm water oor die goed gooi nie. Spoel eers af in kou water. Hoekom? Anders … Ja, Ma. Was, mooi afdro', pak weer in bak, anders is dit ’n ewige gesukkel om alles bymekaar te kry vir volgende keer.
         
Hoenders, is julle nie al dik vir die dikmelk nie? Julle skyt al sulke strale. Maar dis glo goed vir – ek weet nie, maar dis goed vir julle. Jou swart sog, kry jy nie genoeg nie? Kyk hoe dik is jy al van al die dikmelk. ’n Mens se diere kan nie praat nie. Jy moet goed na hulle kyk. So goed dat dit al agter uitspuit? Party mense se diere leef lekkerder as die mense wie se diere dit is. Ma, Gert by die skool het niks op sy brood nie en hulle drink glo hulle koffie swart en bitter. Kan ons hulle ’n bietjie botter en geseperyte** melk gee? Wat!? Hulle mors alles uit. Waardeer nie wat hulle het nie. Jou pa werk hard en lê nie aldag by die huis rond nie. Askies, Ma, ek het maar net gewonner?
         
Hoe wonner ’n mens oor die wonder van die lewe? Is ’n mens se lewe nie maar soos melk in ’n seperyter nie? Word om en om gedraai. Bo loop die volroommelk in en onder stroom geseperyte melk uit. Nie veel werd nie. En aan die ander kant, ’n dunner, baie dunner straaltjie room. Baie werd. Kan botter word. Kan smaak gee. Kan dik maak. Kan …
         
Die drom moet reg aanmekaar gesit wees en goed vasgedraai. Die draaispoed moet reg wees – egalig, tieng … tieng … tieng. Die aanmekaar weef daar diep in die moederskoot, dit is reg gedoen. Geen fout. Die regte opstelling. Geen fout. Die regte spoed. Geen fout. Die room op sy plek en die geseperyte melk op sy plek. Room in die bottel in die yskas. Die geseperyte melk soos pêrels voor die swyne. Hoekom sukkel ons so om ander te help? As die room te veel melk in het, kan dit lol. Dit vat langer om gekarring te word. Die karringmelk is nie lekker nie, en dis of die botter iets kort. Dis net nie reg nie. Was die room te lank buite die yskas, is die botter half galsterig en dit gee weer goormaag. Daarom, om te seperyt is ’n verantwoordelike werk. Nie enigeen kan dit doen nie. Ja, Pa. Nie eers engel Gabriël nie? Nee, hy sal maar net help om die geseperytes eendag bymekaar te maak. Sulke groot emmers vol. Die room sal baie minder wees. Net canfruit bottles vol – die kleintjies.
         
Om mense te seperyt vra ’n Meesterhand. ’n Arm wat nie moeg word om die slinger te draai nie. ’n Fyn oor om die spoed te hoor.
         
Ek wonner hoe voel die melk wat bo in die bak gegooi word as dit hoor hoe die refs optel en dan skielik word die kraantjie oopgedraai en daar gly jy oor die vlotter in die nou gaatjie van die drom in. Tussen die bakkies deur en uit … in die roombottel of die melkemmer. As jy bo ingaan, weet jy wat jy is? Of vind jy dit aan die einde uit? As melkmolekule het jy nog hande vasgehou met roommolekule en skielik word julle wreed uitmekaar geskeur. Elkeen na sy plek. Ek wonner of dit is soos die lewe werk? Dit staan geskryf: daar sal ’n uitmekaarskeur wees tussen man en vrou en ouers en hulle kinders. Daar sal ’n geween en gekners van tande wees. Daar sal vreugde wees in die teenwoordigheid van die Heer. Is die gekners in die melkemmer of in die roombottel?
         
Party gebruik die room net so. Soos oom Piet. Hy hou daarvan om die room sommer so uit die bottel op die brood te gooi, dit met die mes ’n bietjie rigting te gee en dan gooi hy, ook so uit die bottel, die bloekomblomheuning daaroor. Dan eet hy welbehaaglik. Sulke taai, witsnor-happe. Ander hou van die vars, goudgeel botter. Maar dit gee ’n vreeslike geskommel en gekarring af om daarby uit te kom. Is dit wat bedoel word met dié wat volhard tot die einde toe …? As ’n molekule nou ’n lyf gehad het, sou hy maar seer-seer anderkant uitkom. No gain without pain, het ek in die gym gelees. Ek wonner maar hoekom is dit soms so nag om my. As die melk deur die bakkies geforseer word, is dit seker donker, soos in die lang, donker gang in o’lie Oupa en Ouma se huis op die plaas. Erfgenaam het dit ook deur sy agterent getrek. Ja, Pa.

Dis waar ek die eerste keer seperyter gedraai het. Ses jaar oud. Nou’s ek veertien en ek draai nog steeds. Nog steeds moet ek hoor: nie te vinnig nie. Nie te stadig nie. Hou jou spoed. Ek klap jou sommer teen jou kop. Kan jy nie hoor die klokkie maak tieng tieng tieng nie. Dit moet tieng … tieng … tieng maak.

“Slaap jy?” hoor ek Ma se stem hier agter my. “Die melk is al klaar en jy draai nog steeds. Netnou word die ding te warm en dan is dit weer ’n ewige gesukkel om dit reg te kry. Jy moet kyk wat jy doen.”

“Ja, Ma. Ek moes seker ingedut het van die eentonige tieng … tieng … tieng … Ek breek nou op.” Ek breek dit sommer áf.

“Jy moenie so hard met die goed werk nie. Dit kan maklik duik en dan is dit ’n ewige gesukkel om weer te pas. Pasop, mannetjie. Moenie jou wip nie. Jou pa is netnou by die huis. Pasop.”

Seer arm en lyf. Boeke vol syfers en reëls. Skryf sus en so. Maal dié met daai en deel deur nog iets. Hoe seperyt ’n mens ’n mens se kop? Waar kom die maal en deel en waar die voegwoorde? Waar die vloekwoorde? Waar die mooiwoord? Kan daar so iets wees, soos ’n mooiwoord? Ek wonner maar oor die Seperyter.

 

* Roomafskeier
** Afgeroomde melk