Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

South Africa Sings Gospel / Suid-Afrika sing gospel: daar is inderdaad 'n mark vir die hele affêre


Guillaume Smit - 2008-12-05

Die kunstenaarlys op South Africa Sings Gospel / Suid-Afrika sing gospel is op die oog af werklik indrukwekkend: bekende gospelsangers soos Leon Ferreira, Danie Botha en Cathy Viljoen skuur skouers met groot name uit die Afrikaanse musiekbedryf - Nicholis Louw, Gé Korsten en Carike Keuzenkamp, om maar enkeles te noem. Die belofte van 'n gehalte-produksie word hiermee in jou agterkop gesit as 'n "moeite-werd" CD om aan te skaf. En as mens deur die songtitels lees, laat die keuse van die liedere mens boonop met die verwagting dat die CD 'n goeie aantal oubekende liedere wat lekker saamsing, insluit.

Klaarblyklik was dit egter nie die samesteller van South Africa Sings Gospel / Suid-Afrika sing gospel se idee nie. Mens kan nie saam met die liedjies sing nie - nie eens "Amazing Grace" nie. Die versameling liedere is eerder luistermusiek: mense wat die CD wil aanskaf om saam met hulle gunstelingliedere te sing, gaan teleurgestel word - ten spyte daarvan dat die CD se titel suggereer die land moet met die gospelliedere hierop saamsing.

As ek eerlik moet wees, die CD het my progressief teleurgestel. Op CD 1 is die eerste twee of drie liedere baie luisterbaar en daarna raak die musiek net al meer stadig en sleurend. Die amperse country ritmes van die meerderheid liedere, en die stadige tempo, wat my aan 'n begrafnis laat dink, het teen die veertigste lied baie steurend op die oor begin raak. Ek is boonop nie so seker dat "Rivers of Babylon", "Wind beneath my Wings" of "Dankie" werklik kan deurgaan vir gospelmusiek nie.

Miskien was dit die idee van die samesteller gewees om gospelmusiek op so 'n manier aan te bied dat die luisteraar tot trane gedryf word - trane van aandoening. In my geval was dit ongelukkig trane van lyding. Ek besef die CD mik vir 'n ouer gehoor wat nie van "doef-doef-gospel" hou nie, maar om bekende kunstenaars te verplig om liedere te sing wat soos 'n geestelike verwerking van Elvis Presley se country albums moet klink, laat my wonder of die teikengehoor vir hierdie versameling weet wat hulle gaan tref.

Nieteenstaande my eie negatiewe oordeel, het ek die CD by ouer mense getoets en daar is inderdaad 'n mark vir die hele affêre. En toe ek die tweede keer my ore aan die musiek onderwerp, was dit nie so heeltemal hartverskeurend om aan te hoor soos die eerste keer toe ek na die CD's geluister het nie. Daar is egter net te veel snitte wat my na die "forward"-knoppie op die CD-speler laat gryp.

South Africa Sings Gospel / Suid-Afrika sing gospel kan miskien 'n goeie Kers- of verjaarsdaggeskenk wees vir jou ouma.

Klik hier en bestel South Africa Sings Gospel / Suid-Afrika sing gospel nou van kalahari.net!