Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Chippa se reënboog


Hannes Steyn - 2008-12-08

Josef de Beer het nie juis oor sy voete geval toe ek sy winkel inwals nie.

"Los nou daai ... shock-boks en kom vang 'n dop. Voor die rugga begin ..." probeer ek hom in die Saterdagmiddag-mood kry. Maar Beer is Beer.

"Kannie," mompel hy sonder om van sy skroewedraaier af op te kyk. "Malan wil krag vóór twee na sy skuur aangelê hê." Dan roep hy ongeduldig agtertoe: "Musi, lig jou pote en bring die meter! Die son trek water."

"Daan Malan? Gaan hy weer ’n big screen opsit? Jinne, onthou jy nog laasjaar? Die brêgh-gat weet darem hoe om uit te hang nè?"

Nog steeds kyk Josef skaars op. Ek ken hom goed genoeg om te weet dat my ongenooide besoek hom irriteer. Hy vee ’n pikswart oliekuif voor sy oë weg en ek merk hoe die spiere op sy seningrige voorarm rondtrippel. Ek loer half skuldig na my postuur en oorweeg dit vlietend om dalk volgende jaar die Comrades-marathon saam met hom aan te durf. Net vlietend, want ek vroetel reeds vir my skywe.

"Jy ken die reëls, Nie rook in my winkel." Ek maak of ek hom nie hoor nie en steek stadig op.

"Ok, ok, moenie stress nie, ek grap maar net. Oor ou Daan. Gaan ons by hom kyk?"

"Man, ek is obviously genooi ... en sal jou saamsleep. Jy moet net jou eie vleis bring want ons braai voor die game." Dan meer streng: "Maar hierdie keer gedra jy vir jou! Dis Wellington dié, Stormerskontrei. Niemand het jou ... jou Pretoria-maniere van laas keer waardeer nie."

"Suur druiwe, dis al wat dit is. ’n Onskuldige ou Brown-eyetjie en almal wil my stenig. Julle ... visvreters kan dit mos nie vat as die Bulle julle kap nie."

Musi, sy jare lange assistent, groet beleefd, paas die meter aan en hurk langs Josef. Ek kon sien dat hy brand om te tjaaila, maar sy baas is ongenaakbaar.

"Hulle was net gelukkig. Wag en kyk vanmiddag." Hy waai beskuldigend in die rigting van my rookwalms en koppel die meter. "En dis omtrent tyd dat jy jou eie span begin ondersteun. Jy's nou al, wat ... oor die tien jaar hier in die Kaap? En steeds geen kultuur." Vir die eerste keer glimlag hy. "Jy kan saamgaan, maar dan moet jy my help om hierdie diebie op te koppel. Dan hoef ek nie agterna met Musi te sukkel vir ’n lift nie."

Die gedagte van naweekwerk, en dit nogal met elektrisiteit, is te veel vir my. Ek begin skerm.

"Uhm ... uhm, nee wat, los maar. Ek glo nie ek sal te welkom by die braai wees nie. Sal maar eerder iets gaan soek om te eet, en jou dan so ná drie daar sien. Is hier ’n Spur of iets in hierdie gevrekte dorp van jou?"

Beer kyk vinnig op. Ek glimlag verskonend en kyk annerpad.

"Hoekom probeer jy nie Chippa nie? Hulle kos is die goedkoopste in die dorp. En die dop ook."

Nou praat hy my taal.

"Klink goed. Met hierdie spul fatcats wat ons ekonomie so opdonner moet ons maar ekstra rondkyk. Waar's Chippo? Is daar girls?"

Musi kom orent, vee sy hand selfbewus oor sy kaalkop en skuifel verby my buitentoe."Nie Chippo nie, Chippa. Chippa's Place." Beer vee weer aan sy kuif en glimlag skuinsweg. "Man ja, daar is girls. Maar ek is nie so seker of dit in jou ... kraal sal pas nie. Dis ’n tradisionele eetplek. In ... in ... Mbekweni."

"Mbe- ... Wat?" Ek kan nie glo wat ek hier hoor nie. "Jy bedoel tog seker nie die lokasie hier op die Paarl-pad nie?" Ek is so geskok dat ek sommer weer mik vir ’n skyf, maar Josef wys die skroewedraaier dreigend in my rigting.

"Net so. Niks verkeerd daarmee nie. Ek en Amanda was al ’n paar keer daar. Die kos is tops. En als is skoon en veilig."

"Veilig se gat, man. Mens is nêrens veilig in hierdie land nie. Het jy Donderdag gelees van daai vrou by die N2 se afrit wat ..."

"Hokaai, hokaai jy begin nou op my gatspiere werk. Ek's nie lus vir jou alewige gemoanery nie. Kyk daar, jy het alreeds vir Musi verjaag. Kom tog reg man!"

Maar my bloed is klaar warm. Ek gooi my arms in die lug en slaan hard op sy lessenaar. "Maklik vir jou om te praat! Jy is nooit gerob nie, is jy? Het ’n bliksem al jou selfoon uit jou hand uit gegryp? Het iemand al ’n mes teen jou keel gehad? Vergeet dit, hou maar jou lokasie."

Josef trek sy skouers op en gaan voort met sy toetserasies.

Ek moet die laaste hou inkry. "Jy begin al hoe meer soos ... soos Vincent raak. In hulle blerrie gatte opgekruip."

Nou is dit Josef de Beer wat strip. Hy smyt die skroewedraaier dat hy daar trek en spring op.

"Spicks, wassit met jou? Gaan jy vir ever 'n ever aanhou kla en kerm? As jy jou bek oopmaak dan's dit skelms hier en fatcats daar. Hene man, daai selfoonstorie is al so afgesaag! Drie blerrie jaar en jy karring nog steeds?"

"Dis nie nodig -," probeer ek skerm, maar tree agteruit as hy op my afstorm. Die spoeg spat teen my voorkop soos hy uitvaar: "Erger dinge as dit het al met my ... met van my familie gebeur. Maar dit is agter my. Agter ons, hoor jy vir my?" Dan versag sy stem en sy skouers hang as hy omdraai. "Gaan jou ... jou bliksemse reënboog altyd net ... net twee kleure hê?"

Ek staan kop onderstebo terwyl die woorde insink. Dan draai ek sonder ’n woord om. Buite op die sypaadjie loop ek amper in Musi vas. Hy groet nie en draai sy rug op my as ek die motordeur oopsluit.

Ek sit lank stil voor ek aanskakel en ry dan stadig in die rigting van Wellington se Inligtingsburo.

Net voor Mbekweni se afdraai flits ’n spoedkamera beskuldigend in my rigting. Maar ek staal my om nie negatief te raak nie en vervang Koos Doep met ’n David Kramer.

En daar verdwaal ek ook nog! Hoe dieper ek die woongebied inry, hoe meer bekommerd raak ek. Omdraai gaan nie help nie, want ek is klaar drie honderd en sestig grade deurmekaar. Die reuk van vullis en armoede hang swaar oor die nou strate, maar dit sit geensins die inwoners af nie. Oral speel kinders sokker en krieket of hou hulle besig. ’n Brandmaer tefie woerts tjankend voor my kar verby, gevolg deur vier tongerige reuns. Buurvroue gesels kliphard met mekaar en steur hulle nie eens aan hierdie verskrikte whitey in sy 4x4 nie. Ek weet as ek stop en vra, gaan dit uitloop op ’n commotion. Die risiko is te hoog en ek ploeter maar voort, my hande natgesweet op die stuurwiel. Ek lag sommer hardop toe ’n polisiewa in my rigting aangery kom en dwing hom om te stop terwyl ek my venster oopdraai.

"Kan jy -", maar dan besef ek dat ek so polite moontlik moet wees, want ek besef dat my lot in die ou se hande is. "Eh ... eh ... kan u my asseblief verduidelik hoe om by Chippas Place te kom?"

Die swart konstabel glimlag breed en ek voel bietjie beter. "Follow me, I will take you there!" roep hy terwyl hy ’n u-draai agteruit maak.

Ek vind ’n oop gaatjie in die modderige parkeerarea. "Josef, jou boggher, ek gaat jou t'rugkry," dink ek toe my tekkie ’n vuil plas water met die uitklim vind. Ek waai ’n halfhartige dankie na die polisieman en kyk bekommerd rond.

Chippas Place lê half versteek agter ’n dubbelverdieping winkelkompleks. Dit is duidelik dat die plek stuk vir stuk aangelap word, seker maar soos en wanneer fondse beskikbaar kom.Aan die voorkant strek ’n lank-ongeverfde taverne waaruit sokkerkommentaar hard blêr. Twee jongerige knape met netjiese spierwit voorskote is besig om te braai onder ’n tentseil. Die reuk trek my outomaties soontoe. My geoefende oog stel my gerus dat die vleis van uitstekende gehalte is.

Voor ek kan vra waar mens kan sit en iets eet en drink, kom ’n ou met ’n rooi hemp my tegemoet en vra beleefd dat ek hom moet volg. Gelukkig vermy hy die raassaal (waar daar straks nou net ’n doel gescore is, want dis ’n ge-"Laduuuummmaaaa!" wat dreig om die daksinkplate te lig) en mik vir die gebou langsaan.

Die eetsaal is ruim maar half donker, want daar is veels te min vensters. Gelukkig is daar heelwat bleekgesigbesoekers, meestal Europese toeriste, maar hier en daar locals. Alle kleure en geure. Anders as verwag, lok my intrede skaars ’n blik of ’n fluister. Rooihemp wink na ’n oop tafel, maar ek ignoreer hom en besluit self op ’n hoek-een. Agter die toonbank lig ’n kelner ’n Black Label in my rigting en ek gee hom die thumbs-up. "Net een en ek is hier uit," besluit ek. Ek tiep die plastiekstoel op sy agterpote en laat my oë deur die vertrek dwaal.

Almal blyk hulle gate uit te geniet. Dis ’n geswetterjoel van tale en gebare soos die besoekers mekaar probeer hoor. Kort-kort kom ’n kelner van ’n kantdeur ingedraf en plaas borde met braaivleis, brood, pap en slaai voor die gaste. Dis duidelik dat hierdie ’n "set menu establishment" is en dat die klem hier op lekker eet is en glad nie op gesond eet nie. Jy kry wat jy kry en jy eet net dit wat jy wil eet. Die res stoot jy bloot terug. "Hemels!" dink ek skuldig by die gedagte aan vroulief se streng, afdwingbare groente-deurdrenkte dieet.

Ek skrik toe iemand ’n bottel bier, een van daai 750 mils, voor my neerplak. En ’n plastiekglasie! As my vrinne van Stellenbosch my darem nou moet sien! Ek kyk op en bring die stoel vinnig terug op al sy pote. Voor my staan hierdie ... antie ... hierdie Mama van alle Mamas! Sy is so groot dat sy ’n ekstra skadu oor my reeds skemertafel gooi. Haar vriendelike, natgeswete gesig herinner my onmiddellik aan die oeroue Paul Robeson-treffer "Ol', Man River". Ek skrik my poepkoud en kyk half verskrik rond.

"Chippa?" vra ek benoud en probeer orent kom.

"Nee, sy ma," antwoord sy trots terwyl sy my ferm aan die skouer terugdruk en ongenooid oorkant my neersak. Sy gee ’n sug van verligting as haar titte op amper die helfte van die tafelblad tot ruste kom. Haar boude verberg die stoeltjie in sy geheel. Ek besef weer eens dat die ontwerper van hierdie alombekende wit patiostoel een of ander prys verdien. Sommer twee. Ek probeer annerkant kyk, maar dit voel of haar teenwoordigheid my omsingel.

"Jy is nie van hier nie," besluit sy en wringel haar sitvlak vir beter balans. "Die kos is op pad. Van waar kom jy?"

Ek voel ietwat gekonfronteer oor haar voorbarigheid en kyk vlugtig rond vir versterking.

Maar dis toe ons oogkontak maak dat iets gebeur. Ek kan nie help om diep te kyk nie. Verby haar vriendelike oë. Tot in haar siel. En ek hou van wat ek sien. Iets wat ek definitief nooit as te nimmer in ’n spieël sien nie. En ek maak my oor oop en ek luister. En ek antwoord. En ek vra. En ek lag. En ek huil amper. En weer lag ek, praat ek, vra ek.

So tussen die vier (dalk ses) biere en ’n fris T-bone deur het sy iemand getaak om ’n spul foto's te gaan haal. Haar bors het nog meer plek opgeneem van trots terwyl sy deur al wat foto is verduidelik. Van haar enigste seun Chippa se babajare, deur sy kontrakwerk in Zambië, sy vrou en kinders en selfs, sonder enige veroordeling, sy vorige mislukte huwelike. Sy drankprobleem en hoe hy gerehabiliteer is. Hoe trots almal, veral sy, op hom wat Chippa is.

Later, veel later, toe my swak blaas my weer eens agtertoe jaag, merk ek op dat die ligte in die eetsaal aangeskakel is. Ek loer na my horlosie en merk met skok op dat dit al na ses is. Ek het die rugby gemis! En niemand hier by Chippas sal my kan sê wie gewen het of wat die score was nie. Maar dit pla my nie. Die gedagte aan die verkeerskaartjie in die pos ook nie. Ek het ten minste gescore. Mega gescore!

Ek het my swart-en-wit reënboog vir ’n kleur-een verruil.